blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die FAK se plan vir die Afrikaanse onderwys 2005-03-03
Soos die afgelope naweek deur al die Afrikaanse koerante berig is, het ‘n spitsberaad oor die krisis in die Afrikaanse onderwys op Vrydag 25 Februarie 2005 in Pretoria plaasgevind. Die beraad is deur die FAK gereël en is bygewoon deur ‘n baie breë spektrum van organisasies uit die burgerlike samelewing, waaronder Dames Aktueel, Demokratiese Alliansie, Die Afrikanerbond, Die Dameskring, Die Voortrekkers, Federasie van Beheerliggame (Fedsas),  Interkerklike Komitee vir Onderwys en Opvoeding (IKOO), Noordelike Helpmekaarstudiefonds, Oraniabeweging,  Solidariteit, Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), SAOU-Noord,  SA Akademie vir Wetenskap en Kuns,  Skoolbeheerliggaam: Hoërskool Kalahari, die Vereniging vir Regslui in Afrikaans (VRA), Inkata Vryheidsparty (IVP),  die Rapportryersbeweging (RRB), TABOK, Vryheidsfront+, Skoolbeheerliggaam: Hoërskool Hercules, Vriende van Afrikaans (VVA),  Rapport Onderwysfonds (ROF), Kommissie vir Gemeenskapregte, Verteenwoordigers van Unisa en Noord-Wes Universiteit (Potchefstroom-kampus), Vrydaggroep,  en die Wes-Kaap Helpmekaarstudiefonds. Verskeie ander rolspelers is ook genooi, maar kon nie daar wees nie.

Die spitsberaad is gereël in opvolging van die belangwekkende verslae oor die onderwys wat kort voor die einde van Januarie deur proff. Hermann Giliomee, Chris Heese en Lawrence Schlemmer uitgereik is. Die doel van die spitsberaad was om ‘n konsepplan van aksie vir die Afrikaanse onderwys soos voorgelê deur die FAK te bespreek en konsensus te probeer vind. Soos reeds die afgelope naweek deur Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport berig is, is eenstemmigheid by die beraad oor die plan bereik, en is die bestuur van die FAK versoek om in samewerking met ‘n werkkomitee en by wyse van koöptering soos nodig, onverwyld voort te gaan om die plan in werking te stel. Die konsepplan, asook die openingsrede gelewer deur die voorsitter van die FAK, prof. Danie Goosen, word vandag in Die Vrye Afrikaan gepubliseer, en ons hoop dat lesers die vrymoedigheid sal neem om hulle terugvoering hieroor aan ons te gee.

Die groot taak om die plan uit te voer, moet nou aangepak word, maar voorlopig kan die betekenis van verlede Vrydag se spitsberaad kwalik onderskat word. Hierdie spitsberaad staan in die teken van ‘n nuwe energie en ‘n nuwe politiek wat vinnig besig is om onder Afrikaners vaardig te word (hoewel die aksieplan allermins tot Afrikaners of selfs Afrikaans beperk is, soos die FAK ook in sy mediaverklaring oor taal en onderwys in Suid-Afrika duidelik gemaak het). Opmerklik van verlede Vrydag se spitsberaad was dat die een na die ander deelnemer aan die gesprek met dringendheid en energie gepraat het. Eweneens was dit duidelik dat niemand meer die verwagting het dat stille gesprekke met die regering, ‘n beroep op “onmisbaarheid” of selfs hoop op die partypolitieke proses die wa deur die drif sal sleep nie. Nee, wat voorop staan, is die aanname dat die gemeenskap vir sy eie heil verantwoordelik is en regstreeks moet handel ten einde die gepaste praktyke en instellings ter bestendiging van die Afrikaanse onderwys daar te stel. Van die berugte verdeeldheid in Afrikaanse geledere was daar ook min sprake.

Die Vrye Afrikaan verwelkom hierdie inisiatief en wens die deelnemers daaraan alle sterkte toe: niks minder nie as die wese van demokrasie in Suid-Afrika is in hierdie plan op die spel.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=158
Artikel nagegaan:
    -