|
||||
Marc Laimé Deur Marc Laimé, joernalis en skrywer van Dossier de l'eau. Pénurie, pollution, corruption. Parys: Le Seuil, 2003. (Vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois) Hoewel 95% van die wêreld se water en suiweringsdienste deur openbare owerhede beheer word, poog die “grotes” of “Drie Susters” op dié gebied – drie Franse groepe (Veolia, Ondeo, Saur) onder die vier grootste internationales – om hul greep op die toenemend privatiserende markte te verseker. Dit is keuses wat deur miljoene burgers wêreldwyd bevraagteken word. In so ‘n mate dat Veolia ‘n soort betoog gepubliseer het om antwoorde op die alter-globalistiese kwaadpratery te probeer gee – wat ‘n nuutjie is (1). ‘n Kortkop agter Chili, na Engeland en Wallis wat geheel en al geprivatiseer het, blyk Frankryk ‘n pionier te wees wat privaatmaatskappye se deelname in waterbestuur betref. Agt uit elke tien inwoners word bedien deur ‘n privaat ondernemer, en nege uit tien in groot stedelike gebiede. Daar word trouens verwys na die “Franse skool van waterwese”. Gemeenskappe se bevoegdheid om die bestuur van hul waterdienste te delegeer, reik terug na die middel van die 19de eeu. Maar die “Drie Susters” se snelle groei begin eers na die Tweede Wêreldoorlog. Met die vinnige bevolkingsgroei, industrialisasie en intense verstedeliking, skiet die vraag na infrastrukture die hoogte in. Waterbronne lyk haas onuitputbaar, maklik mobiliseerbaar, en niemand kwel hulle nog oor besoedeling en omgewingsbewaring nie. Daarbenewens word plaaslike rade – wat op daardie tydstip 70% van alle water- en suiweringsdienste beheer, ‘n voorreg wat uit 1789 dagteken – soms swak bestuur en gaan hulle gebuk onder skuld. Hulle is onderhewig aan maatreëls en regulasies wat hulle verbied om reserwes vir beleggingsdoeleindes op te bou. Die aanvraag is egter geweldig groot. Waar hulle in 1954 minder as ‘n derde (31,6%) van die Franse bevolking bedien, begin privaat maatskappye hulle nou haas om hierdie gaping te vul. Dis vir hulle des te makliker omdat hulle oor tegniese kennis en vaardigheid beskik wat hulle spoedig nog verder ontwikkel, veral in wat later as “finansiële ingenieurswese” bekend sou staan. Natuurlik, of dit nou om ‘n openbare of ‘n gemagtigde liggaam gaan, die basiese finansiering is altyd openbaar, aangesien dit die gebruiker is wat betaal. Maar die maatskappye se bedrewenheid lê daarin dat hulle hierdie finansiering gaan “optimaliseer”. Vir hul eie gewin, maar dikwels ook in belang van die gemeenskappe met wie hulle ooreenkomste gesluit het. Finansiële vernuf word ten minste net so belangrik as industriële bekwaamheid op die gebied van water. Plaaslike liggame sluit dus ‘n soort “Faustiese pakt” met die grotes. Op dié wyse, van die 1950’s tot in 1995 toe die wetgewer sulke praktyke verbied, gaan die sluit van so ‘n kontrak dikwels gepaard met die betaling van ‘n “toegangsfooi” van tien-, selfs honderde miljoene frank, deur die maatskappy aan die gemeenskap. In plaas daarvan dat dit regstreeks vir die onafhanklike water- en suiweringsbegroting aangewend word, word hierdie bedrae in die gemeenskap se algemene begroting gestort: daar dien dit om lae plaaslike belasting te handhaaf, of om gemeenskaplike geriewe op te rig, soos stadions, swembaddens, ens. – kortom, enigiets behalwe water. Maar aangesien maatskappye nie ‘n filantropiese roeping navolg nie, is dit die gebruiker wat deur middel van sy waterrekening terugbetaal vir solank as wat die kontrak mag duur. Sonder dat hy dit weet, betaal die verbruiker vir hierdie “geskenk” wat aan die gemeenskap gegee is: die waterrekening staan in vir plaaslike belasting... Dink maar aan