blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde Diplomatique: Die vroue van Kerala teen Coca-Cola 2005-03-11
Vandana Shiva



Deur Vandana Shiva, Hoof van die Navorsingstigting vir Wetenskap, Tegnologie en Ekologie (Indië), skrywer van onder meer La Guerre de l'eau, Parys: L'Aventurine, 2003, en La vie n'est pas une marchandise Parys: L'Atelier, 2004.
(Vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois)

Nadat die regering hulle in 1977 uit die land gesit het, kry Coca-Cola opnuut ‘n vasstrapplek in Indië op 23 Oktober 1993, op dieselfde tydstip dat nog ‘n Amerikaanse multinasionale maatskappy, Pepsi-Cola, hul daar vestig. Die twee maatskappye besit tans negentig fabrieke – “botteleringsfabrieke” wat in werklikheid “pompfabrieke” is: 52 eenhede behoort aan Coca-Cola en 38 aan Pepsi-Cola. Elkeen ontgin daagliks tussen 1 miljoen en 1,5 miljoen liter water.
Vanweë die vervaardigingsprosesse hou hierdie gaskoeldranke sekere risiko’s in. Eerstens omdat die grondwater wat die botteleringsfabrieke uitpomp, armes van hul fundamentele reg op drinkwater ontneem. Verder omdat hierdie fabrieke skadelike afval stort wat die omgewing en openbare gesondheid bedreig. En laastens omdat sodakoeldrank berug is vir die gesondheidsnadele wat dit inhou – die Indiese parlement het ‘n saamgestelde parlementêre kommissie op die been gebring om ondersoek na die aanwesigheid van plaagdoderoorblyfsels in te stel.
Vir meer as ‘n jaar lank het vroue van die Plachimada-stamme, in die Plaghat-distrik in Kerala, sitbetogings gehou om teen Coca-Cola se uitputting van die grondwater te protesteer. “Inwoners,” skryf Virender Kumar, ‘n joernalis by die dagblad Mathrubhumi, “dra swaar vragte drinkwater op hul koppe wat hulle ver moet gaan haal, terwyl vragmotors vol gaskoeldrank by die Coca-Cola fabriek uitry (1).”
Hierdie fabriek pomp ‘n miljoen liter water per dag uit, en soms meer. Die vroue moet vyf tot ses kilometer ver loop om drinkwater te gaan haal, terwyl hulle aanskou hoe agt of nege vragmotors volgelaai met gaskoeldrank by die fabriek uitry. Nege liter drinkwater is nodig om ‘n enkele liter Coca-Cola te maak.
Die Adivasi(2)-vroue van Plachimada het hul protes van stapel gestuur kort na die opening van die Coca-Cola fabriek, waarvan die produksie teen Maart 2000 sou groei tot 1 224 000 bottels Coca-Cola, Fanta, Sprite, Limca, Thumbs up, Kinley Soda en Maaza. Die plaaslike panchayat (3) het onder voorwaardes aan die maatskappy toestemming gegee om water met behulp van masjienaangedrewe pompe te ontgin. Maar die multinasionale firma het onwettiglik begin om miljoene liters suiwer water te pomp uit ses boorgate wat hulle self gegrawe en met uiters kragtige elektriese pompe toegerus het. Volgens getuienis wat plaaslik ingewin is, het hulle al tot 1,5 miljoen liter per dag gepomp. Die grondwatervlak het drasties gedaal: waar dit eers vyf-en-veertig meter was, lê dit nou honderd-en-vyftig meter diep.
Asof dit nie genoeg is dat hulle die gemeenskap se water steel nie, het Coca-Cola die bietjie wat oorbly besoedel deur vuil water te stort in die boorgate wat hulle op hul persele gemaak het om vaste afval te begrawe. Vroeër het die maatskappy sy afval buite gestort, vanwaar dit tydens die reënseisoen na die ryslande, kanale en putte gespoel het en ‘n uiters ernstige gesondheidsgevaar vir die publiek geskep het. Dit is nie meer die geval nie. Maar die besoedeling van waterbronne bly steeds ‘n werklikheid.
