blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die skandalige “uitsetting” van die Gorée-Instituut 2005-03-11
“Die Gorée-Instituut is jammer om u in te lig dat ons van ons werktuig, te wete ons hoofkantoor Soedan-huis, onthef is deur ‘n arbitrêre, ongemotiveerde besluit van die Senegalese staat”; geteken Breyten Breytenbach, Uitvoerende Direkteur, Gorée-instituut , 4 Maart 2005 (www.goreeinstitute.org).

Dít is die woorde van die mediaverklaring wat die leser op die webwerf van die Gorée-instituut begroet, nadat die Senegalese militêre polisie verlede Vrydag, 4 Maart 2005, by Soedan-huis opgedaag en “beslag gelê het op al die toerusting en dokumente” (Beeld 2005/3/8).

Soos Van Zyl Slabbert vertel in sy boek Afrikaner Afrikaan (Kaapstad: Tafelberg, 1999, pp.39-41) is die Gorée-instituut in 1987 deur hom en Breytenbach gestig op aanmoediging van die toentertydse Senegalese president, Abdou Diouf, en ‘n Senegalese regsgeleerde, Benoit Ngom. Die gerespekteerde finansier George Soros het die stigtingskapitaal geskenk. Slabbert se vertelling van ‘n gesprek oor so ‘n instituut is volledig in die idioom wat Die Vrye Afrikaan voorstaan: “…[W]at nodig is, is om ‘n gesprek tussen Suid-Afrika en die res van Afrika aan die gang te kry, oor demokrasie, kultuur en ontwikkeling. Tussen gewone mense, sodat ons oor gemeenskaplike probleme kan besin. Dink aan die ontsaglike kulturele verskeidenheid en rykdom van die kontinent; die uitruil van kennis en ervaring. Kyk na al die lesse wat ons kan leer van die post-koloniale mislukkings.”

Kortom, Slabbert, Breytenbach, Diouf en Ngom het met die stigting van die Gorée-Instituut lank voor Die Vrye Afrikaan die samewerking tussen Afrikaner en Afrikaan vanuit die burgerlike samelewing konkreet gaan beliggaam. In die agtien jaar wat sedertdien verloop het, het ‘n wye verskeidenheid denkers, skrywers en kunstenaars uit Afrika, maar ook van oor die hele wêreld, reeds hul bydrae gelewer.

Terug na die hede: Volgens dieselfde berig in Beeld hierbo aangehaal, het Breytenbach reeds in Desember 2003 ‘n uitsettingsbevel van die Senegalese regering ontvang, wat nie die Instituut se huurooreenkoms wou hernu nie. In weerwil van versekerings wat nà internasionale bemiddeling aan Breytenbach gegee is dat die probleem opgelos is, het die staat inderdaad verlede Vrydag met die uitsetting voortgegaan. Dit val saam met planne om die historiese eiland ‘n “aantrekliker toeristebestemming” te maak, waarvoor minstens 500 eilandbewoners verskuif sal moet word.

Volgens inligting in die besit van Die Vrye Afrikaan is daar sterk aanduidings dat die president van Senegal, mnr. Abdoulaye Wade, se seun, mnr. Karim Wade, agter die toerismeontwikkeling sit, en dat Arabiese en Franse ondernemers daarby betrokke is. Dit strook met ‘n uitspraak wat die Senegalese opposisiepolitikus, mnr. Amath Dansoko, op 25 Februarie 2005 gemaak het in ‘n onderhoud met allafrica.com, waarvolgens president Wade nie net daarop uit is om sy seun se belange vir ‘n moontlike opvolging te bevorder nie, maar dat Senegal inderdaad deur Wade, sy seun en dié se vier vertrouelinge geregeer word (http://allafrica.com/stories/200502250659.html).

Tot sover die geskiedenis en jongste gebeure rondom die Gorée-Instituut. Wat is hier in die spel? Soos al dikwels in Die Vrye Afrikaan aangevoer is, gaan postkoloniale Afrika steeds gebuk onder die durende koloniale en tegniese staatsbestel, wat feitlik sonder uitsondering in Afrika gebruik is/*word om die een of ander vryheidsvegterselite tot ‘n staatskorporatiewe elite te bevorder.

Terwyl pres. Wade graag saam met ander prominente Afrikaleiers op wêreldverhoë as pleitbesorger vir die vasteland optree, dui alles daarop dat hy hom nou rondom die Gorée-Instituut nie net aan klassieke boelietaktiek skuldig maak nie, maar ook dat hy en sy vertrouelinge van Gorée - een van die kroonjuwele van Afrika se pynlike verlede - ‘n speelplek vir internasionale toeriste wil maak.

In ‘n artikel in Maart se Le Monde Diplomatique oor hoe die Joodse Volksmoord vandag onthou kan word, haal Dominique Vidal met instemming die Franse historikus, Anette Wieviorka, se woorde aan wanneer sy  sê dat ons eerder as om vandag oor plekke soos Auschwitz te moraliseer – wat skoolkinders dikwels meer vervreem as simpatiek stem – daaroor behoort te besin.

Dit is presies hierdie soort besinning eerder as ‘n sentimentele moralisering wat deur die Gorée-Instituut beoefen is en wat nou in die gedrang kom op ‘n eiland waar Afrikane vir meer as drie eeue na slawerny weggevoer is en tot soveel as 50% van hulle nooit eens die skeepsreis oorleef het nie. Stel u voor dat die Pole Auschwitz vandag in ‘n “groter toerismeaantreklikheid” probeer omvorm! Vanselfsprekend is Auschwitz nie Gorée nie, maar vir historiese lyding vertoon ‘n mens meer respek as om dit in ‘n poskaart vir toeriste te verander.

Kan dit ook wees dat pres. Wade en sy binnekring nie gemaklik is met die statuur en bydrae van die Gorée-Instituut nie? Dat hulle deel is van die tradisie van staatsvyandigheid teenoor die burgerlike samelewing in Afrika?

Hoe dit ook al sy, Die Vrye Afrikaan maak ten sterkste beswaar teen hierdie optrede, en wens die Gorée-Instituut alle sterkte toe in sy stryd.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=159
Artikel nagegaan:
    -