blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die FAK-spitsberaad oor Afrikaanse onderwys, Pretoria, 25/2/2005: Die Afrikaanse Onderwys: 'n Konsepplan van Aksie 2005-03-03
Voorgehou deur Johann Rossouw, navorsings- en kommunikasiebeampte, FAK

1. Die doel van die plan:

Hoe ooglopend dit ook al mag wees, word die doel van die plan tog uitgespel, naamlik om die toekoms van die Afrikaanse onderwys te verseker. Dit is ‘n doelwit wat sowel verbluffend eenvoudig as uiters uitdagend is, maar hierdie plan kan slegs slaag as die vertrekpunte daarvan deur alle deelnemers daaraan gedeel word.

2. Die vertrekpunte van die plan:

Die eerste en miskien belangrikste vertrekpunt van die plan is dat die onderwys van Afrikaanse kinders (en natuurlik van alle kinders in Suid-Afrika) nie in die eerste plek as bloot ‘n staatsaangeleentheid beskou word nie, maar minstens as sowel ‘n gemeenskaps- as ‘n staatsaangeleentheid. Hierdie vertrekpunt is om twee redes belangrik. Ten eerste was die Afrikaanse wêreld en veral Afrikaners gedurende die apartheidsjare danksy ‘n gunstige staatsomgewing gewoond daaraan om geen onderskeid tussen gemeenskapsbelange en staatsbelange te maak nie. Afrikaners as gemeenskap het letterlik hulle belange aan die staat oorgedra, en so was dit ook die geval met die onderwys. Die tweede rede waarom onderwys ook as gemeenskapsaangeleentheid beskou word, is natuurlik omdat die Afrikaanse wêreld in die breë en Afrikaners in die besonder sedert 1994 toenemend te make het met ‘n staat wat ten minste onbegrypend en ten meeste vyandig handel met gemeenskapsaansprake op onderwys. Omdat veral Afrikaners egter nog tot heel onlangs in die ou modus gehandel het, waarvolgens staats- en gemeenskapsbelange saamval, was hulle gevolglik nie konseptueel in staat om ‘n ander soort praktyk met betrekking tot die onderwys te vestig nie. Teen die agtergrond van verskillende vorme van druk ten gunste van verengelsing verloor Afrikaanse onderwysinstellings al hoe meer veld juis omdat veral Afrikaners optree asof hulle nog in die ou modus is. Die volgende simptome van dié uitgediende handelingsmodus kan aangestip word: instellings wat in isolasie met die staat handel, in plaas van om saam te werk; en ‘n neiging om verskillende probleemareas soos die regte van onderwysers, beheerliggame of kinders telkens as aparte aangeleenthede met verskillende administratiewe benaderings te probeer hanteer. Die gevolge hiervan is dat al hierdie instellings eintlik geweldig uitgelewer is aan ‘n staatsmasjinerie wat met groot hulpbronne en ‘n samehangende strategie optree. Die enigste manier om hierdie staatstrategie suksesvol te hanteer, is deur as ‘n gemeenskap hande te vat om die toekoms van ons onderwysinstellings te verseker. Dit beteken ook dat as enige aspek van die Afrikaanse onderwys vanaf onderwysersopleiding en –salarisse tot beskikbare onderwysinstellings tot die magte van beheerliggame of wat ook al ter sprake kom, dit onmiddellik die Afrikaanse onderwys as sodanig raak, en dit dus as deel van ‘n breër aksie hanteer moet word.

Die tweede en reeds geïmpliseerde vertrekpunt van die plan is dat dit hier daaroor gaan om rondom die onderwys ‘n selfstandige praktyk te vestig. Talle gebeure die afgelope jare rondom Afrikaanse kleuterskole, skole, universiteite, onderwysersopleiding, beheerliggame en wat nog maak dit baie duidelik dat as die Afrikaanse wêreld nie self vir sy onderwys gaan sorg nie, niemand anders dit vir ons gaan doen nie. Ideaalgesproke sal so ‘n selfstandigheid kan geskied in samewerking met die staat, maar ons moet ook die moontlikheid in gedagte hou dat dit sonder die staat mag wees.

