|
||||
Boubacar Boris Diop ‘n Politieke krisis het in Togo uitgebreek met die staatsgreep wat mnr. Faure Gnassingbé op 5 Februarie in weerwil van die Grondwet aan bewind gestel het. Dié krisis word in Wes-Afrika gevoeg by dié van die Ivoorkus, waarby Parys betrek is en in die beskuldigdebank staan vir die onlangse Franse militêre optrede tydens Operasie Licorne. As sentrale plek en belangrike rolspeler in die magstryde van sy voormalige kolonies word Frankryk al hoe meer uitgedaag. Deur Boubacar Boris Diop Senegalese skrywer, outeur van Doomi golo, uitgegee deur Papyrus, Dakar 2004. (Vertaal deur Ernst Wolff) Volgens ‘n wydverspreide, maar nooit duidelik geformuleerde idee, het die geweldskultuur diep wortels in Afrika. Hierdie a priori lei reguit na ‘n rassige (eerder as ‘n politieke) interpretasie van die magstryde op die vasteland wat as uitdrukking van sekulêre etniese haat beskou word. Dit is dus verbasend dat die Westerse media hardkoppig volhou om die konflik in die Ivoorkus in terme van hulle gewone clichés weer te gee. ‘n Staatshoof, mnr. Laurent Gbagbo, word voorgestel wreedaardige en slinks, en selfs ook as ‘n verligte; die rebelle word voorgehou as “goeie kommunikeerders” en as die massas protesterende “jong patriotte” in Abidjan. Twee weke na die begin van die opstand op 16 September 2002, het die Franse Minister van Buitelandse Sake, mnr. Dominique de Villepin, die volgende riglyn aan die senatore van sy land gebied: “Die krisis wat aan die gang is, steun op tradisionele elemente. Die etniese en godsdienstige mosaïek wat die Ivoorkus opmaak, en wat by name deur ‘n Noord-Suid-skeiding gekenmerk word, verkeer in ‘n krisis sedert die dood van Houphouët-Boigny.” Anders gestel: “Dames en here, dit neuk nog soos altyd voort by julle ou slagbank in Afrika.” As dit die geval is, is alles maar om’t ewe en ‘n skokkende situasie – die verdeling van ‘n belangrike land en die verdediging van ‘n weermagopstand – word amper aanvaarbaar. En as dit noodsaaklik is om die verwoesting van ‘n etnosentriese diskoers in die Ivoorkus (1) te veroordeel, moet mens jou nie laat betower deur die blote effek nie - hoe skouspelagtig en afkeurenswaardig dit ook mag wees. Om die “Frans-Afrika”-dimensie van sekere konflikte te verberg, lei na ‘n doodloopstraat. Die Ivoorkus verkeer nie bloot in die huidige situasie omdat Diolas en Bétés (onder andere) ontdek het dat hulle nie meer kan saamleef nie. In werklikheid bly Parys ‘n sentrale setel (en dít, al hoe minder in die geheim) van die krisis in die Ivoorkus. Die Franse belange in die oud-kolonie verteenwoordig ‘n derde van die buitelandse beleggings en 30% van die bruto binnelandse produk (BBP) (2). Sedert 1960, danksy onregverdige kontrakte, win Franse maatskappye 75% van die rykdom wat geproduseer is in, en repatrieer dit. In 1994 het president Henri Konan Bédié, aangewese opvolger van Félix Houphouët-Boigny, gepoog om hierdie anomalieë reg te stel deur uitvoerkontrakte vir koffie en kakao aan reuse Amerikaanse maatskappye te gee en deur ‘n lisensie toe te staan aan die Amerikaanse maatskappy Vanco vir die ontginning van olie van die kus af. Hy is afgesit in ‘n staatsgreep aan die einde van Desember 1999. Ook mnr. Gbagbo poog om die wurggreep van die Franse ondernemings te verbreek, in ‘n land waar Saur, EDF, Orange en Bouygues vervoer, water, elektrisiteit en die kommunikasieweë beheer, terwyl Société générale, BNP en Crédit lyonais die banksektor oorheers. ‘n Begin is gemaak met die oopstelling van die markte vir internasionale mededinging: vir die derde brug van Abidjan en die lughawe van San Pedro was Bouygues duidelik minder mededingend as die Suid-Afrikaners en die Sjinese. En die ontdekking van ‘n belangrike olie-afset by Jacqueville, naby Abidjan, gaan ook nie help om gemoedere te kalmeer nie. Druk op mnr. Gbagbo (wat ook daarvan verdink word dat hy nader aan die Verenigde State wil beweeg) was so sterk, dat hy in trurat