blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Regeringspolitiek in Suider-Afrika: Presidensiële opvolging in Botswana: Geen model vir Afrika nie 2005-03-29
Kenneth Good en Ian Taylor

Presidensiële opvolging in Botswana: Geen model vir Afrika nie

Deur Kenneth Good, professor in politieke studies, Universiteit van Botswana; en Ian Taylor, School of International Relations, Universiteit van St.Andrews, Skotland

* Hierdie referaat sou op 23 Februarie 2005 by die Universiteit van Botswana gelewer word, en het gelei tot ‘n poging deur president Festus Mogae van Botswana om prof. Good uit die land te sit. Die Vrye Afrikaan bedank die skrywers asook dr. Roger Southall van die RGN vir hul toestemming om ‘n Afrikaanse vertaling van die artikel te plaas, asook prof. Rob Shell van die Universiteit van Kaapstad wat die skakeling met die betrokke partye bemiddel het. Die referaat verskyn later vanjaar in die boek Leadership Change and Former Presidents in Anglophone Africa onder redaksie van Henning Melber en Roger Southall, in Kaapstad uitgegee deur HSRC Press.

Sedert sy onafhanklikwording in 1966 is Botswana ononderbroke onder die bewind van die Botswana Democratic Party (BDP). Sy prestasie op die gebied van ekonomiese groeikoers is indrukwekkend, maar is behaal ten koste van diversifikasie en vertoon blywende ongelykhede en tekortkominge in mense-ontwikkeling(1). Botswana was by sy onafhanklikwording een van die armste lande ter wêreld, maar word nou deur die Wêreldbank geklassifiseer as ’n bo-middelinkomsteland met ’n per capita-BBP teen koopkragpariteit van amper $8 000 (Human Development Report, 2003: 280, en Republic of Botswana, 2001).

Vanweë sulke groeikoerse en die feit dat hy van die begin af oënskynlik as ’n stabiele liberale demokrasie funksioneer (in teenstelling met die meeste Afrikalande voor 1990, uitgesonderd Mauritius), is Botswana toegegooi onder lof en herhaaldelik die “Afrika-wonder” genoem (die frase “African miracle” is oorspronklik in 1978 deur Thumberg-Hartland gebruik en in 1999 deur Samatar herhaal). Die meeste van die literatuur oor Botswana dra swaar aan lofuitinge. Baie van dié standpunte is idealisties en grotendeels ekonomisties in benadering sonder om die politieke dinamiek van die land se geskiedenis voor en ná onafhanklikwording in ag te neem (sien Vengroff, 1977; Thumberg-Hartland, 1978; Picard, 1985; Picard, 1987; Harvey & Lewis, 1990; Holm & Molutsi, 1992; Danevad, 1993; Stedman, 1993; Dale, 1995; Leith, 2004; Werbner, 2004). Hierdie werke neem aan dat Botswana inderdaad A Model for Success? (Picard, 1987) is, en dat die onderskeidende kenmerk van Botswana sy “welvarendheid” is (Leith, 2004).

            Die dinamiek van Botswana se gevierde demokrasie moet egter ondersoek word as ’n mens die idee dat die land ’n model van presidensiële oorgang in Afrika verteenwoordig, behoorlik wil evalueer. So ’n stelling is twyfelagtig, hoofsaaklik omdat die land se demokrasie hoogs elitisties is, mag in die presidensie gesentraliseer is en die land se twee presidensiële oorgange, in 1980 en 1998, albei plaasgevind het sonder inagneming van die wense van die mense, deur slegs ’n handjie vol mense bepaal is en opvolgers behels het wat hoegenaamd geen populêre kiesersgevolg gehad het nie.

Die Beginsel van Oorgang en Elitevernuwing

Kortstondigheid in hoë ampte is ’n fundamentele demokratiese beginsel. In die deelnemende vorm wat vir twee eeue in werklikheid in Athene bestaan het en waarin populêre organisasie en gelykheid allesoorheersend was, was ’n “president vir die dag” aan bewind en die amp is wyd in die burgery gesirkuleer. Met die deelnemende aspirasies van die United Democratic Front in die 1980’s is beginsels van “organisatoriese demokrasie” ontwikkel om te probeer om, ondanks die waarskynlikhede, kollektiewe leierskap te ontwikkel wat dikwels herkies is. Ondanks kritiek van leiers – veral dié van die veelgeprese Moeder van die Nasie, Madikizela-Mandela – was verantwoordingspligtigheid en terugrapportering aan die lede oor die leiers se uitvoering van die mandate wat aan hulle toevertrou is, iets waarna deurgaans gestreef is (Good, 2002: 167-190).

In skerp teenstelling hiermee is liberale demokrasieë egter gebou op elitisme wat ongelykhede voed. Maar selfs die Verenigde State verseker dat “Meneer die President” hoogstens vir twee ampstermyne van vier jaar kan dien en aanvaar eenvoudig die vervangbaarheid van selfs die mees gevierde presidente. Liberale elitisme behels die sirkulering van die elite met die gepaardgaande verskynsel van mededinging. Margaret Thatcher van Brittanje het as die Ystervrou bekend geword en het selfs ’n nuwe regeerideologie opgebou wat haar naam dra. Sy is drie keer herkies, maar haar einde was fel en nogal volledig. Openbare uitnemendheid vir tien jaar is gevolg deur anonimiteit en stilte buite die Britse Hoërhuis en die Amerikaanse lesing-roete. Haar dogter het die tipiese ervaring van die Britse Eerste Minister soos volg saamgevat: “Vandag spoghaan, môre verestoffer”.

Dit is algemeen bekend dat langdurige ampsbekleding en die volslae onwilligheid van die meeste presidente om vrywillig die mag te oorhandig – selfs nadat hulle ’n verkiesing verloor het – ’n opvallende kenmerk van Afrika is. Presidensialisme en kliëntisme baken die vasteland se politiek af. Wydverspreide netwerke van kliënte ontvang dienste en hulpbronne in ruil vir steun – dit is hoe dit deeglik verstaan en selfs verwag word in talle Afrikalande; die party wat aan ’n Nigeriese verkiesing deelgeneem het onder die naam “I Chop, You Chop Party” is ’n manifestasie van hierdie bekende spel en weerspieël die wedersydse, maar onbillike, voordele wat verleen word aan sowel beskermheer (die Grootkop) as kliënt (die afhanklike nie-burger). Trouens, die beoefening van gepersonaliseerde ruiling, kliëntisme en korrupsie word geïnternaliseer en maak ’n “essential operating code for politics” in Afrika uit (Bratton & Van de Walle, 1997: 63). Dit is “accepted as normal behaviour, condemned only in so far as it benefits someone else rather than oneself” (Clapham, 1985: 49).

Dit is van kritieke belang dat die hulpbronne wat in hierdie kliëntisme uit die staat of die ekonomie verkry word, aangewend word as die middele waarmee steun en legitimiteit in die politieke stelsel gehandhaaf word, met die gepaardgaande uitwerking dat beheer oor die staat gelyk is aan beheer oor hulpbronne, wat weer noodsaaklik is om die status van Grootkop te behou. Beheer oor die staat beantwoord aan ’n dubbele doel: dit olie die beskermheernetwerke en dit bevredig die selfsugtige behoeftes van die elite om hulself te verryk, in baie gevalle op totaal verbysterende wyse. Dít is die kern van Afrika-presidente se onwilligheid om die mag vrywillig te oorhandig en die rede waarom so baie Afrika-regimes wanordelik tot ’n einde kom, soms selfs in ’n staatsgreep (Decalo, 1990). In die meeste gevalle is die demokratiese opsie afwesig of dit word nie deur die verloorder gerespekteer nie – daar is eenvoudig te veel op die spel, want as ’n mens eers uit die kringloop uitgeskakel is wat toegang tot staatshulpbronne betref, word dit feitlik onmoontlik om jou status as Grootkop te handhaaf en om voort te gaan om jouself te verryk. Die politiek in Afrika is dus geneig om ’n nulsomspel te wees. By die skryf hiervan, en vyftien jaar nadat die golf van demokratisering kwansuis oor Afrika gespoel het toe die Koue Oorlog beëindig is, was 39 persent van Afrika se leiers reeds meer as tien jaar aan bewind, terwyl 28 persent reeds vyftien jaar of meer president was. ’n Geharde 19 persent is reeds twintig jaar of meer op die troon van mag, en drie is reeds vir meer as dertig jaar staatshoofde.

Dit is problematies dat hierdie soort milieu ná die demokratisering wat op die Koue Oorlog gevolg het, bly voortbestaan (Bratton & Van de Walle, 1997), met slegs ’n handjie vol uitsonderings (Santiso & Loada, 2003). Omolo (2002: 219-220) merk soos volg op oor die demokratiese oorgang in Kenia:

In Kenya “big man” politics has outlasted the change from the one party to the multi-party system. Aside from the implementation of laws allowing for multiparty politics, there has not occurred a fundamental structural change in the country’s politics. Moreover, the enduring political values of a single party order are reinforced by a preponderance of political players from the ancien regime. In the typical fashion of patrimonialism, politics remains a cottage industry with significant economic gains for the favoured: it offers exclusive access to public sector jobs seen as sinecures for prebends and economic rents for the privileged elite. The lucky few can become incredibly rich in a short span of time. Inevitably though, the process has led to a pervasive atrophy of state institutions and an increase in poverty for the average citizen.

Dit is gebiedend dat Afrika se Grootkoppe aangemoedig moet word om van die mag afstand te doen – maar as daar enige lesse uit Botswana te leer is, is dit van ’n begrensde en beperkte aard. 