Die derde vertrekpunt vloei voort uit die tweede naamlik dat die plan wat hier voorgestel word ‘n gefaseerde benadering is, waar voorsiening gemaak word vir Afrikaanse onderwys binne die staatshuishouding, maar ook daarbuite, indien nodig. Onderwys binne die staatshuishouding word as ideaal gesien, maar as dit mettertyd ‘n onhaalbare ideaal blyk te wees, sal ons gereed moet wees om tot ‘n tweede fase, naamlik onderwys buite die staatshuishouding oor te gaan.

Die vierde vertrekpunt is dat die sukses van hierdie plan sal afhang van die mate waartoe dit in die eerste plek as ‘n suksesvolle openbare aksie vanuit die Afrikaanse burgerlike samelewing gevoer word. Dit impliseer onmiddellik dat die heil van Afrikaanse onderwysinstellings nie in die eerste plek aan politieke partye toevertrou kan word nie, hoewel politieke partye op hulle terrein hopelik bondgenote in die plan kan wees. Eweneens impliseer dit baie duidelik dat die heil van Afrikaanse onderwysinstellings ook nie langer aan ‘n vae en ongelukkig dikwels naïewe hoop op een of ander stilswyende skakeling weg van die openbare oog af met die regering gevestig kan word nie. So ‘n benadering het miskien in die vorige modus van ‘n gunstige staatsomgewing gewerk, maar in die huidige staatsomgewing is dit om minstens twee redes nie haalbaar nie, naamlik, eerstens, omdat dit die intelligensie van die huidige regering noodlottig onderskat, so asof die huidige regering bloot ‘n mooi verduideliking oor die belang van Afrikaanse onderwys benodig en alles daarna maanskyn en rosegeur sal wees; en, tweedens, misken dit ‘n grondliggende wet van die politiek, naamlik dat ‘n mens slegs na jou teenstander hoef te luister as hy respek by jou afdwing – ‘n stilswyende benadering is juis ‘n uitstekende manier om ons kragte te verstrooi en ons in ‘n verdere posisie van chroniese onmag teenoor die regering te plaas, ‘n regering wat op die koop toe ‘n uiters gunstige magsbalans geniet en dienooreenkomstig al hoe meer sentralisties handel.

‘n Vyfde vertrekpunt is dat ons in hierdie plan glad nie met ‘n nuwe probleem in die Suid-Afrikaanse geskiedenis besig is nie. Die spanning tussen die staat en die gemeenskap rondom die onderwys strek minstens terug tot die Britse bewindsoorname van die Kaap in 1806 en Lord Charles Somerset se verengelsingsbeleid, waarop die Afrikaanse wêreld via die NG Kerk die eerste geantwoord het met die stigting van kerkskole, waarvan daar in 1860 minder as ‘n honderd was, en teen 1900 meer as 900. Die tradisie van inheemse gemeenskapskole van gehalte in Suid-Afrika is onvoorstelbaar sonder hierdie vroeë historiese Afrikaanse voorbeeld, en niks anders nie as die aard van die Suid-Afrikaanse demokrasie is hiermee op die spel, naamlik of ons ‘n sentralistiese staatsgedrewe nasie is, of ‘n nasie van gemeenskappe, waar staat en gemeenskap vennote eerder as vyande is. As ons mislik om Afrikaanse onderwysinstellings te bestendig, is daar geen twyfel nie dat die sentralistiese benadering ten koste van ons jong demokrasie sal seëvier, om nie eens te praat van die miljarde rande wat steeds op ‘n ondoeltreffende, moedertaalonvriendelike onderwysstelsel verspil sal word nie.

‘n Sesde vertrekpunt, wat eintlik baie kort, eenvoudig en ooglopend is, is dat ons nie in hierdie plan met enige vorm van rassistiese agenda of optrede besig is nie, maar gewoon met die verwesenliking van ‘n reg wat deur die Grondwet aan alle Suid-Afrikaners toegeken word, maar wat in werklikheid nie deur die staat tot uitvoer gebring word nie, naamlik die reg op moedertaalonderrig. Dit is belangrik om te alle tye in gedagte te hou dat ons dus nie hiermee die Grondwet ondermyn nie, maar dit juis in beskerming neem.

