blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde Diplomatique: Die dollar se lot word in Beijing bepaal: In die aangesig van die euro 2005-03-11
Ibrahim Warde



Mnr. George W. Bush se besoek aan Europa vanaf 21 tot 26 Februarie het uitdrukking gegee aan ‘n wil tot toenadering met die lidlande van die Europese Unie. Hoewel die verskille oor byvoorbeeld Iran of wapenverkope aan Beijing nie verdwyn het nie, weet die Withuis dat hulle ‘n kompromis met die Europese en Chinese leiers moet aangaan. Die koers wat laasgenoemde inslaan bepaal minstens gedeeltelik die Amerikaanse rentekoerse, die wisselkoers van die dollar en die Amerikaanse handelstekort.


Deur Ibrahim Warde

Medeprofessor aan die Fletcher School of Law and Diplomacy (Medford, Massachusetts) en skrywer van The Financial War on Terror, I.B. Tauris, London, 2005.
(Vertaal deur Ernst Wolff)

“Dis ons geldeenheid, maar dis julle probleem”(1) Dié beroemde uitspraak van John Connally, voormalige Minister van Finansies onder president Richard Nixon, kom uit die jaar 1971. Dit kan toegepas word op die dollarpolitiek van mnr. George Bush se eerste ampstermyn. Die Amerikaanse leierskorps het min belangstelling getoon in die groot vrae van die internasionale ekonomie, aangesien hulle hoofsaaklik in beslag geneem was met die “stryd teen terrorisme” en die oorlog in Irak. Toegegee, hulle het hulle steun aan ‘n sterk geldeenheid verklaar om nie die spekulante tot verrinnewering van die dollar te stimuleer nie, maar hulle het dit aan die “mark” oorgelaat om die vraag oor die “tweelingtekort” (van begroting en handel), wat grootskaals toegeneem het, beter te verberg.

Vir sover dit oor die begroting gaan, het die Bush-administrasie ‘n surplus van naby 240 miljard dollar geërf. Die resessie van 2001 (wat geringer belastingopbrengste veroorsaak het), maar ook die groot verlagings van belasting wat deur die Republikeinse Kongres ingestem is (omdat daar gedink is dat die surplusse struktureel geword het) en die nuwe toename in die begroting van verdediging en binnelandse sekuriteit na aanleiding van die aanvalle van 11 September 2001, het hierdie beduidende surplus in ‘n aansienlike tekort verander, veral gedurende ‘n periode waartydens groei weer hervat het - dit het 412 miljard dollar in 2004, oftewel 3,6% van die bruto nasionale produk (BNP) bereik. Gelyklopend hiermee het die handelstekort aanhou groei gedurende drie opeenvolgende jare en die rekord van 618 miljard dollar (5,3% van die BNP) bereik, 24,4% hoër as die vorige jaar.

Al die vergaderings van die G7 (die Verenigde State, Japan, Duitsland, Frankryk, die Verenigde Koninkryk, Kanada en Italië) en ander groot internasionale konferensies het die vraag oor die “tweelingtekort” ter sprake gebring. Maar die oplossings wat gewoonlik aanbeveel word om die Verenigde State se rekening te stabiliseer, behels pynlike keuses (belastingverhoging, verlaging van militêre uitgawes, aanmoediging tot spaar) wat teen die groot politieke koerse van die Bush-administrasie indruis.

Amerika koop 50% meer as wat dit aan die buiteland verkoop. En dit is die internasionale beleggers wat deur die verkryging van obligasies van die Amerikaanse tesourie, die leefstyl van die wêreld se voorste ekonomiese moondheid finansier. Hierdie aanpassing deur die dollar hou die voordeel in dat dit die kostes na die res van die wêreld herlei, aangesien dit daarop neerkom om groei, werksgeleenthede en besparings van die ander te neem. ‘n Swak dollar bevoordeel die mededingendheid van produkte wat in die Verenigde State geproduseer is; dit maak die aankoop van Amerikaanse bates aantreklik vir buitelandse beleggers (so gou as wat dit goedkoper is) en devalueer ‘n eksterne skuld wat op 3000 miljard dollar gereken word.