Die Mitiese “Baken van Demokrasie”

Botswana is inderdaad uitsonderlik, maar wel op ’n baie meer komplekse en beperkte manier as wat sy onkritiese bewonderaars besef. Dit is belangrik dat die Tswana-elite histories van die meeste ander in Afrika onderskei kan word op grond van hulle regstreekse betrokkenheid by produksie en die feit dat hulle individuele vergaarders van rykdom was voor – maar ook tydens – hulle bekleding van hoë ampte. Rykdom en mag geniet in Botswana ’n kultureel legitieme naasbestaan. Ander faktore oefen vandag ook ’n invloed uit. ’n Voor die hand liggende faktor is dat staatkundige en politieke mag hoogs gesentraliseer is in die uitvoerende gesag en die persoon van die staatspresident, wat tot dusver ook die president van die regerende Botswana Democratic Party (BDP) was. Daarbenewens word die president van Botswana nie regstreeks deur die mense gekies nie en konstitusioneel besluit hy alleen – hy hoef met niemand oorleg te pleeg by die neem van ’n besluit nie, nie die kabinet, die visepresident of die partykoukus nie. Deur die Kantoor van die President oefen hy regstreekse beheer uit oor belangrike instrumente van mag: die militêr en die polisie, die staatsdiens, die direktoraat teen korrupsie en ekonomiese misdaad (Directorate on Corruption and Economic Crime – DCEC), en die inligtings- en uitsaaiwese (Information and Broadcasting, wat die land se belangrikste dagblad – wat landwyd gratis versprei word – plus Radio Botswana en Botswana Television insluit). Die president kan ’n kommissie van ondersoek na enige aangeleentheid instel, bepaal of die sittings daarvan privaat of in die openbaar moet geskied en bepaal of die kommissie se verslag openbaar gemaak moet word al dan nie. Die vloei van menings word sorgvuldig beheer in hierdie demokrasie. Staatsamptenare word verbied om met die pers te praat, daar is geen vryheid van inligting nie en daar is geen wetgewing oor alarmmaking wat ’n eties ingestelde burokraat beskerm nie. Die teendeel, eerder. ’n Vooraanstaande minister het in 1995 die parlement meegedeel dat ’n “oortredende” amptenaar wat inligting oor korrupsie in die sentrale vervoerorganisasie aan ’n opposisie-LP verstrek het, opgespoor sou word en kragtens die wette oor nasionale veiligheid en die staatsdiens aangekla sou word. Toe ’n reeks skandale in die vroeë 1990’s voorgekom het waarby senior ministers en die president betrek is,(2) het pres. Masire deels gereageer deur beheer verder te verskerp. ’n Aantal parastatale instansies het vertroulikheidswette met strafsanksies aangeneem om die beskikbaarstelling van inligting aan die publiek te beperk – dié in die Botswana Housing Corporation, wat die onderwerp van een ernstige korrupsie-ondersoek was, maak voorsiening vir ’n boete van P5 000 en gevangenisstraf van vyf jaar vir ’n werknemer wat iets bekend maak (Good, 1999: 53).

            Die “National Security Act” simboliseer die geheimhoudings- en outoritêre neiging binne die staat. Dit maak voorsiening vir gevangenisstraf van tot 25 jaar, ongeag die openbare belang by die betrokke aangeleentheid; die bepalings daarvan is sowel vaag as wydstrekkend en omvat, vir die openbare kennis, alle aangeleenthede rakende die Botswana-weermag (Botswana Defence Force – BDF), vakbondbedrywighede en werkerslone, asook akkurate inligting oor die agterstelling van die San/Basarwa/Boesmans. Sekere verbandhoudende bevoegdhede, soos die aanwysing en uitsetting van ’n inwoner as ’n verbode immigrant, val aan die president self toe en is nie beregbaar nie.

            Geheimhouding en nie-verantwoordingspligtigheid is oral teenwoordig. Die regering het byvoorbeeld in die vroeë 1990’s ’n baie groot militêre uitbreidingsprogram begin wat gekenmerk is deur versuim om te verduidelik, te motiveer en verantwoording te doen. Dit het begin met die konstruksie van die groot Thebephatshwa-lugmagbasis wes van Gaborone, wat in 1995 amptelik geopen is.(3)  Sewe maande later het berigte in Nederland en in die plaaslike pers verskyn dat Botswana 50 Leopard 1-V-gevegstenks wou aankoop. Toe hy gevra is om die berigte te verklaar, het die BDF bloot geantwoord dat die inligting geklassifiseerd is. Hoewel daar langdurige debatvoering in Nederland plaasgevind het oor die voorgenome verkoop aan ’n klein ontwikkelende land, is die saak nooit in die Nasionale Vergadering in Gaborone bespreek nie. Selfs ’n parlementêre vraag is buite orde verklaar; die Minister vir Presidensiële Aangeleenthede, Ponatshego Kedikilwe, het aan die onderleier van die Opposisie gesê dit is “unacceptable ... to expect me to reveal such sensitive information” (Good, 1999: 52-53).

            Al het die land se militêre besteding tussen 1992 en 1995 verdriedubbel en gespesialiseerde militêr-georiënteerde vaktydskrifte daaroor berig, het die amptelike stilte voortgeduur. Die bevelvoerder van die BDF het in April 1996 verklaar dat “it is not in the nature of any army in the world to discuss its strength”. Teen 1994 het die weermag 4,6 persent van die BBP ontvang, ’n persentasie groter as dié van Namibië, Zimbabwe en Suid-Afrika, en ook volgens wêreldstandaarde groot. In Junie 1996 het persberigte aangedui dat Botswana 13 CF-5 (of F-5) -vegbomwerpers by Kanada gekoop het. Pres. Masire het geweier om te verduidelik wat aan die gebeur was: “An army is an army because it is equipped as an army. We therefore are getting equipment adequate to our needs and we need no apology to anybody for doing that” (Botswana Gazette, Gaborone, 5 Julie 1996).

            Die uitbreiding en die geheimhouding met betrekking tot die weermag duur voort. Duitse wetgewing teen die uitvoer van sy militêre toerusting na lande buite die NAVO-gebied het die aanvanklike aankoop van die Leopard-tenks gedwarsboom, maar luidens koerantberigte in Julie 2001 het Botswana daarin geslaag om 20 tenks van Oostenryk te koop en het al twintig reeds die vorige jaar in Botswana aangekom. Volgens ’n Oostenrykse diplomaat in Pretoria het die koste vir Botswana $32,5 miljoen beloop. Daar was ook ’n opsie vir ’n verdere kooptransaksie. ’n BDF-woordvoerder wou nie die berig bevestig of ontken nie (Mmegi, Gaborone, 27 Julie 2001). Teen Julie 2001 het militêre besteding in Botswana steeds 3,5 persent van die BBP beloop, weer eens groter as dié van sy bure. Zimbabwe was ’n outokrasie wat by krygsbaronisme in Kongo-Kinshasa betrokke was, maar sy militêre besteding in daardie jaar was 3,2 persent van die BBP, terwyl die syfer in Suid-Afrika slegs 1,6 persent was (Human Development Report, 2003: 297).

            Dit was belangrik in die spesifieke sin dat militêre uitbreiding wanneer daar geen bekende vyand is nie, regionale destabilisering in die hand kan werk en ook die land se geroemde reputasie vir ekonomiese en politieke rasionaliteit kan skaad. Dit was egter ook in ’n breë en algemene sin belangrik. Geheimhouding is die terrein van die regerende elite, en staan in skerp teenstelling met demokrasie. Inligting help om mense te bemagtig, terwyl geheimhouding hulle ontmagtig. Die ombudsman, Lethebe Maine, het laat in 1999 ’n beroep  gedoen dat ’n wet op vryheid van inligting verorden word. Woordryke stellings deur die ombudsman as die steunpilaar van demokrasie beteken bloedweinig, het hy gesê, as die reg om ’n klagte in te dien en kwessies te opper nie ten volle vir alle sektore van die publiek beskikbaar was nie. Hy het voorts opgemerk: “The effective flow of information about policy and administrative matters are [sic] fundamental to the role of the Ombudsman” (Botswana Gazette, 3 November 1999).

            Toegang tot inligting word streng beheer, want dit ondersteun stabiliteit en die status quo in ’n liberale Botswana. Vraagstellers kan selfs summier ontslaan word, en as hulle probeer om daarmee vol te hou, kan hulle voorgestel word as “abusive”, as “breeding a culture of contempt”, of as betrokke by “a witch hunt”.(4) Outsa Mokone, die redakteur van die Botswana Guardian, het tereg opgemerk dat die land ly aan die mishandeldevrou-sindroom, want “each time we are short changed by our leadership, we try to make excuses for them, for fear of appearing disrespectful”. Die werklikheid was egter dat die media ’n groot verantwoordelikheid gehad het, veral in die naloop van die verkiesing van 1999: “The political opposition is fragmented and weak. The parliamentary watchdog role has been eroded ... [and] civil society is small and still developing” (Mmegi, 4 Februarie 2000). Gou het die regering sy misnoeë met die Guardian se kritiese benadering uitgespreek. Op of omstreeks 23 April 2001 het pres. Mogae ’n mondelinge opdrag gegee dat alle staats- en parastatale liggame, asook private maatskappye waarin die staat die meerderheidsaandeelhouding het, moet ophou om in die Botswana Guardian en sy stalmaat die Midweek Sun te adverteer (Midweek Sun, Gaborone, 19 September 2001).

            Botswana Television (BTv) ondervind ook regstreekse inmenging oor sowel feit as mening in hulle uitsendings. Toe Chris Bishop, kortstondig redakteur van nuus en aktuele sake by BTv, voorgestel het dat ’n dokumentêr oor die tereggestelde moordenares Marietta Bosch uitgesaai word, het die Direkteur van Inligting en Uitsaaiwese, Andrew Sesinyi, hom meegedeel, luidens Bishop se beëdigde verklaring, dat ’n regeringsbesluit geneem is en dat hy (Bishop) nie toegelaat sou word om die film uit te saai nie. Hierdie opdrag het regstreeks gekom van die Visepresident en Minister vir Presidensiële Aangeleenthede, Ian Khama (Botswana Guardian, 13 Julie 2001). ’n Beplande storie oor die San, wat toe gekonfronteer was met verskuiwing vanaf hulle stamgrond, is ook op die hoogste vlak geopponeer. Bishop het verklaar dat “certain ministers considered the television station as their personal privilege [sic] to use at will”. Ministeriële voorkeure in programopstelling het gepaardgegaan met “veiled threats directed against me”. Daar was nie so iets soos redaksionele onafhanklikheid by BTv nie, het hy gesê, en gevolglik het hy geen ander keuse gehad as om te bedank nie (Sunday Independent, Johannesburg, 15 Julie 2001). Later het Daniel Kwelagobe, wat toe Minister vir Presidensiële Aangeleenthede en Openbare Administrasie was, heel openlik verklaar dat Radio Botswana onder staatsbeheer sou bly “because it is there to broadcast, and disseminate government policies and programmes”, en voorts: “We must have a medium that we can control and tell it what to do”.  Kwelagobe het ook opgemerk dat die oprigting van private radio- en televisiestasies in Botswana ’n probleem was, aangesien frekwensies “are a finite national resource” waarvan die “misuse and abuse could affect the economy”, en derhalwe moet uitsaaiers billike verslaggewing beoefen (Daily News, 28 Junie 2002).

            Die leierskap van die demokratiese regering, soos van hulle meer outoritêre eweknieë elders in Afrika, steur hulle nie geredelik aan kritiek nie. In April 2001 het Botswana se ombudsman kennis geneem van die feit dat visepres. Khama, terwyl hy aan BDP-verkiesingsvergaderings deelgeneem het, vergesel is deur openbare amptenare. Hy het bevind dié praktyk was nie net strydig met “the spirit of General Order 38 of the Public Service Act”(5) nie, maar wek ook “the perception that such public officers are furthering the interests of [the ruling party]” (Ombudsman, 2001: 12). Hy het aanbeveel dat pres. Mogae ’n nuwe opdrag aan alle staatsamptenare uitreik in die lig van hierdie kwessies (ibid.). Voorts het die visepresident ook gereeld by BDP-vergaderings in ’n BDF-helikopter opgedaag waarvan hyself die vlieënier was. Volgens die media was een kwessie in hierdie verband die moontlike uitwerking van so ’n aankoms op landelike kiesers in die regerende party se hartland en Khama se tuisbasis in die Sentrale Distrik, en ’n ander was dat die visepresident, as ’n burgerlike, nie onderworpe was aan die bepalings van die “Botswana Defence Act” met betrekking tot misdrywe rakende eiendom nie – hy is nie gemagtig deur die wet nie, en kon ook nie deur die bevelvoerder van die BDF gedissiplineer word in die geval van verlies of ’n ongeluk nie.  Die ombudsman het tot die gevolgtrekking gekom dat “only persons subject to the Act can properly be authorized to use service property” en aanbeveel dat die president dit onder die visepresident se aandag bring dat dit nie raadsaam is om persoonlik BDF-vliegtuie te vlieg nie (ibid.: 17).

