blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ekonomierubriek: Suider-Afrika se eintlike Groot Vyf 2005-03-29
James N. Blignaut


Deur James N. Blignaut, deeltydse professor in ekonomie, Universiteit van Pretoria, en direkteur van Jabenzi, Beatus en GreenGrowth Strategies, drie maatskappye gerig op die verwesenliking van landelike ontwikkeling in Suider-Afrika.
[email protected]

    Die gelyktydige voorkoms van armoede (met sy meegaande, omvangryke ondervoeding), cholera, malaria, omgewingsverwering en MIV/VIGS – ook bekend as Afrika se eintlike Groot Vyf – is iets wat statistiek nie kan onthul nie. Statistiek kan selfs ook nie begin om die boodskap van maatskaplike ineenstorting en wanorde oor te dra wat tans in landelike Suider-Afrika afspeel nie. Tog speel hierdie tragedie voor ons oë af terwyl talle onbewus van die lewensvernietigende maatskaplike kanker in ons midde is. Die wêreld se ekonomiese fokuspunte is Sjina en Indië as opkomende ekonomiese reuse; Europa het sy eie maatskaplike probleme in die vorm van die naderende ineenstorting van die welvaartstaat weens ‘n verouderende en krimpende samelewing; en die VSA – wel, die VSA voer Bush-oorloë en sal altyd slegs oor die VSA begaan wees. Afrika se oplossings moet uit Afrika kom.

    Terwyl dit waar is, versinnebeeld die term Afrika vir talle mense steeds ‘n ongerepte, wonderlike vasteland van sjarme en ongeëwenaarde skoonheid. Die voorreg en sensasie om die olifante van Chobe, die leeus van die Kalahari, die seekoeie, krokodille en voëllewe van die Okavango te geniet – om oor Kafye, Luangwa of die Krugerwildtuin maar te swyg –  kan nie onder woorde gebring word nie. Hierdie natuurlewe-enklawes bestaan uit kilometer op kilometer van bosveld en savanna. Om dit alles te ervaar, is om van kuns in beweging getuie te wees.

    Maar soos die spreekwoord lui, is Afrika nie vir “sissies” nie; dit is ‘n ruwe vasteland en ‘n mens behoort nie die werklikheid deur ‘n syskerm van romantiek te versag nie. Die mense van die land is gewikkel in ‘n groeiende stryd om oorlewing. Afrika se natuurlike skoonheid word verswelg deur die gevolge van armoede, ernstig ontspoorde ontwikkelingspogings, en veranderings in die ekonomiese en maatskaplike strukture. Dit is voor die hand liggend dat ‘n groot aantal mense gedwing is om vanaf hul tradisionele landelike bestaanslandbouleefwyse na werknemers as kleinboere vir grootskaalse hoofsaaklik bees- en boekboere te verander. Plaasgrond wat eens die kollektiewe besit van ‘n groot aantal gemeenskapsmense was, is nou in die hande van die paar uitverkorenes. Hierdie boere woon selde self op die plase, hoewel hul wortels daar lê. Dit het ‘n ooglopende impak op die verspreiding en algemene vlak van inkomste (of liewer die gebrek daaraan) en veroorsaak armoede vir die mense wat self op die grond woon. Hierdie kleinboere ontvang bloedweinig meer as die reg om op die grond te bly. Die beeste is nie meer hulle s’n nie; hulle is bloot die wagters daarvan.

    Die korttermynstrewe na massaproduksie en hoë omset – ‘n mens kan dit ook gierigheid noem – het gevolglik tot die oorbeweiding van baie velde gelei. Ongelukkig is dit dwarsoor landelike Suider-Afrika baie algemeen om groot stukke grond met geen of baie min grondbedekking aan te tref, met die alte bekende littekens van gronderosie as blyke van die ernstige wanbestuur van die grond.

    Die mense moes hulle dus tot alternatiewe inkomstevorme wend. Gevolglik het talle na die hoofpaaie of –are gemigreer. Getuienis van hierdie migrasie is baie duidelik as ‘n mens noord, oos en wes van ons landsgrense reis. Op al die hoofare is daar ‘n groeiende aantal dorpies wat almal om ekonomiese oorlewing veg. Die mense is ontheem en verarm – vreemdelinge in hul eie land – ‘n land wat nie langer aandete voorsien nie. Hulle is te arm om selfs die bietjie wat hulle produseer aan ‘n buurgemeenskap te kan verkoop, sodat hulle onder mekaar ruil of handeldryf. Betalings vir vervoer en kommunikasie gaan aan nasionale maatskappye, met die implikasie dat die geld in sirkulasie binne so ‘n gemeenskap steeds krimp, en slegs gesteun word deur die sporadiese oordrag van ‘n familielid wat elders in diens is.

    Armoede en grondverwering gaan ook hand aan hand. Hoe armer mense word, hoe meer is hulle op natuurlike hulpbronne aangewese. Hoe meer die natuurlikehulpbronbasis geoes (of gemyn) word, hoe minder hulpbronne is beskikbaar; hoe meer die natuurlike dravermoë geskend word, hoe armer word mense. Dit is hierdie maatskaplike, ekonomiese en ekologiese siklusse wat verwoestende langtermynplikasies vir welsyn het. Maniere om onmiddellike armoede te verlig sluit in bedelary (die onvermydelike krete om sweeets!!! Van kinders en geld van volwassenes), misdaad en prostitusie. Dit het sy uitwerking op mense se welsyn deur die snelle verspreiding van MIV/VIGS, veral langs vragmotor- en busroetes. MIV/VIGS takel die immuniteitstelsels van reeds ondervoede mense dermate af dat hul liggame nie die voortdurende aanslae van malaria en cholera kan weerstaan nie – en begrafnisondernemings beleef ‘n blomtyd.

