blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde Diplomatique: Seuns en dogters van ballingskap: Armene sonder grense 2005-03-11
Jean-Jacques Varoujan



Aan die oorsprong van elke diaspora lê ‘n traumatiese gebeurtenis. Die Armene het die eerste volksmoord van die 20ste eeu ondergaan. Voorberei gedurende die massaslagtings van 1894-1896, is dit uitgevoer tydens die Eerste Wêreldoorlog deur milisies van die Turkse party, Eenheid en Vooruitgang, op bevel van hul leiers en met die samewerking van Duitse offisiere wat toesig oor die Turkse leër gehou het. Twee derdes van die Armene van Turkye – ongeveer 1,2 miljoen – is uitgewis. Hoewel 3 miljoen van hulle vandag in hul onafhanklike republiek woon, is byna twee maal soveel oor die wêreld versprei: in die Midde-Ooste, maar ook in Rusland, Europa en die Verenigde State… Dit is hierdie herinnering aan ballingskap wat die skrywer Jean-Jacques Varoujan hier laat herleef. Varoujan is ‘n dramaturg en essayis uit wie se pen verskeie publikasies verskyn het, waaronder Mort d’un oiseau de proie (Parys: Gallimard, 1980), De quoi je? Tentative V (Parys: Edipol, 2002) en A plus (Parys: L’Harmattan, 2003).
(Vertaal deur Johann Rossouw)

‘n Mens moet jou oë verruil, beveel Sofokles aan. Maar hoe maak jy voor sekere tonele? ‘n Eenvoudige reeks portrette dompel my in pyn. Ek sien myself toe ek sewe of agt jaar oud was en dit laat my wanhoop. Nooit sou ek wou hê dat die seuntjie met sy kortbroekie wat ek was, sterf, verdwyn of vervaag in die newel van die tyd nie. Nooit sou ek kon aanvaar nie dat hierdie hondjie langs die voete van my ouma gesien het wat sy gesien het, sonder om haarself te kan verdedig, agter die moordenaars van haar baas aan te blaf.

Nooit, sê die seun van die uitgewekene, sal ek sien wat ek nie gesien het nie, dit wat hulle my ontneem het en wat ek slegs ken deur die “hulle vertel”, “hulle roep op”, die “ons huil”, die “ons sing”.

Waar lê die fout? Waar is die verskriklike struikelblok? In hierdie strate, hierdie bome, hierdie omgekeerde grafte, hierdie skare wat op ‘n 24ste April betoog om hard en duidelik te sê: hulle is dood sodat ons kan leef! En die foto wat byvoeg: sodat ons nie vergeet nie.

Maar kan ons vergeet? Hoe vergeet jy die gebeure – dikwels tragies, soms voortspruitend uit misdade – wat ‘n hele volk na die verlating van sy grond gevoer het? En altyd hierdie onbegrip, hierdie knaende vraag: hoekom ek? Waar lê my fout? Wat moes ek nie gedoen het nie? Wat moes ek gedoen het? Stilbly, my mismaak, myself ontken? En ás die oorsake van die volksmoord, van die onmiddellike teregstellings, van die verbannings, van die massaslagtings van 1915 in Oos-Anatolië verhou het met die onbeskaamde skoonheid van my taal wat so anders is; met die ondeurdringbare skoonheid van my land, waar die gelag, die gedans en die gesing, die gebede al eeue bestaan; met soveel Christusse aan die kruis? My versugting na vryheid, sê die uitgewekene steeds vir sigself, die sug om my geloof uit te leef, het die barbare gedryf om dag vir dag nog erger te doen, tot by die uitwissing en die vernietiging van wat nie Tadjieks, of “rooi” of selfs Aries was nie, van alles wat kon getuig…

Nadat hy die oorgrote meerderheid van die “heidene” uitgemoor en die oorlewendes gedruk het om te vlug, het die besetter – of hy nou Turks, Duits of Chinees was – die oorlewendes ontneem van hul natuurlike geluk om Armene, Jode of Tibettane te wees. Hierdie geluk, hierdie vreugde keer nooit heeltemal terug nie, omdat hulle iemand anders geword nie het in die nuwe land waar hulle hul bevind. Tweede vaderland, sê hulle, asof ‘n mens twee vaders het.

Waar hy ook al is, wat hy ook al doen, wat hy ook al voor sy oë sien afspeel, is die uitgewekene se blik gewend na die verlede geleefde van vóór die dood van sy moreel. Hy teer op beelde wat hy nie kan vergeet nie, op die foto’s van sy geliefdes; hierdie foto’s is in sy kop, sy slapende bewussyn.

“Dra ‘n mens jou vaderland met jou skoensole saam?” het Danton uitgeroep toe vrywillige ballingskap aan hom voorgestel is ten einde aan die dood te ontsnap.

