blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Onderwys: Die staat teen die gemeenskap: Die geval van Laerskool Mikro 2005-03-03
Johann Rossouw

Deur Johann Rossouw

Soms kom daar in ‘n samelewing klein gevalle voor wat boekdele oor die breër konteks van die samelewing spreek. Een so ‘n geval is dié van Laerskool Mikro van Kuilsrivier in die Wes-Kaap. Hoewel die saak veral in die Wes-Kaapse drukmedia redelike aandag geniet het, is die volle verhaal van die staat se hardhandige hantering van dié modelskool nog nie in die media vertel nie. Vir enigiemand wat bewyse nodig het dat die huidige regering toenemend arrogant met sy mag begin omgaan en al hoe onversetliker in sy rasgedrewe transformasieprojek raak, is die verhaal van Laerskool Mikro net die regte leesstof. Dit is moontlik dat dié geval eendag in die geskiedenis van ‘n nuwe Afrikaanse wêreld en selfs die ontvouing van ware demokrasie in Suid-Afrika as ‘n keerpunt aangeteken sal word, want hierdie vlakke van sowel staatsmagarrogansie as gemeenskapsverset is selde indien enigsins na 1994 in verband met taal en die onderwys bereik.

Vir hierdie verhaal is twee dokumente, waaruit hierdie artikel dan ook ontleen word, verpligte leesstof, naamlik Supporting Information Regarding the Matter between the Governing Body of Laerskool Mikro and the Head: Education, Western Cape Education Department wat deur die beheerliggaam van die skool as hofstuk by die Hooggeregshof in die onlangse hofsaak ingedien is; asook die hofuitspraak van Regter J. Thring (gelewer op 18 Februarie 2005 in Saak 332/2005).

Eersgenoemde dokument skets ‘n ysingwekkende prentjie van ‘n presterende skool wat niks anders nie as goeie buurskap met omliggende skole en die gemeenskap, asook ‘n gesonde verstandhouding met die owerheid nagestreef het. Laerskool Mikro het hom deurgaans waardig en demokratiese gedra, maar hom vasgeloop in ‘n muur van enersyds klaarblyklike rassevooroordeel van ‘n buurskool en andersyds burokratiese onverdraagsaamheid. Dit is miskien veral laasgenoemde wat kommerwekkend is, want dit is tekenend van ‘n kenmerkende patroon in Suid-Afrika vandag, te wete ‘n hoogs gepolitiseerde amptenary wat eerder politiek bedryf as diens lewer. ‘n Amptenaar van die Wes-Kaapse Onderwydepartement (WKOD), wat om verstaanbare redes anoniem wil bly, vertel dan ook aan Die Vrye Afrikaan dat hy meer as agtien maande gelede aan ‘n werknemer van Laerskool Mikro ‘n waarskuwing oorgedra het dat sy kollegas by die WKOD hulle “mes vir Mikro in het”… Maar kom ons gaan haal die verhaal by die begin, dit wil sê Maart 2002.

Laerskool Mikro word uitstekend bestuur, soos onder meer gedemonstreer word deur die feit dat die skool elke vyf jaar ‘n strategiese plan vir die volgende vyf jaar ontwikkel. So is die laaste strategiese plan dan ontwikkel tydens ‘n strategiese beplanningsessie gehou op 15 en 16 Maart 2002. Hierna is die WKOD ook om inligting gevra rakende sy beplanning om die vinnige uitbreiding van Kuilsrivier te hanteer, deur byvoorbeeld nog skole in die gebied te bou.

Meer as ‘n jaar later, op 10 April 2003, het mnr. Melvyn Caroline, Direkteur van Onderwys vir die Oos-Metropool, samesprekings met die beheerliggaam van Mikro gehou. By hierdie geleentheid is Mikro versoek om sy taalbeleid te verander, maar het hulle geweier, en ook inligting oor die 1996-sensus betreffende Kuilsrivier aan mnr. Caroline voorgehou. Caroline het ook genoem dat Kuilsrivier ‘n bykomende laer- en hoërskool behoort te hê.

