blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Tussenwêrelde: die nalatenskap van kolonialisme in Suid-Afrika 2005-03-03
Heilna du Plooy

Deur Heilna du Plooy

1
Die roman Eilande van Dan Sleigh herskep die vroeë jare (1652-1690) van die Nederlandse nedersetting aan die Kaap, volgens die verteller in die roman ‘n typerk wat “(t)ipies van omwenteling wat uit hebsug gebore word... getroud met die dood en met bloed gedoop “ was (p. 688 - bladsyverwysings is na Sleigh, Dan. Eilande. Kaapstad: Tafelberg, 2002)
Die roman hanteer historiese stof en is self meer as bewus van die relatiwiteit van talige weergawes van die verlede. Die verteller sê herhaaldelik dat hy hom beperk tot die verhale van mense waartoe hy via dokumente toegang verkry het (vgl. p.687, 688, 691) maar lê klem daarop dat dit steeds gaan om “lewende mense” (p.692).
Soos alle geskrifte met historiese inhoud, onthul die roman verborge inligting en herinner mense aan dinge wat in die vergetelheid wegraak. Aan die ander kant is talige weergawes van die geskiedenis onderhewig aan bepaalde beperkinge sodat die ontsluiering van die verlede aan nuwe versluierings onderworpe word. Die rede daarvoor is die kompliserende uitwerking van die herhaaldelike interpretasies in ‘n proses waarin gebeure plaasvind, van betekenis voorsien en opgeteken word volgens bepaalde tydgenootlike kodes, later gelees en herlees, weer geïnterpreteer en uiteindelik weer in woorde opgeteken word - terwyl elke woordkeuse deur bepaalde vooronderstellinge gekleur en deur nuwe assosiasies belas word in elke opeenvolgende lesing daarvan.  
Die roman Eilande is, ten spyte van die diepgaande bemoeienis met die geskiedenis, primêr gefokus op die wel en wee van mense en die betekenis van menslike ervaring. Nogtans, ten spyte van die relativerende tussenwerkinge van taal en die spanning tussen historiese feite en die romanmatige ordening, aanpassing en aanbieding daarvan, gee die roman op verskeie maniere insig in die gemeenskapslewe en -strukture aan die Kaap van Goeie Hoop in die laaste helfte van die sewentiende eeu. Dit gaan veral om die uitwerking van (die voorfase van) kolonialisering op al die bevolkingsgroepe in die streek en die stelling wat ek hier wil maak, is dat bepaalde patrone en verhoudinge wat hierdie vroeë gemeenskap gekenmerk het, steeds in die eietydse Suid-Afrika herkenbaar is.
Jan van Riebeek se opdrag was gewoon om ‘n groentetuin aan te lê en vee te ruil sodat die skepe van vars groente en vrugte, vleis en water voorsien kon word (Yearbook South Africa, 1988-1989), maar so eenvoudig het dit nie gebly nie en die inherente problematiek van koloniale ondernemings, van die verskynsel van kolonialisme as sodanig, sou ook in hierdie gebied sy tol eis.

