blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die FAK-spitsberaad oor Afrikaanse onderwys, Pretoria, 25/2/2005: Enkele voorwaardes vir ‘n geloofwaardige antwoord op die onderwysvraagstuk 2005-03-03
Danie Goosen

Deur prof. Danie Goosen, Voorsitter, FAK

Ons begin met enkele algemene opmerkings. Daarna verwys ons na wat beskou kan word as die voorwaardes vir ‘n geloofwaardige antwoord op die onderwysvraagstuk. Ons sluit met enkele verwysings na die strategiese situasie vandag.

A. Inleiding

Dit is ‘n vanselfsprekende ding om te sê dat die politieke situasie waarbinne die Afrikaanse onderwys homself tans bevind, die afgelope jare dramaties verander het. En dit is ‘n ewe vanselfsprekende ding om te sê dat die Afrikaanse burgerlike wêreld binne hierdie veranderde politieke konteks ‘n veel groter rol as in die verlede sal moet speel. Dit is egter nie so vanselfsprekend dat die Afrikaanse wêreld hierdie gegewe reeds bewustelik sy eie gemaak het nie. Alhoewel sommige van ons miskien nog so mag dink, is die dae verby dat die Afrikaanse burgerlike wêreld direkte inspraak in die sentrum van mag het. ‘n Telefoonoproep vanuit die Afrikaanse wêreld na die minister of welwillendheidsbesoeke aan die president het, buiten die meriete wat sodanige besoeke vandag mag hê, nie noodwendig meer dieselfde invloed op die praktiese realiteite as vroeër nie. Daarom, as ons nog inspraak in die dinge wat ons raak wil verwerf, sal ons hierdie feit deeglik moet verreken. Ons sal voortaan effektief van onder af moet handel, vanuit die burgerlike wêreld. En ons sal dit met verantwoordelikheid, met hoë intensiteit en met demokratiese ywer moet doen.

Anders geformuleer: Een van die onuitgesproke vooronderstellings in die grondwetlike ooreenkoms van 1996 is dat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap(pe) voortaan vir hulself en hul instellings sal moet intree. Daar is nie meer soos in die verlede ‘n staat wat homself per definisie lotsgebonde aan ons instellings ervaar nie. Dit is ook en veral waar van ons onderwys-instellings. As ons daarom ook ‘n konstruktiewe invloed op ons onderwys-instellings wil uitoefen, sal ons uit die eertydse sentrum-denke moet breek. Ons kan sê ons plek van handeling is vandag nie noodwendig meer vanuit die sentrum van die nasie-staat nie, maar vanuit die burgerlike wêreld. Wanneer ons nadink oor die uitdagings aan die Afrikaanse onderwys, sal hierdie nuwe plek vanwaar ons vir onsself moet intree, deeglik verreken moet word.  

Ons het wat die Afrikaanse onderwys betref die afgelope jare by ‘n krisis-oomblik aangekom. Prof Hermann Giliomee verwoord dit in sy “Strategiese Voorstelle” wat onder meer vandag ter sprake is so: “Die wyse waarop met hierdie krisis gehandel word, sal bepaal of Afrikaans as taal van hoë akademiese diskoers en openbare kommunikasie bly voortbestaan.” Hieraan kan ons toevoeg dat die wyse waarop die Afrikaanse wêreld met dié krisis handel ook sal bepaal of ons as taal- en kultuur-gemeenskap(pe) die toneel van die geskiedenis gaan ontruim of nie. Sonder die Afrikaanse onderwys in al sy geledinge kan daar nie ‘n Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap wees nie. Natuurlik help dit nie om net wolf wolf te skreeu nie. So ‘n soort aktivisme is meestal verlammend. Maar dit sal gewis ook nie help om stil te bly en niks te doen as die wolf inderdaad sy opwagting gemaak het nie.   