In die geskiedenis is dit nie gebruiklik dat die bewaker van die reserwegeldeenheid ook die land is wat die diepste in die skuld is nie. In 1913 was die Verenigde Koninkryk weens sy imperiale invloed ook die wêreld se hoofkrediteur. Die land het vir ‘n halfeeu alles gegee om die waarde van die pond te verdedig - wat gewoon tydmors was en dít teen die prys van die verswakking van sy industriële mag. Die wapen van die waardevermindering van die dollar (‘n nuwe weergawe van wat generaal De Gaulle indertyd beskryf het as die “verregaande voordeel” van die Verenigde State, naamlik om ‘n geldeenheid te kan druk waarvoor ander lande geen vergoeding eis nie, vanaf die oomblik wat hulle Sentrale Banke voorraad van hierdie geldeenheid aanhou) maak dit in teorie moontlik vir die twee Amerikaanse tekorte - van begroting en handel - om pynloos geabsorbeer te word.

Politieke oorwegings speel mee in hierdie analise. Tydens die aanloop tot die verkiesings van November 2004 het die meningspeilings getoon dat die meerderheid kiesers die demokratiese senator John Kerry as meer bevoeg beskou om die ekonomie van hulle land reg te trek. By die voortuisig ‘n kop-aan-kop verkiesingswedloop het president Bush ‘n dringende behoefte gehad aan mooi syfers van groei en indiensneming. Net ‘n onderwaardeerde dollar kon hom hiervoor hoop gee (2).

Dit was egter gedurende die weke wat gevolg het op die herverkiesing van die President dat die val van die dollar, wat toe reeds goed op dreef was, die vinnigste spoed opgetel het. Deur die loop van Desember 2004 het die dollar feitlik daagliks nuwe rekords met sy val geslaan en net voor Kersfees die historiese laagtepunt van 1,35 dollar vir ‘n euro bereik. In totaal het die dollar tussen 2002 en 2004, 20% van sy waarde teenoor die euro verloor. Die rituele jaareindberamings, wat nie altyd betroubaar is nie, het die konsensus by bankiers en ekonome blootgelê: 2005 sou gekenmerk word deur ‘n nog meer indrukwekkende ineenstorting van die Amerikaanse geldeenheid.

Verskeie faktore help om hierdie prognose te verstaan. Die verlenging van mnr. George W. Bush se ampstermyn suggereer dat die avontuurlustigheid met betrekking tot buitelandse politiek eweseer as die laksheid rakende die begroting sal voortduur. En dít, des te meer aangesien die President, ten spyte van ‘n beskeie verkiesingsoorwinning (drie persentasiepunte meer as sy opponent), verklaar het dat hy voorsien is van ‘n “mandaat” om ewe stoutmoedige as duur hervormings te onderneem. Hy is ook gereed om “sy politieke kapitaal aan te wend” om omstrede maatreëls in te stel, soos byvoorbeeld die gedeeltelike privatisering van die federale pensioenstelsel (wat, om mee te begin, die Amerikaanse tesourie etlike honderde miljarde dollar gaan kos) (3).

Die wantroue teenoor die dollar kan ook verduidelik word deur die mislukking van die beleid waarvolgens die buitelandse tekort “deur die mark” verminder sou word. ‘n Swak dollar sou die Amerikaanse uitvoerders bevoordeel en die invoerders penaliseer. Maar in plaas daarvan dat die rekeninge op dié manier weer gebalanseer is, het hierdie beleid bygedra tot die vergroting van die tekorte wat die strukturele swakhede van die Amerikaanse ekonomie beklemtoon het. Die finansiële operateurs het daaruit die afleiding gemaak dat die dollar nog nie genoeg geval het nie. Sommiges doen selfs aan die hand dat, ten einde die handelstekort met die helfte te sny, die Amerikaanse geldeenheid nog 30% behoort te verloor en dus net nog 0,55 euro werd te wees...