die politieke voordele wat stadsraadslede hieruit kan trek (2). Hierdie grondliggende gebruike van die Franse bestuurstyl het die geleentheid vir allerlei wanpraktyke geskep: ondeursigtigheid, buitensporige rekeninge, monopolistiese praktyke... So besit Veolia en Suez byvoorbeeld steeds om en by tien plaaslike filiale, hoewel die Mededingingsraad in 2002 geëis het dat daar ‘n einde aan gemaak moet word. Verder is dit bykans onmoontlik vir ‘n gemeenskap om te weet hoeveel van ‘n privaat maatskappy se werknemers werklik vir ‘n bepaalde kontrak aangestel is, of om die ware “perseelkostes” te bepaal wat sonder presiese verduideliking op die rekening aangedui word. Honderde plaaslike gemeenskappe probeer ook hard om agter te kom waarvoor presies “herstelkostevoorsiening” aangewend word – op papier is dit vir die netwerk se instandhouding en vervangingskoste. Miljarde euro is in die spel. Sulke afwykings, wat die afgelope tien jaar deur al die openbare ondersoeke uitgewys is, vorm ‘n soort strukturele korrupsie wat heelwat verder strek as die gevalle van persoonlike verryking wat aan die begin van die 1990’s opslae gemaak het met die “finansieel-politiese hofsake”, die geheime finansiering van partye deur maatskappye. En dit dui op kommer oor die afwesigheid van beheer oor ‘n noodsaaklike openbare diens. Stadsraadslede, die staatsbestel in geheel, blyk oorweldigend aanspreeklik te wees (3). Die daarstel van ‘n kwasi-monopolie deur die “Drie Susters” is natuurlik nie privatisering in die strengste sin van die woord nie. Maar die bykans 15 000 watersindikate wat bestaan en deur gemeenskappe bestuur word, kom te staan teen hierdie maatskappye se eksponensiële toename in kundigheid op die gebeid van tegniek, ontginning, navorsing, bestuur, administrasie, finansies, kliëntebetrekkinge... Aan die eenkant dus ‘n geïsoleerde gemeenskapsliggaam, wat nie oor die nodige tegniese en menslike middele beskik nie, en aan die anderkant ‘n oligopolie. Die magsverhouding is uiters oneweredig. Die wanbalans het nog verder toegeneem in die 1980’s toe verskeie faktore saam begedra het om die toevlug tot hierdie multinasionale groepe te verhoog: al strenger Europese norme wat groter spesialisering verg, die onttrekking van openbare navorsing op dié gebied en die styging in die openbare begrotingstekort. Markte het die hoogte in geskiet, en so ook dié maatskappye se bates... Na ‘n aanvang in die vorige dekade, het hul houvas uitgebrei na byna alle basiese openbare dienste wat enige gemeenskap behoort te voorsien: water en suiwering, maar ook energie, verhitting, afval, vervoer, gemeenskapspyseniering, gesondheid, parkering, begrafnisonderneming, gevolg deur selfoondienste, met SFR (Bouygues) en Cegetel (Vivendi)... So het die stedelike gemeenskap van Lyon (la Courly) dan die verspreiding van drinkwater toevertrou aan ‘n filiaal van Ondeo-Suez; suiwering word deels behartig deur ‘n ander filiaal van Générale des Eaux, via Dégremont (50%), en Suez-Lyonnase, via OTV (50%), en munisipale verhitting en verkoeling deur ‘n filiaal van Générale des eaux-Veolia (Dalkia). Wat vullisverwydering betref, voorsien ‘n menigte filiale van CGE en Lyonnaise tot 50% van alle dienste. In die 1980’s het hierdie groepe ook in die media belê: Bouygues in die TF1 TV-kanaal, Vivendi in Canal Plus en Lyonnaise in M6 – wat hulle slaankrag verhoog. Terselfdertyd het hulle dié oorstappery na die privaatsektor tot kardinale deug verhef. So was Anne Hidalgo van 1995 tot 1997 tweede-in-bevel van Générale des Eaux se menslike hulpbronne-afdeling voor sy in 2001 eerste-onderburgemeester aan die sy van die Paryse burgemeester, mnr. Bertrand