|
||||
Albert Venter Deur Albert Venter, professor in politiek en regeerkunde, Universiteit van Johannesburg Inleiding Sedert Nelson Mandela as vry man uit die Victor Verster-gevangenis gestap het, en na die eerste demokratiese verkiesings in Suid-Afrika vra die regerende ANC nou onlangs dat die Verenigde Nasies (VN) hervorm moet word. In wese was die samestelling van die Veiligheidsraad die resultaat van ‘n ooreenkoms in 1945 tussen die VSA, Brittanje en die USSR. Frankryk en Sjina is om pragmatiese redes by die eliteklub van “superstaatlede” van die Veiligheidsraad ingesluit. State soos Sjina en die USSR is as permanente lede van die Veiligheidsraad toegelaat op grond van die beginsel van soewereiniteit en geen-inmenging in die interne sake van lidstate. Hul toelating het die objektiewe en strukturele omstandighede van die destydse internasionale stelsel weerspieël. Kriteria vir voortgesette lidmaatskap is nooit vasgestel nie. In 1970/71 is die Republiek van Sjina of Taiwan lidmaatskap van die Veiligheidsraad ontsê deur die diplomasie van Nixon en Kissinger. Die samestelling van die Veiligheidsraad word deur artikel 23 van die Handves van die VN bepaal. Die elite-vyf word eenvoudig in die imperatief in die Handves beskryf, en wel soos volg: Die vyf state “sal permanente lede van die Veiligheidsraad wees”. Die post-1994 standpunt van Suid-Afrika oor die samestelling van die Veiligheidsraad. Ten tyde van die skryf hiervan, Maart 2005, was die standpunt van die Suid-Afrikaanse regering dat “the United Nations can no longer pretend that the present composition of the Security Council is representative of all its members. … We believe that the time has arrived to take concrete steps to reform the Council, even if it means that we have to make hard decisions.” Die politieke meesternarratief van die ANC is binnelands immers “the people shall govern” en hierdie verhaal word nou ook na die buitelandse beleid uitgebrei. In ag geneem dat die Derde Wêreld in die Veiligheidsraad betekenisvol onderverteenwoordig is, geniet die optrede van die Veiligheidsraad dikwels nie legitimiteit in Derdewêreldlidstate nie. Die Suid-Afrikaanse regering deel tans ‘n gemeenskaplike standpunt met Afrika en die Beraad van Onverbonde Lande (BOL). Hierdie standpunt is in 1997 in Harare, Zimbabwe gestel en lui soos volg: • Die Veiligheidsraad moet uitgebrei word na 26 lede, • Vyf niepermanente lede moet aan Afrika toegeken word, • Vyf permanente setels moet bygevoeg word waarvan twee aan Afrika toegeken moet word, • Die twee permanente setels wat aan Afrika toegeken word, moet deur ‘n besluit van die Afrikastate onderling op ‘n rotasiegrondslag gevul word, • Die nuwe permanente lede moet oor dieselfde bevoegdhede en prerogatiewe as die bestaande vyf permanente lede beskik, • Die vetoreg moet progressief beperk en uiteindelik uitgefaseer word, en • ‘n Periodieke hersiening van die lidmaatskap van die Veiligheidsraad asook die struktuur en funksies daarvan is noodsaaklik. Kommentaar Die hoofargumente vir die hervorming en herstrukturering van die Veiligheidsraad kom myns insiens neer op ‘n kwasidemokratiese populisme en ‘n vorm van “internasionale konstitusionalisme”. Die gedagte dat die VN en by name die Veiligheidsraad gedemokratiseer en “meer verteenwoordigend” gemaak kan word, berus op ‘n gebrekkige interpretasie van die teorie van verteenwoordiging. Die VN kan ten beste verstaan word as ‘n internasionale instelling wat uit die pragmatiese oorwegings en behoeftes van die onmiddellik post-Tweede Wêreldoorlogse internasionale omgewing gestig is - die vermyding van nog ‘n wêreldoorlog teen elke prys. En die institusionele rangskikking daarvan weerspieël daardie werklikheid. Die samestelling van die Veiligheidsraad in 1945 het die magsbalans (balance of forces) tussen die groot twee (VSA en USSR) enersyds en die drie mindere geallieerdes, Brittanje, Sjina en Frankryk andersyds, weerspieël. Slegs ‘n dramatiese verskuiwing in die internasionale magsbalans kan die samestelling van die Veiligheidsraad met betrekking tot die permanente lidmaatskap bewerkstellig. My kommentaar oor die standpunt van Suid-Afrika, dié van Afrika en die BOL met betrekking tot die hervorming van die Veiligheidsraad is eenvoudig: dit is ‘n wonderlike gebaar en ‘n duidelik