Vandaar die kommer by houers van die groen noot en in die besonder by Sentrale Banke wat tot nou toe die dollar hoog gehou het. In 2003 het die Sentrale Banke die destydse Amerikaanse tekort met tot 83% gefinansier deur dollars wat bekom is deur Amerikaanse aankope in die buiteland, te absorbeer. So het die dollarkrediet van Asiatiese Sentrale Banke 2000 miljard dollar bereik. Waarom het Sjina, Japan en ander lande soveel bates vergaar in ‘n geldeenheid waarvan die waarde in duie stort? Dit is omdat hulle wou verhoed dat hulle eie geldeenhede op die ruilmarkte appresieer, wat sou gebeur as hulle hulle reserwedollars sou ruil. Hierdie lande het sodoende die mededingendheid van hulle eie uitvoere bevoordeel. En aangesien hulle hulle dollars in obligasies van die Amerikaanse tesourie belê het, het hulle gelyktydig bygedra daartoe om die Amerikaanse rentekoers baie laag te hou. By wyse van hierdie vreemde siklus finansier die Amerikaanse handelstekorte... die Amerikaanse skuld en die baie middelmatige besparingsgesindheid van die Amerikaanse burgery.

Maar in antwoord op die val van die dollar het ‘n sekere hoeveelheid Sentrale Banke besluit om hulle aankoop van dollars te beperk ten gunste van ander geldeenhede en die euro in die besonder. Hierdie strategiese ommekeer kan verduidelik word: om beperkte verliese te ly ten einde jou buitelandse verkope te bevoordeel, is een ding; om die gelag van ‘n voortdurende wanorde te betaal, is iets anders. Op 19 November het mnr. Alan Greenspan, president van die Federale Reserwebank, ‘n knuppel in die hoenderhok gegooi deur daaraan te herinner dat die buitelandse beleggers op ‘n dag sal moeg word daarvan om die tekorte op te hoop en dat ‘n “verlies aan aptyt vir dollarbates” onvermydelik is (4). Enkele dae later het mnr. Yu Yongding, lid van die monetêre komitee van die Sentrale Bank van Sjina, aangedui dat Sjina “die deel van sy reserwes wat in obligasies van die Amerikaanse tesourie gehou is, verklein het, maar nie die geheelbedrag nie, ten einde beskerming teen die swakte van die dollar te verseker”.

Hierdie tendens is bevestig in ‘n opname van sewe-en-sestig Sentrale Banke wat deur Central Banking Publications gepubliseer is: in die loop van die laaste vier maande van 2004 het meer as twee derdes van die betrokke instansies die dollargedeelte van hulle portefeulje verklein (dit bly buitensporig groot - bykans 70% van die totaal, maar dertig jaar gelede was dit ongeveer 80%). Vir mnr. Nick Carver, een van die skrywers van die studie “lyk dit of Sentrale Banke se geesdrif vir die dollar besig is om te taan. Amerika behoort nie meer op hulle onvoorwaardelike steun te reken nie.”(5) Die olie-produserende lande wat ‘n goeie deel van hulle aankope na die eurosone stuur, is ook nie verheug nie om te sien hoe die prys van hulle grondstof styg, grotendeels veroorsaak deur die val in waarde van die geldeenheid van fakturering. Verder vrees sekere Arabiese state dat hulle bates in die Verenigde State eendag bevries mag word in die naam van die stryd teen terrorisme.