‘n Sewende en laaste, dog baie belangrike, vertrekpunt wat vir hierdie plan geld, is dat dit slegs as versinnebeelding van kollektiewe intelligensie en handeling kan slaag. Anders gestel is dit wat u vandag hier hoor ‘n poging om die groot hoeveelheid uitstekende werk wat die afgelope jare deur verskillende rolspelers in die taksering van die krisis van die Afrikaanse onderwys gedoen is, in hierdie plan op te neem. Verder kan die plan ook net slaag as alle belanghebbendes voel dat hulle mede-eienaars van die plan is. Om sodanige persepsie van meet af neer te lê, is dit eenvoudig onontbeerlik dat hierdie vergadering vandag ten minste ‘n werkskonsensus oor hierdie plan bereik, of dan daarna streef om dit so gou moontlik te bereik. Ons wat vandag hier bymekaar is, verteenwoordig inderdaad die kern van die rolspelers wie se samewerking en vennootskap eenvoudig onontbeerlik vir die sukses van die plan is, en hopelik sal die debat wat ons vandag oor die plan voer ons help om nader aan hierdie doelwit te kom.

3. Die plan:

Ten einde ‘n geslaagde aksie te voer, is die volgende elemente noodsaaklik, naamlik: inligting; kommunikasie; doeltreffende openbare en regsoptrede; en geld. Die wagwoord vir elkeen van hierdie elemente is die skepping en ontplooiing van ‘n netwerk soos wat dit nodig mag wees. Vervolgens gee ek aandag aan elkeen van hierdie elemente:

3.1 Inligting:

Die volgende inligting moet ingesamel en op deurlopende basis bygewerk word:
- presies hoeveel Afrikaanse kleuterskole, laer- en hoërskole, en hoëronderwysinstellings is daar?
- wat is die werklike onderwys- en opleidingsbehoeftes van die Afrikaanse wêreld, en kom die beskikbare aanbod van instellings met die heersende vraag ooreen?
- watter Afrikaanse onderwysinstellings word met verengelsing of ander vorme van vernietiging bedreig, en wat kan gedoen word om hulle te beveilig? Wat hier ook baie belangrik is, is die oprigting van ‘n soort vroeë waarskuwingstelsel waar veral Afrikaanse skole wat deur sluiting of verengelsing bedreig word, geïdentifiseer en gehelp kan word met die nodige onderhandelings- en regsbystand. Dit beteken dat ‘n span gesoute onderhandelaars en regslui na krisissituasies ontplooi kan word.
- word daar genoeg gedoen om Afrikaanse onderwysers op alle vlakke van die onderwys op te lei, en wat is nodig om dit te verseker?
- wat presies is die regsposisie van die verskillende Afrikaanse onderwysinstellings, en in watter mate kan die reg van hulp wees om hulle te beveilig?
- wat is die stand van vakke wat ook met die oordrag van tradisie en gemeenskap te make het, soos geskiedenis, tale en religie, en watter stappe kan geneem word om hierdie vakke so in te rig dat ‘n demokratiese Afrikaanse gemeenskapsidentiteit gevestig en uitgebou kan word? Hier sal veral Afrikaanse vakkundiges se insette baie belangrik wees.
- watter soort model kan ontwikkel word ten einde Afrikaanse onderwys op bepaalde plekke te bestendig binne ‘n spektrum van instellings wat wissel vanaf staatsinstellings, semi-staatsinstellings, gemeenskaps- en of privaatskole, en tuisonderrig? Die ideaal is dat plaaslike Afrikaanse gemeenskappe as’t ware ‘n pakket toerusting kan ontvang wat hulle in staat stel om uit die beskikbare alternatiewe aan die hand van plaaslike omstandighede die mees geskikte institusionele pad vir hul kinders te kies.

