blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die internet en gemeenskap: Innovasiegenerasie 2005-03-29
Christiaan Pauw


Deur Christiaan Pauw, ontwikkelingsnavorser, Universiteit van Pretoria

Tukkies se webblad verwelkom 'n mens met die woorde “Tuiste van die Innovasiegenerasie”. As jy die skakel volg, kom jy by 'n bladsy met grafika bo-aan wat onwillekeurig aan die Village People se treffer YMCA herinner. Vier woorde pryk bo die uitbeeldings: Geesdrif, Energie, Kwaliteit, Keuse. Al hierdie dinge laat my nogal aan oopbronsagteware dink. Dit word gedryf deur mense wat dinge doen omdat hulle daarin glo; dis besig om wêreldwyd momentum te kry; dit het 'n oop, organiese struktuur wat kwaliteit verseker; en dit verseker maksimale keuse en plaas geen beperking op die gebruiker nie.

Met die mooi passing van ideale wonder mens dan hoekom Tukkiestudente nog steeds leer om met Microsoft Office - plaas een of meer lettertjies in kringetjies hier - te werk. Ongetwyfeld het studente rekenaaropleiding nodig. Dit is egter sterk te betwyfel dat hulle ingewy moet word in 'n vreemde (soos in buitelandsbeheerde), duur, beperkende en dus verslawende gewoonte wat in elk geval 'n klomp geld uit ons ekonomie dreineer. Daarby word die universiteit dan nog onbedoeld die mede-oorsaak van misdaad wanneer studente nie die sagteware kan bekostig waarmee hulle opgelei is nie en dit dan steel. 'n Vriend wat ook 'n student aan Tukkies is het onlangs, nadat ek aan hom die voordele van OpenOffice verduidelik het, gesê hy verstaan nie my punt oor die groot besparing nie, want hy ken nie eers iemand wat vir sagteware betaal of wettige sagteware het nie. Dis nou die soort energie en keuse van die innovasiegenerasie wat ons nie wil hê nie.

OpenOffice se funksionaliteit is vergelykbaar met dié van kommersiële produkte. Dis reeds beskikbaar in vier Suid-Afrikaanse tale (Afrikaans, Sesotha sa Lebowa, isiZulu en Engels) met 'n speltoetser in drie van hulle (nog nie in seSotho nie). Dis verniet. Elke student kan 'n CD kry teen minder as R10. Amper al die oefeninge kan net so gebruik word. Leermateriaal moet net effens aangepas word maar dit is 'n eenmalige oefening en moet in elk geval van tyd tot tyd gedoen word soos sagteware-uitgawes aangaan. Die hele oefening behoort ook 'n klomp geld te spaar want daar is geen lisensiefooie betrokke nie. Dus word daar ook nie duur tyd gemors met onderhandelinge, kontrakte, inspeksies en inventarisse van wie wat wanneer gelaai of gebruik het nie.

 Wat egter die groot potensiaal van 'n skuif na 'n oop alternatief is, is die potensiaal vir innovasie. Vakkenners kan funksies aan die programme toevoeg wat deur gebruikers in hulle spesialiteitsveld benodig word. Daar is baie ruimte vir die geesdrif en energie van die innovasiegenerasie om innoverende veranderings en toevoegings te maak. Hier is geleentheid vir navorsing deur studente wat kan lei tot 'n voltooide en bemarkbare produk, juis omdat jy met oopbronsagteware op reuse se skouers staan. Natuurlik is dissiplines soos ingeneurswese, rekenaarwetenskap en informatika gedurig met sulke dinge besig, maar die potensiaal van interdissiplinêre navorsing en ontwikkeling is nog lank nie ontgin nie. Om funksies vir 'n sigbladprogram by te skryf wat 'n bourekenaar, dieetkundige of genetikus gebruik, verlang nie net 'n programeerder nie, maar ook iemand wat die toepassingsveld verstaan.

Op hierdie punt speel die sinici hulle troefkaart: “ Ja, maar al die besighede daar buite gebruik MS Office en ons moet relevant vir die bedryf wees.” Dit is tot 'n mate so, maar ook nie heeltemal nie. Die verskille tussen rekenaarpakkette is egter so gering dat 'n mens soms nie eers agterkom met watter een jy werk nie. Tukkies is in elk geval 'n universiteit en nie 'n technikon nie. In die toekoms gaan alles die heel tyd verander en die innovasiegenerasie is die mense wat reg is daarvoor. Dit lyk my die tyd het gekom dat die innovasiegenerasie 'n kans kry om meer keuses te hê, ook as dit by sagtewareprodukte kom.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=174
Artikel nagegaan:
    -