Wisselkoersbeleid is nie ‘n presiese wetenskap nie en is met newe-effekte gelaai. As ‘n sekere drumpel oorgesteek word, word die negatiewe gevolge van ‘n devaluasie meer as die voordele. Die Amerikaanse leiers, wat nie meer in staat is om die val van hulle geldeenheid te rem nie, ontdek dat die wapen van die dollar teen hulle gedraai kan word. Om die waarde van sy geldeenheid te handhaaf, het Amerika ‘n daaglikse bydrae van 1,8 miljard dollar nodig. En wanneer die krediet geaffekteer word, hou die dollar op om maar net “die ander se probleem” te wees. Die antisipasie van ‘n durende val kan ‘n kettingreaksie tot gevolg hê: die buitelandse beleggers eis hoër opbrengste om dollars te bekom of te behou, of om die verbande van die Tesourie te onderskryf. Hoe groter die risiko van ‘n val is, hoe hoër moet die premie, in die vorm van die rentekoers, wees. Maar ‘n vinnige styging van rentekoerse het vreeslike uitwerkings op beleggings en verbruik, veral in die Verenigde State, waar krediet meer algemeen is as op enige ander plek. Daar sou byvoorbeeld die risiko bestaan van ‘n val in die eiendomsmark, wat tot dan toe bevoordeel is deur ‘n rentekoers wat deur die loop van die geskiedenis laag was. En die ineenskakeling tussen ekonomiese en monetêre stelsels is sodanig dat ‘n Amerikaanse resessie gevolge vir die hele wêreld se ekonomie sal hê.

Europa, en in ‘n geringer mate Japan, het bykans alleen die prys vir die val van die dollar betaal. In Europa het die sterk appresiasie van die euro min mense gelukkig gemaak, alhoewel die eerste president van die Europese Sentrale Bank, mnr. Wim Duisenberg, se leuse was: “’n sterk euro vir ‘n sterk Europa”(6). Die eerste deel van sy wens is vervul... Maar nou kla sy opvolger, mnr. Jean-Claude Trichet, oor die “brutale” val van die dollar wat die mededingendheid van die nywerhede op die Ou Vasteland erg geraak het. In 2004 was die groei van die eurosone onder die swakstes ter wêreld. Hardnekkige optimiste kon nogtans ’n voordeel van ‘n sterk euro onderskei: ‘n verlaging in die impak van die prysontploffing van olie, wat in dollar verhandel word. Toe mnr. Nicolas Sarkozy Minister van Finansies was, het hy in November 2004 geraam dat die oorwaardering van die Europese geldeenheid “nie net sleg is nie”.

Sedert Sjina in 1994 sy geldeenheid (die renminbi, “geld van die volk”, die amptelike naam van die yuan) aan die dollar verbind het, maak die land gemene saak met die Verenigde State oor monetêre aangeleenthede. Die duik van die dollar het dit vir Sjina moontlik gemaak om mededingend te bly teenoor Amerika en te groei met betrekking tot die res van die wêreld. Die asimmetrie van die Sjinees-Amerikaanse verhoudings is treffend: die tekort met Sjina alleen is 207 miljard dollar (meer as ‘n derde van die totaal) (7). In die Verenigde State verheug sommige mense hulle oor die invloei van produkte teen pryse wat alle mededinging te bowe gaan: die verspreidingsreus Wal-Mart, wat ook die grootste werkgewer in die land is, voer tot 70% van sy produkte uit die voormalige Middelryk in. Maar al hoe meer Amerikaanse ondernemings, salaristrekkers en politieke ampsdraers sien hierin ‘n vorm van dislojale mededinging en vra aan hulle regering om te eis dat Sjina sy geldeenheid onafhanklik laat wissel. Twintig jaar gelede was die monetêre - en handelsbeleid van Washington geobsedeer met Japan, met sy uitvoere van motors en elektronika, met die waarde van die jen...

Die amptelike standpunt wat die Amerikaanse leiers dikwels herhaal het, is dat die yuan 40% onderwaardeer is en dat die Sjinese Sentrale Bank moet ophou om grootskaals regulerend in te gryp in die evolusie van die Sjinese geldeenheid. Die antwoord uit Beijing is dubbelsinnig: die debat is blykbaar goed geloods in magskringe, maar die tekens wat uitgestuur word, bly weersprekend. Sekere leiers gee die versekering dat Sjina daaraan werk om sy kapitaalmarkte meer buigsaam te maak met die oog daarop om die sterk band tussen die dollar en die yuan te verslap of selfs te laat vaar. Volgens die Adjunk-Eerste Minister, mnr. Huang Ju, is dit Beijing se voorneme om stapsgewys te beweeg “om die wisselkoersbestuur van die yuan te hervorm”, sonder om egter ‘n spesifieke skedule aan te kondig, want dit gaan bowenal oor die skep van “’n stabiele makro-ekonomiese omgewing waarin ‘n markmeganisme en ‘n gesonde operasionele stelsel daargestel kan word”(8).