    Hierdie faktore het nie net ‘n groot sosio-ekonomiese impak op die plaaslike mense en die gewete van die reisiger nie, maar ook ‘n groot impak op die toerismebedryf. Dit is nie langer moontlik om Afrika se ongerepte skoonheid te geniet sonder om van die omliggende armoede bewus te wees nie. Dus, is dit waar dat die Afrika-wildernis aan verdwyn is? Tot ‘n groot mate, ja, tensy die reisiger bereid is om na ongekaarte gebiede soos in Zambië te gaan. Die meeste wildernisareas is egter nou kommersiële enklawes en speelplekke van die rykes, met beperkte voordeel vir die plaaslike gemeenskappe. ‘n Immergroeiende see van armoede, siektes en kwale gekombineer met grondverwering, omring hierdie enklawes – Bosbokrant is ‘n uitstekende voorbeeld hiervan. Hierdie gemeenskappe plaas egter groeiende druk op die owerhede om toegang tot die bewaringsareas te verkry ten einde hul kwynende voorrade vuurmaak- en boumateriale aan te vul.

    Om hierdie groeiende probleem op te los, vereis ‘n geïntegreerde, volhoubare landelike ontwikkelings- en bewaringstrategie (en veral die implementering daarvan!!!!) vir Suider-Afrika. Anders gestel, ‘n grondbenuttingstrategie wat werklik ‘n plan is wat die grond optimaal sal gebruik. As die regering en alle ander belanghebbendes van die Suider-Afrikaanse lande nie gou gaan optree nie, sal armoede dit wat bes moontlik die subkontinent  se waardevolste, kosbaarste uitvoerkommoditeit – sy grond – is, verwoes.

    Maar dit is mense en meer spesifiek gemeenskappe wat op die grond woon. Aangesien die uiteindelike doelwit van enige ekonomiese ontwikkelingsprogram naamlik is om individue van plaaslike gemeenskappe in staat te stel om betekenisvol aan die ekonomie deel te neem, moet gemeenskappe oorweeg wat hulle aan die mark kan verkoop. Markbetreding vind egter nie vanself plaas nie. Een strategie om hierdie proses van landelike ekonomiese integrasie te bestuur, is deur gefokuste koöperatiewe wat inkubasiesentra vorm. ‘n Inkubasiesentrum is ‘n kleinskaalse, maar gemeenskapsbeheerde en -gedrewe kommersiële onderneming. Hierdie inkubators vorm die voertuig waardeur die kollektiewe produk van die koöperatief aan die kommersiële sektor verkoop kan word en waardeur die opbrengs aan sy lede versprei kan word. Een streek of dorp kan meer as een inkubasiesentrum hê, omdat elke sentrum op ‘n enkele fokuspunt afgestem is. Daar is ook mag in getalle. Hoewel elke inkubasiefokussentrum klein in skaal kan wees, kan daar verskeie van hulle dwarsoor die land wees. Dit sal vir ‘n gesamentlike aantal inkubasiesentrums moontlik wees om ‘n genoegsame volume te produseer om oorgrenshandel te regverdig.

    Die verspreiding van ‘n verskeidenheid inkubasiesentrums in een area sal ook die gemeenskap se inkomstestroom diversifiseer en sodoende meer mense betrek. Dit is dan die uitdruklike doel van hierdie inkubator om sy eie gemeenskapslede wat tans as koöperatief georganiseer is, ná ‘n opleidingsperiode tot hul eie private kleinskaalse kommersiële ondernemings te lei. Stigtingskapitaal vir hierdie private, individuele onderneming kom uit die inkubator se eie opgepotte fondse. Hoe kleiner die opgepotte fondse is, hoe kleiner die geleentheid om na jou eie onderneming gelei te word, en des te groter die aansporing om die opgepotte fondse produktief aan te wend.

    Dit moet vermeld word dat die konsep van ‘n inkubasiesentrum as fokuspunt vir kapasiteitsbou nie nuut is nie.  Voorbeelde van sakeontwikkelingsinkubasiesentra is die SEBIC-inkubasiesentrum in Ierland, die Loughborough Innovation Centre in Engeland, die Novi Sad-sentrum in Serwië, the SIDBI-innovasiesentra in Indië, IICK in België, die Ekonomiese Ontwikkelingsraad van Sjina en die School of Computing Incubation Centre in Singapoer. Uit hierdie voorbeelde is dit egter duidelik dat die regering, en veral plaaslike regering, ‘n konstruktiewe rol moet speel om die inkubators te help om meer doeltreffend en produktief te wees deur kapasiteitsbouprogramme, regs- en administratiewe begeleiding en die voorsiening van fasiliteite soos werkwinkelruimte, vervoertoegang, ens.

    Afrika se ontwikkeling sal nóg van buite, nóg van bo na onder plaasvind. Die enigste manier is deur mense en gemeenskappe. Dit is hoe die maatskaplike weefsel van gemeenskapslewe in Suider-Afrika kan en moet herbou word. Ontwikkeling gaan per slot van rekening oor mense, en nie oor geld, gierigheid of omgewingsvernietiging nie.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=175
Artikel nagegaan:
    -