Delanoë, geword het. As voormalige voorsitter van die Sosialistiese Party (PS) in die Lille-omgewing, en ‘n lid van Martine Aubry se kabinet, word François Colin hoof van maatskaplike sake by Vivendi Universal (VU), die eertydse Générale des Eaux, van 1998 tot 2003. Die segsman vir ekonomiese en maatskappykwessies in Lionel Jospin se veldtoghoofkwartier, Eric Besson, PS-parlementslid vir die Drôme-distrik, bestuur op sy beurt die Fondation Vivendi van 1998 tot 2002. Charles Hernu se voormalige tegnologiese raadgewer by die Ministerie van Verdediging, Jean-François Dubos, word in 1997 hoofsekretaris van Vivendi Universal. VU se hoof van ekonomiese raming sedert 1997, Alain Marsaud, parlementslid vir die UMP (Union pour un mouvement populaire) in die Haute-Vienne-distrik, was die kommunikasie- en mediagroep se bemarkingsverteenwoordiger vir Mauritius (4). Jean-Pierre Denis, baas van Dalkia, Vivendi environnement se energie-tak, gaan selfs na sy uittrede in 1998 as adjunk-sekretarisgeneraal van die Franse presidensiële bestuur, voort om Jacques Chirac van raad te bedien. ‘n Mens verstaan hoekom daar gesê word dat Vivendi herdoop kan word na " Vivier pour Enarques en dIsponibilité " (oftewel “broeiplek vir beskikbare hoë amptenary”)... Suez staan hier ook geensins terug nie. Die hoofbestuurder, Yves Thibault de Silguy, is ‘n voormalige Europese Kommissaris. In 2000 word Mathias Hautefort, voormalige tegnologiese raadgewer vir energiesake onder die Nywerheidsminister Christian Pierret, lid van die groep. Jospin se voormalige “Meneer Meningspeiling” by Matignon en professor in politieke wetenskappe, Gérard Le Gall, verlaat die akademie in Julie 2004 om hom ook by die Suez-groep aan te sluit... Klassieke teenstellings soos openbaar-privaat of regs-links het betekenisloos geword. Komende uit die geledere van die mynwese en siviele ingenieurswese, die Nasionale Akademie vir Landbouingenieurswese, Waterwese en Bosbou (Engref oftewel Ecole Nationale du Génie Rural des Eaux et Forêts), finansiële ondersoeke, en die Nasionale Administrasie-akademie (ENA), maak die groot kokkedore in die waterwese skoonskip van al die magsposisies. Neem byvoorbeeld ‘n sekere hoë bestuurslid van Suez, derde- of vierde-in-bevel van die groep se ware hiërargie in Frankryk: nie alleen doseer hy aan die Nasionale Skool vir Siviele Ingenieurs (Ecole nationale des ponts et chaussées), waar honderd-en-twintig toekomstige ingenieurs elke jaar opgelei word nie, hy staan ook aan die stuur van kommunikasie vir die Waterverspreidingswerknemersindikaat (Syndicat des professionnels de la distribution d'eau (SPDE)) wat deur Suez, Vivendi en Saur gevorm is, en kan hom daarop roem dat hy lid van ‘n ministerskabinet onder ‘n linkse regering was... Of sy eweknie by Veolia, die hand agter die “antwoord” op die maatskappy se alter-globalistiese kritici, en ook parlementslid vir die Sosialistiese Party. ‘n Mens verstaan die Franse politieke en ekonomiese elite se gebrek aan ywer om ondersoek in te stel na hierdie firmas waarvan die invloedsfeer onophoudelik uitbrei. Benewens hul reklameslaankrag, wat van hulle gesogte adverteerders maak, lewer hierdie multinasionale groepe ook gespesialiseerde agentskapsdienste, soos Image 7 en DGM Conseil Strategic, openbare-betrekkingsagentskappe met ‘n duistere reputasie wat aggressiewe stemwerwingsveldtogte in die media en politieke kringe van agter die skerms behartig (5). Nog ‘n voorbeeld is Veolia wat, in die lente van 2004, ‘n uitgawe van die koerant Mon Quotidien (vir 9- tot 13-jariges) aan 23 000 laerskoolhoofde in Frankryk gestuur het, met ‘n plakaat waarop “Victor”, die maatskappy se