Ja meneer, ja burger, ja kameraad, mens neem iets saam. En wat? ‘n Werklikheid wat mettertyd verander in ‘n illusie, ‘n hersenskim. In waansin. Dan vertel jy, wys jy wat oor is van die huis, die kerk, die straat ten einde ‘n nog erger dood te ontsnap.

Laat ons vir die beendere van ons vaders sê: staan op en volg ons op vreemde grond!

Meer as een Romein het eens dood bo ballingskap verkies. Meer as een voëlvryverklaarde het as dooie op vreemde grond geleef. My oupa Garabed het nooit weer gepraat na sy aankoms in Frankryk nie en ek het hom so te sê nooit sien glimlag nie. Altyd in homself gekeer. Altyd in twee gevou. Sy innerlike leidmotief, sy daaglikse tiktak: wat maak ek hier? Hier waar ek aan die begin ‘n eier by die kafee van Alforville moes kry deur te vra “Amane œuf?”, of, ter verduideliking: “Kôkô!”

Wat bly oor (van jou liefdes) wanneer jy ver van jou land leef, ver van jou geliefdes – op die plek dood, van jou dorp, van jou berge, jou hoenders en jou hase? Herinnering. Dit kom, al is dit nie altyd jou eie wat terugkom nie. Na ‘n tyd het jy geen ander keuse nie as om te erken dat hierdie herinnering min of meer bestaan uit vertellings, oorvertelde stories, beleef in onuitgelegde drome, ook dáár min of meer opgemaak, verfraai of verdonker, legendes, miskien selfs versinsels… In feite bly daar beelde oor. ‘n Paar foto’s gered – hóé weet jy nie, gekry onder in ‘n ou tas wat jy getalm het om oop te maak terwyl jy gewag het – so het jy geglo – op die terugkeer na jou land. Bowenal die foto’s wat later in die plekke van ballingskap geneem is van ontwortelde mense, soms onbekend, maar tog met ‘n naam op die rug, ‘n naam wat niks sê nie. ‘n Stom naam.

Wat oorbly, is die oog wat aanhou soek sonder om altyd daarin te slaag om aan te haak by ‘n werklikheid wat nie syne is nie – en die soms terugkerende glimlag wat jy daar lees. Daar is rou wat jy slegs oorleef deur te glimlag. Jy weet nie meer so mooi nie – jou blik word troebel as jy na hulle kyk – jy weet nie meer so mooi wat jy sien nie. Dit is nie altyd jou oom, jou ouma, ‘n maatjie nie… Is dit nie wanneer hulle uit hul identiteit geskeur is nie - soos hierdie mense is – dat dit nie langer ‘n man of ‘n vrou (is dit nie dan die syn nie?) is wat jy afmaai nie, selfs met die hale van ‘n kromswaard?

Wat bly oor (van ons liefdes)? In die beste gevalle, met die verlies van alle lidmaatskap van ‘n erkende, gelysde identiteit, nader jy dít wat van die wesenlike in jou oor is, maar dan gestroop van al die tooisels, tekens en etiket wat maak dat ons nie meer soos iemand is nie, soos ons die eerste dag was, voor ons geweet het, voor ons die gevestigde reëls gehoorsaam het, voor ons aan etikette en kentekens onderwerp is.

Maar die jong spruite deel nie hierdie mening nie.

Wanneer die uitgewekene “ons land” by sy kinders aanroer… “Wat is dit, ons land?” antwoord sy seun baie gou. En die pa staan oopmond, sy asem weggeslaan. Verbyster.
“Ons is nie in Karpert nie!” voeg sy dogter by.
“Bly stil of jy kry ‘n klap” (woord vir woord: jy eet ‘n klap).
“Maar ek is Frans!” protesteer ‘n klein Armeense meisie in ‘n rolprent van Isabelle Ouzounian, Le Jardin de Khorkom.

Dít is die verskriklikste straf wat ‘n emigrant kan ondergaan, die verskriklikste uitroep van ‘n uitgeweke kleindogter – soos ‘n splinter wat in sy vlees steek, ‘n dood sonder misdaad, sonder iemand om die finale nekslag toe te dien. En tog is dit ‘n ander lewe wat na vore kom. ‘n Geboorte tot ‘n ander lewe.

‘n Geboorte terwyl ‘n deel – watter deel? – van ‘n gewonde hart sterf.

Wat bly oor van die man wat jy is as jy jou bevind in ‘n vlugtelingkamp, in so ‘n tydelike situasie, so anoniem? Of in ‘n stad, ‘n woonbuurt, ‘n straat waar jy niks of geen lewende siel ken nie, wanneer jy self ‘n dooie siel is? Waar niemand dieselfde taal as jy praat nie, in ‘n onbewoonde huis, onder ‘n hemel van ‘n ander soort blou – waar slegs die voëls, wat nie die verskil tussen mense ken nie, sing, om, so glo hulle, nuus van jou land te gee…

Wat is hierdie elders waarna sy holle blik soek, versteek in sy verwese, swart, blinde oë? Beskuldigende spieël? Die smekings van ‘n slagoffer? Dit is nie net sy verlede, sy bejaardes, en sy grootouers wat hy soek nie, maar ook en bowenal die kinders wat hy moes agterlaat, op die plek tereggestel of deur die skuim ontvoer – voor hy sy goed moes pak - die onidentifiseerbare lyke wat die opeenvolgende golwe van die see uitspoel, of weggevoer deur die woeste waters van die Eufraat.