2

Die roman Eilande begin soos volg:
"Sewe van ons, of minstens sewe, het van voor haar geboorte tot ná haar dood dieselfde vrou in die hart gedra" (p. 1).
Hierdie proloog verwys na Pieternella, die dogter van die Koina-vrou, Krotoa, wat deur die Nederlanders Eva genoem is en wat as tolk opgetree het tussen die Kompanjie se amptenare en die Koina se leiers. Die roman bestaan uit die verhale van die sewe mans in wie se lewens Pieternella ‘n rol gespeel het. Inderwaarheid is nie net Pieternella nie, maar ook Krotoa ‘n bindende faktor in die roman omdat Pieternella se verhaal en haar lewe deur dié van haar moeder bepaal is en onlosmaaklik daaraan verbonde bly in alles wat sy beleef. Dit is nie net opvallend nie, maar ook belangrik dat nie een van die twee vroue wat so ‘n belangrike rol in die vroeë geskiedenis gespeel het en om wie die roman se struktuur draai, ooit in die roman as verteller optree nie en dat daar ook nooit vanuit hulle standpunt gekyk of vertel word nie.
‘n Ander belangrike merker is dat die eerste verhaal wat vertel word, dié van Autshumao (in geskiedenisboeke bekend as Chief Harry wat ook as tolk en tussenganger opgetree het), begin met ‘n verwysing na die aankoms van die Nederlanders, die wyebroeke. Autshumao se verhaal (en die suggestie is, ook sy lewe) word gemerk en uiteindelik bepaal deur hierdie gebeurtenis aangesien die aankoms van die wyebroeke as tydmerker gebruik word om ook sy voorafgaande geskiedenis te vertel. Die aankoms van die Nederlanders word so beklemtoon as die gebeurtenis wat die geskiedenis van die gebied onherroepelik sou verander.
Die prominente plek wat hierdie drie karakters in die roman inneem, vestig ‘n mens se aandag op hulle posisie in die vroeë Kaapse gemeenskap. Autshumao en Krotoa is onvermydelik betrokke by die onderhandelinge vir die ruil van vee en ander vorme van samewerking. Pieternella is die oudste kind van Krotoa en Peter Havgard (volgens Sleigh dieselfde persoon as Pieter van Meerhof, die Deense/Switserse sjirurgyn) en dus ‘n tasbare teken van die ontmoeting en interaksie tussen die Europese en Afrika-gemeenskappe. Desnieteenstaande, is nie een van die drie uiteindelik ‘n mens met ‘n stabiele plek in enige gemeenskap nie. Hulle lewe in 'n tussenwêreld, die ruimte tussen die Nederlandse en die Khoi-gemeenskappe sonder om werklik in een van die gemeenskappe volledig tuis te wees of ten volle daar aanvaar te word.
Wanneer ‘n mens die sosiale, psigologiese en politieke aspekte van tussenskap bedink of die implikasies van die omstandighede van mense wat hulle in tussenruimtes bevind, kom jy onvermydelik te staan voor die begrip liminaliteit uit die antropologie.
 
3

Die konsep liminaliteit is afkomstig van die antropoloog Arnold van Gennep wat in sy boek Rites du passage (1908) skryf oor tradisionele inisiasierites. Sulke rites bestaan normaalweg uit drie fases:
•    ‘n fase van skeiding waartydens jongmense uit die “normale” struktuur van die gemeenskap verwyder word,
•    ‘n oorgangsfase waartydens die jongmense aan bepaalde ervaringe en simboliese handelinge blootgestel word omdat hulle geplaas word in ‘n tussenposisie (soms ook ‘n grens of “marge” genoem), waarin hulle hulleself in ‘n staat van onvastheid of dubbelsinnigheid bevind en ryp word vir verandering of transformasie
•    en ’n fase van herinlywing of herintegrasie waartydens hulle na die gemeenskap terugkeer met ‘n verhoogde status.
Die middelste van hierdie fases word die liminale fase genoem. In aansluiting by Van Gennep skryf Victor Turner in werke soos The Ritual Process (1969), Dramas, Fields and Metaphors. Symbolic Action in Human Society (1974) en From Ritual to Theatre (1982) oor liminaliteit. Hy verfyn die konsep en brei dit uit om ‘n wyer reeks kulturele en individuele psigologiese en sosiale verskynsels in te sluit. Volgens Turner vertoon mense in ‘n liminale situasie ‘n vloeibaarheid en veranderlikheid wat nie binne die netwerke en klassifikasies van die “normale” gemeenskapstrukture ingepas kan word nie. Hy gebruik die term liminaal ook in ’n meer algemene sin om te verwys na mense en situasies wat tussen stelsels val en sluit dan uiteenlopende kategorieë in soos onder meer mense in inisiasieprosesse, vreemdelinge, klein kulturele groepe of minderhede, die hofnar, die priester en die sjamaan.  Sulke mense bevind hulle in die tussenruimtes in en om die gemeenskap.
Die liminale posisie kan gesien word as ‘n middelpunt in ‘n oorgangsproses van een status na ‘n ander waar die finale posisie ‘n hoër status veronderstel. Later gebruik Turner ‘n nog wyer term, naamlik liminoïed (liminoid) om te verwys na ‘n reeks situasies in moderne geïndustrialiseerde gemeenskappe waar mense hulself doelbewus tydelik uit die gemeenskap onttrek om byvoorbeeld aan sport deel te neem of na ‘n wedstryd te kyk, om kreatief besig te wees met skilder of skryf of musiekmaak, om aan politieke prosesse deel te neem, karnaval te hou of selfs om liminale plekke soos klubs en kroeë te besoek. Hierdie situasies of plekke verleen ‘n bepaalde vryheid en daar geld dan ander tydelike reëls wat die reëls en kodes van die gemeenskap vervang.
Dit gaan dus om ‘n soort drumpelfase waar iemand in ‘n tussenposisie is, in ‘n ongedefinieerde en vloeibare en waarskynlik tydelike situasie. Dit is belangrik dat in bronne oor liminaliteit, soos onder meer die boek Margins and Thresholds. An Enquiry into the Concept of Liminality in Text Studies (2000) waarvan Manuel Aguirre die redakteur is, die konsep van die drumpel of “limen” gebruik word. Die rede daarvoor is dat dit 'n meerledige en soepeler metafoor is as grens of “marge” wat werk met sentrum en grens (buiterand) en dus met tweeledigheid.  Die tussensituasie is soos 'n drumpel waarvandaan beweging in verskillende rigtings moontlik is en volgens Aquirre kan dit bloot ‘n milde oorgangsfase wees, maar dit kan ook ‘n spesifieke periode van dramatiese en ernstige transformasie en herkodering behels soos wat in sommige rites gebruiklik is.

