|
||||
Richard Meissner Deur Richard Meissner, navorser verbonde aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede en redakteur van die SADC Barometer Botswana en Namibië het onderskeidelik in Oktober en November 2004 verkiesings gehou, terwyl Mosambiekers aan die begin van Desember 2004 stembus toe is. Beide die Botswana- en Namibiese regerings het die SADC-Parlementêre Forum (SADC-PF), bestaande uit parlements- en opposisiepartylede van verskeie SADC-parlemente, versoek om die verkiesingsproses waar te neem. Dit was ook die geval met Mosambiek se verkiesing met bykomende streeks- en internasionale waarnemers van die Verkiesingsinstituut van Suider-Afrika (VISA), SADC se Orgaan vir Politiek, Verdediging en Veiligheid (OPVV), die Europese Unie (EU), die Statebond en die VSA-gebaseerde Carter-sentrum. Terwyl die Batswana tougestaan het om te stem, het die leier van Zimbabwe se opposisie, die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), Morgan Tsvangirai, op ‘n warrelwindtoer van Suider-Afrika en Europa gegaan, wat suggereer dat hy die politieke betekenis van internasionale steun voor vandeesweek se verkiesing ingesien het. Tsvangirai het ver en wyd bearbei vir die implementering en toepassing van die SADC- Beginsels en Riglyne Rakende Demokratiese Verkiesings (die sogenaamde Mauritiese Protokol) deur die Zimbabwiese regering. Wat het hierdie gebeure gemeen? Die feit dat die regerings van Botswana, Namibië en Mosambiek die teenwoordigheid van waarnemers formeel versoek het, is ‘n aanduiding dat daar nie meer ‘n skeiding bestaan tussen hierdie lande se binnelandse en buitelandse politieke terreine nie – besonderlik betreffende verkiesings. Dieselfde geld ook Tsvangirai se bearbeidingsveldtog. Tsvangirai handel aktief as ‘n transnasionale agent wat Zimbabwe se binnelandse politieke terrein verbind met ‘n deel van die internasionale gemeenskap. Die verkiesings is dus getransnasionaliseer — die transnasionale verhoudings tussen rolspelers waaronder minstens een ‘n niestaatsrolspeler is. Van belang is die uitwerking wat hierdie gebeure op die soewereiniteit van Botswana, Namibië, Mosambiek en Zimbabwe het. Omdat Botswana, Namibië en Mosambiek die teenwoordigheid van waarnemers vrywillig aangevra het, het hulle ‘n deeltjie van hul soewereiniteit prysgegee om hul reputasies as demokrasieë in die reeks te bevorder. Daarenteen ondermyn Tsvangirai se optrede Zimbabwe se soewereiniteit omdat nóg die staat se reikafstand, nóg die regering se gesag ‘n uitwerking op sy optrede het. Met ander woorde, Zimbabwe se soewereiniteit krimp meer beduidend. Die transnasionalisasie van die verkiesings is belangrik vir regering, nie net vir die vier lande nie, maar ook vir die streek. Volgens James Rosenau is verkiesings subtiele meganismes van regering omdat die kiesers deur die verkiesing nie net hulle verteenwoordigers verkies nie, maar ook aktief aan die staatsgemeenskap (body politic) deelneem. Vrye, regverdige verkiesings is uiters belangrik in die prosesse van demokratisering en regering, en ‘n regering wat sy burgers dié reg ontsê, skend ‘n integrale deel van menseregte-ideale. Hierdie elemente word deur Tsvangirai se bearbeiding en diplomasie dwarsoor die streek oorgedra, met regerings en individue wat blootgestel word aan ‘n ervaring wat vinnig ‘n wêreldwye neiging word. Wat nog gesien moet word, is of die lesse van betreklik vrye en regverdige verkiesings in Botswana, Namibië en Mosambiek asmede Tsvangirai se bearbeidingspoging dividende deur die streek sal betaal en regering sal bestendig. Met ander woorde, sal vrye, regverdige verkiesings en die bearbeiding om die ontwil van die Mauritius Protokol gevestigde norme in die SADC-streek word, of is hierdie bloot ewekansige gebeure wat uiteindelik tot regeringsmislukkings lei? Rosenau verklaar ook dat verkiesings in vergelyking met die regeringsproses kortstondige episodes is, wat van blywender, meer permanente aard is. In feite kan verkiesings ver verwyder wees van die beleide wat deur nuutverkose amptenare nagestreef word. Nietemin is verkiesings belangrike gebeure in enige politieke stelsel – hulle is die fondamente van legitimiteit wat leiers in staat stel om namens die publiek te handel. Weens die belangrikheid van verkiesings as bron van legitimiteit, druk demokrate altyd vir verkiesings en is outokrate altyd gereed om hulle uit te stel, te ontduik of aan hulle te torring. Dit is in hierdie lig wat die verkiesings in Botswana, Namibië, Mosambiek en Zimbabwe deur die staat, niestaatrolspelers en individue getransnasionaliseer is. Vir Botswana is dit weens die lang tradisie van demokrasie belangrik om buitelandse waarnemers te nooi. Om sleutelleiers van SADC – mnr. Paul Berenger van Mauritius en pres. Thabo Mbeki van Suid-Afrika en Europa te bearbei, is nie net ‘n propagandaset nie, maar ook ‘n middel om Zimbabwe se verkiesing nader aan vry en regverdig te bring. Wat die regerings van Botswana, Namibië en Mosambiek, die MDC en streeks- en internasionale waarnemerspanne doen, is om norme en praktyke te vestig. Deur die praktyk om internasionale buitelandse waarnemers te nooi en deur bearbeiding ter wille van toepassingsmeganismes word norme en standaarde gekultiveer wat wyd erken mag word as legitieme standaarde van verkiesingspraktyk in die SADC-streek. Dit is betekenisvol dat nie slegs regerings normskeppers is nie, maar dat ‘n individu van ‘n nie-staatsorganisasie – die MDC – ook as een optree. Tsvangirai se bearbeidingsreise is ook ‘n aanduiding dat politieke opposisiepartye in staat is om buitelandse beleid te formuleer en uit te voer. Richard Meissner is a researcher at the South African Institute of International Affairs. |