Ander verwerp elke idee oor ‘n beleidsverandering. As mnr. Yi Gang, Direkteur van die Departement van Monetêre beleid van die Instituut van Uitgifte, geglo kan word, gaan Beijing volhou met sy “monetêre beleid van bestuur van ‘n vasgepende wisselkoers en van gekontroleerde swewende valuta” ten einde “stabiliteit en die bevordering van die Sjinese ekonomiese groei te behou”. Tydens sy rede as uitgenooide voor die Ministers van Finansies van die G7, het die goewerneur van die Sentrale Bank van Sjina, mnr. Zhou Xiauchuan, die debat gesluit deur te weier om te antwoord op die vraag waaroor die markte hulle asem ophou.

Want Beijing is van plan om sy reg op monetêre soewereiniteit te laat geld. Sjina se buitengewone groeikoers (‘n jaarlikse gemiddeld van 9,5% tussen 1997 en 2004) en die reusagtige potensiaal van sy mark van 1,3 miljard inwoners maak daarvan ‘n Eldorado vir al die multinasionale maatskappye. Die land, wat ‘n ware ekonomiese moondheid geword het, verteenwoordig nou 4% van die wêreld se ekonomie, teenoor net 1% in 1976. Sommige mense raam dat Sjina voor 2020 vir ongeveer 15% van die produksie van die wêreld verantwoordelik sal wees.

Hierdie land wil meer as net die werkswinkel van die wêreld wees en streef daarna om die lokomotief van die internasionale ekonomie te word, om nie eens te praat van ‘n ware tegnologiese en wetenskaplike moondheid nie. Sjina is reeds teenwoordig in die hart van alle ekonomiese kwessies, vanaf delokalisasies tot die styging in die prys van grondstowwe en die herlewing van die Japannese ekonomie. Die Sjinese groep Lenovo se aankoop van die  persoonlike rekenaars-afdeling van die Amerikaanse reus IBM is simbolies van die ambisies van ‘n staat wat reeds met sukses veertig satelliete die ruimte ingestuur het en wat bemande ruimtereise elke tweede jaar en ‘n maanprogram in die vooruitsig stel.

Die Sjinese leier is bewus van die risiko’s wat ‘n nuwe monetêre bedeling vir hulle ekonomie kan inhou. Daar is oorvloedige tekens van onstabiliteit: inflasie, eiendomspekulasie, swakheid van die banksektor, onderontwikkeling van kapitaalmarkte. As ‘n mens die groei in maatskaplike ongelykhede en die afwesigheid van demokrasie verreken, kan mens ‘n idee kry van die moontlikhede van ‘n politieke ontploffing (9). En mens verstaan die versigtigheid van die elite, wat bo alles besorg is daaroor om ‘n skielike vertraging in die groeikoers te voorkom, omdat dit onberekenbare ekonomiese en politieke gevolge sal hê, insluitende vir die bande met die Verenigde State. Want daar word te maklik vergeet: in vele sensitiewe kwessies - Iran, Noord-Korea, Taiwan - staan Sjina Washington steeds teë.

Almal, behalwe miskien die spekulante, besef dat dit verkieslik is om geldeenhede in oorleg te bestuur eerder as dat elkeen bloot vir homself sorg. Die meeste analises van die internasionale monetêre situasie stel nogtans ‘n logika van konfrontasie voor. Daar is sprake van die “die balans van monetêre terreur”, van ‘n alliansie tussen Europa en Japan vir gemeenskaplike intervensies in die geldmarkte en selfs van “’n baie groot alliansie” wat Sjina en die Verenigde State teenoor die res van die wêreld opstel, en by grasie waarvan Amerika by Sjina sy produkte sou koop, terwyl Sjina die Amerikaanse tekorte sou finansier (10). Die moontlikheid dat sekere lande hulle dreigemente sal uitvoer - dat Japan ‘n belangrike deel van sy portefeulje van portefeulje van die Amerikaanse Tesourie afstaan, of dat Amerika vergeldingsmaatreëls teen Sjina neem - skud van tyd tot tyd die operateurs op die geldmarkte.