4

In die roman Eilande kan verskillende vorme van liminaliteit gesien word. Hier word kortliks aandag gegee aan die liminale eienskappe van die karakters Krotoa en Pieternella en van die koloniale nedersetting self, maar ‘n mens sou ook die verteller of skrywer as ‘n liminale figuur kon bespreek. Dit laat ek egter vir ‘n ander geleentheid.
Vooraf moet dit duidelik gestel word dat die konsep liminaliteit, soos enige ander teoretiese konsep, so wyd geïnterpreteeer kan word dat dit bykans enigiets kan insluit. In hierdie betoog gaan ek inderdaad ‘n bietjie vryer met die konsep om. Ek gebruik dit gewoon as ‘n vertrekpunt om oor die verskynsels wat ek in die roman waarneem te praat. Ek is ook ten volle bewus daarvan dat die gevolgtrekkings wat ek maak en veral die parallelle wat ek aantoon tussen die historiese periode in die roman en die hede, nie uitvoerig beredeneer word nie. Dit gaan vir my gewoon om die feit dat literêre tekste ‘n mens se oë kan open om eietydse verskynsels beter raak te sien en dit dan miskien ook beter te begryp.

4.1
Ek het reeds daarna verwys dat daar in Eilande nooit vertel word vanuit die perspektief van Krotoa of Pieternella nie. Afgesien van die verteller se motivering dat hy hom bepaal by mense wie se verhale in dokumente vervat is, is dit ook ‘n teken van postkoloniale sensitiwiteit dat hy nie die vroue se verhale toe-eien nie en deur so ‘n appropriasie hom aanmatig om as ‘n wit twintigste-eeuse skrywer via sy verteller te suggereer wat twee inheemse vroue uit die sewentiende eeu sou dink en voel nie. Dié ingesteldheid kan miskien in verband gebring word met J.M. Coetzee wat in Disgrace nie die swartman Petrus se verhaal vertel nie en direk sê dat Petrus sy eie verhaal moet vertel.
Krotoa en Pieternella is dus twee ontwykende maar altyd aanwesige figure in die roman. Hulle bestaan as‘t ware in die oop plekke van die verhaal. Hulle is in ander mense se verhale belangrik, sowel in die verhale van Krotoa se eie mense as in die verhale van die nedersetters, maar dit is nooit hulle eie verhale nie. Hierdie onopsigtelike aanwesigheid is ook simbolies van die manier waarop die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing hierdie vroue na grensruimtes en onbelangrike posisies verdring het. Die verteller in die roman herinner die leser aan hulle bestaan en sê dat hy hulle deur herinneringe aan die lewe wil hou (p.2) maar ironies genoeg moet hy dit doen deur hulle afwesigheid en die stilte wat hulle binnelewe in die geskiedenis is, oor te dra.
Krotoa was aanvanklik die belangrikste tolk in die onderhandelinge tussen Van Riebeek en die Koina. Sy word deur Van Riebeek en sy vrou in die huis geneem, in Nederlandse klere aangetrek en sy help om hulle kinders op te pas. Sy lê selfs belydenis van geloof af in die Nederlandse Gereformeerde Kerk. In die proses raak sy onvermydelik vervreem van haar eie mense. Ten spyte van haar “bekering” tot die Christelike geloof en haar huwelik met Pieter van Meerhof word Krotoa egter nooit heeltemal Eva nie en word sy ook nooit heeltemal deur die nedersetters aanvaar nie. In liminale terme kan ‘n mens sê dat sy tussen die twee gemeenskappe lewe – dat haar eie verwysingsraamwerk opgeskort word om te tolk in onderhandelinge en in te pas tussen die Nederlanders, maar die ironie is dat sy na die tussenfase, na die liminale ervaring, nêrens tuiskom nie.