            Hier het die kritiek betrekking gehad op wesenlike aspekte van die bevoegdhede en prerogatiewe van die regerende elite, maar die ombudsman se bevindinge is gedeflekteer en skynbaar geïgnoreer. Die permanente sekretaris van die president, Molosiwa Selepeng, het later gesê dat pres. Mogae die visepresident gemagtig het om BDF-vliegtuie te vlieg en dat Mogae se optrede na Selepeng se mening heeltemal regmatig was. Die permanente sekretaris het dit nie nodig geag dat die ombudsman se aanbevelings uitgevoer word nie, want volgens Selepeng was daar niks mee verkeerd dat Khama self militêre vliegtuie vlieg of deur openbare amptenare vergesel word wanneer hy met partypolitieke sake besig is nie (Botswana Guardian, 27 April 2001). Dit is met ander woorde heeltemal aanvaarbaar dat openbare voertuie en belastingbetalers se geld vir suiwer partydpolitieke doeleindes gebruik word wanneer die president dit gemagtig het. Visepres. Khama het daarna op BTv verskyn terwyl hy ’n weermaghelikopter na Tutume vlieg. Die hele aangeleentheid het skynbaar begin en geëindig met die persoonlike voorkeure van die visepresident en die bekragtiging daarvan deur die president. Staatsregulasies geld dus vir andere, maar nie vir die visepresident nie. Die president, wat volgens die grondwet alleen besluit, was dus die finale arbiter oor wat hy en sy naaste medewerkers mog doen.

Soewereiniteit van die President

Botswana se liberale demokrasie gee vrye teuels aan die prerogatiewe van die regerende elite, ondersteun deur die Grondwet en die hedendaagse gebruik binne die oorheersende regerende party, en dit berus stewig op die oorgeërfde politieke kultuur. Die beginsels en dinamiek bestaan al lank.  Wylie (1990), baie opmerksaam, het die amper goddelike status van die Tswana-stamhoof in die 20ste eeu beskryf.(6) Hiermee het gepaard gegaan (en gaan in baie opsigte steeds gepaard) die passiwiteit van die mense. Die politiek in die dae van die stamhoof se oppermag het grotendeels bestaan in die vorm van mededinging om mag – vandaar die individuele ophoping van rykdom – onder die elite, wat dikwels gewelddadig was. “As soon as [Tshekedi Khama became Ngwato regent in 1926] his relatives began trying to unseat him” deur te skiet en ander dodelike maniere. Mededingers in die dinastie was deur sy hele regentskap in gevegte (“battles” is Wylie se woord) betrokke om koninklike privilegie te bepaal (1990: 63). Alomteenwoordige ongelykheid was “die kernkonsep” van die Tswana- politieke bestel en rang het geblyk “hoogs weerstandbiedend teen verandering” te wees. Mag en rykdom was “interafhanklik” (1990: 25, 27). Dit was ’n hoogs hiërargiese ryk, met ’n enorme gaping tussen die regerende elite (die stamhoof se ryk adviseurs en tewens mededingers) en die groot gros gewone mense, met ’n onderklas lyfeienes (hoofsaaklik, maar nie uitsluitlik nie, San) heel onder. Die stamhoof kon enige diens van sy volgelinge en kliënte vereis, of so nie volg verbeuring van hulle eiendom. Onder sulke onderhorigheid – omstreeks 1925–1939 – “most people remained politically mute”. Wat Wylie “silent discontent” noem, het van tyd tot tyd voorgekom wanneer ’n anonieme stem ’n klagte by ’n kgotla uitgeblaker het. Simboliese nie-instemming, vlugtig uitgespreek, terwyl die dekorum op sulke vergaderings gehandhaaf is, was ’n belangrike “wapen van die magtiges” (1990: 82,102).

Die onafhanklike Botswana het, baie soos die meegaande Protektoraat, begin deur ’n ooreenkoms tussen die koloniale en die inheemse elite. Dit was ’n vlot en pynlose oorgang wat, volgens die goed ingeligte Fawcus en Tilbury (2000: 187), in ’n stil en rustige maar “entirely apolitical electorate” (2000: 182) plaasgevind het. Inderdaad. Volgens Wass (2004), ’n Protektoraat-beampte wat betrokke was by die aanloop tot onafhanklikheid, is ’n landwye kompetisie uitgeskryf vir die ontwerp van ’n nuwe nasionale logo en leuse, en een van die inskrywings wat ontvang is, was ’n tekening van ’n bytende spinnekop en die leusevoorstel Tsoga! (Word Wakker!). Die ondervinding van ’n populêre stryd, wat so duidelik was in die gevorderde kapitalisme in die gebied na die suide, was geheel en al afwesig, en die Botswana Democratic Party (BDP) was sedert sy stigting in Desember 1960, kort voor die verkiesing voor onafhanklikwording, ’n “regeringsparty” (Picard 1987: 138-42). Die bevordering van populêre passiwiteit was aantreklik vir die kolonialiste en was die diensmeisie van die oppermag van die elite. Wat hulle bereik het deur hierdie beheer te behou, is by uitnemendheid negatief.

Die stigters van die BDP was vooraanstaande beesboere onder leiding van Seretse Khama en Ketumile Masire. Vir Seretse “it was [his] personal and financial interest in cattle which first led him into the confidence of ... the colonial authorities”, en teen die 1960’s was hy die invloedrykste veeprodusent in die land (Parsons et al., 1995: 188-89). Khama en Masire het van die begin af ’n oop veelpartystelsel gevestig, waarin die BDP onmiddellik oorheers het.(7) Hierdie openheid het behels wat ’n liberale politiek funksioneel vereis het: relatiewe vryheid van spraak en assosiasie (Macpherson, 1966: 46). Uitsonderlike stabiliteit is aan die politieke bestel oorgedra, en legitimiteit ook aan die verkose regerende elite, terwyl albei kort daarna gesteun is deur ’n mededingende ekonomie, diamante en volgehoue groei.

Artikel 47(1) en (2) van die (Botswana-) Grondwet maak dit duidelik dat die soewereiniteit nie by die mense berus nie. Volgens die Tswana-kultuur word groot dele van die bevolking van sowel die gewone politiek as enige aandeel aan opvolging uitgesluit (Makgala 2004). Botswana se fundamentele reg is gegrond op ’n doeltreffende uitvoerende president, en Seretse Khama het gou werk gemaak daarvan om die Kantoor van die President te versterk (Parsons et al., 1995: 271). Groot mag is in die presidensie gesentraliseer. Botswana se tau a tona, of Groot Leeu, is meer soos die Groot Krokodil uit die fleur van apartheid as wat daar enige sweem van ooreenkoms is met ’n Britse of Mauritiaanse premier (dit is immers bekend dat die premier in Mauritius al van die mag afstand gedoen het voordat die finale verkiesingsuitslae bekend was).

            Al drie presidente tot dusver was in beheer van sowel die staat as die oorheersende party en het hulle mag geredelik uitgeoefen. Volgens Seretse Khama se biograwe was hy nooit werklik tuis in die harwar van kiesafdelingpolitiek en parlementêre debat nie, en gevolglik is die Grondwet reeds in Oktober 1972 gewysig om voorsiening te maak vir indirekte presidentsverkiesing – “the first step on the way to autocracy” (Parsons et al., 1995: 299). Ketumile Masire het sy BDP-ministers verras en teëgegaan toe hy in die openbaar, en arbitrêr, sy steun aangekondig het vir die verlaging van die stemouderdom tot 18 – baie van sy senior kollegas het “jeugdiges” as ondergeskiktes, gevaarlik onstabiel en onverantwoordelik beskou – en omtrent dieselfde het gebeur toe hy sy aftrede aangekondig het (kyk hieronder). Festus Mogae het ’n aantal persoonlike, oënskynlik selfs geheime, besluite geneem ten gunste van die onervare lt.genl. Ian Khama, oudste seun van Seretse, as sy visepresident: sy aanstelling in die eerste plek, die visepresident se haas onmiddellike, ongehoorde “langverlof”, en die feit dat Khama voortgaan om BDF-vliegtuie te vlieg in stryd met die uitdruklike aanbeveling van die ombudsman.(8) Laasgenoemde stap het die vermoede te kenne gegee dat hy en die visepresident bo die reg verhewe is. Gedurende die verkiesing van Oktober 2004 het Mogae by drie geleenthede aangekondig dat indien die parlement sy herbenoeming van Khama as sy visepresident, en dus stellige opvolger, verwerp, hy die parlement sou ontbind. ’n President sonder ’n populêre kiesersgevolg sou met ander woorde die pasverkose wetgewer ontslaan. Hy het sy dreigement kwansuis versterk deur sy persoonlike versekering te gee dat Khama nie die outoritêre voornemens het waarvan selfs BDP-lede, volgens betroubare getuienis, hom verdink nie.

            In die proses van die vervanging van geboorte deur meerderheidspartyleierskap in die daarstelling van die staatspresidentskap, maak Maundeni (2004:6) dit heel duidelik, “the intent and practice of limiting participation of the ordinary people was preserved”. Aldus histories, konstitusioneel en polities verhef, was al drie presidente tot dusver bereid om, by meer as een geleentheid, die reg en die Grondwet ondergeskik te stel aan die politieke eise van die tyd. Toe die destydse visepres. Masire twee maal deur sy kiesafdeling Kanye verwerp – in 1969 en 1974 – en deur die voormalige hoofman Bathoen Gaseetsiwe van die BNF verslaan is, het pres. Khama in 1974 eers die voorsiening wat gemaak is vir die verkiesing van die president deur kiesers, afgeskaf en toe die vereiste ingevoer dat ’n hoofman reeds vir vyf jaar sy amp moes neergelê het voordat hy vir parlementêre verkiesing kwalifiseer (Maundeni 2004: 6-8). Die reeks grondwetlike wysigings wat pres. Masire in 1998 ingevoer het, het hervormings behels wat nodig was, soos die verlaging van die stemouderdom en die totstandbrenging van ’n (meer) onafhanklike verkiesingskommissie, maar dit het ook voorsiening daarvoor gemaak dat die visepresident outomaties die tautona opvolg by laasgenoemde se aftrede, dood of ongeskikwording. Die Parlement – effektief die BDF-in-parlement – is uit die opvolgingsproses uitgeskakel, en soos reeds beklemtoon, was die mense nooit betrokke nie (Maundeni 2004: 9). Toe Ian Khama visepresident geword het en terselfdertyd opperhoof van die Bamangwato gebly het, het Mogae en Khama Masire se vroeëre grondwetlike wysiging geskend.

