|
||||
Carel Boshoff Deur Carel Boshoff 1. RW Johnson se South Africa. The First Man, the Last Nation is seker vir liberale Suid-Afrikaners min of meer wat Hermann Giliomee se Die Afrikaners: ‘n Biografie vir Afrikaners is. Dit is naamlik ‘n deelnemende en kritiese antwoord op die eksistensiële vraag: Hoe het dit gekom dat dinge nou só is? Met ander woorde, beide outeurs het in die volste sin van die woord geskiedenis geskryf, elkeen met ‘n bepaalde beeld van hóé dinge nou is, dus met ‘n bepaalde ervaringswêreld in gedagte. Waar Giliomee uitdruklik by die Afrikaner aanknoop, knoop Johnson hom minder uitdruklik (afgesien van ‘n los biografiese verwysing), maar nie minder duidelik nie, aan by die Engelse liberale beeld van waartoe alles gekom het. Hierdie polemiese tipering moet, om die moeite werd te wees, nog regverdig en verder gevoer word, maar nie voordat verklaar word dat dit in die gees van demokratiese debatvoering en met die grootste waardering vir die teks plaasvind nie. Johnson se geskiedenis is nie net vir liberale en Engelse lesers van belang en lesenswaardig nie, maar vir elkeen wat met ons huidige magsorde slaags probeer raak - juis danksy die debatspunte wat dit oplewer. Maar eers iets meer oor die boek. 2. First Man, Last Nation is maklik leesbaar en hoogs interessant, joernalisties eerder as akademies. Dit beslaan minder as 250 bladsye, maar bied ‘n besonder wye beeld op die geskiedenis van wat betreklik onlangs eers Suid-Afrika geword het. Johnson begin by verskeie teorieë wat die oorsprong van die mensdom in Suidelike Afrika plaas, oor die vestiging van en kontak tussen die verskeie groepe heen wat hulle tans hier bevind, tot by die nuwe magsorde wat so min as ‘n dekade gelede tot stand gekom het en hoedat dit besig is om te ontplooi. Die tien hoofstukke dek (1) ontstaansteorieë van die mensdom wat Suidelike Afrika raak tot by Mapungubwe; (2) die migrasie en vestiging van Afrikataalsprekende gemeenskappe tot aan die einde van E18; (3) kontak tussen bestaande inwoners en Europese migrante tot met die Groot Trek; (4) die moeisame geboorte van politieke gemeenskappe onder Afrikane gedurende E18 maar veral E19; (5) die eeu van koloniale verowering (breedweg E19); (6) die aanloop tot en voltrekking van die unifikasie van Suid-Afrika in 1910; (7) Blanke oorheersing gedurende die eerste deel van E20; (8) die hoogtepunt van Blanke oorheersing na 1948; (9) die verval van die Blanke bedeling en oorwinning van die Struggle; en (10) ‘n kritiek op die ‘vrugte van bevryding’. Dat die skrywer hom nie tot die een of ander gemeenplasige verhaal van Suid-Afrika se ontstaan beperk nie, blyk duidelik uit opmerkings en toepassings wat gereeld in die teks verskyn en waarmee hy met eietydse en andertydse rolspelers dispute aanknoop. Sy behandeling van Jan Smuts se strewe na ‘n groot blanke staat, van Suid-Afrika tot en met Kenia - wat hy selfs ná die Tweede Wêreldoorlog nog gekoester het - of van die nostalgie waarmee eietydse liberale die UDM bejeën, onkundig oor of onwillig om die onverdraagsame momente wat ’n integrerende deel daarvan uitgemaak het, te verreken, is maar twee voorbeelde hiervan. Johnson gee inderdaad nie voor om op ‘n ideologievrye terrein te beweeg nie, en as daar enige twyfel hieroor bestaan het, het hy dit met sy voorwoord en nawoord volledig uit die weg geruim. Om die waarheid te sê, die voor- en nawoord gee aan die hele teks so ‘n duidelike politieke betekenis dat die boek in ‘n opwindende grensgebied tussen politiek, metapolitiek en geskiedenis geplaas moet word. Die laaste oorsigtelike opmerking het met die afwesigheid van voetnote te make. Dit