Intervensies wat berus op oorleg tussen die “vier grotes” (die Verenigde State, Europa, Sjina en Japan) kan moontlik spekulasie rem en turbulensies beperk, volgens die model van die Plaza-Ooreenkoms, wat ‘n wending in die internasionale monetêre verhoudings was. Op 22 September 1985 het die Ministers van Finansies en die goewerneurs van die Sentrale Banke van die lidlande van die G5 (die Verenigde State, Japan, die Verenigde Koninkryk, Frankryk en die Federale Republiek van Duitsland) bymekaar gekom in die Plazahotel in New York en besluit dat “’n nuwe gestruktureerde appresiasie van geldeenhede buiten die dollar wenslik is”. Hulle het bekendgemaak dat “hulle gereed was om nouer saam te werk om dit aan te moedig wanneer dit nuttig sou blyk”. Hierdie gekodeerde taal was die voorspel tot ‘n gestruktureerde verlaging van die waarde van die dollar onder die leierskap van mnr. James Baker, Minister van Finansies van president Reagan (11).

‘n Ooreenkoms van hierdie aard is vandag hoogs onwaarskynlik. Die eensydigheid wat ons omgeef asook diverse “ideologiese” oorwegings steun die betoog teen die beginsel van oorleg as sodanig. Maar bowenal is geen van die huidige ekonomiese ampsdraers in staat om die rol te speel wat mnr. Baker gespeel het nie. Die Departement van Finansies het twintig jaar gelede ‘n internasionale invloed geniet waaroor dit nie meer beskik nie. Mnr. Paul O’Neill, die eerste bekleër van hierdie posisie wat deur mnr. George W. Bush gekies is, is vinnig afgedank weens sy onafhanklikheid. En in ‘n boek waarin hy sy ervaring in Washington oorvertel, het hy die huidige president beskryf as onkundig oor die ekonomiese werklikhede wat hom gedra met sy kabinet soos ‘n “blinde omring deur dowes”(12). Sedert die oorlog in Irak en in beslag geneem met groot kruistogte vir vryheid, stel mnr. Bush nog minder belang in administratiewe kwessies...

Daarbenewens het sy herverkiesing in November 2004 die ingesteldheid van mnr. Bush versterk waarvolgens hy hom met ja-broers omring. Die deurslaggewende eienskap vir ‘n politieke nominasie is blykbaar lojaliteit en nie bevoegdheid nie. Die Minister van Finansies, mnr. John Snow, word in die besluitnemingsproses oorskadu deur die politieke raadgewers van die president. Wat die 79-jarige mnr. Alan Greenspan betref: hy begin sy laaste jaar as President van die Federale Reserwebank. Die stryd om sy opvolging woed. Die aanspraakmakers moet die onmoontlike vermag - die absolute vertroue van die president wen (hy kies die kandidaat), wat dit nodig maak om moeilik verdedigbare ekonomiese keuses asook dié van die “mark” (13) met ywer te verdedig. In hierdie vakuum van ekonomiese mag, span diegene wat daarin geslaag het om die oorlog in Irak te “verkoop” en om die herverkiesing van die President te verseker, hulle in om die publiek te oortuig van die geldigheid van sy begrotings- en finansiële beleid.