Tolking is as sodanig ‘n soort liminale aktiwiteit waarin daar tussen twee groepe gemedieer word deur ‘n persoon wat toegang tot beide groepe se wêrelde het. Krotoa verlaat by wyse van spreke haar eie groep om te tolk in die tussenruimte van onderhandelinge. In die proses het sy tot beide groepe toegang deur middel van taal en dit gee aan haar ‘n bepaalde mag.  Sy doen ook meer as blote tolking want sy pas die woorde van beide groepe aan en niemand weet hoeveel van die tolking werklik "korrek" is nie. Byna soos ‘n fasiliteerder, weet sy wat vir elke groep aanvaarbaar en onaanvaarbaar is en hou die onderhandelinge op veilige grond. Dikwels toon die praktyk agterna die misverstande en verskil in opvattings aan. Krotoa voel haar skynbaar nie aan een van die groepe totaal lojaal en verbonde nie en dit blyk uit die roman dat sy self uiteindelik verward raak (p. 62 - 63). Sy kan die drumpelgebied nooit verlaat nie en sy moet in daardie vloeibare ruimte bly lewe. Wanneer Van Meerhof op reis gaan, kan sy nie die huishouding volgens Nederlandse maatstawwe hanteer nie en by sy terugkeer vind hy alles in chaos en die kind, Pieternella, onversorg. Aan die ander kant word sy egter deur haar eie mense gewantrou (p.82, 106) en kan ook nie meer heeltemal tuis voel tussen hulle nie (later nog meer so vanweë haar afhanklikheid van alkohol).
Later word Van Meerhof na Robbeneiland gestuur as bevelvoerder en op ‘n sending na Mauritius word hy vermoor. Krotoa word dan eintlik deur die owerhede op Robbeneiland vergeet. Die kinders word wel later na die Kaap gebring, maar sy sterf ‘n eensame dood in verwerping en siekte en vergetelheid. Die laaste deel van haar lewe val buite enige kulturele verbintenisse en word gekenmerk deur ‘n lewenstyl vreemd aan beide groepe waartussen sy beweeg het. Sy sterf op ‘n eiland as ‘n sosiale uitgeworpene, in ‘n geografiese en psigologiese en kulturele tussenruimte.
Krotoa se kinders kan nie na die Khoigemeenskap gestuur word nie en word in die Kaap by pleegouers geplaas. Hulle het dus eintlik ook nêrens om te gaan nie en pas ook nie werklik êrens in nie. Bart Borms en sy vrou is goed vir die kinders tot hulle seun in Pieternella begin belangstel. Hulle is baie verlig as die vatmaker, Daniel Zaaijman, ‘n voormalige matroos, met haar wil trou en haar saamneem na Mauritius. 
Mauritius is ook ‘n eiland en dit is interessant dat die klein gemeenskappie op die eiland tog ‘n bepaalde struktuur en ritme ontwikkel. By uitstek ‘n liminale situasie waar mense uit uiteenlopende agtergronde in totaal nuwe en vreemde omstandighede moet aanpas en oorleef, is dit asof die gemeenskap Mauritius as ‘n bestemming en tuiste ervaar en saam ‘n nuwe styl ontwikkel. Maar na 12 jaar word die projek op Mauritius deur die Here XVII beëindig en Pieternella en Daniël keer terug na die Kaap, waar hulle nie ‘n huis of heenkome het nie en ook nie deur die gemeenskap aanvaar word nie. Waar hulle op Mauritius vooruitstrewende en geagte mense was, moet hulle in die Kaap heeltemal van voor af begin. Al sou hierdie gegewens nie streng histories korrek wees nie (soos uitgewys deur nakomelinge van die Zaaijman-familie), is die stelling wat die roman maak dat hierdie mense buitestanders is en so gehou word vanweë die tussenstatus van mense van kleur.
Nou is dit ironies dat Krotoa wat die tolk en tussenganger is en wat die kommunikasie en interaksie tussen die groepe moontlik maak en fasiliteer, uiteindelik nêrens ’n tuiste vind nie en dat Pieternella wat as persoon die samekoms van mense van verskillende herkoms simboliseer, ook so ‘n buitestander bly. Krotoa wat as ‘n soort brug tusssen die gemeenskappe funksioneer en Pieternella wat die produk van vermenging is, word slagoffers van hulle “versoenende” posisies.  Alhoewel vroue in die algemeen in hierdie historiese tydperk in marginale posisies gelewe het, beklee hierdie twee vroue ‘n liminale posisie in die tussenkulturele ontmoetingsruimte tussen verskillende rasse. Hulle betree die liminale gebied, verander en groei, maar die herintegrasie vind nie plaas nie. Hulle slaag nooit daarin om uit die liminale ruimte weer in ‘n gemeenskap opgeneem te word nie en hulle bly gevangenes in liminaliteit.