(Hierdie interaksie was belangrik, omdat die snelle verstedeliking wat tans landswyd aan die gang is dikwels druk op bestaande stedelike skole plaas, juis vanweë die regering se gebrek aan tydige voorsiening van bykomende skole. So is daar, ongelooflik soos dit mag klink, 12 jaar gelede laas ‘n nuwe skool in Pretoria gebou! Dit is dus geen wonder dat die bestaande skole onder druk sal kom nie, en dan spesifiek die Afrikaanse skole, aangesien die meeste nuutverstedelikte mense op Engels-onderrig aandring…)

Die volgende salvo is gevuur tydens ‘n vergadering te Laerskool Mikro op 23 Oktober 2003. Teenwoordig by die vergadering was Mnr Caroline, die beheerliggaam van Mikro, die voorsitter van die beheerliggaam van Mikro, Laerskool De Kuilen en mnr. Francois Lubbe, De Kuilen se hoof. Weer eens versoek Caroline Mikro om sy taalbeleid te verander, en weer eens word dit geweier.

(Hier is dit raadsaam om in gedagte te hou dat De Kuilen ‘n dubbelmediumskool is wat ‘n verhouding van 50% Afrikaans en 50% Engels nastreef, maar waarby die verhouding nou die punt van 75% Engels en 25% Afrikaans bereik het. Dié toedrag van sake bevestig die patroon wat oor en oor by voorheen Afrikaans-mediumskole gesien word, naamlik dat waar sodanige skole Engelse leerders inneem, die skool uiteindelik verengels. Hierdie feit is wesenlik om Mikro se weiering te begryp om sy taalbeleid te verander, soos ook die feit dat Mikro ook nie van rassisme beskuldig kan word nie, aangesien 14% van die kinders aan Mikro bruin is.)

Een van die argumente wat Mikro tydens die vergadering van 23 Oktober 2003 teen die verandering van hul taalbeleid geopper het, is dat hulle in daardie stadium reeds alle beskikbare klaskamers in gebruik het, sodat ‘n bykomende Engelse groep graadeen-leerders – soos wat die WKOD Mikro wou verplig om in te neem – daartoe sou lei dat die bestaande Afrikaanse klasse van vier na drie verminder en heringedeel  moet word, wat te groot klasse tot gevolg sou hê. Mikro het verder daarop gewys dat, aangesien beide Mikro en De Kuilen nagenoeg ewe veel kinders het - sowat 950 – die inname van ‘n Engelse graadeenklas by Mikro bloot die oorkoepelende probleem van een skool na ‘n ander in dieselfde area sou verskuif. Voorts verbind die voorsitter van Mikro se beheerliggaam, mnr. Erhard Wolff, hom tot verdere samesprekings in die soeke na ‘n oplossing vir die probleem van ‘n tekort aan klaskamers.

Hierna het die WKOD onderskeidelik op 27 Oktober en 10 November 2003 openbare vergaderings oor die  klaskamertekort by Laerskool De Kuilen gehou. Die vergadering is toegespreek deur die destydse premier van die Wes-Kaap, mnr. Marthinus van Schalkwyk, asook verskeie amptenare van die WKOD, waaronder Mnr. Caroline. Na verskeie emosionele pleidooie by die eerste vergadering onderneem die amptenare by die tweede vergadering dat tydelike klaskamers op 9 Februarie 2004 by die skoolkliniek gereed sou wees. Maar teen die beloofde datum was geen klaskamers opgerig nie…

Die voorsitter van De Kuilen se beheerliggaam skryf op 12 November 2003 ‘n sterk bewoorde brief aan die skoolhoof van Mikro, Mnr. Walters, waarin hy verklaar dat geen inligting aan Mikro verstrek sal word nie, en dat Mikro die oorsaak van die probleem is. Mnr. van Zyl beweer verder in sy brief dat Mikro nie die gevraagde inligting oor toelatings verskaf het nie, wat onjuis is, aangesien Mikro wel die inligting verskaf het.

Op 21 November 2003 kom Mikro sy belofte oor alternatiewe klaskamervoorstelle na tydens ‘n vergadering met Menere Lubbe en Van Zyl, en doen aan die hand dat geriewe by die ongebruikte Nooiensfontein-kampus van die Belville Onderwysersopleidingkollege gebruik word tot tyd en wyl ‘n nuwe skool gebou word. Mikro se voorstel het heelwat gedetailleerde opgawes bevat. Hoewel Van Zyl die voorstel aanvanklik verwelkom het, weier hy weer eens om inligting aan Mikro te verskaf of om die voorstel te onderteken, sodat laasgenoemde toe as slegs komende van Mikro aan Caroline voorgelê word.

