|
||||
Friedel Wolff Deur Friedel Wolff. Wolff het pas sy M.Sc. in Rekenaarwetenskap voltooi, is 'n voorstander van vryesagteware, en werk onder meer aan Wikipedia en vrye speltoetsers vir Suid-Afrikaanse tale. Ons onthou seker nog almal die tyd toe mens nog aan jou eie motor kon werk, die dae toe komponente gedokumenteer is en (as mens bereid was om die moeite te doen) jy self kon regkom. Vir die ander mense (of vir groter probleme) was daar die moontlikheid om aan te klop by die werktuigkundige van hulle keuse. Die meeste van ons se sagteware - sommiges verkies die woord "programmatuur" bo "sagteware" - kan vergelyk word met 'n motor waarvan die enjinkap geheel en al toegeswys is - dit is eenvoudig onmoontlik om iets daaraan te verander of te verbeter as ons wou. Dit is ook omtrent onmoontlik om iets te leer uit so 'n geslote stelsel. Ons lewe in 'n gemeenskap waar ons geïndoktrineer word om te dink oor digitale ware soos wat ons dink oor fisiese voorwerpe. Die meeste tegnologiemaatskappye - hoe ironies - hou nie werklik van die gemak waarmee rekenaars inligting kan kopieer nie. Hierdie probleem het Richard Stallman, stigter van die Stigting vir Vrye Sagteware, laat besef dat dit nie die manier is waarop dinge behoort te werk nie. Die Stigting sou vrye sagteware skep - nie net gratis nie, maar werklik vry. Vry, omdat dit die gebruikers die vryheid gee om die programme te gebruik waarvoor hulle wil, te bestudeer, te versprei, te verander en selfs veranderde weergawes te versprei as hulle wil. Dít is die definisie van vrye sagteware. Baie van u mag dalk dink dat dit nogal 'n nuwe of vreemde idee is, maar ons het al almal vrye sagteware gebruik. U lees hierdie artikel omdat vrye sagteware dit oor die internet aan u stuur. Miskien gebruik u al Mozilla Firefox - 'n vrye (en gratis) webblaaier (Engels: web browser). Vry beteken nie noodwendig gratis en verniet nie - dit is heeltemal aanvaarbaar dat mense betaal word vir hulle werk en vir die verspreiding van die programme. Maar niemand kan iemand anders die reg ontsê om vrye sagteware wel gratis (of teen 'n prys) aan iemand anders te verskaf om hulle te help nie. Só bly vrye sagteware vry. Daarom is dit dan ook belangrik dat daar nie misverstande moet wees met terme soos freeware, shareware, ens. nie. Die beweging word ongelukkig geteister deur die Engelse dubbelsinnigheid in die woord free, veral aangesien hierdie sagteware wel gewoonlik gratis beskikbaar is. Daarom word daar soms verwys na free/libre software. In Suid-Afrika is ons natuurlik baie gewoond aan die idee van gratis sagteware: baie mense gebruik (onwettige) kopieë van sagteware wat deur vriende gemaak word. Maar dit bly onwettig, en die Stigting vir Vrye Sagteware keur hierdie kopiëring geensins goed nie. Die Stigting het van vooraf begin om vrye alternatiewe vir nie-vrye sagteware te skep. Vrye sagteware staan dus teenoor eiendomsagteware (Engels: proprietary software) waar die sagteware 'n eienaar het wat slegs 'n beperkende gebruikslisensie verskaf aan kliënte. Die kliënte mag nie die programme bestudeer, verander of herversprei nie. Maar hoe kan een organisasie plaasvervangers skep vir al die sagteware wat mense moontlik wil gebruik? Die geheim lê in die vryhede van die sagteware. Baie mense hou daarvan om vir hierdie goeie doel by te dra as hulle weet dat niemand later die vryhede kan wegneem nie. Maar is daar werklik soveel vrywilligers wat hulle tyd skenk? En wat van die kostes verbonde aan webwerwe en verspreidingsdienste? Vele projekte begin as stokperdjies of universiteitsprojekte. Gewilde projekte kan gou-gou duisende aanhangers kry en word dan soms geborg met donasies, of deur die lewering van ondersteuningsdienste. Soms gee korporatiewe borgskappe groot hulp, waar 'n groot onderneming selfs 'n deel van 'n werknemer se tyd afstaan vir werk aan 'n vrye projek. Infrastruktuur is beskikbaar by 'n webwerf soos http://www.sourceforge.net waar baie van die duur infrastruktuur vir 'n projek gratis beskikbaar is vir medewerkers. Vrye vs. oopbronsagteware Die meeste mense wat al gehoor het van vrye sagteware, het waarskynlik ook al gehoor van oopbronsagteware. Sodra mens weet dat "gratis" nie die bedoeling is wanneer "vry" gebruik word nie, dink die meeste waarskynlik dat dit na dieselfde ding verwys. En dit is min of meer korrek. Linux, een van die suksesverhale in die wêreld van vrye/oopbronsagteware, kan as 'n voorbeeld van albei gesien word. Hoekom bestaan daar dan twee terme? Waar vrye sagteware se naam en ideologie sterk dui op vryheid en