B. Voorwaardes vir Effektiewe Antwoord: Ons Idioom

Dit bring ons by die voorwaardes verbonde aan ‘n strategies effektiewe antwoord op die onderwys-krisis. Alhoewel daar talle sodanige voorwaardes is, wil ek binne hierdie konteks net na een verwys. Dit hou verband met die idioom waarbinne ons ons voorspraak vir die Afrikaanse onderwys behoort te formuleer.

As ‘n vertrekpunt in die gesprek oor ons idioom moet ons prinsipiële uitgangspunte m.i. baie duidelik geformuleer word. Die FAK waag ‘n formulering in hierdie verband. Die mees legitieme uitgangspunt waarmee die onderwys-vraagstuk vandag voor welke gehoor ook al (in die wêreld) gehanteer kan word, is dié een wat steun op die idee van “wedersydse erkenning”. Ons prinsipiële standpunt is dié ene wat sê dat daar ‘n wedersydse erkenning tussen die meerderheid en die Afrikaanse minderheid moet wees. Ons oproep aan die owerheid in al sy vertakkinge is dat dié wederkerigheid in die hantering van die Afrikaanse onderwys gerespekteer moet word, nie net in ‘teorie’ nie, maar ook in die ‘praktyk’.

Dit is teen die agtergrond van genoemde beginsel dat ons wil verwys na vier dinge wat ons idioom behoort te kenmerk. Dit hou verband met die rassisme, met die demokrasie, met ekonomiese ontwikkeling en laastens met veeltaligheid.
 
Eerstens, wat die rassisme betref. Teen die agtergrond van die beginsel van wedersydse erkenning wil ons aan die wêreld daarbuite dit duidelik stel dat ons voorspraak vir Afrikaanse onderwys nie spruit uit ‘n rassistiese disrespek vir andere nie. Voorspraak vir Afrikaanse onderwys is nie ‘n rassistiese ding nie. Ons voorspraak vir die bestendiging en uitbouing van ons moedertaal in die onderwys is ‘n talige voorspraak. En laat daar geen twyfel daaroor wees nie, anders as met die rassisme is die voorspraak vir ons moedertaal in die onderwys ‘n universeel aanvaarbare ding om te doen. Daarom word dit ook wêreldwyd deur die mees legitieme internasionale instansies ondersteun. Daar is nie ‘n enkele gerespekteerde internasionale forum wat hom oor onderwys-kwessies uitlaat wat nie klem lê op die reg tot moedertaalonderwys nie. Dit is waar van die VN en sy talle affiliate, die Europese Unie en sy talle komitees, ensovoorts.

Enige poging om dus ons voorspraak vir moedertaalonderwys aan die rassisme te verbind, is nie net ‘n verdraaiing van die feite nie. Dit steun ook op ‘n ondemokratiese impuls, want dit poog om die Afrikaanse wêreld se legitieme aanspraak op moedertaalonderwys te delegitimeer en hom so daarvan te weerhou om sy demokratiese reg op onderrig in sy moedertaal effektief uit te oefen.

Kortom: Die Afrikaanse wêreld wys enige poging af om  sy legitieme saak aan ‘n proses van verlammende delegitimering te onderwerp.

Tweedens, teen die agtergrond van die beginsel van wedersydse erkenning steun ons voorspraak vir ons moedertaal op die uitgangspunte van die demokrasie. Ons voorspraak is ‘n demokratiese voorspraak. Daarmee bedoel ons iets heel spesifiek.

In aansluiting by die grondwet beskou ons die demokratiese Suid-Afrika as ‘n gedifferensieerde eenheid. Volgens ons kan die demokrasie dan ook slegs demokrasie wees as hy in ‘n veelstemmige land soos ons s’n dié gedifferensieerde eenheid respekteer. Die demokrasie kan slegs lewe as daar ‘n balans tussen die aansprake van die meerderheid en die van ‘n minderheid soos die Afrikaanse minderheid gehandhaaf word. Die wese van ons demokrasie lê in dié balans vervat.