gelukbringer, verduidelik hoe ons, deur ons omgewing te beskerm, ook ons gesondheid beskerm. Dieselfde is aan 22 000 huisdokters gestuur, dié keer in die mediese dagblad Le Quotidien du médécin. Terselfdertyd versprei Générale des Eaux aan duisende graad 3-, 4- en 5-klasse ‘n nuwe weergawe van sy “opvoedkundige tassie” geskep in 1995, wat vyftien wetenskaplike en tegnologiese esperimente bevat, asook aktiwiteite vir kuns, geskiedenis en aardrykskunde, burgerlike opvoeding en Frans. In ‘n soortgelyke trant borg Suez die afgelope tien jaar die Internasionale Aardrykskundefees in Saint-Dié, die grootste Franse gebeurtenis van sy soort, wat begin is deur die voormalige sosialistiese Nywerheidsminister, Christian Pierret. Honderde onderwysers woon dit elke jaar by, as deel van hul voortgesette opleiding, en word deur Suez in inligting oor water gedompel... Nogtans, met ‘n Franse mark wat versadig raak en finansieel-politiese skandale wat mekaar opvolg, het die “Drie Susters” die oog anderkant die horison begin rig. Aan die einde van die 1980’s knoop Jérôme Monod, voorsitter van Suez-Lyonnaise en Chirac se huidige raadgewer in die Elysée-paleis, nouer bande met die voorsitter van die Wêreldbank, James Wolfensohn, aan. In ‘n kwessie van ‘n paar jaar word ‘n internasionale invloedsnetwerk opgebou om reklame vir die Franse manier van waterbestuur te maak, onder beskerming van die “openbaar-privaat vennootskap”. ‘n Tiental liggame word gestig, na die beeld van die Wêreldwaterraad (Conseil mondial de l’eau), wat nie skroom om internasionale finansiële instellings tot hul manier van doen te bekeer nie. Sedertdien het die “waterdenke” leerstelling geword: slegs openbare-private samewerking kan die planeet red! Hierdie kommodifisering word onder meer verwesenlik in die “Camdessus-paneel” se aanbevelings, wat kort voor die Kyoto-beraad in Maart 2003 geformuleer is (6). Openbare fondse moet dus gemobiliseer en nuwe maatreëls uitgedink word om privaat-beleggings te beveilig. Teen wisselkoersrisiko’s, byvoorbeeld, om te verhoed dat nog ‘n ineenstorting plaasvind soos in Argentinië waar Suez klaarblyklik 600 miljoen euro sou verloor het, maar ook teen enige politieke of maatskaplike gebeurlikhede wat ‘n bedreiging mag inhou vir... die maatskappy se verwagte winste uit sy kontrak. In werklikheid, hoewel hierdie groepe almal bewese operasionele vernuf het, ontvang hulle internasionale openbare finansiering en plaas ‘n swaar las op die bevolkings wat op die lange duur protesteer. Hul bestuurstyl word toenemend in twyfel getrek (7). In Februarie 2002 moet Vivendi inderhaas onttrek uit die Comore, waar hy in 1997 beheer van die elektrisiteitnetwerk geneem het. Ten spyte van ‘n aanvanklike fondsinspuiting van bykans 80 miljoen frank (net oor die 12 miljoen euro), voorsien deur internasionale finansiële instellings, het die gehalte van dienste aan gebruikers vinnig agteruitgegaan. Vivendi het met groot lawaai uitgestap. Op 24 Januarie 2003 kondig die stad van Atlanta (VSA) en United Water (Suez) die beëndiging aan van ‘n konsessie-ooreenkoms wat die stad en die verspreider in Januarie 1999 vir ‘n duur van twintig jaar onderteken het. Kwalik twee weke later, op 7 Februarie 2003, kondig Suez/Ondeo aan dat hy uit Manila in die Filipyne onttrek, “omrede die plaaslike owerhede se weiering om tariewe te verhoog”. Met ses miljoen inwoners betrokke, was hierdie kontrak, wat in 1997 vir vyf-en-twintig jaar toegestaan is, die grootste privatisering nog ter wêreld. Dit is toegejuig as ‘n model vir toekomstige hervorming in openbare dienste en die beste manier om dienste na die armes toe uit te brei. Dit was inderdaad