is maar alte bekend hoe die gebruik van voetnote die populêre leserspubliek kan afskrik - alhoewel dit skynbaar nie die geval met Giliomee se Afrikaners is nie. Dit is egter duidelik dat ‘n werk wat van die prehistoriese tot die huidige era op ‘n maklike manier en op beperkte skaal in behandeling neem, uiters ekonomies met ruimte en woorde moet omgaan. Die gevolg is ongelukkig dat daar, veral by omstrede stellings oor die hedendaagse politiek, talle vraagtekens in die kantlyn verskyn - nie noodwendig omdat die skrywer se gesag betwyfel word nie, maar omdat die leser hom by verdere verwysing daarna eerder op ‘n primêre bron sou wou beroep. Die opdrag aan Suid-Afrika se waarnemers van die 2000-verkiesing in Zimbabwe om Mugabe se oorwinning te legitimeer, of die stelling dat Mbeki uit onenigheid met Mandela sy oproepe ‘n geruime tyd lank nie beantwoord het nie (albei op p.222) is toevallige voorbeelde hiervan. Dit bly egter ’n feit dat First Man, Last Nation uiters toeganklik is sonder om só oppervlakkig te wees dat dit verdere nadenke of debat belemmer. Tot sover dan ‘n oorsig oor die boek. 3. Johnson se skerp kante word, soos hierbo aangevoer, die duidelikste in sy voor- en nawoord sigbaar. Sonder geringskatting van sy poging om ‘n groot en samehangende Suid-Afrikaanse verhaal te vertel, is ek van mening dat hierdie meer persoonlike en uiters polemiese opmerkings besondere aandag verdien. Om die waarheid te sê, dit is juis hierdie selfopenbarende opmerkings wat te kenne gee in watter groot verhaal hy die gegewens tot sy beskikking wil inspan. (Daarmee word dan ook vir geen oomblik te kenne gegee dat die outeur "uitgevang" is of iets laat glip het wat hy eerder geheim sou wou hou nie. Inteendeel, die duidelike uitspel van sy verwysingspunte dra juis by tot die soort demokratiese debat wat by uitstek van welbedagte partydigheid afhanklik is - die politieke leerervaring waarvoor Christopher Lasch so ‘n voortreflike voorspraak gelewer het en wat die tegnokratiese geringskatting van gewone kiesers se ‘politieke intelligensie’ so op sy baadjie gee.) In die voorwoord onderskei Johnson tussen koloniale, nasionalistiese, liberale en Marxistiese geskiedskrywing in en oor Suid-Afrika, ‘n onderskeid en kritiek wat op verskillende maniere deur die hele teks aanwesig bly. Koloniale geskiedskrywing is eenvoudig agterhaal en almal weet dit. Nasionalistiese geskiedskrywing is ten diepste ‘n karikatuur van goeie geskiedskrywing omdat dit so duidelik in diens van ‘n ideologiese projek staan - ‘n soort kwasigeskiedsrywing, maar steeds gewild by nasionalistiese aktiviste. Self is Johnson ‘n voorstander van en vind aansluiting by liberale geskiedskrywing, maar dan by ‘n liberale avant-garde wat hom byvoorbeeld met risiko en opoffering teen Apartheid verset het. Marxistiese geskiedskrywing ly aan dieselfde probleem van ideologiese dienstigheid, maar beroep hom op ‘n groter en meer gerespekteerde tradisie as waarop enige besondere nasionalistiese geskiedenis, wat altyd partikulier is, hom kan beroep. Dit doen egter nie afbreuk aan die feit dat Marxistiese geskiedskrywing agterhaal is en nie in staat of gewillig is om met die teenstrydighede van die nuwe magsorde te spook nie. Bygesê: liberale en Marxistiese geskiedskrywing in Suid-Afrika was in die reël Engels en het aan Engelse universiteite plaasgevind, en (Afrikaner-)nasionalistiese geskiedskrywing weer in Afrikaans en aan Afrikaanse universiteite. Sy oordeel is dan ook dat Engelse/liberale geskiedskrywing teenoor Afrikaanse/nasionalistiese geskiedskrywing merendeels gedurende E20 die botoon gevoer het en dat, vir sover Afrikaanse