4.2
Wat egter ook raakgesien kan word in Eilande is dat die klein nedersetting op sigself ‘n liminale plek word en dat die eerste amptenare en matrose hulleself ook in ‘n liminale ruimte bevind. Vanuit die konsep van liminaliteit bekyk, wil dit voorkom asof kolonialisme op sigself ‘n reeks liminale prosesse aan die gang gesit het wat steeds voortduur.
In die koloniale periode van die Westerse geskiedenis is mense is vanaf ‘n moederland uitgestuur om na onbekende bestemmings te reis en daar bepaalde funksies te gaan verrig. So word Van Riebeek en sy 90 manne in 5 skepe na die Kaap gestuur om kos te voorsien aan verbygaande skepe. In die proses word die reëls en strukture van die land of plek van oorsprong en selfs van die gesaghebber (in hierdie geval die VOC) opgehef aangesien die gestuurdes in ‘n vreemde plek met ander omstandighede en reëls moet funksioneer.  Hulle bly wel verantwoordelik om aan die maghebbers te rapporteer, maar die senders het geen benul van die eise wat deur die nuwe omgewing gestel word en die omstandighede wat optrede en oorlewing daar bepaal nie. Enige kolonie is dus in hierdie opsig in die beginjare ‘n liminale plek omdat die mense buite die aanvaarde en bekende sosiale norme en gesagstrukture en beginsels van die bekende land van herkoms (moet) funksioneer in 'n situasie waarin alles vloeibaar en veranderlik en onvoorspelbaar is.
Die Here XVII was in die middel van die sewentiende eeu so magtig en ryk dat hulle inderwaarheid die Nederlande regeer het. In Eilande word dan ook inderdaad dikwels na die Here XVII verwys as die Here, asof hulle inderdaad met God gelykgestel word en in gelyke mate gehoorsaam moet word. Om dit te doen, moet die nedersetters egter improviseer en planne maak en in die proses verander hulle self ingrypend. Die rol van sterk magstrukture en die dryfkrag van mag en geld speel ook toenemend ‘n rol in die Suider-Afrikaanse geskiedenis, maar dit is ‘n ander onderwerp.
Uit die roman blyk ook dat die mense wat in die vroeë jare van die nedersetting aan die Kaap van Goeie Hoop aankom, nie verwag om lank daar te bly nie. Veral vir Van Riebeek is die Kaap net nog ‘n kommissie wat sy loopbaan in die koloniale hiërargie moet bevorder. Die matrose is in elk geval altyd op reis en die amptenare verwag om weer huis toe of minstens na Batavia te gaan. Dit geld ook by uitstek vir die verteller, die klerk De Grevenbroek, wat byna per ongeluk in die Kaap beland: hy word agtergelaat omdat hy goed kan skryf en so 'n persoon deur Van der Stel benodig word (p. 701). In 1657 vestig die eerste Vryburgers hulle in die kolonie en daarmee kom die eerste tekens dat sommige mense die plek as ‘n bestemming begin beskou. Dit beteken egter nogtans nie dat die reëls en waardes en stelsels van die moederland in die nedersetting kan geld nie. Elke enkele manier van doen en elke oordeel moet aangepas word voordat dit bruikbaar is in die nuwe omstandighede. Afgesien van eindelose voorbeelde uit die roman, kan hierdie stellings uit enige geskiedenisboek gestaaf word.
Nog belangriker is die uitwerking van die aankoms van die wyebroeke op die inheemse Koina. In Eilande stel die kapteins van die Koina meermale hulle standpunt aan Van Riebeek dat hy en sy mense moet weggaan, dat hulle moet teruggaan in die see omdat hulle nie daar hoort nie en omdat hulle alles verander het (p. 135). In een onderhandeling waar die Nederlanders nie wil toegee aan die eise van die Koina nie, eindig die samesprekinge as een kaptein sê: “Die Koina sterf vandag" (p.137). 
Die ontmoeting ontwrig beide groepe: die Koina se stabiele wêreld verander onherroeplik en die Nederlanders se prekêre aanpassings raak nog meer ingewikkeld. Albei groepe is dus in mindere of meerdere mate in ‘n tussenfase wat as liminaal beskryf kan word omdat hulle deur 'n periode van intense verandering en heraanpassing gaan. Beide hoop dat die verandering sal oorgaan, dat die groot andersmaak voltooi sal word en dat hulle met nuwe kennis en vaardighede 'n nuwe stabiele toekoms kan ingaan, maar dit gebeur nie. Die status quo (wat dit ookal mag wees) word nooit weer herwin nie, 'n nuwe stabiliteit realiseer nie en die status van die groepe word deur eksterne magte (onder meer die geld en dissipline van die verre Here XVII) bepaal.