Tussen 20 en 23 Januarie 2004 vind die volgende interaksie plaas, toe Lyners Walters telefonies verwittig dat Mikro binne ‘n week ‘n Engelse klas graad-een-leerders moet inneem. Tydens ‘n vergadering wat hierna plaasvind tussen Walters, Wolf, Lyners en Caroline dui Wolf aan dat die versoek skriftelik moet wees, dat die WKOD se optrede met Mikro se wense bots, dat die WKOD se optrede waarskynlik onwettig is en dat Mikro regstappe sal doen om sy belange te beskerm. Hierop rig Wolf ‘n brief aan die WKOD se onderwyshoof, mnr. Ronnie Swartz, om hom te versoek dat Mikro nie onder druk geplaas moet word om van hul regte af te wyk nie, en dat die WKOD asseblief sy verpligtinge ten opsigte van die gebrek aan klaskamers moet nakom.

Wat tot dusver ‘n stryd tussen oorywerige, onversetlike amptenare van die WKOD en Laerskool Mikro was, verkry op 23 Augustus 2004 ‘n bykomende dimensie toe die nuwe Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, mnr. Cameron Dugmore, en ‘n aantal verteenwoordigers van die WKOD verteenwoordigers van Mikro ontmoet en versoek om hul taalbeleid te verander ten einde Engelse leerders te kan inneem. Mikro herhaal sy posisie oor sy taalbeleid en die tekort aan klaskamers in Kuilsrivier, en maak weer eens twee voorstelle aan die WKOD, naamlik eerstens dat De Kuilen ‘n Engelsmedium-skool word, en tweedens dat die ekstra Afrikaanse leerders óf op die Nooiensfonteinkampus, óf in nuutgeboude klaskamers geakkommodeer word. Dugmore versoek ‘n ontmoeting met Mikro se ouers om hulle tot ‘n ander standpunt te probeer oorreed, en Caroline onderneem om statistiek oor die aantal klaskamers en leerders in die omgewing beskikbaar te stel.

Op 6 Oktober 2004 word ‘n voorbereidende ontmoeting met die Mikro-ouers gehou om hulle in te lig oor die stand van die onderhandelinge en oor die implikasies wat die onderskeie opsies sal inhou. Die beheerliggaam kry oorweldigende steun vir die koers wat hulle ingeslaan het, insluitend dat regstappe gedoen kan word indien nodig.

Op 1 November 2004 vind Dugmore se vergadering met meer as 750 ouers plaas – die grootste vergadering in Mikro se geskiedenis. Hoewel die emosies by die vergadering hoog loop, is dit nietemin ‘n beheerste geleentheid. Dugmore versoek die skool om sy taalbeleid te wysig, 33 Engelse leerders in te neem, en onderneem voorts dat die WKOD die nodige infrastruktuur sal verskaf. Twee ouers vra dat die LUR moet besluit wat nodig is en met sy aksie voortgaan, en Dugmore gee aan ‘n amptenaar, Mnr. Miti, opdrag om die data wat Mikro aangevra het die volgende dag te lewer.

In weerwil van die feit dat hierdie vergadering slegs vir Mikro-ouers bedoel was, het sowel die LUR se kantoor as De Kuilen se skoolhoof die ouers van De Kuilen van die vergadering verwittig. Twaalf van die De Kuilen-ouers daag toe by die vergadering op, waar hulle voor die vergadering afsonderlik deur Dugmore toegespreek word en hy voorstel dat ‘n openbare vergadering belê word om die probleem van ‘n klaskamertekort in die area te bespreek.  