            Presidensiële arrogansie blyk gereeld deur die onmiddellike heraanstelling van BDF-LP’s en -ministers wat demokraties deur hulle kiesafdelings verwerp is. Die aanstelling van (vier) sogenaamde Spesiaal Verkose Lede van die Parlement is gedoen op grond van ’n grondwetlike bepaling wat bedoel was om swak gemeenskappe te help om verteenwoordiging te verkry, maar die bepaling is “blatant aangewend” om lede van die regerende party weer in die parlement te kry in stryd met die wil van hulle kiesafdelings; Masire is gou deur Seretse Khama heraangestel as LP en as visepresident (Parsons et al., 1995: 283-84). In 1989 is die voormalige Permanente Sekretaris van die President, Festus Mogae, en die voormalige bevelvoerder van die leër, genl. Mompati Merafhe, in die parlement gekoöpteer en tot ’n kabinetsamp verhef. Toe visepres. Peter Mmusi in 1991 gedwing is om te bedank weens sy betrokkenheid by korrupte grondtransaksies, het Masire Mogae sy visepresident gemaak sonder enige raadpleging van die kiesers.

Sulke praktyke is die norm in Botswana se politiek. In Oktober 2004 is Margaret Nasha, ’n ou BDP-strydros, deur haar kiesafdeling Gaborone-Sentraal uitgeskop, maar sy is onmiddellik na die parlement en haar Ministerie van Plaaslike Regering teruggebring deur Mogae – weer eens regstreeks in stryd met die wil van die kiesers. Daar moet erken word dat hierdie presidensiële prerogatiewe in die 1990’s deur Masire gebruik is om jong professionele vroue, soos Joy Phumapi, in die parlement en die kabinet te kry, waardeur die BDP se moderniserende, meritokratiese beeld verbeter is. Daarenteen is geen vakbondleier of verteenwoordiger van ondergeskikte etniese minderhede nog ooit so bevoordeel nie. Die populêre siening is: “The BDP government tends to reward its activists, rejected by the voters. The greatest loser in the whole circus is the people”  (Mmegi, 29 November 2004).

            Die oorheersing van benoeming bo verkiesing strek wyd. In November 2004 het Nasha die name van benoemde raadslede aangekondig. Uit die 101 benoemde plaaslike-owerheidsraadslede was slegs drie van die opposisie. In die lig daarvan dat die BDP 52 persent van die populêre stemme verwerf het, teenoor die 48 persent van die opposisie, is die benoemings deur die pers as ’n monstruositeit beskryf (Mmegi, 29 November 2004). Die koerant het soos volg opgemerk:

We are reminded yet again that this is Botswana where a person who has been rejected by the people [i.e. Margaret Nasha] is brought to Parliament through some phony democratic exercise called specially elected arrangement. The outrageous circus continues when the same individual is appointed to oversee another ridiculously undemocratic ritual of nominating councillors. 

Masire-Mogae en Mogae-Khama: Outomatiese Elitistiese Opvolging

Tot die vroeë 1990’s het die BDP maklik algemene verkiesings gewen op grond van ’n doeltreffende politieke formule van belonings (in goedere, dienste, salarisse, ens.) vir diegene wat die grootste bydrae tot die groei-ekonomie gelewer het. Daarna, as gevolg van binnegevegte in die party sowel as ’n reeks korrupsieskandale waarby hooggeplaaste regeringsamptenare betrokke was, het die Botswana National Front (BNF) in 1994 die oorheersing van die BDP begin bedreig. Masire se reaksie was om die kiesers se oordeel oor sy presidentskap te ontduik, en hy het uitgetree en homself vervang deur ’n man wat nog nie een keer ’n demokratiese verkiesing gewen het waarin die mense hom regstreeks as hulle verteenwoordiger gekies het nie.

Masire se vreedsame – en elitistiese – oordrag van mag aan Mogae moet gekontekstualiseer word, want dit is geen model vir die res van Afrika nie. Destyds het die BDP gebuk gegaan onder faksionalisme en dispute waardeur die party effektief in twee verskillende groepe verdeel is, die een wat hom by die Minister van Buitelandse Sake, Mompati Merafhe, geskaar het en die ander by die BDP se sekretaris-generaal, Daniel Kwelagobe. Die faksionalisme het verband gehou met die probleem van elite-korrupsie en die skade wat dit aangerig het aan die BDP se tot dan goedversorgde beeld van eerlike integriteit – of ten minste dissipline – en ontwikkeling. Dit het voortgespruit uit ’n private parlementêre mosie (deur Joy Phumaphi, wat toe ’n agterbanker was) tot steun van ’n openbare register van alle bates en sakebelange wat die president, visepresident, ministers en LP’s hou. Die Kwelagobe-kliek het grotendeels die belange van die ouer elite verteenwoordig, van wie die meeste “sakebelange” gehad het (Kwelagobe is vroeër gedwing om te bedank weens korrupsie waarby hy en Mmusi betrokke was ). Hierdie intense faksionalisme het nie uit ideologiese faktore voortgevloei nie, maar uit die stryd om politieke bevordering en opvolging (Makgala, 2004).

Die BDP-binnegevegte het ’n hoogtepunt bereik in en ná 1992, toe studente en werkers in Gaborone teen onreëlmatige ministeriële optrede betoog het. Dit het beteken dat die BDP die 1994-verkiesing aangepak het met die smet wat aan hom kleef van ’n party wat vrot is van hebsug en binnegevegte. Die BNF het toe ook die grootste deel van die populêre stem in sy geskiedenis gewen.

Met sy oorheersing in die 1999-verkiesing skynbaar in die gedrang het die BDP ’n konsultant, Lawrence Schlemmer, aangestel, hoofsaaklik om sy behoud van mag te herbepaal. Die Schlemmer-verslag (1997) het faksionalisme as ’n groot probleem geïdentifiseer en aanbeveel dat die BDP iemand moet kry wat “voldoende dinamies” en “onaangetas” deur faksiegevegte was om die party opnuut te verenig. Voorts het Schlemmer ’n beroep gedoen op die uittrede van die BDP se ou garde en ’n inname van nuwe talent. Wesenlik het hierdie aanbevelings gefokus op beeld en ’n paar groot aannames, maar dit het regstreeks gelei tot die kwansuis gevierde oorgang van Masire na Mogae.

            In 1997 het die BDP versuim om ’n sentrale komitee te kies, want ’n kamp onder leiding van Merafhe het gedreig om die verkiesing te boikot omdat Kedikilwe (wat met die Kwelagobe-kliek geassosieer is) glo sou ingestem het om as partyvoorsitter uit te tree sodat visepres. Mogae onbestrede kon bekom wat hy so klaarblyklik nie gehad het nie: ’n party-amp. Die Kwelagobe-kamp wou gehad het Masire moet aan bewind bly tot die algemene verkiesing van 1999 – wysigings aan die kieswet en Grondwet wat voorsiening sou maak vir die outomatiese opvolging van die visepresident sou laat in 1997 in werking tree. Masire het egter aangedui dat hy aftrede oorweeg, hoewel op ’n beslis omsigtige manier.

            Masire self was stug en nogal outokraties teenoor sy partykollegas oor die aangeleentheid. Hy was bewus daarvan, het die 72-jarige gesê, toe reeds 17 jaar in die hoogste amp, dat party mense gesê het hulle wou nie nog ’n “Bandanyana” (‘klein Banda’) hê nie. Hy het altyd geweet hy sou eendag moes uittree, maar dit sou wees “wanneer hy gereed was”. Verder het hy gesê: “I will let you know. It could be tomorrow, next week, next month, any time, but I will tell you” (Botswana Guardian, 25 Julie 1997). Dit was die ware stem van Botswana se leierskap: afsydig en eiesinnig, selfs teenoor die presidensie en die regerende party. Daar word gesê dat die kabinet stilweg aan die werk was aan ’n aftreepakket volgens die model van dié van Kenneth Kaunda van Zambië (sien hieronder).

            In November 1997 het Masire ’n groep BDP-veterane ontmoet wat besorg was oor sy voorgenome aftrede en nie gerus was oor die vooruitsig van Mogae se opvolging nie. Die veterane het die visepresident se vermoëns erken, maar was besorg daaroor dat hy volgens berigte nie “a man of the people” was nie (Mmegi, 7 November 1997). Maatskappyhoofde, onder meer dié van De Beers en Anglo American, het egter glo hulle steun vir Mogae uitgespreek om teenoorgestelde redes – vanweë sy fiskale dissipline en sy verbintenis tot groei aangevoer deur die private sektor. Mogae was die minister wat die grootste verantwoordelikheid gedra het vir die poging om die regerende elite skoon te kry in die nadraai van die korrupsiestorm, wat die topleiers ten nouste geraak het.(9) Hy het werk gemaak van die instelling van die direktoraat teen korrupsie en ekonomiese misdaad, gewapen met die vermoede van skuld. Dit alles het bygedra tot die teenstand wat hy gekry het van die Kwelagobe-groep – die man self diep gekleur deur eiebelang – wat geglo het dat Mogae se sogenaamde Thatcheristiese beleide die BDP die volgende verkiesing kon laat verloor. Mogae was gekant teen subsidies vir beesbaronne en aalmoese vir sukkelende entrepreneurs, die stoffasie van BDP-politiek wat sy sosiale basis verseker het. Die visepresident was boonop ten gunste van die uitbreiding van stemreg na agtienjariges in die onlangse referendum, nog iets waaraan Kwelagobe se groep ’n hekel gehad het.

            Uiteindelik is aangekondig dat sir Ketumile op 31 Maart 1998 sou uittree. Deel van sy selfbeeld was miskien dat hy “net ’n boer was wat aan die nasie geleen is”, maar hy was ook ’n uiters ervare BDP-politikus. Hy het in die Wetgewende Raad gedien ten tyde van die vlot oorgang na onafhanklikheid, het adjunk- eerste minister geword en het toe 14 jaar lank as visepresident van Seretse Khama gedien. Daarbenewens was hy ook aan die hoof van die voorloperministerie van finansies en ontwikkelingsbeplanning. Hy het nou self gesê dat hy sou terugkeer na beesboerdery en het ook volstruise en wildplase besit (Mmegi, 16 Januarie 1998).

Masire se bedanking was nie die een of ander groothartige daad van sy kant nie; trouens, Swatuk (1998) het opgemerk dat “many observers [felt] that Masire got out while the going was still good”. Die Verkiesingsinstituut van Suider-Afrika het opgemerk dat Masire “retired his position as Botswana’s president in April 1998 owing to internal factionalism within his party and allegations of corruption” (EISA, s.j.).

Masire se “vreedsame magsoordrag” het dus plaasgevind binne die konteks van elite-korrupsie en partybinnegevegte. Dit wil dus voorkom of hy nie soseer die model-Afrikapolitikus was nie, maar eerder een wat sy verantwoordelikheid vir korrupsie en verdeeldheid in die veelgeroemde ontwikkelingstaat en -party geabdikeer het.