3.2 Kommunikasie:

- Al die rolspelers in die Afrikaanse onderwys moet deelgemaak word van ‘n kommunikasienetwerk waar probleme, oplossings en die aktiwiteite rondom hierdie plan van aksie op ‘n deurlopende basis gekommunikeer kan word. Alle Afrikaanse kleuterskole, skole, hoëronderwysinstellings, vakbonde, ouergemeenskappe, hoofde van instellings en wie nog sal in so ‘n kommunikasienetwerk betrek moet word
- Die doen en late rondom die plan van aksie sal ook met ‘n doeltreffende mediastrategie nasionaal en internasionaal gekommunikeer moet word. Hier gaan dit om ‘n alternatiewe publikasie soos Die Vrye Afrikaan, maar ook oor ‘n nuusbrief, asook die hoofstroom- en gemeenskapsmedia.
- Die kommunikasie van die doen en late rondom die plan kan amper nie genoeg beklemtoon word nie, omdat dit ‘n noodsaaklike meganisme is om energie vir die plan op te wek, asook om suksesse rondom die plan te demonstreer. Sonder sodanige demonstrasies van sukses sal dit baie moeilik wees om die breër gemeenskap weer in hulself te laat glo en te laat handel in hul eie belang.
- Afrikaanse ouers besef waarskynlik te oordeel aan die navorsing van Giliomee, Heese en Schlemmer nog nie naastenby die omvang van die krisis nie, en dit sal baie deeglik op ‘n voortdurende basis gekommunikeer moet word.

3.3 Doeltreffende openbare en regsoptrede:
 
- Sodanige aksie sal op sowel die plaaslike as die nasionale vlak gevoer moet word, met regsoptrede wat altyd eers as laaste uitweg op openbare optrede volg. Die nasionale vlak is belangrik, aangesien gegewe die sentralistiese staatsbestel in Suid-Afrika, dit nodig is om sover moontlik op nasionale vlak ‘n breë akkoord met die staat oor die toekoms van Afrikaanse onderwys te bereik. Die plaaslike vlak is eweneens belangrik, omdat dit nie net is waar ons mense regstreeks geraak word nie, maar ook omdat dit ongetwyfeld die vlak is waarop die krisis tans die akuutste manifesteer. Regsoptrede volg altyd op openbare optrede, aangesien, eerstens, die regsorde in die land baie dikwels die heersende openbare magsbalans weerspieël; tweedens regsoptrede normaalweg baie tydrowend en duur is, en ‘n mens dikwels die gevangene van plaaslike sake hou in die afwesigheid van ‘n nasionale oplossing; en derdens mislukte regsoptrede dikwels die posisie van ‘n gemeenskap teenoor die staat erg verswak.
- Wat die voorgestelde tweefasebenadering, naamlik Afrikaanse onderwys binne of buite die staatshuishouding, betref, is dit belangrik om hier in gedagte te hou dat die Laerskool Mikrosaak voor die Grondwetlike Hof absoluut van deurslaggewende belang kan wees. Waarskynlik sal die Grondwetlike Hof moet besluit op watter van twee regte die swaarste weeg, naamlik die reg op moedertaalonderrig en die reg op toegang tot onderwys. Indien die toegangsreg as belangriker bevind word, is dit hoogs onwaarskynlik dat Afrikaanse onderwysinstellings veel van ‘n regsvoet sal hê om op te staan, en dan sal regstreekse gemeenskapsoptrede baie gouer moet geskied om dié instellings se toekoms te verseker, wat in feite die Afrikaanse wêreld baie gou buite die staatshuishouding ten opsigte van onderwys kan neem.
- Nog ‘n regskwessie wat voorop staan, is die konsepwetgewing wat daarop gerig is om die magte van beheerliggame in te kort, wat moontlik ook implikasies vir die reg van ‘n beheerliggaam om ‘n skool se taalbeleid te bepaal, kan hê.
- Daar moet so gou moontlik ‘n span bekwame onderhandelaars in gesprek met die regering tree om te beding vir die bestendiging van Afrikaanse onderwysinstellings. Hoewel so ‘n stap wesenlik belangrik is, kan dit egter nie oorhaastig geneem word nie, omdat twee voorwaardes ideaalgesproke eers nagekom moet word. Ten eerste moet ‘n duidelike prentjie oor die presiese stand van Afrikaanse onderwysinstellings eers verkry word, en ten tweede moet die kwessie van ‘n duidelike onderhandelingsmandaat met die breër Afrikaanse wêreld uitgeklaar word. Met die uitklaring van so ‘n mandaat, moet gewaak word teen twee uiterstes. Aan die eenkant kan die legitimiteit van hierdie plan en die burgerlike rolspelers wat dit uitvoer nie opnuut in die gesprek geplaas word nie, maar aan die anderkant sal dit baie help as duidelike openbare steun wel vir die plan gedemonstreer kan word. Sulke steun kan gedemonstreer word deur die hou van drie groot onderwysstreekskongresse in Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad waar hierdie plan na die breë gemeenskap geneem word vir kommunikasie en insette. Nog ‘n manier is by wyse van geldinsamelingsveldtigte, waarna hieronder teruggekeer word.
- Die oogmerk van die onderhandelinge moet wees om ‘n duidelike skikking te behaal, wat selfs by wyse van wetgewing vasgelê kan word. Indien so ‘n skikking nie behaal word nie, moet dit doeltreffend ontgin word om steun vir Afrikaanse onderwys buite die staatshuishouding te monster.
- ‘n Span regslui wat die onderhandelaars op plaaslike sowel as nasionale vlak kan bystaan, moet so gou moontlik op die been gebring word.
- In die onderhandelinge rondom veral Afrikaanse skole, moet doeltreffende argumente ontwikkel word. Dit sluit in dat die feit dat minstens die helfte van Afrikaanse moedertaalskole oorwegend wit sal wees as sodanig nie ‘n diskwalifikasie is nie, net so min as die feit dat meer swartmense as witmense by misdaad betrokke is eerder met demografie as met een of ander inherente misdadigheid te make het. Dit word al hoe duideliker dat veral in die Oos- en Noord-Kaap daar ook groot bruin sentiment rondom skole bestaan, en hierdie sentiment moet deeglik gemonster word, nie net om die aanklag van ‘n wit agenda van alle waarheid te ontbloot nie, maar ook as geleentheid om die ou wit en bruin verdeling te takel. Nog argumente sluit in dat die gebrek aan bewussyn oor moedertaalonderrig by ander inheemse tale nie ‘n diskwalifikasie vir ons eis is nie, maar eerder ‘n aansporing; dat om een groep toegang tot die skoolstelsel te gee deur ‘n ander groep se bestaande toegang via verengelsing op te hef, teenproduktief is; en dat dit in feite by skole slegs om 3% van die totale aantal skole in die land gaan.