In die verloop van die geskiedenis herhaal hierdie situasie homself in Suider-Afrika. Verskillende groepe moet mekaar ook telkens opnuut in tussenruimtes ontmoet om te onderhandel en so ‘n onderhandelingsruimte is spesifiek ‘n liminale ruimte. ‘n Mens sou dus kon redeneer dat liminaliteit ‘n onontkombare en selfs dominante aspek is van enige koloniale en van alle postkoloniale en multikulturele gemeenskappe.
Die soort liminaliteit waarom dit hier gaan, vloei daaruit voort dat mense uit verskillende kulturele groepe ‘n liminale ruimte, ‘n grensruimte, ‘n raakvlak of ‘n drumpel betree wanneer hulle mekaar ontmoet en met mekaar onderhandel. In die situasie word die reëls en waardes en strukture van beide gemeenskappe opgehef. Daar ontstaan ‘n oorgangsfase of ‘n fase van transformasie wat sowel tydelik as ruimtelik van aard is. Dit gaan dus om twee vorme van liminaliteit:
•    die groter liminale proses, naamlik die vertrek uit 'n bekende wêreld vir die Europeërs, 'n wêreld waarheen hulle nooit weer terugkeer nie, en die onherroepelike verandering in die werklikheid van die Koina vanaf die tyd wat die wyebroeke voet aan wal gesit het in die Kaap
•    en die kleiner liminale interaksies in onderhandelinge wat herhaaldelik onderneem moet word.
Wat egter vir my belangrik is, is dat die herinkorporasie, die herstel, die teruggaan na die gemeenskap met aanvaarde reëls en waardes en gebruike onherroepelik deur die situasie self geproblematiseer is. Dit wil voorkom asof herintegrasie nie kan plaasvind nie, waarskynlik omdat die stabiliteit nie bestaan nie, nooit werklik tot bestaan kon kom nie en ook deur die situasie self gedestabiliseer word. Daar is ‘n beweging in die liminale of tussenruimte in, maar dan vries die situasie en mense bly in ‘n raakvlak agter. Herintegrasie vind dus nooit werklik plaas nie, omdat daar geen sentrum, geen vaste en geldige waardesisteem is waarheen teruggekeer kan word nie. Selfs al sou ‘n mens redeneer dat alle gemeenskappe voortdurend verander, is daar in alle ontwikkelinge sowel elemente van kontinuïteit as van verandering, maar in die historiese periode waaroor dit hier gaan word die kontinuïteit vanweë die radikale aard van die verplasing en die onderliggende gewelddadigheid van die kontak tussen die groepe onnatuurlik min.
Dit sou bedink kon word dat in Suid-Afrika opeenvolgende reekse van liminale situasies ontstaan het en dat hierdie prosesse steeds voortduur. Dit kan wees dat almal wag dat dit moet verbygaan maar na 350 jaar het dit nog nie gebeur nie. In die naweë van kolonialisme word liminaliteit ‘n staat en nie tydelike en ruimtelike fase nie. Die Europeërs keer nie terug na hulle moederland nie (dit bestaan vir hulle tans nie meer as moeder- of vaderland nie) en vir die inheemse mense kom daar nooit weer ’n einde aan die ontwrigting van hulle bestaan nie. Om te kan onderhandel vir saambestaan moet elke groep voortdurend uit sy onstabiele omstandighede ‘n verdere liminale situasie betree, sodat die een uitstaande eienskap van die interaksie in koloniale en ook in postkoloniale omstandighede een van onstabiliteit en vloeibaarheid en meerduidigheid is. Of ‘n mens dit uiteindelik nog liminaliteit kan noem, sou ek nie wou beweer nie, maar dat die staat van onvastheid die permanente situasie word, lyk vir my tog waarskynlik.
Wat ook in ag geneem moet word in ‘n multikulturele land waar mense uit verskillende kulture mekaar voortdurend in verskillende liminale situasies ontmoet, is dat daar in al die verskillende ruimtes en tydperke van kontak voortdurend transformasies plaasvind. Die interaksie in die ontmoetingsruimte is verder so sterk dat die kulturele “oorde” waaruit vertrek word, onvermydelik beïnvloed en gedestabiliseer word. Die aanname dat daar na 'n "eie ruimte" teruggekeer word, word toenemend 'n fantasie of 'n droom want in werklikheid is daar uiteindelik geen sentrum van stabiele waardes en norme waarna teruggekeer kan word nie.
Die omvang van die implikasies van interkulturele ontmoeting en samewerking is dus waarskynlik groter as wat soms beweer word.