Masire het op gunstige voorwaardes afgetree. Die “Presidential (Pensions and Retirement Benefits) Act” van 1998 het ’n voormalige staatshoof van tasbare voordele voorsien, “[a] package that many considered adequate, a few considered too generous, but none considered mean”, soos Masire self dit gestel het (Daily News, 28 Oktober 2002). Masire se aftreepakket was ruim wat dienste betref, maar nie oordadig in kontant nie. Volgens die wetsontwerp wat aan die einde van Maart in die parlement bespreek is, sou ’n afgetrede president (en sy opvolgers), toe en daarna, die volgende ontvang: ’n belastingvry pensioen gelykstaande met die basiese maandelikse salaris van die amp ten tyde van die aftrede, of 80 persent van die bekleër se presidensiële salaris, wat ook al die hoogste is. Indien die afgetredene ’n besoldigde amp beklee, word enige pensioenvoordele tydelik opgeskort. Hy geniet ook die dienste van twee motorbestuurders, ’n private sekretaris, ’n sekretaresse en ’n kantoorassistent, asook ’n onbepaalde aantal sekerheidswagte. Hy kry ook ’n ten volle toegeruste kantoor, ’n gemeubileerde huis in Gaborone of ’n huistoelae, en twee huisbediendes en ’n tuinier. Mediese versekering is verskaf, asook spoor- en eersteklaslugvervoer, tot ’n maksimum van vier internasionale reise per jaar vir hom en sy gade. Bykomende geregtigdhede behels drie voertuie (’n sedan, ’n stasiewa en ’n bakkie), ’n “onthaaltoelae”, en betaalde telefoon-, water- en elektrisiteitsuitgawes.

BDP-parlementariërs het hierdie pakket gesteun. Patrick Balopi het dit beskou as ’n gepaste “waardering” vir alles wat die president vir die nasie gedoen het, en volgens Margaret Nasha wou Botswana die oudpresident nie in behoeftigheid laat beland nie – wat beswaarlik sou gebeur, gesien Masire se status as een van die voorste beesboere in die land (hy het dit konsekwent vermy om die omvang vang sy eienaarskap bekend te maak) (The Botswana Gazette, 8 April 2004). Toe ’n opposisielid, Paul Rantao, syfers bekendgemaak het oor die waarde van die totale pakket – “amper P1,5 miljoen per maand” – het die regering self syfers gepubliseer wat op altesaam P25 500 per maand neergekom het. Dié syfers het egter, opvallend genoeg, nie die waarde van die huis- en kantoorhuur, petrol en motoronderhoud, en reisvoordele ingesluit nie (Mmegi, 10 April 1998).(10) 

Die skynbare gevolgtrekking uit dié aftreereëlings was dat Masire uit die aktiewe politiek in Botswana sou tree, hoewel hy hom heel moontlik internasionaal aan staatsmansaktiwiteite sou wy. Trouens, hy het betrokke geraak by die hardnekkige probleme van vredespogings in Sentraal-Afrika en grotendeels tuis ’n lae openbare profiel gehandhaaf. Die presidensiële perssekretaris, Ramsey, het sir Ketumile in gloeiende terme beskryf as Botswana se welwillendheidsambassadeur wat hopelik deur ander presidente nagevolg sal word (Botswana Gazette, 12 Januarie 2005). Op ’n paar onbeduidende uitsonderings na, toe hy by partybyeenkomste voor die 2004-verkiesing aanwesig was, het hy hom skynbaar nogal goed by die stilswyende aftreevoorwaardes gehou.

Onsekere Toekoms: Op Weg na Outoritarisme en Irrasionaliteit

Botswana se nasionale verkiesing in Oktober 2004 het die ernstige tekortkominge in die land se elite of liberale demokrasie fel blootgelê. Die verkiesing was, soos gewoonlik, vry in die sin van oop: dit is so maklik om ’n politieke party in Botswana te stig as, soos skalks opgemerk is, vir ’n staatsamptenaar om ’n motorlening met staatsondersteuning te kry. Gevolglik was daar die gewone proliferasie van wesenlik stemverdelende “dokumentetaspartye” wat bestaan uit een-man-en-sy-faksmasjien en ’n paar egosentriste met hoogs gelokaliseerde of denkbeeldige steun.(11) Soos in vorige verkiesings het hierdie “partye” steun weggekeer van die twee grootste en bes georganiseerde opposisiegroepe, die BNF en die Botswana Congress Party (BCP). Die regerende en oorheersende party was, soos gewoonlik, die beste van hulpbronne voorsien, veral wat korporatiewe en ander donateursbefondsing betref. Pres. Festus Mogae het, na berig word, vroeg in Oktober op ’n partybyeenkoms in Moshupa gesê dat sy party tot in daardie stadium daardie jaar reeds P2 miljoen in bydraes ontvang het. Hy het ook opgemerk dat ’n vooraanstaande BDP-lid, die motormagnaat Satar Dada, met Toyota reëlings getref het om op krediet viertrekvoertuie te kry wat nodig was vir die party se landswye veldtog. Dada is ’n aangestelde LP, en wel om baie goeie redes: hy is sowel die BDP se tesourier as een van die rykste mense in die land – hy besit die Toyota- en Land Rover-franchises in Botswana. Land Rovers is die voorkeurvoertuie van die BDF en die polisie (wat onmiddellik ernstige vrae oor belangebotsings laat ontstaan ten opsigte van Dada en sy eienaarskap van Lesedi Motors – die verskaffer van die voertuie aan die veiligheidsmagte).(12) Deur Dada het die BDP 57 voertuie bekom, wat sy kandidate in staat gestel het om baie doeltreffend in al 57 die nuwe kiesafdelings in die land veldtogte te voer.

            Die BDP het ook voorkeurtoegang geniet tot staatshulpbronne, soos die elektroniese media en kommunikasie. Dit is geboekstaaf dat BTv nie redaksionele vryheid in sy aanbieding van nuus geniet nie, en die optredes en toesprake van die BDP-leier, Mogae, verkry spesiale prominensie op grond daarvan dat hy president van die land is. Daarenteen is verskynings van die opposisieleiers op BTv beperk op grond daarvan dat dit “polities” van aard is. Die regerende party kan geredelik knap en ambisieuse kandidate lok en het in al 57 kiesafdelings kandidate gestel; daarenteen kon die BCP in slegs 50 en die BNF in slegs 42 kiesafdelings meeding. Die vergroting van die parlement van 44 verkose setels tot 57 ’n paar maande tevore – iets wat gedoen is sonder openbare kennisgewing of bespreking van die gevolge – het die posisie van die regerende party verder versterk. Die regering opponeer konsekwent alle voorstelle vir openbare befondsing van politieke partye. Gevolglik is “[opposition] parties … under-resourced and depend on unreliable and unsustainable sources of funding” (Sebudubudu, 2003: 1).(13) Hierdie remskoen sluit toegang tot die uitsaaiwese en die media in, met klaarblyklike gevolge. Die Grondwet maak voorsiening vir vryheid van spraak en van die pers, maar volgens ’n verslag van die VSA se Departement van Buitelandse Sake (Department of State 2003: 1 & 4), wat in 2004 vrygestel is, “in practice…the government attempted to limit freedom of the press and continued to dominate domestic broadcasting”.  Berigte en ander nuusbronne is van tyd tot tyd gesensor. Die verslag noem ook dat die radio die belangrikste medium van openbare kommunikasie in die land bly en dat Radio Botswana, wat in staatsbesit is, die enigste diens is wat die hele land kan bereik.

Die onafhanklike verkiesingskommissie (Independent Electoral Commission – IEC) geniet ’n outonomie wat sy voorganger voor 1997 nie gehad het nie, maar dit word steeds aan bande gelê deur die kenmerkende bevoegdheid van die president, wat die IEC se sekretaris – sy hoof- uitvoerende beampte, met oorkoepelende verantwoordelikhede – aanstel. Die IEC plaas beperkings op wat individuele kandidate mag bestee – waaroor hy nie ’n wakende oog hou nie – maar daar is geen beperking op die befondsing van partye nie. Botswana se demokrasie word verder aan bande gelê deur gewoonlik lae vlakke van deelname deur kiesers en die burgerlike samelewing; in die 1999-verkiesing het slegs ongeveer 42 persent van stemgeregtigdes gestem, waarskynlik deels weens apatie, en deels weens die positiewe weerhouding van stemme van ’n stelsel van BDP-oorheersing en opposisie-swakheid en -verdeeldheid wat skynbaar nooit verander nie. Hoekom speel op ’n veld wat so ongelyk is?

Verrassend genoeg was die Oktober-verkiesing ’n sterk protesstem teen die dominante orde. Die stempersentasie het tot ongeveer 50 persent gestyg, en 48 persent van almal wat gestem het, het die opposisie gesteun. In die huidige gewonemeerderheidstelsel het hierdie sterk opposisiestem egter slegs tot 13 setels in die parlement gelei, sodat 48 persent van die stemme slegs 23 persent van die verkose setels kon behaal. Die BDP, wat dus slegs vier persent meer stemme as sy opponente kon wen, het 44 setels verkry, of 77 persent van die verkose setels. Ondanks ’n kiesstelsel wat (hier en elders) dié wat reeds sterk is, begunstig, is ’n verdeelde opposisie deur 171 628 kiesers gesteun, teenoor die 190 020 wat die regering gesteun het. Die BNF het 12 setels gewen en die BCP slegs een, hoewel die stemme wat vir laasgenoemde uitgebring is, van 40 096 in 1999 tot 63 911 in 2004 gestyg het. Met 48 persent het die opposisie die meeste stemme tot dusver gekry, terwyl die BDP se 52 persent sy laagste steun tot nog toe verteenwoordig.(14)

Drie kabinetsministers het hulle setels verloor, afgesien van twee ander wat in die BDP se vroeëre, en bepaald bittere, voorverkiesings verslaan is. ’n Noemenswaardige toevoeging was die vergrote militêre komponent van die regering, wat nou drie generaals, ’n brigadier en ’n kaptein insluit. Die militêre ministers is nou Ian Khama (Visepresident), lt.genl. Mompati Merafhe (Buitelandse Sake), genl.maj. Moeng Pheto (Binnelandse Sake), kapt. Kitso Mokaila (Omgewingsake) en brig. Ramadeluka Seretse (Grondsake en Behuising). Een veteraan-Motswana-politikus het gevra: “Who can tell me why all the ex-BDF men are all in the Cabinet? I suppose we can all guess why. My guess is, obviously, to keep the presidency safe for Lt.-General Ian Khama.” (Mmegi, 23 November 2004). In Botswana is daar wydverspreide kommer oor hoekom ’n derde van die nuwe kabinet nou oud-militêres is.(15)