die beskerming van regte, dui "oopbron-" eerder op 'n ontwikkelingsmetodologie. Dit beskryf dus hoe die sagteware geskryf en ontwikkel word - deur oop prosesse waar die bronkode beskikbaar is. (Die bronkode is die programmeringslêers vir 'n projek.) Volgens aanhangers van oopbronsagteware kan dié proses suksesvol wees deurdat vrywilligers betrokke raak en deurdat die proses gemeenskapsgedrewe is - alles wat natuurlik ook waar kan wees van vrye sagteware. Vrye en oopbronsagteware word beskerm deur lisensies wat die regte en verpligtinge ten opsigte van gebruik en herverspreiding uiteensit. Hierdie lisensies verskil soms in fyn nuanses, soos byvoorbeeld in watter mate nie-vrye sagteware saam met die vrye sagteware gebruik en/of versprei mag word. Die verskil tussen hierdie twee strominge lê dus hoofsaaklik in die regverdiging en motivering. Daar is egter sekere lisensies wat nie deur albei bewegings aanvaar word nie, met die gevolg dat nie álle oopbronsagteware vrye sagteware is nie. Maar is die produkte van hierdie beweging van waarde en is dit kompeterend? Aanhangers van die vrye sagteware-ideologie sal natuurlik sê dat dít nie is waaroor dit gaan nie. Dit gaan oor die vryheid. Maar almal moet saamstem dat hoë kwaliteit definitief bereik word in baie gevalle. Omtrent sewe uit tien webwerwe werk met die baie suksesvolle Apache-sagteware. Vir baie toepassings verkies eksperte vrye sagteware. Soms is dit juis die koste en uitbreibaarheid wat maak dat eiendomsagteware nie kan kompeteer teen vrye alternatiewe nie. Ten opsigte van taal bied vrye sagteware interessante moontlikhede. Met eiendomsagteware word produkte vertaal wanneer dit winsgewend sal wees vir die eienaars. Maar met vrye sagteware kan enigeen 'n vertaling bydra. Juis daarom dat vele vrye projekte reeds in verskeie Suid-Afrikaanse tale beskikbaar is, terwyl eiendomsagteware ver agter is. Hierdie vrye vertalings kan ook hergebruik word - selfs met kompeterende vrye programme - juis omdat dit aan die gemeenskap behoort. Hier is dan ook geleentheid om rekenaarongeletterdes makliker te bereik en gemarginaliseerde tale uit te brei om tred te hou met rekenaarverwante vooruitgang. Skole en die staat Maar kan elkeen nie maar vir hom-/haarself besluit nie? Natuurlik! Die beweging is ook geensins ten gunste van monopolieë nie - vele vrye projekte ding teen mekaar mee binne dieselfde probleemdomein. Interessant genoeg werk hulle ook in baie gevalle saam. Daar is egter gevalle waar die gebruik van eiendomsagteware nie goedgekeur kan word nie. Sagteware wat gebruik word deur regerings of ander staatsinstansies, asook verdere ontwikkeling aan hierdie programme, word mos gefinansier met belasting. Dit is dan tog vanselfsprekend dat belastingbetalers so veel as moontlik voordeel daaruit moet trek. Dit is daarom onaanvaarbaar en onregverdigbaar dat 'n Amerikaanse maatskappy (of sal ons eerlik wees en Bill Gates sommer op die naam noem) die meeste bevoordeel word deur die keuse van sagteware van 'n regering. As my belasting sagtewareontwikkeling borg, wil ek tog ook voordeel daaruit trek. Daarom is selfs afslagpryse op eiendomsagteware geen regverdiging vir die gebruik daarvan nie. Verder is dit ook belangrik dat skole en openbare opleidingsinstansies gebruik maak van vrye sagteware. Alhoewel dit natuurlik onaanvaarbaar is om van skoliere te verwag om toegang te hê tot duur eiendomsagteware, is vryheid weer eens belangriker as die prys in rande en sente. Dit is belangrik om skoliere te leer om goeie burgers van die gemeenskap te wees - deur eerder by te dra tot projekte wat die hele gemeenskap kan help. Verder skep dit natuurlik ook veel groter geleentheid vir leerlinge om te leer. Skole moet dus die voorbeeld vir leerlinge stel deur vrye sagteware te gebruik, net soos wat hulle die voorbeeld moet stel deur belasting te betaal en die omgewing te versorg. Maar dan behoort ons tog eintlik almal eerder vrye sagteware te gebruik, nie waar nie? So 'n verandering kan moeilik wees as 'n volledige verandering eensklaps aangepak word, en nie alle mense kan kies watter programme hulle gebruik nie. Maar almal kan een of twee vrye programme toets by die huis en kopieë maak vir vriende en familie. Betaal 'n Suid-Afrikaanse student om dit te verbeter, of raak betrokke by die vertaling of bemarking daarvan, en doen op hierdie manier iets tot voordeel van die hele gemeenskap. Vir meer inligting aangaande vrye sagteware, besoek http://www.gnu.org/philosophy/ Vir meer inligting aangaande oopbronsagteware, besoek http://www.osi.org/ |