As slegs die eenheid beklemtoon word, soos wat dikwels met die begrip nasie-bou gedoen word, stuur ons onvermydelik op ‘n ondemokratiese toestand af. Dit vind daar in die onderwys uitdrukking waar toelating in die onderwys ten koste van die gemeenskappe se reg op moedertaalonderwys verabsoluteer word. Juis dan word die balans tussen meerderheid en minderheid skeefgetrek. Ons voorspraak vir Afrikaanse onderwys steun op die idee dat die gedifferensieerde eenheid in stand gehou en die demokrasie juis so verstewig moet word.

Enige poging om ons voorspraak vir ons moedertaal in die onderwys aan ‘n nostalgie vir ‘n verdrukkende apartheidsverlede te verbind, verdraai nie net die feite nie. So ‘n poging steun ook op ‘n bedenklike stuk politiek, want dit weerhou by implikasie die Afrikaanse wêreld daarvan om deur sy betrokkenheid die demokrasie en die voorwaardes daarvoor te verstewig.

Derdens, teen die agtergrond van die beginsel van wedersydse erkenning steun ons voorspraak vir ons moedertaal in die onderwys op die algemeen aanvaarde gevolgtrekking dat daar ‘n noue band tussen moedertaal-onderrig en ekonomiese groei is. Talle geleerdes ondersteun die punt dat die ekonomiese krisis waarin Afrika homself tans bevind, ook verband hou met die gebrek in Afrika aan fokus op moedertaalonderrig. Kortom, om moedertaal-onderwys te beskerm, beteken om die voorwaardes vir ekonomiese groei neer te lê.
Enige poging om daarom ook die voorspraak vir ons moedertaal in die onderwys aan ‘n politiek te verbind wat ou ekonomiese voorregte in stand wil hou, verdraai die feite. Voorspraak vir moederttaal-onderrig is juis ‘n voorspraak vir die uitbreiding van ekonomiese voorregte en nie die inperking daarvan nie.

Ons kan die argument ook omkeer. Dit is eentaligheidsprojekte en nie veeltaligheidsprojekte nie wat onverskillig staan teenoor die ekonomiese welsyn van miljoen armes. Dit is eentaligheidsprojekte wat tot ekonomiese agteruitgang lei, terwyl dit veeltaligheidsprojekte is wat die voorwaardes vir ekonomiese opheffing skep.

Vierdens, dit is belangrik dat ons voorspraak vir moedertaalonderrig binne ‘n veeltaligheidsidioom en die soeke na bondgenote met ander minderheidstale gesitueer word. Dit spruit logies uit ons prinsipiële uitgangspunt. As ons ‘n voorkeur vir die idee van Suid-Afrika as ‘n gedifferensieerde eenheid het, dan volg dit dat ons veral nou en teen die agtergrond van die drang tot ‘n geslote eenheid bondgenootskappe met diegene sal opsoek wat die gedifferensieerde aard van die een Suid-Afrika in beskerming sal neem. En laasgenoemde is die veelheid van ander taalgemeenskappe.    

C. Enkele Strategiese Opmerkings

Ons sluit met enkele opmerkings oor die strategiese situasie vandag. President Thabo Mbeki het in sy onlangse repliek op die debat oor sy openingsrede gesê dat daar reeds verskeie kere die afgelope jare in die parlement oor Afrikaanse gedebatteer is en dat hy so pas die minister van onderwys opdrag gegee het om met die Afrikaanssprekende gemeenskap in gesprek te tree. Uiteraard is dit ‘n saak waarvan ons kennis neem.

In dieselfde toespraak het pres. Mbeki ook ‘n ‘teoretiese’ standpunt ingeneem waarvan ons ook kennis neem en waarmee die Afrikaanse wêreld m.i. nie fundamenteel hoef te verskil nie. Om die waarheid te sê, dit is ‘n standpunt wat juis aansluit by die idioom soos wat dit hierbo geformuleer is, naamlik - in ons taal - die politiek van wedersydse erkenning tussen die meerderheid en die Afrikaanse minderheid.