moes moes gaan en sekere Franse kontrakte aanvaar (3). Van al hierdie dinge hoor ‘n mens kwalik dat mense daaroor praat. ‘n Hoeveelheid Afrika-intellektuele stel hulself tevrede deur mimeties die saak teen die President voor te berei. Dit is waar dat mnr. Gbagbo van die Ivoorkus ‘n gevaarlike plek vir teenstanders, vreemdelinge en joernaliste gemaak het. In Maart 2004 is ‘n vreedsame optog gewelddadig onderdruk: die Verenigde Nasies, wat 120 sterftes aangeteken het, het die regering van growwe menseregteskendings beskuldig. Op 4 November 2004, as voorspel tot die aanvalle teen die hoofkwartier van die Forces nouvelles by Bouaké, is die setel van die Demokratiese Party van die Ivoorkus (DPI) en ook díe van die Vergadering van Republikeine (VR) afgebrand saam met die setel van drie andersdenkende koerante. Die “moordbendes” het ‘n onregverdigbare kringloop van buite-geregtelike teregstellings begin. Mens het egter die gevoel van ‘n selektiewe verontwaardiging: soos die president van Zimbabwe, Robert Mugabe, is mnr. Gbagbo tereggewys vir sy aantasting van die belange van ‘n Westerse land. Maar hoewel die opstande van November 2004 nie die sake reggestel het nie, is hulle tog besig om die aard van die konflik geheel en al te verander. In veertig jaar se post-koloniale kameraadskap is dit die eerste keer dat die lewe van Franse burgers op so ‘n groot skaal in Afrika bedreig word. Mens het jou as’t ware berus daarby om toe te kyk hoe Afrikane mekaar doodmaak. Die nood van gewone burgers wat in trane op die Charles de Gaulle-lughawe buite Parys aankom, het bykans gemaak dat daar vergeet word van dat Franse soldate burgers van die Ivoorkus in hul eie land doodgemaak het; en dat ‘n ander land se president, mnr. Jacques Chirac, die bevel gegee het dat die lugvloot van ‘n soewereine staat vernietig word ten einde 15 000 van sy landgenote gerus te stel en die dood van nege soldate te wreek. Kortom, selfs die mees skeptiese mense word gedwing om te erken dat Parys ‘n belangrike rolspeler in die magstryde in die voormalige kolonies is. Frankryk het die gewoonte gehad om agter die skerms op te tree: die gebeure in Abidjan het die land egter gedwing om openlik op te tree. Dit is betreurenswaardig dat die Franse burgerlikes, wat nie verniet deel uitmaak van hulle regering se beleid nie, so ‘n duur prys vir hierdie verheldering moes betaal. Afrikane kon by die geleentheid sien dat die koning kaal is. Sy kragtige militêre teenwoordigheid het nie die Franse staat toegelaat om die sekuriteit van Franse burgers in sy heiligdom te waarborg nie. Gedwing om homself te verdedig, het Frankryk verstrengel geraak in onoortuigende ontkennings. Mnr. de Villepin het op 4 Oktober 2002 voor die Senaat ‘n bedekte bekentenis gemaak dat die rebelle nie alleen opgetree het nie. “Die situasie het op so ‘n manier ontwikkel dat vrae na vore gekom het oor moontlike samewerking of eksterne steun”, het hy gesê. Wanneer dit gaan oor Frans-Afrika, weet ‘n Franse Minister van Buitelandse Sake waarvan hy praat. Elke woord tel. Elke stilte ook: hy vergeet om by te voeg dat sy land ernstig verdink word van die finansiering van die opstand. Frankryk, wat tot dusver soewerein was in “sy” Afrika, bevind homself nou in die beskuldigdebank. Die kort botsings tussen die nasionale weermag van die Ivoorkus en soldate wat aan Operasie Licorne deelgeneem het, is nie van militêre belang nie. Dit sal egter onverstandig wees om die simboliese lading wat dit vir Afrikane het, te onderskat. Selfs voor hierdie oproer is Licorne as ‘n besettingsmag beskou. Die brutaliteit waarmee die Franse soldate op 7 November teruggeslaan het, het hierdie beskouing bevestig en so is ‘n teken ook na ander kliëntstate van die heiligdom uitgestuur. Hierdie “voorbeeld”-logika is inderdaad díe van ‘n weermag wat op vyandige terrein verander. Die gewig van die geskiedenis kan te maklik aan die jong soldate die gevoel gee dat hulle op besetting uit is by