blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Onderwys: Die staat teen die gemeenskap - Die geval van Hercules Hoërskool, Pretoria 2005-03-03
Louis Smuts

Deur Louis Smuts, TABOK

Hercules Hoërskool is in ‘n verbete stryd met die Gautengse Onderwysdepartement gewikkel om sy status as Afrikaanse enkelmediumskool te behou.

Hierdie status het in die gedrang gekom nadat die Onderwysdepartement aan die begin van 2004 die beheerliggaam vriendelik verplig het om ‘uit te help’ met 70 Engelssprekende leerders,  met bepaalde voorwaardes daaraan gekoppel. Gedurende September 2004 is verdere versoeke ontvang om weer Engelssprekende graad 8-leerders in te neem, wat sou beteken dat Hercules Hoërskool in beginsel parallelmediumstatus sou kry.

Die beheerliggaam het daarteen besluit en met die hulp van TABOK ‘n proses begin waartydens die Onderwysdepartement uiteindelik ingestem het dat geen bykomende Engelssprekende leerders buiten dié wat reeds daar is, opgeneem sal word nie.  Verder is ooreengekom dat die Onderwysdepartement sy verpligtinge rakende die kostes van die Engelse leerders sal nakom tot en met hulle die skool ná graad 12 verlaat, of gedurende die jaarlikse inskrywingsproses na ‘n Engelse skool sou oorgaan.

Die beheerliggaam is steeds in dispuut met die onderwysamptenare oor die skool se regte in hierdie saak en het nou verdere hulp van TABOK ingeroep, siende dat hierdie aangeleentheid  op litigasie afstuur.

TABOK gee hiermee die nodige erkenning aan die beheerliggaam van Hercules Hoërskool vir hulle sterk standpunt en vertrou dat dit as voorbeeld vir ander skole sal dien.  Die optrede van die onderwysamptenare in hierdie saak word weer eens ‘n bron van kommer, net soos in die geval van die Laerskool Mikro in Kuilsrivier.

Beheerliggame het die wetlike mag en bevoegdheid om selfstandig ‘n skool se taal- en toelatingsbeleid te bepaal.  Hierdie reg geld steeds nadat ‘n skool foutief en/of onregmatig deur die Onderwysdepartement in die rigting van ‘n parallel- en/of Engels- mediumskool gedwing is. Hercules Hoërskool is ‘n tipiese voorbeeld van hoe so ‘n proses omgekeer kan word mits alle partye - en in besonder die Engelse leerders - se belange voorrang geniet. Dit blyk egter nou dat die onderwysamptenare weer van  standpunt verander het en dat die saak nou verder gevoer sal moet word

Dit word al hoe duideliker dat daar waarskynlik etlike honderde oorspronklik Afrikaans-enkelmediumskole is wat op wederregtelike wyse deur onderwysamptenare en/of eensydig deur hoofde se verkeerde advies aan beheerliggame en/of eensydige optrede deur beheerliggaamvoorsitters en skoolhoofde daartoe verplig word om parallel- en/of dubbelmediumskole te word. Van oral word klagtes van ouers en lede van beheerliggame ontvang.

Die huidige hofsake oral in die land asook onlangse uitlatings deur regeringsamptenare en die Minister van Onderwys is duidelike bewyse van hoe daar teen Afrikaanse gemeenskappe gediskrimineer en hul grondwetlike regte in terme van Artikel 29 en 31 van die Grondwet verontagsaam en geminag word.  

Statistiek toon ondubbelsinnig dat sodanige skole deur die oorwig van getalle wat nie weggewys mag word nie, uiteindelik verplig word om Engelsmediumskole te word ten koste van hul Afrikaanse leerders en leerkragte.  Hierdie handelinge word verder landwyd uitsluitlik op Afrikaanse skole toegespits.  Afgesien van die skending van die grondwetlik regte van die Afrikaanse gemeenskappe het die saak ten opsigte van die addisionele kostes, wat nou tydens hierdie aksies op die Afrikaanse gemeenskap afgedwing word, ter sprake gekom.  TABOK het met ‘n proses begin om hierdie gevalle te identifiseer en die betrokke skole te help om die proses te stuit, om waar regtens moontlik aanspreeklikheid vir hierdie addisionele kostes te help identifiseer en om die Onderwysdepartement daarvoor aanspreeklik te hou.

Dit is ook onbetwisbaar dat die Onderwysdepartement besig is om misbruik te maak van die Afrikaanse ouers om te help betaal aan die skooluitgawes van Engelse leerders, wat in wese die verpligting van die Onderwysdepartement is in die gevalle waar ouers nie skoolgelde kan bekostig nie.  Hierdie saak het ernstige implikasies, veral deurdat skoolgelde wat deur Afrikaanse ouers betaal word nou vir ander doeleindes aangewend word. Die logiese gevolg is dat die Afrikaanse kinders nie die wetlike waarde ontvang van die gelde wat hul ouers betaal nie en in wese dus van hul volle regte in hierdie verband beroof word. Hierdie is ‘n saak wat deur ouers, beheerliggame en TABOK binnekort in die hof getoets sal word.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=149
Artikel nagegaan:
    -