Sedert 20 Januarie 2005, die amptelike datum waarop die nuwe Bush-administrasie diens aanvaar het, het die “tweelingtekort” die onderwerp van ‘n nuwe posisie en ‘n nuwe strategie geword. Die beleid van goedgunstige verwaarlosing (benign neglect) teenoor die dollar het te ver gegaan; die risiko van ‘n vrye val van die dollar bestaan wel. Die vermindering van die tekorte, word verklaar, sal nie meer geskied by wyse van die devaluasie van die dollar nie, maar danksy sterk groei, wat op sy beurt teweeggebring sal word deur nuwe belastingverlagings. Vir president Bush, “is die beste manier om die tekort oor die langtermyn te verklein om die ekonomie te laat vooruitgaan en ons sal maatreëls neem om die Amerikaanse ekonomie toe te laat om sterker, meer innoverend en meer mededingend te wees.”

Die handelstekort word nou vertolk as ‘n weerspieëling van die goeie gesondheid van die Amerikaanse ekonomie. Dit vra dus nie meer vir besondere aandag nie: dit word nou aan die ander, die Europeërs in die besonder, oorgelaat om op hulle beurt die groei by hulle aan te help deur belastingverlagings en deur beleide wat meer bevorderlik vir belegging is. Volgens mnr. John Snow “weerspieël die handelstekort twee sake: ons ekonomie ondergaan ‘n vinnige groei, vinniger as dié van ons handelsvennote. Die inkomste van huishoudings is aan die styg, indiensneming klim, ons het dus meer inkomste beskikbaar waarvan ‘n gedeelte gebruik word vir die aankoop van goedere by ons handelsvennote.” (14) Eweneens huldig mnr. Alan Greenspan, wat aanvanklik sy teleurstelling oor die omvang van die tekorte uitgespreek het, nou ‘n teenoorgestelde standpunt met die oog daarop om die dollar te ondersteun: “Die groter buigsaamheid van die Amerikaanse ekonomie sal sonder twyfel ‘n aanpassing sonder ernstige gevolge vir die geheel van die ekonomiese aktiwiteit fasiliteer.”

Soos gedurende die eerste Bush-termyn bestaan die amptelike politiek daaruit om die noodsaak van ‘n sterk geldeenheid te beklemtoon, maar hierdie keer is die optrede daarop afgestem om werklik ‘n nuwe duik van die dollar te voorkom. Op 2 Februarie 2005 het die Monetêre Beleidskomitee van die Federale Reserwebank sy leidende koers op 2,5% vasgestel. Die vergroting van die opbrengs op beleggings in die Verenigde State maak dit moontlik om die dollar teenoor die euro te steun op ‘n tydstip waar die Raad van Goewerneurs van die Europese Sentrale Bank sy leidende rentekoerse op 2% gehou het.

Op die vlak van begroting het president Bush sy voorneme bevestig om “die tekort tot die helfte te verminder” deur ‘n beleid van “nougesetheid” wat na alle sektore uitgebrei behoort te word, buiten sekuriteit en verdediging (wat 19 miljard dollar meer as die vorige jaar sal ontvang). Die begrotingsprojek vir 2006 verminder drasties of kanselleer meer as honderd-en-vyftig regeringsprogramme wat deur die administrasie beoordeel word as “oneffektief, oorbodig of nie van prioriteit nie”. Die maatskaplike programme en in die besonder dié wat kinders en behoeftiges raak, kom in die visier, waar die bedrag van een jaar na die volgende selfs in konstante terme verminder word.

Maar die begrotingskonstruksie van die Withuis berus op twyfelagtige hipoteses en sluit sekere van die duurste uitgawes uit. Die militêre operasie in Irak en in Afganistan wat ‘n bodemlose put vir die Amerikaanse finansies is, word vergeet (15). Insgelyks die 754 miljard dollar oor tien jaar, wat die minimumprys van die gedeeltelike privatisering van die pensioenstelsel verteenwoordig.

Tegelykertyd maak die Bush-administrasie en sy parlementêre vennote staat op ‘n styging van inkomste, danksy ‘n... verlaging van belastings. Die Amerikaanse president het dus die handhawing voorgestel van die enorme belastingverlagings (in die koers van 1800 miljard dollar) wat tydens sy eerste mandaat ingestem is met die oog daarop om verbruik en groei te steun. In 2004 het fiskale opbrengste reeds net 16,3% van die BBP verteenwoordig, wat die laagste vlak sedert 1959 is, teenoor 21% vier jaar vroeër, in ‘n tyd toe daar nog ‘n begrotingsoorskot was...