3.4 Geld:

- U sal merk dat die kwessie van geld heel laaste geplaas word, nie omdat dit nie belangrik is nie, maar omdat ons werk met die veronderstelling dat genoeg geld vir hierdie plan sal volg op eerste suksesse in die uitvoering van die plan, in plaas daarvan om eers geld te gaan soek en dan die plan in werking te stel. Uiteraard impliseer dit dat die plan in kleiner elemente opgebreek kan word, en goedkoper elemente eerste in werking gestel kan word.
- Minstens vier bronne vir geld is beskikbaar, naamlik bestaande organisasies, die breë Afrikaanse wêreld, buitelandse skenkers en Afrikaanse sakelui. Hierdie vier bronne is geplaas in volgorde van moontlike ontginning. Bestaande organisasies kom eerste, aangesien as hulle almal inkoop op hierdie plan, hulle dalk bestaande hulpbronne op gekoördineerde wyse beter kan aanwend. Die breë Afrikaanse wêreld kom tweede, vanweë die duidelike sentiment wat op voetsoolvlak aan die opbou is, en wat eintlik vra om nou gemobiliseer te word. As ‘n deeglike inligtings- en kommunikasienetwerk met die hulp van die bestaande organisies op die been gebring kan word, kan dit die platform skep vir baie doeltreffende geldinsamelingsaksies onder mense op voetsoolvlak. Buitelandse skenkers kom derde, omdat hulle moontlik simpatiek mag staan teenoor ‘n plaaslike gemeenskapsbeweging rondom onderwys as ‘n demokratiese projek. Plaaslike Afrikaanse sakelui kom laaste, aangesien ervaring getoon het dat hulle oor die algemeen vir redes soos ‘n moeilike staatsomgewing, die vrees vir assosiasie met openbare optrede en ander sake nie sommer geld gee nie. Aan die anderkant is dit glad nie uitgesluit nie dat die suksesvolle mobilisasie van fondse uit die bestaande organisasies en die breër Afrikaanse wêreld dalk net die druk kan genereer wat meer Afrikaanse sakelui laat betrokke raak. Hier is egter ‘n belangrike kwalifikasie, naamlik die klein- en middelslagsakelui in Afrikaans wat moontlik weens groter gemeenskapsgeworteldheid as die groter ondernemings meer geneig sal wees om in ‘n vroeë stadium betrokke te raak. Met ander woorde, daardie sakelui wie se mark meer regstreeks geraak word deur hierdie aksieplan sal dalk moeiliker kan nee sê as daardie wat nasionale of selfs internasionale markte buite die tradisionele gemeenskapsmark bedien.

