|
||||
Ignacio Ramonet Deur Ignacio Ramonet, redakteur (Vertaal deur Ernst Wolff) Is Sirië skuldig aan die moord op Rafik Hariri, voormalige Eerste Minister van Libanon, op 14 Februarie 2005? In ‘n staat van skok huldig ‘n deel van die openbare mening in Libanon hierdie oortuiging. En die Siriese president, mnr. Basjar Al-Assad se veroordeling van die “outeurs van hierdie afskuwelike misdaad en diegene wat daaragter sit”, het om die minste te sê nie die beskuldigings in dié verband laat verdwyn nie. Vir die meerderheid van die internasionale media is die skuld van die Baath-regime bo twyfel. Joernaliste het verskeie vermeende motiewe vir die moord uitgelig. In die eerste plek, die wil van Damaskus om die Land van die Seder onder sy beheer te hou terwyl wetgewende verkiesings in die vooruitsig gestel word vir eerskomende Mei. Hulle het ook die besware van Sirië teen Rafik Hariri geopper, wat daarvan beskuldig word dat hy ‘n soort anti-Siriese front gefinansier en probeer monster het. Ten slotte is daar ook die belangrike aanvullende verwyt bygevoeg, naamlik dat die voormalige Eerste Minister daarvan verdink is dat hy sy vriende (waaronder mnr. Jacques Chirac) gemobiliseer het om in September 2004 en met die steun van Parys en Washington vir Resolusie 1559 in die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies te stem. Hiervolgens word die hou van ‘n vrye presidensiële verkiesing in Libanon geëis en ‘n beroep gemaak “op al die buitelandse magte wat nog daar is, om hulle uit Libanon te onttrek [...] en om die Libanese of ander milisies te ontwapen” (dit wil sê, die burgermagte van die Sjiïtiese Hezbollah-party, wat deur Sirië en Iran ondersteun word, en die Palestynse burgermagte in die vlugtelingkampe). Hierdie misdaad voorsien ‘n verdere voorwendsel aan Washington om druk op Damaskus te verskerp. Die Amerikaanse ambassadeur in Sirië is opgeroep “vir dringende konsultasie”. En die Amerikaanse Adjunkminister van Buitelandse Sake belas met die Nabye Ooste, mnr. William Burns, wat teenwoordig was in Beiroet vir die begrafnis van die vermoorde voormalige eerste minister, het die geleentheid aangegryp om teenoor die pers te verklaar: “Die dood van Rafik Hariri behoort die impetus vir ‘n vrye, onafhanklike en soewereine Libanon te verhoog. Dit wil sê, die onmiddellike inwerkingstelling van Resolusie 1559 van die Veiligheidsraad en dus die onmiddellike en volledige onttrekking van Sirië aan Libanon.” Mnr. Burns blyk te vergeet dat die Verenigde State Irak sonder ‘n mandaat van die VN ingeval en beset het. Mens moet onthou dat Damaskus, sedert die Amerikaanse inval van Irak geloods is, geoordeel het dat een van die hoofdoelstellings van hierdie oorlog die omsingeling van Sirië is (1). Die Amerikaanse Minister van Verdediging, mnr. Donald Rumsfeld het Damaskus daarvan beskuldig dat hy die weermag van mnr. Saddam Hoessein gehelp het gedurende die operasies en dat hy gedien het as basis agter verskeie weerstandsaksies wat die Amerikaanse besettingstroepe geteister het. Die voormalig Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, mnr. Colin Powell, het in Mei 2003na Sirië gegaan om sy beskuldigings direk aan president Al-Assad bekend te maak, saam met ander ouer beskuldigings soos die alliansie met Iran en die steun aan die Hezbollah-milisie, wat op die Verenigde State (maar nie die Europese Unie nie) se lys van “terroristiese organisasies” aangeteken is. Tensy selfmoord ‘n opsie is, het die Siriese regime in so ‘n konteks geen belang daarby om die situasie te vererger nie. Sekere waarnemers kom dus by die punt waar hulle wonder of die “al te ooglopende” skuld van Sirië nie juis die beoogde doelstelling van Rafik Hariri se moordenaars was nie. So sê Eyal Zisser, spesialis oor Sirië by die Dayan-Instituut van die Universiteit van Tel Aviv: “Dit is heeltemal onlogies dat Sirië dit sou doen. Dit sou ‘n onnosel besluit van sy kant af wees. Almal hou Sirië dop en die land het geen belang daarby om Libanon te destabiliseer nie.” Hoe dit ookal sy, mens moet jou afvra oor die doel wat Washington en Parys met Libanon het. As hulle oogmerk is om ‘n “ware demokrasie” in Libanon daar te stel, sal so ‘n demokrasie gebou kan word sonder die Sjiïte, die hoofgemeenskap wat grootliks verbonde is aan Damaskus? Sal so ‘n demokrasie gewaarborg word deur die opposisiepartye wat die beginsel van “een mens, een stem” verwerp en ‘n uitgediende konfessionele stelsel verdedig? As die doel die ontruiming van “besette Libanon” is, kan die internasionale gemeenskap vergeet dat daar in hierdie streek ewe beset is?: die Siriese Golan (sedert 1967) en so ook die Wesoewer, Gaza (wat in die loop van hierdie jaar ontruim kan word) en Oos-Jerusalem, en dít, ten spyte van vele resolusies van die Veiligheidsraad? Nog ‘n geval van dubbele standaarde? Die era van duistere maneuvers is terug. En dit lyk of ons nou in die teater van die Nabye Ooste oorgegaan het na die tweede bedryf. Dit sluit die risiko in van ‘n herontketening van die burgeroorlog in Libanon, wat blykbaar nie die verdedigers van die Land van die Seder steur nie. Na die oorlog in Irak – en ten spyte van die katastrofe van die besetting en die vernietigende verkiesingsnederlaag van die lys wat deur Washington gesteun is – hervat die maneuvers gelyktydig teen die twee ander teikens wat lankal aangedui is: Iran en sy bondgenoot Sirië wat ongetwyfeld die swakste skakel is. Weet diegene wat vir Rafik Hariri doodgemaak het, dat hulle die lot van die Siriese regime simbolies op ‘n skinkbord aan die “internasionale gemeenskap” gegee het? __________ (1) Lees Paul-Marie de La Gorce, “La Syrie sous pression”, Le Monde Diplomatique, Julie 2004. (2) Aangehaal deur Jefferson Morley, “Who Killed Rafiq Hariri?”, washingtonpost.com, 16 Februarie 2005. |