Wat is die strategiese konteks van waaruit die president se verwysing na die moontlikheid van gesprekke met die minister en sy teoretiese standpunt verstaan moet word? ‘n Mens moet dié twee dinge onder meer beoordeel teen die agtergrond van wat die afgelope jare met die Afrikaanse wêreld gebeur het. Ek noem net een ding binne hierdie komplekse prentjie. Prof. Deon Geldenhuys het in ‘n onlangse lesing gewys op verskeie beloftes wat die regering by monde van pres. Mbeki teenoor Afrikaanssprekendes vanaf die laat-negentigerjare tot en met die onlangse verlede gemaak het. Weinig of selfs geen van die beloftes wat gemaak is, het waar geword nie. Die gevolgtrekking wat ‘n mens op grond van prof. Geldenhuys se beredenering kan maak, is eenvoudig: Na jare van gesprekke tussen die regering en verskeie verteenwoordigende instansies uit die Afrikaanse wêreld word ons vandag gekonfronteer met ‘n groeiende gaping tussen belofte en praktyk, tussen teorie en die konkrete werklikheid, tussen die ondernemings wat gemaak word en ons eie ervarings. Kortom, ons word toenemende gekonfronteer met ‘n spanning in die benadering jeens die Afrikaanse wêreld vanuit owerheidsweë en sy amptenary. 

‘n Mens kan hierdie toedrag van sake op verskillende wyses interpreteer. Ek wil nie na die verskillende interpretasie-moontlikhede verwys nie. Die Afrikaanse wêreld sal egter ‘n belangrike feit moet verreken. Ons het toenemend met ‘n situasie te doen waar nuwe werklikhede geleidelik op die grond neergesit word, dit alles in spanning met die teoretiese uitgangspunte, in spanning met die demokratiese afspraak van 1996 en in spanning met die talle beloftes wat sedertdien gemaak is. Wanneer hierdie nuwe praktyke eers deel van die alledaagse ritme geword het, word dit baie moeilik om nog hoegenaamd inhoud aan die teoretiese uitgangspunte, die demokratiese afspraak en die talle beloftes te gee. Die naamkwessie van Pretoria is ‘n voorbeeld. Die naam bestaan vir alle praktiese doeleindes nie meer nie, omdat die praktyk buite-om die grondwetlike afspraak geleidelik verander en die (ongetoetsde) wil van die meerderheid eenvoudig as die enigste maatstaf op die werklikheid afgedwing is. Die burgemeester sê dit openlik: ‘Die naam ‘Pretoria’ is onaanvaarbaar. Die nuwe naam moet geleidelik ingevoer en in die praktyk waargemaak word.’ Van ‘n wederkerige erkenning tussen meerderheid en minderheid is klaarblyklik geen sprake nie. Ons indruk is dat dieselfde met die Afrikaanse onderwys gebeur. Ten spyte van die grondwetlike afspraak en die balans wat daarin vervat is tussen die beginsel van toegang en die reg op moedertaalonderrig, word dié balans op grondvlak toenemend skeefgetrek. Nuwe praktyke met toegang as enigste maatstaf word letterlik ‘n harde werklikheid gemaak.

‘n Mens kan dieselfde ding ook effens anders formuleer. Prof. Koos Malan wys in ‘n belangwekkende artikel daarop dat grondwetlike afsprake in die algemeen en ook die grondwetlike afspraak van 1996 nie noodwendig of in alle omstandighede verstaan moet word as ‘n versameling tydlose en statiese waarhede wat die werklikheid voorafgaan, rig en stuur nie. Grondwette is dikwels ‘n weerspieëling van magsverhoudings eerder as wat hulle dié verhoudings vooraf reël.