Hierdie praktyke het gelei tot die opdroog van tweehonderd-en-sestig putte wat die owerhede laat grawe het om in drinkwater- en landbounatleidingsbehoeftes te voorsien. In die Kerala-distrik, wat bekendstaan as die “rysskuur” vanweë sy ryk ekosisteem en baie water, het landbouopbrengste met 10% verminder. Die ergste is dat Coca-Cola die toksiese afval uit sy fabriek as bemesting aan die inwoners versprei. Toetse het bewys dat hierdie “bemesting” ‘n hoë persentasie kadmium en lood bevat – beide kankerverwekkende stowwe.
Verteenwoordigers van die stamme en kleinboere het dus ook die besoedeling van waterreserwes en bronne veroordeel, asook die lukrake uitgrawings wat oeste ernstig benadeel het; hulle het onder meer geëis dat tradisionele drinkwaterbronne, damme en opgaardamme beskerm, bevaarbare waterweë en kanale in stand gehou, en drinkwater gerantsoeneer word.
Daar is aangedring dat die maatskappy ‘n verduideliking gee vir sy optrede, maar Coca-Cola het geweier om aan die panchayat enige redes te verskaf. Gevolglik het laasgenoemde die firma kennis gegee dat sy bedryfspermit opgeskort word. Daarop het die multinasionale maatskappy probeer om die president, Anil Krishnan, om te koop met 300 miljoen roepee. Tevergeefs.
Nogtans, hoewel die panchayat sy bedryfspermit teruggetrek het, het die Kerala-owerheid voortgegaan om die maatskappy te beskerm, en selfs 2 miljoen roepee (36 000 euro) te gee as subsidie vir die plaaslike nywerheidsbeleid. In al die state waar hulle fabrieke het, ontvang Pepsi en Coca-Cola soortgelyke hulp. En dit vir drinkgoed met geen voedingswaarde hoegenaamd nie, teenoor tradisionele Indiese dranke soos nimbu pani, lassi, panna en sattu.
Daarbenewens, om ‘n stroop met ‘n hoë suikerinhoud te kan maak, gebruik die firmas mielies waarvan 30% reeds as grondstof vir die vervaardiging van veevoeding en fruktose gebruik word. Daar is dus des te minder vir menslike gebruik, en dit ontneem in werklikheid die armes van ‘n noodsaaklike, goedkoop basiese produk. Die vervanging, daarenteen, van versoeters uit suikerriet, soos gur en khandsari, benadeel die kleinboere vir wie hierdie produkte ‘n bron van inkomste en lewensmiddele verseker het. Kortom, Coca-Cola en Pepsi-Cola maak ‘n geweldige impak op die voedselketting en ekonomie, wat veel verder strek as die inhoud van hul bottels.
In 2003 het die distrik se gesondheidsowerhede die inwoners van Plachimada ingelig dat die besoedeling van hul water dit ongeskik vir drinkdoeleindes maak. Die vroue het dit reeds geruime tyd geweet en was die eerstes om hierdie “waterrowery” te verdoem tydens ‘n dharna (sitstaking) voor die maatskappy se hekke.
Aanvanklik begin deur die Adivasi-vroue se inisiatief, het die protesbeweging op nasionale en internasionale vlak ‘n vloedgolf van eensgesinde aksies ontketen. Onder druk van die toenemend sterker beweging en die droogte wat nog verder tot die waterkrisis bygedra het, het die regeringshoof van Kerala uiteindelik op 17 Februarie 2004 die sluiting van die Coca-Cola fabriek gelas. Die reënboogalliansies wat aanvanklik tussen die distrik se vroue gesmee is, het uiteindelik die hele panchayat ingesluit. Op sy beurt het dié van Perumatty (in Kerala) in die openbare belang ‘n klag by die hooggeregshof van Kerala teen die multinasionale maatskappy aanhangig gemaak.