Tydens die voorafgaande BDP-voorverkiesings het die faksionalisme verder verdiep, en hoewel daar gemeen word dat die Kedikilwe-Kwelagobe-kamp meer LP’s in die verkiesing gewen het as die Mogae-Khama-kamp, was al vier die aangestelde LP’s ondersteuners van laasgenoemde. Dit was egter die aanstelling van die visepresident wat die grootste betekenis vir die toekoms inhou. Volgens die Grondwet was dit Mogae se tweede en laaste ampstermyn, en ingevolge die wet erf die visepresident outomaties die presidentskap. Daar was ’n wydverspreide mening – en nie ongegrond nie – dat genl. Khama besliste outoritêre neigings het, trou bo verdienste ag, en boonop polities onervare was.(16) Kort ná sy aanvanklike aanstelling in 1998 het Khama in ’n onderhoud gesê dat sy belangstellings in bestuur lê en dat politiek hom nie aangaan nie. Op die Oujaarsaand daarna het hy die polisie, ondersteun deur die paramilitêre mag, gebruik om kroeë en restaurante oor die hele land te dwing om die bediening van alkohol om 23:00 te staak.(17) 

            Parlementariërs, selfs van die regerende party, het sterk teenkanting teen hierdie outoritêre neigings uitgespreek. Isaac Mabiletsa, van Kgatleng-Oos, het daarop gewys dat Khama die eerste visepresident in Botswana se geskiedenis was wat geen ministeriële amp beklee het nie en dat hy versuim het om aan parlementêre besprekings deel te neem. Hy het ook Olifant Mfa aangehaal, wat as ’n assistentminister gesê het hy weet nie wat met sy demokratiese reg op vryheid van spraak sal gebeur nadat Mogae weg is nie. Dit is verstaanbaar, gesien in die lig daarvan dat onder Khama “the BDF sometimes use[d] its power and influence to manipulate civilian institutions to its favor”. In 1996, toe die begrotingspos van die kantoor van die president – waaronder die BDF ressorteer – in die parlement ter tafel gelê is, het meer as 48 weermagoffisiere die Huis binnegekom. Die offisiere, in volle uniform, het plekke op die openbare galery ingeneem. Hoewel dit hulle reg was om dit te doen, is die toeval van hulle verskyning in volle uniform in die parlement deur politici as intimiderend beskou (Molomo, 2001).

Ongemak binne die party ten opsigte van Ian Khama se ambisies en die vooruitsig van nóg ’n ondemokratiese oorgang is skynbaar aan die toeneem. Voor die verkiesing is ’n onderhoud oor demokrasie in Botswana met die senior BDP-lid Kedikilwe gevoer. Kedikilwe het onder meer gesê:

Khama had to be brought into government on his own terms. That is something that was unprecedented. For instance when he left the army he brought with him his own baggage. He brought attendants for whom positions had to be created in the civil service. One wonders whether such people could then be transferred or redeployed to other ministries as is common practice. Senior positions in the army do not necessarily translate into equivalent in the civil service. … We seem to be making special dispensations for one man. … Over the last couple of years the politics of this country has gone backwards… We have become a demo-feudal state in the place of a democratic republic. (Botswana Gazette, 18 Junie 2003) [ons beklemtoning]

            Die onderhoudvoerder het toe gevra of Botswana op die glibberige pad na ’n dinastie was. Weer Kedikilwe:

Yes indeed, and with very dire consequences. Democracy will give way to autocracy. Many people in the top echelons of the party are today scared to speak their minds because of the stature of Khama. Many are no longer following any principles, but merely taking a side which they think will guarantee them longest stay in positions of power. For instance even people who you would expect to know … are merely competing at who licks hardest the boots of the man at the top ... I am a commoner and do not wish to be parented by a chief. My contest therefore marks the struggle of ordinary people against the rule of chiefs.

Daar is blykbaar ook toenemend oproepe dat ’n herhaling van die Masire-Mogae-oorgang vermy moet word. Sommige vooraanstaande party-amptenare vra nou openlik dat die president van die BDP regstreeks verkies moet word: “The President will also feel proud that he has been elected by the majority, not the minority like it is now”, het die voorsitter van die BDP Youth Wing, Gomolemo Motswaledi gesê (Botswana Gazette, 24 Desember 2003).  Die media in Botswana stem saam: “There is need for a debate on the wisdom of automatic succession of the vice-president to the presidency. The current practice, which was introduced more for expediency than principle, shuts out everyone else – including the elected representatives, the MPs – from the process of choosing the country’s head of state. It is unthinkable that a president who is not popularly elected should enjoy the sole right to choose a future president for the nation” (Mmegi, 3 November 2004). Die BNF het in November ’n veldtog gevoer tot steun van ’n “popularly elected President who shall be accountable not only to Parliament but to the electorate in general” (The Pact, 2004: 5).

Volgens die getuienis is Botswana dus ’n swak voorbeeld vir presidensiële oorgang in Afrika. As visepresident onder Masire, en toe hy aan die hoof van die Ministerie van Finansies en Ontwikkelingsbeplanning gestaan het, het Mogae, in Desember 1997, verklaar dat dit tyd was om op te hou om kolonialisme te blameer wanneer dit die beleide van die nuwe leiers is wat vir Afrika se huidige penaries verantwoordelik is. In die daaropvolgende Junie, kort nadat hy president geword het, het hy in Burkina Faso gesê dat outokrate wat hulle eie mense onderdruk, belet moet word om hoë ampte in die organisasies wat Afrika-eenheid nastreef, te beklee (Business Day, Johannesburg, 1 Desember 1997, en Botswana Gazette, 17 Junie 1998). Dit was ook Mogae wat aangedring het op die instelling van die DCEC (met sy ondersoekbevoegdhede, maar met die vervolgingsbevoegdhede in die hande van, natuurlik, die president) en gesê het dat korrupsie ’n ernstige probleem was wat ernstige oplossing verg.

Mogae as president, in regstreekse samewerking met Khama, is skynbaar ’n minder rasionele, beginselvaste en oordeelkundige persoon. Die president en sy adjunk is wesenlik twee bestuurders,(18) nie politici nie: die een ’n finansiële burokraat en die ander ’n soldaat. Hulle glo in wisselende mate in beheer en lojaliteit, eerder as prestasie, bespreking en beginsel. Die temperament en handelinge van veral laasgenoemde is outokraties en geneig tot die gee van bevele, eerder as debatvoering en beredenering, die wese van demokrasie Die onlangse besluit om ’n regeringstaakspan se sterk aanbevelings dat die land se tweede universiteit in Selebi-Phikwe geleë moet wees, te ignoreer en dit eerder in Serowe – vergelykenderwys ietwat van ’n dorpie, maar dit is waar Khama die “leenheer” is – te vestig, word deur talle mense beskou as ’n voorteken van wat wag: begunstiging en die verwerping van die reg, professionalisme en prosedure in diens van persoonlike agendas (Mmegi, 29 November en 3 Desember 2004). Toe Ian Khama het vroeër aangekondig dat hy verwag dat sy jonger broer Tshekedi sy parlementêre setel in Serowe-Noordwes moet erf, het selfs die BDP-sekretariaat beswaar aangeteken teen so ’n opheffing van die demokratiese proses. Die uitvoerende sekretaris, Botsalo Ntuane, het gesê dat Khama dit dalk grappenderwys gesê het, want parlementêre kandidate word deur die party se voorverkiesings aangewys (Mmegi, 15 September 2004).

Die toenemende weerstand teen Khama se outomatiese opvolging as volgende president word aangeblaas deur die feit dat pres. Mogae op irrasionele, private en heimlike wyse Khama tot dusver geakkommodeer het. Dit het begin met sy aanstelling as visepresident, is voortgesit met sy ongehoorde langverlof onmiddellik daarna en ander aangeleenthede wat reeds genoem is, en duur skynbaar steeds voort. Vroeg in 2004 het die toenmalige redakteur van The Botswana Gazette geskryf dat hy verneem het dat die president moontlik sy amp vroeg gaan neerlê en inderdaad party van sy aides en vriende te dien effekte ingelig het. Toe Jeff Ramsay om kommentaar genader is, het hy toegegee dat die president inderdaad moontlik kan uittree voordat sy termyn verstryk het. Ramsay het nie geweet presies wanneer dit sal kan gebeur nie, maar het tog uitdruklik ’n datum halfpad deur Mogae se tweede termyn genoem. Volgens die redakteur het Ramsay selfs verklaar dat dit altyd pres. Mogae se begeerte was om nie lank as president aan te bly nie. Die perssekretaris het gesondheid as die rede vir vervroegde ampsontruiming uitgesluit. Toe Ramsay daarna sy stelling terugtrek, het die redakteur die akkuraatheid van sy gepubliseerde verslag bevestig (Mogapi, 28 Januarie en 4 Februarie 2004). ’n Maand later berig The Gazette dat wat hy genoem het ‘bronne na aan die BDP’ gesê het dit was “Mogae’s intention to step down after the coming general elections”, maar dat druk deur “some influential [party] members had forced him to change his mind” (Leagajang, The Botswana Gazette, 3 Maart 2004). Presidensiële geheimhouding het oënskynlik oopheid en verantwoording oorheers, en die presidensie en die BDP het heel moontlik ’n vals indruk by die kiesers gewek oor die leierskap in die regering wat hulle in Oktober 2004 sou kies. Nie net die mense nie, maar ook die Grondwet was ondergeskik aan die mag en die giere van die tautona.

Die voorkeur wat Khama geniet, word verleen aan ’n man wat geen ministeriële werk het nie en wie se opvoedkundige kwalifikasies skynbaar ’n geheim in die land is.(19) Voorts het Ian Khama geen geheim gemaak van sy intense afkeer van die kompromisse van die politiek en van sy minagting vir politici nie. Trouens, hy het vroeër by geleentheid lede van sy eie party as “unprincipled, intolerant, selfish vultures and monkeys” uitgekryt (ISS, 2001). Dit is nou die persoon wat op die punt staan om die “wonder van Afrika” oor te neem.

Daar moet in gedagte gehou word dat, in ooreenstemming met die Schlemmer-verslag, “the decision by government to [move] Lieutenant-General Ian Khama from the military and offer him a political position [was] widely perceived as a survival tactic for the BDP” (Molomo, 2001). Daar is egter ’n groot verskil hiertussen en die welsyn van die nasie.

In presuming the Vice-President capable of uniting the BDP, where did Mogae imagine Khama derived his power and authority from? Being Seretse’s son? Probably. But then Seretse was a politician and any politician respected for his blood link to Seretse has to exhibit his political instinct and vision – or else the respect would be misplaced, if not absurd. Besides, Seretse had two other sons who are hardly revered just for being his sons, so why this one? Being Paramount Chief of Bangwato? Why, yes, therein lies the power of Ian Khama, which Mogae has … exploited for political gain. That, I am afraid, is the stark, disturbing truth: the Oxford [post-]graduate, learned economist, champion of western values and product of the Bretton Woods Institutes has all along been manipulating primordial tribal loyalties to control the ruling party and the country! … In his eagerness to protect his power base from the ever-ominous Kedikilwe, President Mogae found refuge in vicariously exercising Khama’s tribal authority and accidentally abdicated in the process, even to the point of compromising the oath of office. He let it be known that he was a protégé of Khama and that without Khama there could be no Mogae presidency let alone any post-Masire BDP in power. Khama seized on that indiscretion and has never let go (Mmegi, November 26, 2004).