Die moontlike implikasie daarvan vir die Afrikaanse onderwys moet deeglik verreken word. Die grondwet van 1996 maak duidelik voorsiening vir onder meer Afrikaanse onderrig. Ons kan sê dié voorsiening in die grondwet was ‘n weerspieëling van die destydse magsdinamika. In gevolge die argument van prof. Malan kan ons egter in die toekoms en word ons reeds gekonfronteer met ‘n ander praktyk wat op grondvlak gestig word. Ons word gekonfronteer met ‘n ander magsdinamika en deur middel daarvan met ‘n andersoortige inhoud wat aan die grondwet van 1996 gegee word.  Ons sien dit reeds gebeur: Feite word op die grond neergesit en gewoon agterna gelegitimeer met ‘n beroep op die grondwetlike beginsel van toegang. Kortom, deur die verandering van praktyke word geleidelik nuwe inhoud aan die bestaande grondwet gegee. Em juis dit word dan rigtinggewend.

Daarmee word natuurlik nie gesê dat ons onsself nie op die grondwetlike afspraak van 1996 moet beroep nie. Dié beroep is van die uiterste belang. Indien ons egter nie ook VANUIT DIE PRAKTYK en dus deur die effektiewe mobilisering en koördinering van ons skole en in die besonder die ouer-gemeenskap ‘n antwoord op die huidige gebeure gee nie, sal ‘n blote beroep op die grondwet ons steeds in ‘n posisie van onmag laat. ‘n Beroep op die 1996-afspraak is belangrik, maar dié beroep sal waarskynlik eers betekenis kry wanneer dit deur ons eie praktyke op grondvlak (dit is deur die direkte betrokkenheid van en koördinering tussen ons skole, beheerrade, onderwysers en die ouergemeenskappe) ondersteun word.

Ek sluit met twee praktiese punte:

Eerstens, bogenoemde uiteensetting sê nie dat die georganiseerde Afrikaanse wêreld nie met die regering, met die president of met die minister van onderwys in gesprek moet tree nie. Hopelik is een van die gevolge van vandag se gesprek dat ons juis die masjinerie sal aktiveer met die oog op indringende gesprekke met die regering. Ons sal gesprekke moet voer waarin ons op ‘n kritiese en saaklike wyse op die spanningslyne en kontradiksies in die huidige benadering sal moet wys. Ons sal gesprekke moet voer oor die universele aanvaarbaarheid en legitimiteit van ons saak, ons sal gesprekke moet voer oor die noodsaak om die demokrasie met behulp van die erkenning van sy minderhede te versterk, ons sal gesprekke moet voer oor die regering se gebrek aan verbintenis tot moedertaalonderrig, ons sal gesprekke moet voer oor die verband tussen moedertaalonderwys en ekonomiese opheffing, ensovoort. Gesprekke en nogmaals gesprekke, totdat ons geslaag het.

Maar, en dit bring my by die tweede en laaste punt. Die georganiseerde Afrikaanse wêreld sal die saak van die Afrikaanse onderwys na ons mense toe moet neem. Ons sal na ons dorpe en stede toe moet gaan om ons ouergemeenskappe op te vorder. Ons sal ons mense deeglik moet inlig oor die ononderhandelbare belangrikheid van moedertaalonderrig. En ons sal ons ouergemeenskappe betrokke moet kry by elke brandpunt.

Sonder die wil van ons ouers sal nuwe praktyke hulself mettertyd tussen ons begin vestig, dit is praktyke waarin ons nie meer ‘n Afrikaanse lewe sal herken nie. Maar met dié wil sal ons ‘n Afrikaanse toekoms tegemoet kan gaan. Die tekens in die verband is uiters bemoedigend. Die FAK loop orals in ons land tekens van eie inisiatief en ‘n energieke wil tot deelname raak. Met oorleg, verantwoordelikheid en visie kan ons doen wat gedoen moet word.
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=150
Artikel nagegaan:
    -