Vir sekere amptenare (en nie sommer die geringstes nie) is dit altyd dringender om belasting te verlaag as om die begrotingstekort te verklein. So is die adjunk-president Richard Cheney, wat nou beoog om die groot hervormings aan binnelandse beleid deur te voer, daarvan oortuig: “Ronald Reagan het al gewys dat die tekorte van geen belang is nie.”(16)


____________

(1)    Barry Eichengreen, Globalizing Capital: a History of the International Monetary System, Princeton University Press 1996, p. 136.
(2)    Dit het terloops nie verhoed nie dat hy die eerste president van die Verenigde State word sedert Herbert Hoover in 1932 wat as kandidaat staan terwyl daar ‘n toename in werkloosheid tydens sy eerste ampstermyn was.
(3)    As die projek uitgevoer word, sal werkers ‘n gedeelte van die aftrekkings van hul salaris kan aanwend vir die vorming van ‘n private kapitaalvoorraad met die oog op hulle aftrede. As die staat dus sonder belastinginkomste hiervoor sit, sal die staat geld moet leen om die huidige pensioenarisse te betaal (die getal van 754 miljard dollar binne tien jaar word in dié verband genoem).
(4)    Larry Elliot, “US risks a downhill dollar disaster”, The Guardian, Londen, 22 November 2004.
(5)    Mark Tran, “Move to euro hits US finances”, The Guardian, 24 Januarie 2005.
(6)    Willem F. Duisberg, “The first lustrum of the ECB”, lesing voor die International Frankfurt Banking Evening, Frankfurt, 16 Junie 2003: http://www.ecb.int
(7)    David E. Sanger, “U.S. Faces More Tensions Abroad as Dollar Slides”, The New York Times, New York, 25 Januarie 2005.
(8)    William Pesek jr., “Dollar skeptics in Asia have prominent company”, International Herald Tribune, New York, 3 Februarie 2005.
(9)    Lees die dossier wat Le Monde Diplomatique gewy het aan Sjina in September 2004.
(10)    Sien byvoorbeeld Eric Le Boucher, “La très grande alliance entre les Etats-Unis et la Chine contre le reste du monde”, Le Monde, 25 Januarie 2004; Pierre-Antoine Delhommais, “L’“équilibre de la terreur monétaire””, Le Monde, 5 Januarie 2005.
(11)    Die dollar wat in die eerste kwartaal van 1980 4,15 frank werd was, het op 9,96 frank in die eerste kwartaal van 1985 gestaan, maar was net 7,21 frank werd in die eerste kwartaal van 1986 en 6,13 frank in die eerste kwartaal van 1987. Met betrekking tot Duitsland was die onderskeie waardes: 1,77 mark, 3,26 mark, daarna 2,35 mark en 1,84 mark. Vir die waarde van die dollar in vergelyking met agtien geldeenhede, op ‘n kwartaalbasis tussen 1972 en 2002, kyk Jean-Marcel Jeanneney en Georges Pujals (samestellers), Les économies de l’Europe occidentale et leur environnement international de 1972 à nos jours. Parys: Fayard, 2005, 762 bladsye.
(12)    Ron Suskind, The Price of Loyalty: George W. Bush, the White House, and the Education of Paul O’Neill. New York: Simon and Schuster, 2004.
(13)    Paul Krugman, “The Greenspan Succession”, The New York Times, 25 Januarie 2005.
(14)    Elizabeth Becker, “Trade Deficit At New Hight, Reinforcing Risk to Dollar”, The New York Times, 13 Januarie 2005.
(15)    Die agterskotrekening word afsonderlik aan die Kongres voorgelê deur die loop van die jaar. Die mees onlangse hiervan vra 81 miljard dollar wat nie in die begroting geboek is nie om die Amerikaanse teenwoordigheid in Irak en Afganistan te finansier.
(16)    Ron Suskind, op. cit.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=161
Artikel nagegaan:
    -