die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds wat hierdie privatisering van waterdienste geëis het, vanweë die openbare owerheid se onvermoë om sy inwoners te bedien. Die gevolge was egter rampspoedig: die prys van water het met 500% in vyf jaar opgeskiet, en in 2003 10% van huisgesinne se inkomste uitgemaak. Die bevolkingsegment wat aan die netwerk gekoppel is, het nie vergroot soos voorsien is nie. En om die kroon te span, breek ‘n maagdermontsteking- en cholera-epidemie in November 2003 uit in die Tondo-buurt, wat deur die konsortium beheer word. Dit veroorsaak 7 sterftes en 700 beseerdes. Op 18 Februarie 2003 word Vivendi environnement en sy plaaslike venote van watersuiweringsbestuur uitgesluit deur ‘n bevel van die goewerneur van die Brasiliese staat Parana. Op 24 Junie dieselfde jaar kondig Suez die opsegging aan van ‘n belangrike ooreenkoms rakende rioolwaterbestuur in Halifax (Kanada), vir ‘n som van 341 miljoen dollar oor dertig jaar. Volgens die groep “(het) Suez tot die slotsom gekom dat hy nie die voorwaardes kan nakom sonder ‘n beraamde verdere koste van 20 miljoen dollar nie”. Sedertdien gaan dit nie veel beter nie. Suez en sy filiaal Aguas Argentinas is steeds verstrengel in die herbedinging van ‘n kolossale kontrak in Buenos Aires, wat president Nestor Kirchner die afgelope aantal jare reeds dreig om te beëindig. Suez praat van ‘n tarieweverhoging wat onaanvaanbaar is vir die Argentynse owerhede. Laasgenoemde het in Januarie 2005 die Franse multinasionale groep asook EDF met twee miljoen pesos (500 000 euro) beboet vir nie-nakoming van hul pligte wat investering en diensgehalte betref. Die destydse Franse Minister van Buitelandse Sake, Dominique de Villepin, moes reeds in Mei 2004 in sy amptelike hoedanigheid ingryp om sy “Argentynse vriende” te herinner aan alles “wat die Franse maatskappye betaal het gedurende dié moeilike tydperk” (8). ‘n Verwysing na ‘n hersiening in Maart 2004 van ‘n ooreenkoms onderteken met die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), en die steun wat Frankryk daaraan gegee het. Verder is Suez vir jare reeds betrokke in die vasstel van waterpryse in Soweto, op aanvraag van die Johannesburgse owerheid. Die firma kom te staan teen hewige mobilisasie van ‘n deel van die inwoners wat weier om vir toegang tot water te betaal, in die sin dat die Suid-Afrikaanse regering dit tot ‘n grondwetlike reg verhef het... Daarbenewens en in weerwil van herhaalde verbintenisse van die internasionale gemeenskap, word daar steeds gewag op die beloofde geld vir water. By nabetragting gee talle ontleders die skuld aan die ekstase van die ekonomiese euforie aan die einde van die 1990’s, wat, net soos die Internet-seepbel, die grotes in die waterwêreld se jaagtog na wêreldwye groei sou aangevuur het... Verskeie inisiatiewe het uiteindelik geblyk rampspoedig te wees in lande met monetêre krisisse, soos Argentinië, en het die grotes daartoe gebring om hulle te onttrek aan talle projekte wat te waaghalsig was. ‘n Teenstrydigheid vir die apostels van ondernemingsvryheid, wat onlosmaaklik verbonde is aan die “neem van risiko’s”... In ieder geval is hierdie mark, wat weldeeglik bestaan, besig om hom teen ‘n gedwonge pas te herbou. Nuwe spelers waag dit op die veld. Onder hulle, soos die historiese ironie dit wil hê, tel verskeie openbare ondernemings wat reeds in die watersektor aanwesig is, soos die invloedryke Duitse Stadtwerke, of die Italiaanse openbare ondernemers. Maar ook bou- en openbare-werke-firmas en konglomerate wat veral in Suidoos-Asië verrys, soos ook in Duitsland of in Spanje. Verder word die missie van die groot privaatondernemers, wat die