Op 16 December 2003 beveel regter Balakrishnana Nair dat Coca-Cola sy roofpompery van Plachimada se grondwater moet staak. Die redes vir die beslissing was net so waardevol soos die bevel self. Die regter het byvoorbeeld verklaar: “Die leerstelling van openbare vertroue berus bowenal op die beginsel dat sekere bronne soos lug, seewater en woude vir die bevolking as geheel soveel belang inhou dat dit totaal ongeregverdig sou wees om daarvan privaatbesit te maak. Hierdie bronne is ‘n gawe van die natuur en behoort gratis aan elkeen beskikbaar gestel te word, ongeag sy of haar maatskaplike stand. Aangesien hierdie leerstelling die regering verplig om hierdie bronne in so ‘n mate te beskerm dat almal dit kan benut, kan hy nie toestemming gee dat dit deur privaateienaars vir kommersiële doeleindes gebruik word nie [...]. Alle burgers is sonder uitsondering begunstigdes van die kuste, waterweë, woude en ekologies-sensitiewe grondgebiede. As administrateur word die staat deur die wet verplig om die natuurlike hulpbronne te beskerm en dit nie na privaateiendom te laat oordra nie.”
Met ander woorde: water is openbare besit. Dit is die staat en sy onderskeie administrasies se plig om grondwatervlakke teen oormatige ontginning te beskerm, en hul gebrek aan handeling is dus ‘n skending van die reg op lewe wat deur Artikel 21 van die Indiese Grondwet beskerm word. Die hooggeregshof het nog altyd bevestig dat die genietingsreg op onbesoedelde water en lug inherent deel uitmaak van die reg op lewe wat in hierdie artikel uitgestip word. Dus, selfs in die afwesigheid van ‘n wet wat spesifiek vir die gebruik van grondwater voorsiening maak, is die panchayat en die staat verplig om die oorontginning van hierdie ondergrondse reserwes teen te staan. En Coca-Cola se besitreg sluit nie die grondwater in wat onder sy grondeiendom lê nie. Niemand het die reg om vir hom ‘n groot deel daarvan toe te eien nie, en die regering het geen reg om ‘n private derde party toestemming te gee om hierdie water in sulke groot hoeveelhede te ontgin nie.
Vandaar die hof se tweeledige bevel: Coca-Cola sal binne presies een maand die pomp van water vir sy eie gebruik staak; die panchayat en die staat sal toesien dat die beslissing toegepas word indien die sperdatum oorskry word.
Die verset van die vroue, wat die siel van die beweging was, is verder gevoer deur regsgeleerdes, parlementslede, wetenskaplikes en skrywers... Die beweging brei uit na ander streke waar Coca-Cola en Pepsi waterreserwes uitpomp tot nadeel van die inwoners. In Jaipur, die hoofstad van Rajahstan, nadat die Coca-Cola fabriek in 1999 geopen het, het grondwatervlakke van twaalf meter diep tot vyf-en-dertig en ‘n half meter gesak. In Megdiganj, ‘n dorpie twintig kilometer van die heilige stad van Varanasi (Benares), het dit met twaalf meter gedaal en die bewerkte lande rondom die fabriek is nou besoedeld. In Singhchancher, ‘n dorpie in die Ballia-streek (in die suide van Utar Pradesh), het die Coca-Cola eenheid die water en grond blywend besoedel. Oral word protes aangeteken. Maar ‘n mens merk op dat die openbare owerhede nog meestal met geweld op die opstande reageer. In Jaipur is die beroemde Gandhiese aktivis Siddharaj Dodda byvoorbeeld in Oktober 2004 gearresteer vir deelname aan ‘n vreedsame optog om te eis dat die fabriek sluit.