Dit alles is in Botswana vergemaklik (dit wil sê daar was tot dusver minimale opposisie teen die BDP se optrede) deur die feit dat die burgerlike samelewing swak ontwikkel en ongeorganiseerd, en die demokratiese impuls relatief swak is weens die ongediversifiseerde aard van die hulpbronafhanklike ekonomie (Good, 2004b). Die oorheersing van die BDP was tot die vroeë 1990’s onaantasbaar, maar aansienlike wanorde in die regerende party het sedertdien baie toegeneem. Die populêre stem in die verkiesings van 1994 en veral 2004 gee te kenne dat, namate onderwys en verstedeliking verbrei, mense uiteindelik begin “wakker skrik”, al versterk dit nog nie die burgerlike samelewing nie.(20) 

Die stemtendens op die lang termyn is, ondanks die lae stempersentasies, teen die BDP. Die onafhanklike media is bedrywig en meer krities, en eenheid in die toekoms tussen die BNF en die BCP kan dalk net daarin slaag om die oorheersing van die BDP se Groot Leeu te beëindig. Lang eenparty-oorheersing het in Italië en Japan tot ’n einde gekom toe die idees van sowel Christen- as Liberaal-Demokrate daar begin opdroog het, en deur verdeeldheid en wangedrag in die regerende partye. Beginsels en idees, soos Makgala (2004) uitgewys het, speel geen rol in die intense faksionalisme in die BDP nie, en Mogae-Khama, nou die voorste faksionaliste, toon geen tekens van beheerstheid of versoening nie. Naby aan die einde van sy staatsrede in November 2004 het Mogae gesê dat outomatiese opvolging “the smooth transfer of executive authority” uitmaak, dat dit “now entrenched” is, en dat dit “a hallmark of our democratic stability” is (Republic of Botswana, 2004: 12). Ordelikheid het presidensiële verandering by twee vorige geleenthede in Botswana gekenmerk, wat hom onderskei van talle ander in Afrika. Orde en beheer is egter behaal juis omdat die besluite geneem is deur ’n klein handjie vol “verantwoordelike manne” met, histories, uitsluiting van die mense. Mededinging geskied geheel en al binne die regerende elite. Demokrasie is afwesig in hierdie oordrag van mag, en na gelang die mededinging binne die elite in 2004-2005 verskerp, kom stabiliteit ook in die gedrang.(21)

Berigte in 2005 dui daarop dat daar by sowel Khama as sy lojaliste, soos Nasha, teenstand is teen die BDP se parlementêre agterbankerskomitee – die party moet uit een mond praat en teenfaksies moet verder gesmoor word, meen hulle (Motlaloso, Mmegi, 12 Januarie 2005). Mogae-Khama toon ook min talent vir politieke vernuwing (22) – daar kan nie verwag word dat dié twee ’n nuwe politieke formule wat vergelykbaar is met die groei-ekonomie en ontwikkelingstaat van die 1970-80’s, tot stand sal bring nie. Om die ontevredenheid in protes te laat oorgaan en uiteindelik te verwesenlik is populêre organisasie egter van kardinale belang – verandering moet ’n definieerbare en realiseerbare moontlikheid deur en vir die mense word.(23) Uitgebreide grondwetlike en verkiesingshervorming wat konsentreer op ’n verkose en verantwoordingspligtige presidensie – wat 50 persent of meer van die populêre stem vereis – is geen onbelangrike vereiste nie.(24)  Botswana bied nog nie modelle vir demokrasie nie. Die wonderwerk moet nog gebeur.

Persentasie van die populêre stemme behaal, volgens party, in Botswana se algemene verkiesings

Party

1965

1969

1974

1979

1984

1989

1994

1999

2004

BDP

80

68

77

75

68

65

55

54

51.7

BNF

-

14

12

13

20

27

37

25

26

BPP

14

12

6

8

7

4

4

-

 

BIP/IFP

5

6

4

4

3

2

4

-

 

BCP

-

-

-

-

-

-

-

11

16.6

BAM

-

-

-

-

-

-

-

5

 

Ander

1

0

1

0

2

2

0

0

5.9

Verwerp

-

-

-

-

-

-

-

5

 

 (1)       Hoewel Botswana se groei in BBP per capita gedurende 1970–1997 die hoogste ter wêreld was, het diamante in 2002 45 persent van die totale BBP, 65 persent van die staatsinkomste en 80 persent van die uitvoerverdienste uitgemaak. Die verhouding tussen die verdienste en die verbruik van die rykste tien persent en die armste tien persent van die bevolking was vroeër 77,6. Voorts het die land wat sy mense-ontwikkelingsindeks (human development index – HDI) betref, tussen 1991 en 2002 van die 95ste plek na die 126ste plek teruggeval, die enigste land ter wêreld wat so ’n val beleef het in ’n tyd van snelle binnelandse groei (World Bank, 2000: 9; Human Development Report, 2003: 284 en Clover, 2003:1).  Die groter prentjie word uiteengesit in Good (2004a).

(2)        Besonderhede oor hierdie skandale, die sg. IPM-aangeleentheid, oorbesteding en belangebotsings in die BHC en Plaaslike Regering, Grond en Behuising, onwettige verkope van grond rondom Gaborone, en die amperse bankrotskap van die NDB word verstrek in Good (1994).

(3)        Die regering het die koste van die basis in 1992 op P624 miljoen geraam, maar Jane’s Defence Weekly stel die eindkoste in 1993 op $600 miljoen (of ong. P1 000 miljoen).

(4)        Terme wat deur verskillende ministers gebruik is ten tyde van die leningskandaal in die vroeë 1990’s in die National Development Bank, waarby die president en talle senior ministers betrek is.

(5)        Wat die neutraliteit van die staatsamptenaar omskryf, bv. hy/sy mag nie “publicly speak or demonstrate for or against any politician or political party”; “take an active part in support of any candidate in an election”; en “do anything by word or deed which is calculated to further the interests of any political party” (Ombudsman, 2001: 10).

(6)        Die idee is onlangs geëggo deur visepres. Ian Khama in sy moontlik apokriewe stelling voor sy Bamangwato-kiesersgevolg: “I am not God but I am your Chief.”

(7)        Die konsep van oorheersing in ’n demokratiese bestel word deur Pempel (1990) ondersoek. As dit reg verstaan word, behels dit veel meer as ’n oorwig van getalle in die parlement; dit behels die ontwikkeling deur die regeerders van ’n politieke formule of regeerideologie wat betekenisvol en vir baie mense belangrik is en wat dus vir kritiek en aanpassing in veranderende omstandighede oop is. Daar word hier aanvaar dat die BDP tot omstreeks die middel-1990’s, toe die groei-ekonomie sy glans begin verloor het, so ’n nasionale strategie gehad het. Die toonbeeld van ’n suksesvolle nasionale strategie/politieke formule is waarskynlik die “Sweedse Model” van sosiale demokrasie, wat skynbaar deur groot dele van die samelewing in Swede onderskryf word.

(8)        Mmegi van 26 November 2004 het dit só gestel: “It began with the sabbatical … The President made it abundantly clear that he had pleaded with his deputy to leave the army and come to unite the squabbling BDP, hence the leave. This pleading, over and above humiliating the institution of the Presidency and insulting the capability of everyone in cabinet, parliament and the BDP, served to underline the real seat of power in Mogae’s presidency: the VP’s office”.

(9)        In hoofsaak het Masire en sy kollegas die National Development Bank van leningsgeld gemelk. Die president het die staat se voorste leningsagentskap geld geskuld ten bedrae van P546 000, terwyl Kedikilwe, onder die ander ministeriële skuldenaars, P640 000 geskuld het, waarvan P260 000 agterstallig was (Mogae se naam was opvallend afwesig uit die skuldenaarslys). Masire het geen verduideliking gegee van hoe hierdie lenings bekom en gehandhaaf is nie, maar het later teenoor ’n verslaggewer gesuggereer dat as die land wat hy genoem het “venture capitalism” wou hê, leningsgeld en moontlik agterstallige terugbetalings baansyfer was vir die ontwikkelingsbaan. Dit wou voorkom of die president homself as so ’n risikolopende waagkapitalis beskou het (Good, 1994: 509-515).

(10)      Verdere lig is op die waarde van die oudpresidensiële behuising gewerp toe die perssekretaris, Jeff Ramsay, in Januarie 2005 bekendgemaak het dat ’n groot erf reeds aangekoop word teen ’n moontlike koste van ongeveer P1,5 miljoen, asook dat die konstruksie van ’n nuwe huis- en kantoorkompleks met ’n geraamde waarde van ongeveer P6 miljoen, op die Phakalane-gholflandgoed naby Gaborone, beplan word vir die uiteindelike aftrede van Mogae (The Botswana Gazette, 12 Januarie 2005). Dit kan moontlik ’n oordeelkundige langtermyn- kommersiële onderneming wees, maar implisiet het dit groot vrae laat ontstaan, of opnuut laat ontstaan, oor presies hoe lank pres. Mogae beoog om sy amp te bly beklee (word hierdonder verder bespreek).

(11)      ’n Voorbeeld is die “Marx Engels Lenin Society” (MELS), ’n sogenaamde “revolusionêre” groepie, volgens sy leier Themba Joina, wat idees aanhang wat in die 1960’s gangbaar was. Sy totale stemme het nie dubbelsyfers te bowe gegaan nie.

(12)      Deur die jare was daar baie bewerings met betrekking tot die BDF en sy verskaffers. In die verlede is dit gekritiseer as sou dit as ’n “familiesaak” ter wille van die Khamas bestuur word. Die rede hiervoor was dat die BDF van sy toerusting aangekoop het van ’n maatskappy genaamd Seleka Springs, waarvan die direkteure Tshekedi en Anthony Khama was, die broers van visepres. Ian Khama, wat in daardie stadium die bevelvoerder van die BDF was. Die BDF het toe ook sy voertuie aangekoop van Lobatse Delta, waarvan die Khama-tweeling die direkteure was. Nog ’n maatskappy wat met die Khama-familie verbind is, was Hot Bread Bpk., van wie die BDF sy brood vir opleidelinge en soldate in die Kasane-omgewing aangekoop het. Die vrou van ’n voormalige Direkteur van Personeel van die BDF, Ndelu Seretse, het toevallig Hot Bread bestuur (Botswana Gazette, 21 Mei 1997).

(13)      Hy merk op dat partye met behoorlike hulpbronne nodig is om verantwoordingspligtigheid en deursigtigheid te bevorder, asook “to ensure political equality in electoral contests”, maar in Botswana “the development and nourishment of democracy is…left to the market” (2003: 1).

