|
||||
Op 22 Februarie 2005 het president Thabo Mbeki tydens die Kaapstadse kongres van die Vereniging van Afrika-universiteite verklaar dat ondersoekende stemme nie langer deur Afrika-politici as “stem van die vyand” beskou word nie. Hy het bygevoeg dat hy glo dat veranderinge wat tans op die vasteland plaasvind “enorme ruimte vir die intelligentsia skep om weer hul plek in die voorhoede van die proses van verandering in te neem” (Business Day, 2005/2/23). Elders in dieselfde uitgawe van Business Day is berig oor die verregaande wyse waarop Botswana se president, mnr. Festus Mogae, pas probeer het om ‘n wydgerespekteerde politieke wetenskaplike, die 77-jarige prof. Kenneth Good van die Universiteit van Botswana, uit die land te sit nadat die inhoud van ‘n referaat deur Good en ‘n ander skrywer, Ian Taylor, oor die ondemokratiese presidensiële opvolgingsproses van Botswana bekendgemaak is. In die referaat, wat Die Vrye Afrikaan eersdaags danksy ‘n spesiale vergunning van Taylor en prof. Roger Southall van die RGN se uitgewery in Afrikaanse vertaling plaas, word die mite dat Botswana ‘n modeldemokrasie vir Afrika is, met chirurgiese noukeurigheid weerlê. Good en Taylor toon aan in watter mate Botswana se postkoloniale stabiliteit sedert 1960 hoofsaaklik te danke is aan, enersyds, die verstaatliking van die Batswana – Botswana se grootste etniese groep – se gesagstrukture, en, andersyds, die ekonomiese welvaart wat Botswana tot heel onlangs geniet het danksy sy ryk diamantvelde. Na gelang die opvoedingspeil en verstedelikingsvlak van die Botswana-bevolking verbeter het, het die populêre ontevredenheid met die “demokratiese” staatselite van Botswana egter die afgelope dekade of wat begin toeneem. Een van die bronne van populêre ontevredenheid is Botswana se terugsakking tussen 1991 en 2002 op die Menslike Ontwikkelingsindeks vanaf posisie 95 tot posisie 126 – die enigste land ter wêreld waar soiets te midde van snelle binnelandse groei plaasgevind het, en ‘n duidelike aanduiding van elitebevoordeling. Waar die regerende Botswana Demokratiese Party in 1989 nog 65% van die stemme op hom verenig het, het dit na die laaste algemene verkiesing gedaal tot 51,7%, met die totale opposisiestem op ‘n rekordvlak van 48%. Soos so dikwels gebeur wanneer die breuklyne in ‘n elitedemokrasie begin wys en sy mag begin wankel, word met al hoe groter outokrasie gereageer, en dit is ook presies wat pres. Mogae gedoen het deur ‘n seun van Botswana se stigterpresident, die outoritêre luitenant-generaal Ian Khama, hoof van die invloedrykste Batswana-sibbe (clan), as visepresident en sy opvolger aan te wys. Good en Taylor skets ‘n ontstellende prentjie van watter outokraat Khama in wese is, en tensy die demokratiese kragte in Botswana hul onderlinge verdeeldheid kan oplos, gaan Botswana ongetwyfeld verder in openlike outokrasie versink. Mogae se pogings om Good uit Botswana te sit, is waarskynlik ‘n erkenning van watter voltreffer Good en Taylor se ontleding is. Maar wat openbaar dit omtrent die rol van Afrika se intellektuele in die demokratisering van die vasteland? Enkele jare gelede het dr. Pallo Jordan, tans Minister van Kuns en Kultuur, tydens die Sol Plaatjie- gedenklesing by die Aardklop-kunstefees op Potchefstroom uitgevaar teen Westerlinge wat Afrika as ‘n amorfe grootheid behandel en nie tussen die verskillende Afrikalande se unieke omstandighede onderskei nie. Die ironie is natuurlik dat sy baas, pres. Mbeki, juis daardie opvatting van Afrika bevorder wanneer hy nie net algemene waarstellings - soos hierbo aangehaal - maak nie, maar dit boonop sy taak ag om by elke denkbare krisis in Afrika (en haar diaspora) betrokke te raak. Lofwaardig soos dit mag lyk, word dit inderwaarheid onderlê deur juis die hantering van Afrika as amorfe grootheid waarteen Jordan uitgevaar het, soos deur pres. Mogae se hantering van prof. Good, skaars 2 000 km van Kaapstad af, waar Mbeki sy uitsprake gelewer het oor Afrika-intellektuele wat nie langer deur Afrika-politici as vyande beskou word nie. Die belangrikste rede waarom daar steeds oor Afrika as amorfe grootheid gedink word, is die kolonisasie van Afrika en die nalatenskap daarvan, waarvan die voorkoms van staatskorporatiewe elites dwarsoor die vasteland die belangrikste gemeenskaplike kenmerk is. Mbeki, as prominente versinnebeelding van ‘n staatskorporatiewe eliteleier, hou hom met dié Afrika besig, en maak hom in sy eie land gedurig skuldig aan aanvalle op legitieme demokratiese kragte, beide binne die partypolitiek en die burgerlike samelewing. Onlangs weer het Mbeki die krisis in die Ivoorkus op die koloniale erflating gaan blameer (wat ongetwyfeld ‘n faktor daar te lande is), maar geen woord gerep oor hoe die huidige president, mnr. Laurent Gbagbo, die etniese kaart teen sy vernaamste teenstander, mnr. Alessandro Ouattara, speel om sy eie magsposisie te verskans nie. Die wydverspreide voorkoms van die postkoloniale staatselite plaas intellektuele dwarsoor Afrika dikwels in ‘n posisie van ernstige spanning met die regerings van die dag. Talle van hierdie intellektuele word in ballingskap gedwing, ander word met verskeie tegnieke die mond gesnoer, en sommige betaal selfs met hul lewens. Die belangrikste krag wat hierdie patroon kan teenwerk, is die burgerlike samelewing, wat die belange van die gemeenskap vooropstel. In hierdie proses kan Afrika se intellektuele ‘n onontbeerlike rol speel om die belange van die gemeenskap te verwoord, en behoort hulle hulle ook daarop toe te spits. Hierdie taak moet hulle veral uitvoer deur die tale van die gemeenskap, eerder as die hegemoniese staatstaal, te gebruik, behalwe wanneer die gebruik van die staatstaal kan help om die hegemonie uit te daag, soos in die geval van die Kameroense kunstenaar en skrywer, Were Were Liking, wat Frans doelbewus vir dié rede in haar werk inspan. Van nòg groter belang is dat Afrika se intellektuele die versoeking weerstaan om soos Westerlinge of postkoloniale staatskorporatiewe elites na Afrika as amorfe grootheid te kyk, en eerder voortdurend ook die plaaslike omstandighede van hulle betrokke samelewings moet ontleed. Hierdie ontleding moet op so ‘n wyse plaasvind dat breër universele kwessies met die plaaslike in gesprek geplaas word. So gesien, is daar ‘n saak vir intra-Afrika samewerking van intellektuele uit te maak, maar dan een wat die eentonige reëlmaat waarmee Afrika se vyande - sowel vanuit as van buite Afrika - ons vasteland vir hul eie belange misbruik, aan die kaak stel. Dit is dan waarom Die Vrye Afrikaan sy volle steun aan prof. Good en die mense van Botswana uitspreek, en hulle alle sterkte toewens in hul stryd om demokrasie daar te lande te verdiep. |