blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Rassisme op die regbank 2005-03-03
Michel Foucault, wat hom intens met die ontleding van mag besig gehou het, het eens verklaar dat mag sigself altyd vermom. Anders gestel: wanneer dit om veranderende magsverhoudinge gaan, word een ding gesê, maar ‘n ander gedoen.

So is dit dan ook die geval met die kwessie van rassisme op die regbank. Soos prof. Koos Malan, publiekeregkenner, al dikwels aangevoer het, weerspieël die regspraktyk van ‘n samelewing gewoonlik die politieke orde van die samelewing.

Hierdie stelling word bewys deur die debat oor rassisme op die regbank wat tans aan die gang is. Die belangrikste gebeure die afgelope maande sluit in: Regter John Hlophe se uitbarsting verlede November oor rassisme op die regbank en veral in sy afdeling van die Hooggeregshof; die ANC se onheilspellende verklaring aan die begin van die jaar dat frustrasie oor die gebrek aan transformasie op die regbank aan die oplaai is; geluide uit regeringskringe oor ‘n spesiale stelsel om regters mee te dissiplineer; en nou heel onlangs Hlophe se verslag van 43 bladsye oor rassisme op die regbank, wat die Minister van Justisie sê sy nie aangevra het nie, maar wat aanleiding gegee het tot ‘n spesiale kommissie van ondersoek aangestel deur Regter Arthur Chaskalson; asook ‘n algemene inneem van standpunte vir of teen Hlophe, waaronder deur tien swart regters van Pretoria wat die afgelope naweek verklaar het hulle skaar hulle by Hlophe omdat hulle ook “ly onder rassisme”.

Intussen is twee van die gerespekteerde regslui wat deur Hlophe in sy verslag van rassisme beskuldig word, naamlik Regter Edwin King en Advokaat Jeremy Gauntlett, op Maandag 28 Februarie 2005 op SAFM se oggendaktualiteitsprogram, *AM Live, deur die voorsitter van die Kaapse Balie, Advokaat Norman Arendse, verdedig teen Hlophe se bewerings. Soos Arendse tereg uitgewys het, het beide hierdie senior regslui ‘n lang, trotse openbare rekord wat duidelik wys dat hulle nie rassiste is nie.

Hierdie gebeure speel af teen die agtergrond van ‘n aantal betekenisvolle nederlae wat die staat die afgelope jaar of wat in die howe gely het. Hierdie nederlae sluit in die Appélhof se bevinding teen die regering se nuwe medisyneprysbeheerregulasies; die Kaapse Hoogeregshof se bevinding ten gunste van Laerskool Mikro; en die erkenning van homoseksuele paartjies se regte. In Oktober verlede jaar was daar ook heelwat stemme uit die geledere van die regering en die ANC wat gekla het dat die regbank nog ver van getransformeer is, terwyl dit al hoe duideliker word dat Chaskalson met sy aftrede binnekort waarskynlik deur ‘n swart regter vervang sal word. Dit wil natuurlik geensins sê dat ‘n swart regter nie geskik sal wees vir die pos nie, maar wel dat die vul van openbare poste deur swartmense toenemend as maatstaf van “transformasie” geld. Op watter ander gronde het iemand soos adv. Geoff Budlender, met sy onbesproke menseregterekord, dan verlede jaar die derde maal nie die paal in sy aansoek om ‘n regterspos gehaal nie?

In hierdie stadium lyk dit asof daar in gerekende kringe betekenisvolle twyfel oor Hlophe se verslag bestaan. Selfs Chaskalson het sy ontsteltenis oor die verslag te kenne gegee. Dat daar sekerlik nog rassisme op die regbank voorkom, mag so wees, maar of Hlophe en sy simpatiseerders kritiese oorweging van hul bewerings gaan deurstaan, sal net die tyd leer.

Wat inderwaarheid hier aan die gang is, is ‘n geval van mag wat sigself vermom, en wel in die sin dat die huidige regering stadig besig is om ontslae te raak van die regters wat deur die vorige regering aangestel is. Hiermee is die regering getrou aan die patroon waarvolgens die regspraktyk die politieke orde weerspieël, en volg hy inderdaad ook in die spore van die Nasionale Party. So byvoorbeeld het die Nasionale Party na die eerste groot openbare protes teen apartheid in die 1950’s sekere wette verander om sy politieke opponente te muilband en steeds “wettig” te handel. Onlangs het ‘n staatsamptenaar byvoorbeeld na aanleiding van ‘n regsgeding tussen die staat en ‘n Afrikaanse skool verklaar, “If we lose the case, we shall change the law.”

Die strategie wat deur die huidige regering gevolg word, is om die inwerkingstelling van hul program met transformasie en die stryd teen rassisme gelyk te stel. In die proses word die Suid-Afrikaanse openbare woordeskat van twee van sy sleutelwoorde beroof: rassisme is en bly ‘n euwel in ons samelewing, maar die aanwending van die stryd teen rassisme as regverdiging vir ‘n ideologiese program vervreem al hoe meer mense van die stryd teen rassisme.

Transformasie is ook op sy beurt as sodanig ‘n belangrike begrip wat Suid-Afrikaners kon help met die voortgaande demokratisering van die samelewing, maar wat toenemend ingespan word vir ondemokratiese praktyke en die deurdryf van ‘n Afro-nasionalistiese agenda. Die groot ironie is dat wat vandag as transformasie voorgehou word, in feite bloot neerkom op die vervanging van werknemers uit die ou bedeling met werknemers wat vir die nuwe bedeling aanvaarbaar is, met velkleur as bykomende maatstaf. So word die belangrike agenda van die hervorming en demokratisering van openbare instellings toenemend versaak, en word transformasie verskraal tot die ruil van gesigte.

Suid-Afrikaanse demokrate behoort nie net deeglik van hierdie verwikkelinge kennis te neem nie, maar hulle ook met nog groter ywer op die stryd om demokratisering vanuit die burgerlike samelewing toe te lê. Dit is Suid-Afrika se enigste teenvoeter teen die toenemend onverdraagsame staatskorporatiewe bestel se ondemokratiese optrede.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=157
Artikel nagegaan:
    -