Om saam te vat, word die plan in die volgende 6 konkrete stappe opgesom:

1.    Kry alle bestaande Afrikaanse onderwysinstellings op ‘n geïntegreerde databasis en stel ‘n lys van vrywillige kundiges wat bereid is om vanuit hierdie instellings mee te werk aan die plan saam. Dit gaan hier om ‘n netwerk van mense wat landswyd in hul verskillende instellings die plan kan help uitvoer.
2.    Stel ‘n duidelike profiel van die uitdagings, moontlikhede en bedreigings van die Afrikaanse onderwys met die medewerking van hierdie instellings saam
3.    Stuur ‘n gereelde nuusbrief oor die Afrikaanse onderwyssituasie aan die netwerk van Afrikaanse onderwysinstellings.
4.    Ontwikkel ‘n model van verskillende instellings van moedertaalonderrig, wat gerig is op volhoubare moedertaalonderrig in lewensvatbare instellings. Hier moet veral die kwessie van moontlike gemeenskapskole dringend aandag kry.
5.    Hou openbare vergaderings met alle belanghebbendes by die Afrikaanse onderwys rondom hierdie plan in Pretoria, Bloemfontein, Port Elizabeth en Kaapstad.
6.    Loods ‘n fondsinsamelingsaksie rondom veral Afrikaanse organisasies en mense op voetsoolvlak.


4. Die pad vorentoe:
 
As ‘n eerste prys, maar vanselfsprekend onderhawig aan die debat wat vanoggend hier gevoer sal word, word hierdie plan vandag in breë trekke aanvaar. Verder word uit hierdie vergadering ‘n werkkomitee aangewys wat in samewerking met die bestuur van die FAK die plan in werking begin stel. Sodanige werkkomitee moet bestaan uit mense wat sowel openbaar vaardig as tegnies en vakkundig vaardig is. Met ander woorde, met die werkkomitee word gepoog om die openbare, die tegniese en die vakkundige kante van die Afrikaanse onderwyskwessie byeen te bring omdat hierdie kwessie dikwels bloot as net ‘n tegniese, net ‘n openbare of net ‘n vakkundige aangeleentheid hanteer is. So werk ons nie integrasie nie, maar disintegrasie in die hand. Wat die openbare kant betref, gaan dit om mense wat hulself in die openbare lewe vanuit die burgerlike samelewing as bekwame pleitbesorgers vir die Afrikaanse wêreld bewys het. Wat die tegniese en vakkundige kant betref, gaan dit om mense wat onderwys- en sillabuskundig is, maar ook finansieel, regs- en vakbondkundig. Hierdie mense sal kom uit die onderwyssektor self en uit die burgerlike samelewing, lede en verteenwoordigers van bestaande rolspelers in die onderwys en die burgerlike samelewing, asook bekwame individue wat ‘n bydrae kan maak.

Indien konsensus egter nie vandag hier bereik word nie, word ‘n verdere gesprek so gou moontlik belê om die onderhandelinge hieroor voort te sit, tot tyd en wyl ‘n konsensus bereik is, en met die plan voortgegaan kan word.
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=151
Artikel nagegaan:
    -