|
||||
Christiaan Pauw Deur Christiaan Pauw, ontwikkelingsnavorser, Universiteit van Pretoria Die leuse van die monopolis is “own the client”. Die “besit” van kliënte berus op 'n totaliserende visie waar die keuses van die gebruiker beperk word en waar die monopolis poog om die hand te gryp wanneer die koper sy pinkie uitsteek. Die kliënt wat op so 'n manier in besit geneem is, is natuurlik deel van 'n gemeenskap: die gemeenskap van almal wat op presies dieselfde manier, of minstens in statisties voorspelbare groepe, reageer op die aanbod van produkte wat hulle nie eers verstaan nie, die terugtrek van produkte en die druk markaandeel. So 'n gemeenskap is dan eerder gemeenskap in die sin van 'n sisteem waarin die persoon as persoon nie belangrik is nie, maar die persoon as koopkrag, gebruiker, ens. Inisiatief steek wel sy kop uit in die vorm van sagtewarerowers en krakers, maar selfs hulle het ook hulle plek. Waar sou sagtewaremonopolieë wees sonder dat hulle markaandeel deur miljoene roofkopieë gegroei het tot die punt waar mense hulle goeie, vertroude en nog werkende programme en rekenaars vervang of opgradeer om 'by te bly', of omdat ander se rekenaars hulle nie verstaan nie? Dit is die presiese teenoorgestelde van die gemeenskapsideaal waar elke persoon homself vrywillig tot die doelwitte van die groep verbind, maar waar die groep ook die enkeling respekteer. In 'n oop gemeenskap - iets hegter en knusser as 'n oop samelewing - is daar gemeenskaplike waardes en doelwitte, maar word aan die groep die ruimte gelaat om te verskil, die minderheidsopsie uit te oefen of so nie 'n gemaklike afstand te handhaaf. 'n Oop gemeenskap is nie totaliserend in die sin dat dit minderhede uitsluit nie. Die opkoms van oopbronsagteware het alreeds 'n nuwe openheid in die sagtewaremark gebring. Daardie openheid is 'n beginselkomponent van die produkte self, en nie bloot 'n sousie wat later oorgegooi word nie. Oopbronsagteware kom tot stand omdat die skrywers van die produkte hulle produkte (en soms net hul idees) aan 'n gemeenskap beskikbaar stel om te te gebruik, te verander of te verkoop soos hulle wil. Wat dan gebeur, is dat ander mense verbeterings aanbring of dit omvorm tot nuwe produkte. So beland 'n stuk oopbronsagteware in 'n evolusieproses waar dit óf uitsterf, óf 'n nismark betrek, of tot 'n hoëkwaliteitproduk ontwikkel. Die Linux-bedryfstelsel en die Apache-webbediener saam met die OpenOffice.org-kantoorpakket is seker die beste voorbeelde van volwasse produkte. 'n Produk soos die Mozilla-webblaaier en -e-posprogram (afsonderlik bekend as Firefox en Thunderbird) is bes moontlik beter as hulle kommersiële, dog onveilige eweknieë. Verskeie hoëkwaliteitnisprodukte bestaan ook, soos die bladuitlegpakket LyX. As jy 'n boek gaan skryf, is LyX definitief noodsaaklik – dié wat dit gebruik, sweer daarby. Daar is nog baie voorbeelde, te veel om op te noem. Hierdie produkte is in beginsel vry. Dit beteken almal mag dit kopieer, verander, verkoop en aanpas. Al beperking is dat alle veranderings ook aan dieselfde vryhede onderhewig is. Monopolisasie word dus in beginsel onmoontlik. Mense maak geld uit oopbronsagteware, maar dìt vir die lewer van dienste en die gerief van verpakking. So is die ekonomie van oopbronsagteware gerig op regstreekse en tasbare waardetoevoeging. Die ekonomie van oopbronsagteware is dan ook baie meer plaaslik – wat goed is vir 'n land soos Suid Afrika wat plaaslike ekonomiese ontwikkeling wil bevorder. Die vryheid van oopbronsagteware skep die ruimte vir gemeenskapsontwikkeling omdat dit persoonlike en plaaslike omvorming van die produkte aanmoedig. 'n Projek wat 'n uitstekende voorbeeld hiervan is, is www.translate.org.za. Dié projek van die Zuza Sagteware Stigting vertaal oopbronsagteware in Suid-Afrikaanse tale. 'n Groot prestasie was die vrystelling van OpenOffice.org in Afrikaans, Sesotho sa Leboa, isiZulu en Engels. Mozilla is ook in Afrikaans , isiXhosa, isiZulu, SeSotho, SeSotho sa Leboa en Engels beskikbaar. Die kommersiële kompetisie het onlangs wel begin beloftes maak, maar ook net op 'n paar klein produkte en niks naastenby so omvangryk soos Zuza reeds doen nie. In dié stadium is dit egter bloot beloftes. Ware gemeenskapsontwikkeling bestaan wanneer iemand wat hierdie stuk lees meer vryheid het om dinge te gebruik, asook vryheid om 'n bydrae tot die gemeenskap te lewer. Teen dié tyd is dit duidelik dat almal wel onbeperkte gebruiksreg het. En almal kan 'n bydrae maak. Op 'n webwerf soos www.translate.org.za bestaan daar ook nog die geleentheid om by te dra deur deel te neem aan die vertaling van programme. Verder is daar nog die potensiaal om 'n produk soos OpenOffice op CD te verkoop as geldinsamelingstrategie ten bate van 'n skool of kerk of ander gemeenskapsorganisasie. Zuza het juis 'n spesiale projek waarby skole ondersteun word met die bemarking van CD's met oopbronsagteware (kontak [email protected] vir inligting). Die vryheid wat hierdie nuwe tipe sagteware kenmerk, is tegelyk die vryheid vir de kleine man om dit in sy eie gemeenskap billik te koop aan te bied. Die organisasie of persoon maak wins en ondernemers kan ekstra dienste lewer. Die gebruiker kry meer vryheid vir baie minder geld, en so kan almal baat by oopbronsagteware. |