Al die uitgewekenes van die wêreld het dieselfde innerlike beelde, weerkaatsings van ‘n land wat hulle s’n was. Ver van sy grond, van homself ‘n uitgewekene, is ‘n man iemand anders. Byna niks nie. Watter toekoms is syne? Soms, dikwels, gemak, ‘n gunstige situasie, vervlietende plesiere, hartkloppe, maar sy toekoms bly sy “eens en voorheen”, sy rykdom is dit wat hy verloor het. ‘n Vreemdeling in die vreemde het hy in sy land geword as hy as toeris daarna kan terugkeer. Nog meer, sy ganse lewe lank ervaar hy ‘n skuldgevoel wat hy gewis nie verdien nie. Waarom? vra hy homself onophoudelik.

Die Ottomaanse barbare het die Christene wat hulle onderwerp het gehaat, omdat laasgenoemde sonder ophou, deur hulle stilte, hul geheime lewe aan die barbare getoon het; en ook, deur hulle glimlag, dat hulle Ottomaanse of Nazi-barbare was, en dié in weerwil van hulself gedwing om hulself te onthul, om hulle as sodanig te ontbloot.

Om in pas met Moestafa Kemal te bly… Ons gaan die Jode “Armeniseer”, het Hitler aangekondig tydens ‘n vergadering in 1923 in die agterkamer van ‘n Weense kafee. Welkom in die bende.

‘n Jood, ‘n Armeen, ‘n Griek van Turkye, ‘n Tibettaan kan nie ‘n dag beleef, deurgaan sonder om te voel wat dit is om ‘n Jood, ‘n Armeen of ‘n Tibettaan te wees nie, selfs al is dit net vlugtig, sonder dat dit hom opval dat hy dit is, selfs al vra hy homself nie af wat dit is nie. Om die moontlike, omgekeerde werklikheid reg te stel, is dit vir hom genoeg – hoe goed sal dit hom nie doen nie… - om hom elke dag voor hy sterf te werp in die blaaie van die groot boek waar hy oorbly, in sy beelde dikwels sonder byskrifte. Elke dag om nie te sterf nie.

Dit is vir hom genoeg om hom te herinner aan hierdie of daardie geliefde wat die gees gegee het in ‘n taal, sy taal, wat niemand om hom kon verstaan nie. Waarom was Tsjekhof se laaste woorde: “Ich sterbe”?

“Hoe sterf die uitgewekenes?” sou Tolstoi kon vra.

Dit is nie net ‘n begeerte om te leef wat ‘n mens kan lees op die gesigte van die kinders, die oumense en die vroue wat asof vergete is nie, maar die feit dat hulle self die lewe is. Want miskien is dít waar die lewe is. En nie net die lewe van vandag nie, en nie net die lewe wat ons lei nie, die lewe wat ons ‘n effe sotlik met elke wending laat sê: dis die lewe! Dít is waar die ware redes om te glo voorkom, sonder om te weet (maar dis nie belangrik nie) waarin. In wat.

Hierdie ewigheid van die uitgewekene, sy universaliteit, word oral gesien en word soms gesien in die gestolde materiële beelde. ‘n Straat in Alep, Baronstraat, waar die verskriklike telegram van Talaat wat die uitwissing van ‘n hele volk beveel, opgedaag het. In Karabakh, wanneer die oues begrawe word en oor wie mens ‘n laaste maal buig. Van watter kant af kyk hierdie ingehaakte vroue op die grens, gekom van die een kant af, gebore aan die ander kant?

Om ons in die hart van die Geheim te hou, sal die syn altyd oorbly. “Die mens ‘n bietjie minder as God” sê Dawid (Psalm 8:5). Die syn, voor alles gebore, wat baie groter as God is.

Tussen God en die mense sal die uitgewekene oorbly, wat nie anders kan nie as om aan die een sowel as die ander te wanhoop, swerf op ‘n kruisweg nie van hierdie wêreld nie, waar die een sowel as die ander hom verlaat het. Waarom?

Alles wat hy weet, spruit daaruit voort dat hy ‘n uitgewekene is. Alles wat hy nie weet nie, spruit daaruit voort dat hy ‘n uitgewekene is. Dit is sy toestand, dit is sy regering. Hy teer uitsluitlik op dooie hartstog.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=166
Artikel nagegaan:
    -