blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die internet en gemeenskap: Wikipedia - vrye kennis vir 'n vrye gemeenskap 2005-03-29
Friedel Wolff


Deur Friedel Wolff. Wolff het pas sy M.Sc. in Rekenaarwetenskap voltooi, is 'n voorstander van vryesagteware, en werk onder meer aan Wikipedia en vrye speltoetsers vir Suid-Afrikaanse tale.

    Terwyl Die Vrye Afrikaan vandeesmaand op die internet en die gemeenskap fokus, is dit waarskynlik goed om ondersoek in te stel na die wenner van twee gemeenskapspryse in 2004. Wikipedia het die Prix Ars Electronica vir "Digitale gemeenskappe", asook 'n Webby-toekenning vir "Beste gemeenskap" in 2004 gewen.

Wikipedia is 'n vry, aanlyn-, veeltalige ensiklopedie. Elders in vandeesmaand se uitgawe word vryesagteware bespreek. Vrye-inhoud/-dokumentasie is 'n soortgelyke konsep. Die sentrale punt is natuurlik vryheid: vryheid om inligting te gebruik, vryheid om dit aan te pas of te vertaal, vryheid om dit te versprei. Wikipedia poog om elke mens gratis toegang te gee tot soveel menslike kennis as moontlik. Die werking van Wikipedia word beheer deur die amptelike beleid van ’n neutrale vertrekpunt - persoonlike vooroordeel moet vermy word. Omdat verskeie mense saamwerk en niemand werklik 'n artikel "besit" of "beheer" nie, kan selfs omstrede onderwerpe so gehanteer word.

    Een van die wonderlike eienskappe, en tegelyk ook 'n eienskap wat sommige mense aanvanklik effens ongemaklik laat voel, is die feit dat Wikipedia 'n wiki is. 'n Wiki is 'n webtoeganklike stelsel waarin enigiemand bladsye kan skep of verander. Die resultaat is onmiddelik daarna sigbaar op die web. By Wikipedia kan enigeen 'n artikel skep of uitbrei. Alle veranderinge kan egter nagegaan word. Niks kan in die geheim verander word nie.

    Die Wikipedia-projek lok vele vrywilligers wat bestaan uit leke en akademici. Dít help juis om artikels beide korrek en maklik verstaanbaar te maak. Omdat die resultaat vry is, bestee heelwat mense groot hoeveelhede tyd en dra graag by aangesien dit vry sal bly.

    So 'n veeltalige, multikulturele projek bied natuurlik besondere geleenthede aan lede van alle kultuurgroepe om aktief in hulle eie taal by te dra tot die voordeel van hul eie taalgemeenskap. Dit sluit ook tweedetaalsprekers in, omdat bydraes weer vertaal kan word. Só word vele van die Engelse artikels gebruik as bron vir ander tale se weergawes. Op so 'n manier kan 'n Franssprekende Kameroener baat vind by die bydraes van 'n Engelssprekende Australiër. Vir vele van die tale is Wikipedia moontlik die eerste ensiklopedie wat in daardie taal verskyn. Daar hoef nie vir ekonomiese lewensvatbaarheid gewag te word voordat 'n ensiklopedie in 'n klein taal kan verskyn nie. Geen stelsel van taalonderdrukking kan verhinder dat iemand sy taal laat voortleef by Wikipedia nie, behalwe miskien as die projek self gesensor word. (Die Sjinese regering werk hard daaraan om "ongewenste" dele van die Internet van Sjinese burgers te weerhou. Na my beste wete is Wikipedia tans bereikbaar vanuit Sjina.)


Gewildheid

    Volgens alexa.com is Wikipedia reeds onder die 200 gewildste werwe op die web. Wikipedia is reeds die wêreld se grootste ensiklopedie. In September 2004 het al die tale saam die mylpaal van een miljoen artikels bereik. Intussen het die Engelse weergawe alleen gegroei tot meer as 500 000 artikels.

    Wat Wikipedia verder nog meer besonders maak, is die feit dat dit alles in minder as vyf jaar bereik is. Dit dui duidelik op die krag van gemeenskapsgerigte en gemeenskapsgedrewe projekte.

    Artikels uit Wikipedia verskyn gereeld onder die eerste resultate van soekenjins en word orals gebruik omdat dit maklik verkrybaar en verspreibaar is. Volgens 'n berig van een van die Afrikaanse wikipediane is 'n Afrikaanse Wikipedia-artikel onlangs in sy kind se klaskamer gebruik.


Tekortkominge
 
    Ondanks al die positiewe faktore bly daar natuurlik altyd ruimte vir verbetering. Waarskynlik weens die ooreenkoms met vryesagteware en die feit dat dit webgebaseerd is, is Wikipedia besonder gewild by tegnologiebewustes. Gevolglik is die strekking in diepte van tegnologie- en wetenskapsverwante onderwerpe besonder goed, terwyl die geesteswetenskappe nie altyd met ewe besonderse sukses kan spog nie. (Die meeste onderwerpe word egter heel goed gedek.) Aanvanklik was daar moontlik ook meer van 'n Westerse vooroordeel, maar namate bydraers toenemend verteenwoordigend van die wêreld se gemeenskappe word, kan vele vooroordele ook uit die weg geruim word.

    Vanweë die feit dat die web as medium gebruik word, is daar beperkings. Die gebruik van videos en animasie word byvoorbeeld beperk deur die hoë vereistes vir bandwydte. Die gewildheid tot dusver beteken ook dat die projek nie altyd mooi bybly met die ongelooflike groei van die gemeenskap van vrywilligers nie. Verder is die verspreibaarheid buite die wêreldwye web tans beperk; die eerste maklikverspreibare, aflynweergawes sal waarskynlik in 2005 verskyn.

    Verder benodig die projek natuurlik steeds meer vrywilligers om aan inhoud te werk - hetsy vir skryfwerk, navorsing, taalversorging, of illustrasies. Die gehalte van vele kleiner taalweergawes is natuurlik nog nie op die peil van die Engelse weergawe nie. Die sukses van die tale wat reeds groot sukses bereik het, gee natuurlik reeds hoop, en 'n visie van wat moontlik is met meer hulp en tyd.

    Die Afrikaanse projek is natuurlik aansienlik kleiner as die meeste ander tale se projekte. Daar is tans 'n handjievol persone wat werk aan vertalings en ook die skryf van nuwe Afrikaanse artikels. Enkele Nederlandssprekendes is ook betrokke en sit hier en daar ’n handjie by. Die projek sal vanselfsprekend  groot baat vind by die betrokkenheid van meer medewerkers. Bewusmaking van hierdie projek onder alle Suid-Afrikaners sal natuurlik help om Suid-Afrikaanse tale te bevorder, én om die strekking en diepgang van Suid-Afrikaanse onderwerpe te verbeter.


 Besoek gerus Wikipedia by www.wikipedia.org
 Die Afrikaanse weergawe is by af.wikipedia.org



 

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=172
Artikel nagegaan:
    -