historici dit ingehaal het en die besteding aan Afrikaanse universiteite vrugte afgewerp het, die individuele geskiedkundiges eintlik tot die liberalisme bekeer geraak het. Ek is nie in staat om te oordeel oor die mate waarin dit juis is nie, maar ek vra myself af in watter mate dit byvoorbeeld van Giliomee waar is. Hy was en is sekerlik nooit ‘n dienstige nasionalis nie, en sy werk spreek sekerlik van ‘n merkbare aangetrokkenheid tot liberale denkbeelde, maar kan hy resloos in die beskrywing van ‘liberale historikus’ gekategoriseer word? Ek wil die vraag nie oorbelaai nie, maar ek vra dit omdat daar vandag sprake van ‘n nuwe Afrikaner is, ‘n postnasionalistiese selfbevestiging onder Afrikaners wat nie in liberaal individualistiese voorkeure opgaan nie, maar by iets soos Giliomee se Afrikaners aansluiting soek. Sou Johnson die spore van ‘n nuwe kommunitariese of republikeinse rigting onder postnasionalistiese Afrikaners opgetel het? Kan dit al vir beoordeling aangebied word? Wanneer Johnson hom in sy voorwoord tot die lotgevalle van die African Studies Institute aan Wits en van die erkende geskiedkundige Charles van Onselen wend, daal ‘n diep neerslagtigheid insgelyks op skrywer en op leser neer. Die kulturele vandalisme wat hy beskryf, bring ’n mens onder die indruk dat die teks wat volg iets van ‘n wanhopige kreet verteenwoordig. In die nawoord lig Johnson dit ‘n bietjie verder toe wanneer hy aanvoer dat Suid-Afrika tien jaar ná die politieke oorgang van 1994 eenvoudig een nasionalistiese elite vir ‘n ander verruil het. Dié punt word deeglik voorberei deur sy behandeling van die hoogbloei van Blanke oorheersing, gevolg deur beskrywings van hoe beperk die bevryding in werklikheid is. 4. Uiteindelik is Johnson se groot narratief van Suid-Afrika een wat voor die einde ophou - soveel hoop koester hy darem nog. As hy neerslagtig voor die slegte dialektiek van opvolgende nasionalismes te staan kom, dan roep hy die tydoorspannende dimensie van sy verhaal op en relativeer die sorge van vandag. Dan bedien hy hom van twee aartsliberale kodes, naamlik "is die een ding wat ons almal wil hê tog nie maar . . ."dit of dat nie" - met die "dit of dat" sodanig ingevul dat die begerende subjekte altyd tot skone/blote individualiteit verhef/verskraal word. Die tweede kode is dan "to love this beloved country" en ‘n moontlike derde, maar dit is té gemeenplasig om uitmekaargehaal te word, naamlik dat die geliefde land se mense elke nuwe dag tegemoetgaan sonder spyt dat die son alweer opkom. Die afsluiting met frases wat as clichés beskryf kan word, laat die moderne Suid-Afrikaanse leser seker nie onaangeraak nie, en dit sou op ‘n diepe onbegrip vir die fyn gekonstrueerde argument van die hele teks neerkom om dit te probeer verkleineer. Dit is nie die doel van my verwysing daarna nie, my doel is eenvoudig om die versweë ideologiese uitgangspunte van die liberale perspektief waaruit hierdie werk so voortreflik geskryf is, aan die orde te stel. Dit is minstens tweeledig, naamlik eerstens die fundamentele individualiteit van mense - in hierdie geval Suid-Afrika se mense, en tweedens dat die hele (relevante) geskiedenis in die (nasionale) staat van Suid-Afrika, die geliefde land, kulmineer. As postnasionalistiese, gemeenskapsgebaseerde Afrikaner wat republikeinse denkbeelde koester, moet ek ‘n respekterende dog duidelike verskil van albei hierdie uitgangspunte aanteken. Om die waarheid te sê, ek neem die skrywer se eie argument ten opsigte van die Marxistiese geskiedskrywers se onvermoë of onwil om die voortgang van kapitalisme - in weerwil van die beëindiging van apartheid (wat volgens