5

Afgesien van al die ander dinge wat oor die historiese roman Eilande gesê kan word, open die roman ook die oë vir die patrone wat in daardie vroeë jare van die nedersetting ontstaan het. Soos Krotoa en Pieternella tussenmense gebly het, is hulle nageslag vandag steeds in ‘n tussenposisie. Trouens, die bruin gemeenskap is tans opnuut in ‘n tussenposisie tussen swart en wit. Die proses het homself herhaal in latere ontmoetings tussen ander kulturele groepe.
Die argument word ook meer kompleks, want al sou 'n mens kon dink dat die prys van kolonialisme steeds betaal word in terme van kulturele groepe wat mekaar moet vind in ‘n ruimte wat juis deur die wedersydse invloede voortdurend gedestabiliseer word, is die problematiese interaksie tusssen kulturele en politieke groepe die een verskynsel wat die wêreldgeskiedenis van die begin af kenmerk. Mense migreer en beweeg, bevolkingsamestellings verander, nuwe bloed en gene is steeds nodig, nuwe gedagtes en idees is die voorvereiste vir groei en vernuwing. In die geskiedenis is daar hoogstens kort ruspunte voordat alles weer vloeibaar raak. Daar sou ook daaroor nagedink kon word of die verskillende politieke stelsels wat in Suid-Afrika voorgestel en ingevoer is en word, nie almal pogings was of is om stabiliteit te skep nie, om die droom van stabiliteit te probeer waar maak nie. Soos Braam de Vries dit stel in die eerste verhaal in sy bundel Tot verhaal kom, het ‘n mens "heimwee na elke droom van geborgenheid". Dit is egter ‘n ander verhaal.

Bibliografie:

Aguirre, Manuel, Quance, Roberta & Sutton, Philip. Margins and Thresholds. An Enquiry into the Concept of Liminality in Text Studies. Madrid: The Gateway Press, 2000.
Turner, Victor. The Ritual Process. London: Routledge & Kegan Paul, 1969.
Turner, Victor. Dramas, Fields and Metaphors. Symbolic Action in Human Society. Ithaca & London: Cornell University Press, 1974.
Turner, Victor. From Ritual to Theatre. New York City: Performing Arts Publication, 1982.
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=156
Artikel nagegaan:
    -