hele ketting van produksie tot verspreiding beheer, bevraagteken. Voortaan raak ‘n privaatfirma net selektief betrokke vir die lewering van beperkte dienste. Verskeie industriële rolspelers (Amerikaanse, Duitse, Japannese of Britse ingenieursmaatskappye...) ding nou ook mee met die Franse leiers op dié gebied (9). Die “watermark” se huidige samestelling word ook toenemend omvergewerp deur die opkoms van die bottelwatermark, wat ‘n dubbelsyfergroeikoers toon... Die drie Franse leiers se ongedeelde mag is dus nie so verseker soos ‘n mens sou kon dink nie. Selfs in Frankryk nader hul “goue era” dalk ‘n einde (10). Onder verbruikersdruk eis talle gemeenskapsliggame al meer deursigtigheid. Maar, as ‘n mens die opmerking van ‘n Veolia-bestuurslid moet glo, bly ou gewoontes steeds voortduur: “Die afgelope jare het die voormalige Oosblok-lande die nuwe Eldorado geword. Die infrastrukture is daar, al moet hulle opgeknap word. Wat klante betref, is daar 100 miljoen mense wat in ‘n groter of kleiner mate oor die volgende tien tot vyftien jaar by die Europese lewenstandaard sal aansluit. Met as medespelers ‘n meerderheid voormalige apparatsjiks wat gretig is om die voordele van liberalisme te smaak, en met maklik mobiliseerbare Europese befondsing, lê daar nog goeie jare vir ons voor...” Wat Afrika betref, buiten die onlangse skepping van drie gesamentlike ondernemings deur Veolia in Gaboen, Niger en Marokko, waarvan die kredietwaardigheid deur internasionale befondsing gewaarborg word, sal ‘n mens nog maar geduldig moet wees. __________ (1) " Le mouvement altermondialiste - Quelles réponses ". Interne dokument, Veolia Water, direction des collectivités publiques, November 2003. " De l'eau potable pour tous ", Veolia Water se bydrae, November 2004. (2) " Prix de l'eau : la plainte ", Toulouse Métropole, 25 Junie 2003. Op 24 Junie 2003 word ‘n klag teen die stadsraad aanhangig gemaak oor die feit dat hulle ‘n toegangsfooi van 437,5 miljoen frank van die CGE ontvang het. Gebruikers beraam dat inwoners van Toulouse teen 2020, by die verstryking van die kontrak, bykans 220 miljoen euro oormatiglik aan die CGE sal terugbetaal het. (3) Le Dossier de l'eau, pénurie, pollution, corruption. Parys: Seuil, Maart 2003. Oor raadslede se aanspreeklikheid, lees ook Laetitia Guérin-Schneider en Dominique Lorrain, " Les relations puissance publique-firmes dans le secteur de l'eau et de l'assainissement ", La Gazette des communes, Parys, 9 Augustus 2004. (4) In die herfs van 2004 wek hy groot opslae in ‘n saak tussen Veolia en VU. Nicolas Cori en Renaud Lecadre, " Le marché de l'eau en Arabie Saoudite finit en baston au George-V ", Libération, 8 Desember 2004. (5) Bruno Fay en Laurent Olivier, Le Casier judiciaire de la République. Parys: Ramsay, 2002. (6) Michel Camdessus (onder leiding van), " Financer l'eau pour tous ", Verslag van die internasionale paneel vir die finansiering van waterinfrastrukture, Maart 2003. Lees ook Martine Bulard, "Les fourberies de M.Michel Camdessus", Le Monde Diplomatique, Januarie 2005. (7) O.l.v. Catherine Baron, " Société civile et marchandisation de l'eau " (“Burgerlike samelewing en die kommodifisering van water”), Sciences de la Société, CNRS, Lereps Toulouse 1, 25 Februarie 2005. (8) Vittorio de Filippis en Christian Losson, " Suez ravi de conserver l'eau et les égouts de Buenos Aires ", Libération, 6 Mei 2004 (9) Dominique Lorrain, " Les 4 compétitions dans un monopole naturel. Qu'est-il en train d'arriver au secteur de l'eau? ", Flux (CNRS), Parys, n° 52-53, September 2003. (10) Martine Orange, " Les champions de l'eau français sont en crise ", Le Monde, 29 Januarie 2004. |