hulle ten diepste verknoop was) - te probeer ontrafel. Ek wil op soortgelyke wyse aanvoer dat die individualistiese liberalisme eenvoudig nie oor die kategorieë beskik om die verskynsel aan te vat dat (Afrikaner-) nasionalisme oorwin is net om (swart) nasionalisme te sien gedy nie. Net soos die liberale waarnemer tot sy ontsteltenis dieselfde verskynsels opnuut waarneem, net so is sy arsenaal van kritiek daarop tot dieselfde begrippe as voorheen beperk, en in soverre hy hom met dieselfde kritiek op dieselfde verskynsel tevrede stel, kom hy tot geen dieper of nuwe insig in die durende of herhalende aard daarvan nie. Wat nodig is om die terugkeer van nasionalisme in Suid-Afrika te verstaan, is ‘n uitgangspunt wat nie op die fundamentele individualiteit van mense berus en gevolglik tot ‘n blote oordeel oor "afwykende gedrag" aanleiding gee nie, maar ‘n verrekening van die veelkantige aard van mense se individuele en gemeenskaplike identiteite en dat mense hulle altyd alreeds in gemeenskap met ander bevind - selfs al omskryf daardie gemeenskap homself aan die hand van liberale denkbeelde. Wat nodig is, is ‘n diepgaande kritiek op die heersende liberale uitgangspunte en ‘n herbesinning oor die maniere waarop gemeenskappe hulleself kan laat geld sonder om in gefikseerde identiteitsdenke vas te draai, onderdrukkend te word of alle ander perspektiewe op die werklikheid uit te sluit. Daarby kry ’n mens die indruk dat die huidige vorm wat Suid-Afrika in die geografiese staatsbedeling aangeneem het vanuit ’n liberale perspektief as die hoogste en beste historiese prestasie beskou word. Die geliefde Suid-Afrika moet teen elke prys beskerm en behou word, en die mense wat dit bewoon, moet hulle daarna skik en daarby aanpas. Hier is dit opvallend dat die liberale voorkeur vir die geografiese Suid-Afrika van 1910 besonder baie gemeen het met die nasionalismes wat hy kritiseer. Al wat in werklikheid verskil, is die ideologiese selfdefinisie wat die Suid-Afrikaanse nasie verkieslik moet inspan. Dit moet eerder individualisties as etnies wees en dit moet eerder die soort "Engelse neutraliteit" aanhang, waarop hierdie ekspansionistiese voorkeur hom beroep, as die kulturele partydigheid wat met nasionalisme verbind word. Ten diepste lyk dit na die staatkundige toepassing van ‘n histories gestolde "bigger is better" benadering terwyl die appèl van "more is a bore" en "klein is bekoorlik" sistematies uitgeweer moet word. Maar is dit nog moontlik om lokalisme en gemeenskapsbemagtiging in die naam van die individu - en die nasiestaat as sy/haar beskermer - op ‘n syspoor te plaas? Na my mening mag dit moontlik wees, maar nie sonder om in dieselfde slaggate as die nasionalisme wat so heftig beveg word, te trap nie. Nasionalisme, Marxisme, liberalisme en kapitalisme (om maar die vier te noem) is deel van dieselfde moderniseringsprojek as wat die wêreld tot op (of dalk óór) die grens van 'n globale ramp - ekologies, ekonomies en kultureel - gevoer het. Die een is nie ’n meerdere of mindere monster as die ander nie, en omdat ons wêreld onomkeerbaar deur hulle alvier gevorm is, moet ons elkeen afsonderlik vierkantig in die oë kyk ter waardering van sowel sy waardevolle as vernietigende punte. Kommunisme/sosialisme en nasionalisme verdien eintlik juis 'n bietjie meer deernis omdat hulle eerste die onderspit gedelf het, terwyl liberalisme en kapitalisme se ondergang chronologies nog nie afgeloop het nie. En kan mens vandag 'n betekenisvolle bydrae tot die politieke diskoers van veral die ontwikkelende wêreld lewer sonder om 'n deeglike greep en kritiek op modernisering te hê? Ek dink nie so nie. |