een of ander stam op die periferie van die Ryk. En terwyl die Afrika-staatsleiers (groot demokrate, soos almal weet) die saak van Frankryk verdedig het, was daar in die Franssprekende lande ‘n energieke veroordeling van wat ‘n bloedige koloniale ekspedisie geword het. Reeds in Januarie 2003 het die Maatskaplike Afrikaforum van Addis Abeba gewaarsku: “As Frankryk met sy huidige imperiale logika volhou, loop die land die risiko van toenemende militêre ingrype op die vasteland in die loop van die komende jare. Afrikane sal dit nie toelaat nie. In die lig van die Rwandese volksmoord van 1994, die burgeroorlog in die Kongo in 1997 en die konflikte wat tans woed in Sentraal-Afrika en die Ivoorkus, is dit dringend dat die lande van Frans-Afrika hulle verhouding tot die ou koloniale mag moet herevalueer.” Die wending wat die krisis in die Ivoorkus meegering het, behoort die Franse kiesers te noop om hulle af te vra oor wie reg het: wat doen ons weermag in die Ivoorkus? Die gebruiklike (bykans komiese) antwoord van die Franse owerhede word nogtans aanvaar deur ‘n samelewing wat gretig is om die kitsidees van sy leiers te sluk. Die gemiddelde Fransman skyn oortuig te wees dat 3 800 Franse soldate in die Ivoorkus is om etiese redes: sonder hulle sou pangaswaaiers al lankal hulle eie land vernietig het. Party verwys na die presedent van Rwanda, terwyl hulle die aandeel van Frankryk in die volksmoord van 1994 vergeet (4). Die Ivoorkus is vir die Franse regering (en vir sekere multinasionale maatskappye) van kardinale belang. Dit is nie uit liefde vir vrede dat die eenhede van Licorne aldaar drie keer so groot is as díe van die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-State nie. Hierdie mag is te groot en te swaar toegerus vir die verdediging van die paar duisend persone waarvan die massarepatriasie vreemd genoeg sedert die begin van die krisis uitgesluit is. Dit is omdat dit van wesenlike belang vir Parys is om in spel te bly, selfs al kos dit ‘n paar Franse slagoffers. Franse regerings – links sowel as regs – het altyd ‘n vryhand gehad in die ou koloniale ryk. Vandaar geteikende politieke moorde, die ordelike stroping van ekonomiese bronne van verskeie state en die ondersteuning van wreedaardige diktature. Tot dusver het dit in die skadu's plaasgevind. Die skietery van November 2004 het helderoordag plaasgevind. In minder as ‘n jaar is Frankryk in die heftigste terme deur die Rwandese president Paul Kagamé en deur mnr. Gbagbo beskuldig. Dit is nie ‘n toeval nie. Insake die Ivoorkus moes ‘n groot aantal tekens al oor ‘n lang tyd reg geïnterpreteer wees. Hier het die anti-Franse sentiment nie eers in November 2004 verskyn nie. Die Jean Mermoz-skool en die Franse kulturele sentrum is ‘n eerste keer in Mei 2004 gevandaliseer; ‘n joernalis van Radio France Internationale, Jean Hélène, is op 21 Oktober 2003 vermoor en ‘n tweede, Guy-André Kieffer, is vermis sedert 16 April 2004; die ambassade en die 43e Marine Infanteriebataljon is meermale beleër. Dit alles raak die ooreenkomste wat op 24 Januarie 2003 by Linas-Marcoussis onderteken is. Die Franse regering wat daarvoor as beskermheer opgetree het, het minstens wat die vorm betref, arrogansie tentoongestel. Hoe kan ‘n mens die hele politieke klas van ‘n soewereine land in ‘n voorstedelike sportsaal byeenbring en die verrigtinge deur ‘n blote Paryse funksionaris laat lei? Watter staatshoof wat ‘n bietjie trots het, sou kon aanvaar dat mens ‘n Eerste Minister buite die nasionale grense benoem, naamlik mnr. Seydou Diarra (wat as neutraal en taamlik respektabel beskou word) en dat die nominasie van hoofde van ‘n rebelleweermag op sulke sensitiewe ministeries soos verdediging en binnelandse sake afgedwing word? Sedertdien het dinge van erg na erger gegaan. Die minagting vir die nasionale gevoel in die Ivoorkus het die lomphede laat toeneem. So het ons gehoor hoe Dominique de Villepin na ‘n ontmoeting met mnr. Gbagbo verklaar: “Ek het die President gevra om die huursoldate die trekpas te gee en sy vliegtuie stewig op die grond te hou.” ‘n Franse joernalis het dit ongeërg opgesom: “De Villepin het na Abidjan gegaan om Gbagbo te kapittel.” Die gevolg van hierdie provokasies is rampspoedig. Die Franse in die Ivoorkus is gedwing om hulleself af te vra: maar waarom? Dit sal moeilik vir hulle wees om gewoond te raak aan die idee daarvan om voortdurend met vrees in hulle tweede vaderland te woon. In Frankryk het die mense al effens van hulle vergeet, na die emosie van die eerste oomblikke. Miskien sal hulle op die altaar van realisme geoffer word. Onder normale omstandighede – as mens kan waag om dit so te noem – sou mnr. Gbagbo uitgewerk of deur ‘n bekonkelde staatsgreep verjaag word. Hierdie opsie hou voortaan risiko’s in. Beteken dit dat die onrus van Abidjan die doodsklok lui vir Frans-Afrika? Dit sal naïef wees om so te dink. Nogtans sou dit verkeerd wees om daarin slegs ‘n geïsoleerde ongeluk te sien. Sulke onrus kan weer ontstaan in verskeie van die ou Franse kolonies. Orals in Afrika groei ergernis et die president van die Ivoorkus kon daarmee speel. Mnr. Gbagbo is sekerlik geen droomleier nie: niemand sal hom aansien vir ‘n Thomas Sankara of ‘n Patrice Lumumba nie. Waarskynlik gaan hy ook nog gebuk onder die gestremdheid daarvan om ‘n slegverkose president te wees. Maar sy Achilleshiel bly die klimaat van aangemoedigde vreemdelingehaat wat die lesing van die politieke konflik verwring. As daar ‘n werklike wil is om te breek met die neo-koloniale model, dan kan dit net geloofwaardig wees as dit eens en vir altyd klaarspeel met suiwer Ivoorkus-etnisiteit (“ivoirité”): die Pan-Afrikanisme soos wat Kwame Nkrumah en Cheikh Anta Diop dit bedink is bowenal ‘n humanisme. Ons gaan nie die burgers van die Ivoorkus maak glo dat hulle president ‘n romantiese held is wat gekom het om hulle te bevry nie: hulle het te make met ‘n slinkse politikus, wat onversetlik is en soms blitsvinnig kan toeslaan. Maar as mnr. Gbagbo die situasie in sy guns kon draai, is dit omdat hy gewys het dat hy dapperder is as die meeste van sy Afrika-eweknieë. Die Ivoorkus is nie meer ‘n oorsese territorium nie. Dit is ‘n land wat aangeval is deur gewapende mense. Sy president kan nie verkwalik word daarvoor dat hy hulle weer tot streng republikeinse wetlikheid wil terugbring nie. Enigiemand anders sou in sy plek die ontwapening van die rebelle geëis het. Omdat mnr. Gbagbo reg het, word die beperkings van die voortdurende oefening om hom te demoniseer, duidelik. Mens kan ook twyfel aan die morele gesag van sy tugmeesters wat kwalik geraak is deur hulle land se betrokkenheid by die Rwandese volksmoord, wat desnieteenstaande deur verdoemende getuienis bevestig is. Elf jaar later is Abidjan en Bouaké die bloedige toneel van bloedige maneuvers deur die Franse weermag. Hulle verkies om hierdie skandaal te hanteer soos ‘n groot nuusbrokkie. Die weiering om die werklikheid in die oë te kyk, word daarby vergestalt in die afwesigheid van beelde van “opruiming” van die hoofstad van die Ivoorkus deur die eenhede van Licorne. Die inwoners van die Ivoorkus sal hierdie verskriklike tonele (wat nie in Parys gesien is nie) nooit vergeet nie. Selfs in Frans-Afrika is die era van die perfekte misdaad miskien iets van die verlede. __________ (1) Lees Colette Braeckman, « Grande fatigue des Ivoiriens », Le Monde Diplomatique, September 2004. (2) Lees Bernard Ahua, « La France se taille la part du lion dans l’économie ivoirienne », Manière de voir no. 79, « Résistances africaines », Januarie-Februarie 2005. (3) Met Bouygues vir die opknapping van die houerterminaal van die hawe van Abidjan en met die Société de distribution d’eau, ‘n filiaal van Saur, vir die konsessie vir die voorsiening in drinkwater tot 2007. (4) Lees L’Etat français et le génocide au Rwanda, byeengebring deur Laure Coret en François-Xavier Verschave. Parys : Karthala, 2005. |