Behalwe die opdroog van putte is daar ook die gevaar van besoedeling deur plaagdoders. Die hooggeregshof van Rajahstan het die verkoop van koeldranke wat Coca-Cola en Pepsi produseer, verbied, aangesien hulle geweier het om die lys van bestandele bekend te maak, terwyl studies gewys het dat dit plaagdoders wat ‘n gesondheidsgevaar inhou, bevat (4). Die twee reuse het die saak na die Indiese hooggeregshof gevoer, maar dié het die appel verwerp en die Rajahstan-hof se beslissing ondersteun deur te gelas dat Pepsi en Coca-Cola die presiese samestelling van hul produkte publiseer. Tot op hede bly hierdie koeldranke verbode in dié streek.
Navorsing wat in 1999 deur die All India Coordinated Research Project on Pesticide Residue (AICRP) uitgevoer is, het bewys dat 60% van alle voedselprodukte op die mark met plaagdoders besmet is en dat 14% daarvan hoeveelhede bevat wat die toegelate maksimum oorskry. So ‘n bevinding bevraagteken die mite dat die multinasionale maatskappye voorkeur aan veiligheid en betroubaarheid gee, en wat ‘n vertroue in hulle stel wat die openbare sektor en plaaslike owerhede ontsê word. Hierdie elitistiese vooroordeel teenoor die openbare administrasie van bates en dienste het daartoe gely dat die privatisering van water aanvaar is. In Indië, soos elders in die wêreld, het die toevlug tot die privaatsektor nie tot beter gehalte en meer bekostigbare water gelei nie.
Op 20 Januarie 2005, regoor Indië, is mensekettings rondom al die Coca-Cola- en Pepsi-fabrieke gevorm. Volkshowe het die “waterrowers” die opdrag gegee om uit die land pad te gee. Die Plachimada-geval bewys dat die mag van die mense oor dié van privaatmaatskappye kan seëvier. Versetbewegings om water te bewaar gaan trouens veel verder. Dit raak ook die oprig van damme – en die groot rivierverbindingsprojek wat beoog om die roetes van al die riviere op die Indiese Skiereiland te wysig, wek toenemend teenstand (5). Dit veroordeel privatiserings wat deur die Wêreldbank aangemoedig word en die privatisering van watervoorsiening aan Delhi (6). Let wel dat die plundery nie sonder die hulp van sentraliserende en korporatistiese state sou kon plaasvind nie.
Die stryd teen waterdiefstal raak nie net Indië nie. Die oorontginning van grondwater en reuse waterroetewysigingsprojekte werk teen die bewaring van die Aarde in sy geheel. Om ‘n begrip te kry van wat op die spel is, moet ‘n mens in ag neem dat indien elke deel van die planeet dieselfde presipitasie gekry het, teen dieselfde tempo en op dieselfde manier, dieselfde plante oral sou gegroei het en ‘n mens oral dieselfde diere sou gekry het. Die planeet bestaan uit diversiteit. Planete se hidrologiese siklus vorm ‘n waterdemokrasie – ‘n stelsel wat water na alle lewende spesies versprei. Sonder waterdemokrasie, kan lewensdemokrasie nie bestaan nie.

__________
(1)     Virenda Kumar, " Ope brief aan die regeringshoof ", Mathrubhumi, Thiruvananthapuram (Kerala), 10 Maart 2003.
(2)     Die term Adivasi verwys na inheemse stamme wat nie die kastestelsel toepas nie
(3)     ‘n Raad wat gesag op dorpsvlak uitoefen.
(4)     Die koeldranke bevat verskeie plaagdoders insluitend DDT. Die regeringskommissie het bevind dat hierdie reste “binne die norme” is wat in Indië aanvaar word. In Coca-Cola of Pepsi-bottels wat in die VSA en Europa gedrink word, is daar geen tekens van plaagdoders gevind nie.
(5)     Arundhati Roy, Le Coût de la vie. Parys: Gallimard, 1999.
(6)     Die hersuiwering van water is toevertrou aan Degremont, ‘n filiaal van die Suezgroep. In Delhi het die prys van water die afgelope jare in tienvoud toegeneem.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=165
Artikel nagegaan:
    -