demokraties-konstitusionalistiese voorstel. Die Veiligheidsraad sal slegs hervorm en herstruktureer word as internasionale strukturele omstandighede dit vereis. Veronderstel dat die Indiese ekonomie die volgende 10 jaar aanhou groei en uitbrei soos wat dit die afgelope dekade onder die Baratija Janata Party regering van Premier Vajpayee gedoen het. Veronderstel ook dat Indië sowel sy vloot as sy kernarsenaal aansienlik uitbrei. Onder sulke omstandighede is dit goed moontlik dat Indië se kandidatuur vir die Veiligheidsraad dit as’t ware self sal aanmeld. ‘n Indië met ‘n bevolking van ongeveer 1, 2 miljard mense, ‘n steeds groeiende ekonomie asook ‘n kernarsenaal, en daarbenewens ‘n klaarblyklike geopolitieke uitdager vir die Sjinese Volksrepubliek sal teen 2014 moeilik uit die Veiligheidsraad gehou kan word. Die elite-vyf sal eintlik geen ander keuse hê as om Indië uit te nooi om ‘n sesde permanente lid van die Veiligheidsraad te word nie. In hierdie scenario sal twee ander kandidate, naamlik Duitsland en Japan, ook elitelede kan word in ‘n pakkettransaksie wanneer Indië na die elitetafel genooi word. As toegewing aan Afrika en Latyns-Amerika kan hulle twee roterende permanente setels aangebied word, aangesien dit in die Algemene Vergadering die stemme sal koop om die Handves te wysig om nuwe lede tot die heilige der heilige van die Veiligheidsraad toe te laat. Die standpunte van die Suid-Afrikaanse regering en haar BOL- en AU-bondgenote is ongelooflik idealisties, indien nie onrealisties nie. Daar is geen aansporing vir die elite-vyf om van hulle vetoreg afstand te doen nie. Afrika, selfs as kollektiwiteit, kan teenswoordig nie bekostig om die verantwoordelikheid te befonds wat twee permanente en vyf roterende setels op die Veiligheidsraad sal verg nie. Daar is ook geen dwingende rede waarom die ryk, welvarende “donateurstate” van die Noorde die Afrika-Unie-state sal befonds of ondersteun ten einde hulle te “bemagtig” om hierdie verantwoordelikhede te aanvaar nie. Die AU kan tans nie eens sy eie Afrika-reaksiemag bekostig om vrede op die vasteland te handhaaf nie. Die ryk Weste (VSA, Brittanje, Frankryk en die Europese Unie) dra meestal die onkoste en verskaf ook nog die troepe om onruskolle soos Sierra Leone, Rwanda, die DRK, die Ivoorkus, Eritrea en ander te pasifiseer. Die VN word gedomineer deur ‘n klub van ryk en magtige state. Hierdie state neig om hulle eie nasionale belange te bevorder en sal slegs toegee indien ‘n oorweldigend magtige staat sy wil op hulle afdwing. Maar selfs dit waarborg nie altyd sukses nie, soos wat die Bush-administrasie uitgevind het in Maart 2003 toe die Veiligheidsraad nie sy resolusie wou steun vir ‘n oorlog teen Saddam-Irak nie. Sal meer permanente lede die werking van die Veiligheidsraad verbeter? Die toelating van drie of vyf bykomende lede met vetoreg kan die werking van die Veiligheidsraad vertraag en selfs dooiepunte veroorsaak. Die nuwe permanente lede sal ‘n prys vir hulle deelname en groot finansiële bydrae eis. Sou hulle bereid wees om die rekenings te betaal vir VN-vredesoperasies waarmee hulle nie saamstem nie? Vergroting mag dalk die doeltreffendheid van die Veiligheidsraad belemmer. Daarbenewens het die permanente lede onder die huidige omstandighede min aansporing om hulle mag te verwater. Meer nog, wie gaan die permanente setels vul wat in die Afrika-oproepe geëis word? Nigerië, korrup en intern dikwels verdeeld en geneig tot etniese spanning? Egipte, arm, korrup, outoritêr en eintlik meer Midde-Oosters as “van Afrika”? Suid-Afrika is waarskynlik die enigste staat wat ‘n permanente setel sou kon vul, maar dit sou teen hoë en waarskynlik onbekostigbare staatsuitgawes moet geskied. Heelparty Afrikastate sou boonop wantrouig staan teenoor Suid-Afrikaanse elitestatus in die Veiligheidsraad. Ter samevatting: terwyl ‘n mens waardering het vir die morele sentimente van die Suid-Afrikaanse regering en sy BOL- en AU-bondgenote, naamlik dat die Veiligheidsraad meer verteenwoordigend behoort te wees van die geografiese en demografiese profiel van die VN in sy geheel, is dit onwaarskynlik dat dit sal gebeur. Hervorming van die Veiligheidsraad sal slegs plaasvind indien strukturele en objektiewe omstandighede sodanig verander dat die teenswoordige magsbalans omvergewerp of drasties verander word. |