(14)      Die IEC verkies om deelname op grond van geregistreerde kiesers te beraam, hoewel nie naastenby alle stemgeregtigdes die moeite doen om te registreer nie (laasgenoemde kan, soos in 1999, slegs ongeveer 50 persent van eersgenoemde wees). Die totaal van uitgebragte stemme op 4 November was 421 272. Indien die bevolking bo agtienjarige ouderdom op ongeveer 50 persent van die nasionale totaal bereken word, dit wil sê ongeveer 850 000, was die stempersentasie net duskant 50%. (Persoonlike kommunikasie, IEC, November 2004; en prof. John Oucho, Universiteit van Botswana, dieselfde datum)

(15)      Batlhalefi Leagajang, “Is Botswana Marching Towards Authoritarianism?”, Botswana Gazette, 17 November 2004.

(16)      Hy het sy onervarenheid opvallend ten toon gestel toe hy pres. Masire vergesel het op laasgenoemde se staatsbesoek aan Suid-Afrika in April 1996, toe hy in die openbaar verklaar het dat Botswana sy militêre mag moes uitbou om voorbereid te wees op onstabiliteit in daardie land. Hy het gesê dat die geredelike beskikbaarheid van onwettige wapens in Suid-Afrika in die toekoms deur “leftwing dissidents” gebruik kan word en het hierdie vermeende bedreiging verbind aan wat hy genoem het gegriefdheid wat oplaai teen die versuim van die ANC-regering om sy beloftes aan die mense gestand te doen. Toe ’n vooraanstaande koerant probeer het om hom uit te vra oor Botswana se militêre besteding, het hy die koerant van kwaadwilligheid, onkunde en onverantwoordelikheid beskuldig. (Aangehaal in Good, 2004b:  131-132).

(17)      Kragtens ’n nuwe statutêre instrument, 62 van 1998, wat die verkoop van alkohol ná 23:00 verbied, wat nooit voorheen toegepas is nie. Die instelling daarvan is vermoedelik grootliks beïnvloed deur Khama, wat alkoholverbruik sterk veroordeel het (The Midweek Sun, 6 Januarie 1999).

(18)      By sy inhuldiging het Mogae verklaar dat “political governance nowadays is about economic management” wat volgens hom daarop gemik moet wees om die ekonomiese posisie van die mense te verbeter (Mmegi , April 10, 1998).

(19)      “Who is the Vice President? A distinguished retired army general? Big deal, he was never a colonel. [Made Brigadier at 26.] An accomplished academic? Have mercy! A seasoned politician? He is not active in parliament and is probably not accountable to it. A proven manager? He was relieved of his ministerial portfolio because he could not stomach being appraised by his peers in cabinet and having to report to the President as everyone else. Enter minister without portfolio, project manager supremo who works according to no known methodology and reports to nobody” – (Mmegi, 26 November 2004).

(20)      Dit word steeds deur lofsingende buitestanders geïgnoreer. Die gewoonlik skerpsinnige Economist het ’n artikel oor die verkiesings gepubliseer onder die opskrif “Africa’s Prize Democracy”, wat afgesluit is met die ongegronde en stiksienige opmerking “most people seem pretty happy, for now, without [a serious opposition party]” (The Economist, Londen, 6 November 2004).

(21)      Mmegi (19 Januarie 2005) het ’n spotprent op sy meningsblad gepubliseer wat twee Batswana, ’n man en ’n vrou, uitbeeld wat in skok en afgryse weghardloop van ’n reuse-tsoenami wat op die punt is om hulle te oorspoel en gemerk is “automatic succession”.

(22)      Die opvallende uitsondering in dié opsig, wat pres. Mogae self betref, is sy sterk verbintenis tot die bestryding van MIV/vigs en die ellende daarvan in die land. Hy bestempel dit oortuigend as ’n bedreiging vir die oorlewing van die nasie (Good, 2004b: 11-12).

(23)      Na die mening van die gekose paneel van Amerikaanse deskundiges in 2004 “politics in many African countries [has long] been devoted to keeping people from organizing” (National Intelligence Council, 2004: 4). Hulle bespreking was goed ingelig maar heeltemal nieamptelik.

(24)      Ten einde die stem van die mense behoorlik te laat hoor, moet dit gepaardgaan met die vereiste dat ’n politieke party ’n sekere minimum persentasie van die nasionale stemme moet verkry om verteenwoordiging in die parlement te kry, asook openbare befondsing van al die kwalifiserende partye.

BRONNELYS

Bratton, M. & Van de Walle, N. (1997) Democratic Experiments in Africa: Regime Transitions in Comparative Perspective. Cambridge: Cambridge University Press.

Clapham, C. (1985) Third World Politics: An Introduction. London: Croom Helm.

Danevad, A. (1993) Development Planning and the Importance of Democratic Institutions in Botswana. Bergen: Christian Michelsen Institute.

Dale, R. (1995) Botswana’s Search for Autonomy in Southern Africa. Westport: Greenwood Press.

Decalo, S. (1990) Coups and Army Rule in Africa. Newhaven: Yale University Press.

Electoral Institute of Southern Africa (EISA). (s.a.) “Botswana: Leadership Profiles”, www.eisa.org.za/WEP/botswana7.htm

Fawcus, P. & Tilbury, A. (2000) Botswana: The Road to Independence. Gaborone: Pula Press and the Botswana Society.

Good, K. (1994) “Corruption and Mismanagement in Botswana: A Best-Case Example?” in The Journal of Modern African Studies, vol. 32, no. 3.

Good, K. (1999) “Enduring Elite Democracy in Botswana” in Democratization, vol. 6, no. 1.

Good, K. (2002) The Liberal Model and Africa: Elites Against Democracy. London: Palgrave.

Good, K. (2004a) Realising Democracy and Legitimacy in Southern Africa. Pretoria: Africa Institute.

Good, K. (2004b) “Resource Dependency and its Consequences: The Costs of Botswana’s Shining Gems”. Paper presented to the Politics Seminar, U.B., 17 November 2004.

Harvey, C. & Lewis, S. (1990) Policy Choice and Development Performance in Botswana. New York: St Martin’s Press.

Institute of Security Studies (ISS). (2001) “Botswana: History and Politics”. www.iss.co.za/AF/profiles/Botswana/Politics.html

Leagajang, B. (2004) “‘I’ll Stay ’til March 2008’ —Mogae”. The Botswana Gazette, 3 March 2004.

Leagajang, B. (2004) “Is Botswana Marching Towards Authoritariamism?”. The Botswana Gazette, 17 November 2004.

Leith, J.C. (2004) “Why Botswana Prospered”. Paper presented to the Politics Seminar, U.B. 3 March 2004. 

Macpherson, C. (1966) The Real World of Democracy. Oxford: Clarendon Press.

Makgala, C. (2004) “Calling a Spade a Spade: New Dimensions in Internal Democracy in the BDP, 1991-2003”. Paper presented to the Politics Seminar, U.B., 11 February 2004.

Maundeni, Z. (2004) “Succession to High Office: Tswana Culture and Modern Botswana Politics”, chapter in forthcoming book Celebrating  Fifty Years of Democracy in Botswana, edited by Z. Maundeni.

Mogapi, S. (2004a)  “Khama to Take Over Soon?”. The Botswana Gazette, 28 January 2004.

Mogapi, S. (2004b)  “Dr Jeff Ramsey’s Press Release…”. The Botswana Gazette, 4 February 2004.

Mokopakgosi, B. & Molomo, M. (2000) “Democracy in the Face of a Weak Opposition in Botswana” in Pula: Botswana Journal of African Studies, vol. 14, no. 1.

Molomo, M. (2001) “Civil-Military Relations in Botswana’s Developmental State” in African Studies Quarterly, vol. 5, no. 2.

Molutsi, P. & Holm, J. (1990) “Developing Democracy When Civil Society is Weak: The Case of Botswana” in African Affairs, vol. 89, no. 356.

Motlaloso, S. (2005) “Khama Targets BDP Backbench”. Mmegi, 12 January 2005.

National Intelligence Council 2020. (2004) “Summary of Discussion”, 9 January 2004.

Olowu, B. (1999) “Combatting Corruption and Economic Crime in Africa: An Evaluation of the Botswana Directorate of Corruption and Economic Crime”. Paper presented at 9th International Anti-Corruption Conference, Durban, South Africa, 9–15 October 1999.

Ombudsman. (2001) Report in Terms of Section 8(1) of the Ombudsman Act of 1995. Gaborone: Government Printers.

Omolo, K. (2002) “Political Ethnicity in the Democratization Process in Kenya” in African Studies, vol. 61, no. 2.

Pact, The. (2004)  Manifesto.  Gaborone.

Parsons, N., Henderson, W., &  Tlou, T. (1995) Seretse Khama, 1921-1980. Gaborone: Macmillan/Botswana Society.

Pempel, T. (1999)  Uncommon Democracies: the One-Party Dominant Regimes. Ithaca, New York:  Cornell University Press.

Picard, L. (ed.) (1985) The Evolution of Modern Botswana. Lincoln: University of Nebraska Press.

Picard, L. (1987) The Politics of Development in Botswana: A Model for Success? Boulder: Lynne Rienner.

Republic of Botswana. (2001a) ‘Economic Snapshot’,

http://www.gov.bw/economy/index.html

Republic of Botswana. (2004) “State of the Nation Address”. From the Press Secretary to the President, 8 November 2004.

Samatar, A. (1999) An African Miracle: State and Class Leadership and Colonial Legacy in Botswana Development. Portsmouth: Heinemann Press.

Santiso, C. & Loada, A. (2003) “Explaining the Unexpected: Electoral Reform and Democratic Governance in Burkina Faso” in Journal of Modern African Studies, vol. 41, no. 3.

Schlemmer, L. (1997) Present Realities and Strategies for the Future: Training Workshop for the Botswana Democratic Party. Gaborone: BDP.

Sebudubudu, D. (2003) “The Funding of Parties in Botswana: The Perils of a Democracy Left to the Market”. Paper presented to the Politics Seminar, U.B., 5 March 2003.

Stedman, S.J. (ed.) (1993) Botswana: The Political Economy of Democratic Development. Boulder: Lynne Rienner.

Swatuk, L. (1998) “Botswana: What Clinton Didn’t See” in Southern Africa Report, vol. 13, no. 3.

Thumberg-Hartland, P. (1978) Botswana: An African Growth Economy. Boulder: Westview Press.

UNDP. (2000) Botswana Human Development Report 2000: Towards an AIDS-Free Generation. Gaborone: UNDP.

UNDP. (2003)  Human Development Report

U.S. Department of State. (2003) Botswana: Country Reports on Human Rights Practices. Released 25 February 2004.

Vengroff, R. (1977) Botswana: Rural Development in the Shadow of Apartheid. London: Associated University Presses.

Wass, P. (2004) “Initiatives to Promote Civil Society in Botswana in the 1960s: A Personal Memoir” in Botswana Notes and Records, vol. 36.

Werbner, R. (2004) Reasonable Radicals and Citizenship in Botswana: The Public Anthropology of Kalanga Elites. Bloomington: Indiana University Press.

World Bank, The. (2000) Can Africa Claim the 21st Century? Washington D.C.

Wylie, D. (1990) A Little God: the Twilight of Patriarchy in a Southern African Chiefdom. Hanover: Wesleyan University Press.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=169
Artikel nagegaan:
    -