Op 16 November 2004 word die beloofde openbare vergadering by De Kuilen gehou, en word dit al hoe duideliker dat Dugmore alles behalwe ewewigtig is in sy hantering van die saak. Dugmore was sigbaar verras deur die groot aantal Mikro-ouers wat opgedaag het – herkenbaar aan die blou lintjies wat hulle uit solidariteit dra – en vra in ‘n stadium tydens die vergadering waarom Mikro nie bereid was dat die vergadering in hul skoolsaal gehou word nie. Die feit is egter dat Mikro versoek het dat die vergadering – gegewe die sterk emosies oor die kwessie – op neutrale terrein gehou word… In weerwil daarvan dat Dugmore versoek het dat ouers wie se kinders nog nie vir 2005 geplaas is nie, eerste moet praat, word die eerste spreekbeurt waargeneem deur ‘n De Kuilen-ouer, wat beweer dat Mikro “eksklusief” wil bly en gedwing moet word om te verander. Mikro vra waarom Miti nog nie die beloofde inligting aan hulle verskaf het nie, waarop hy die vergadering tydelik verlaat om ‘n oproep te gaan maak en later die inligting mondeling kom oordra, reëlreg teen die professionele praktyk wat oor sake soos hierdie gevolg moet word.

Twee weke later, op 30 November 2004, hou Dugmore nog ‘n vergadering met die beheerliggame van De Kuilen en Mikro en dui aan dat hy besluit het dat Mikro die Engelse leerders moet inneem en sy taalbeleid moet verander, eerder as dat De Kuilen Engels word en die Afrikaanse leerders na Mikro geskuif word.

Enkele dae later, op 2 Desember 2004, ontvang Walters ‘n omsendbrief wat hom inlig dat hy gereed moet maak om 40 Engelse leerders vanaf 2005 in te neem, en dat dissiplinêr teen hom opgetree sal word indien hy nie die opdrag gehoorsaam nie. Twee dae later versoek Wolf Walters per brief om nie gehoor te gee nie, aangesien die opdrag onwettig is.

Dit is op hierdie punt dat die beheerliggaam van Laerskool Mikro regsaksie teen die WKOD en die Wes-Kaapse LUR van Onderwys neem, met die saak wat uiteindelik op 21 Januarie 2005 voor die Hooggeregshof kom. In sy uitspraak verwys Regter Thring na verdere opspraakwekkende aspekte van die hele aangeleentheid, waarvan die eerste is dat die staat sy bullebaktaktiek voortgesit het toe twee senior amptenare van die WKOD op 19 Januarie 2005, die dag waarop die Wes-Kaapse skole heropen het, hul opwagting by Mikro gemaak het saam met 21 leerders wat in Engels onderrig moet word. ‘n Onderwyseres wat die kinders moet onderrig, is deur die WKOD verskaf.

Argumente in die hofsaak is uiteindelik vanaf 8 tot 11 Februarie 2005 deur Regter Thring aangehoor. In sy uitspraak, wat ‘n model van die handhawing van die letter en die gees van die tersaaklike wetgewing met inbegrip van die Grondwet is, verklaar Regter Thring dat die stappe wat gedurende Desember en Januarie 2005 deur Dugmore en die WKOD gedoen is, neerkom op ‘n de facto wysiging van die skool se taalbeleid en ‘n verandering van die skool in een van parallelmediumonderrig, oftewel ‘n skool “wat meer as een klas in dieselfde graad in meer as een taal onderrig.”

Vervolgens behandel Thring die argument wat deur Adv. Arendse namens Dugmore en die WKOD aangevoer is, naamlik dat die skool se beheerliggaam as “staatsorgaan” geag moet word, en dat op grond van die “feit” dat twee staatsorgane - synde dan die beheerliggaam en die WKOD - nie in ‘n hofgeding met mekaar mag tree nie, hierdie saak nie voor die hof moet dien nie.

Enige onderwyskundige weet deeglik dat die onderwyswetgewing van 1996 juis bedoel het om via beheerliggame aan gemeenskappe naas die staat inspraak in die onderwys te gee, en tog het Arendse met sy vergesogte argument hom inderdaad beroep op ‘n praktyk wat eens deur die Nasionale Party gevestig is, en toenemend nou weer in Suid-Afrika voorkom, naamlik die verstaatliking van haas elke aspek van die openbare lewe. Daarom sê Regter Thring dan ook op p.15 van sy uitspraak: “Terwyl dit ‘n statutêre liggaam gevestig in terme van afdeling 16 van die Skolewet is, is dit duidelik dat ‘n openbare skool se beheerliggaam deur die wetgewer bedoel is om onafhanklik van staats- of regeringsbeheer in die uitvoering van sy funksies te wees, soos uiteengesit in afdeling 20 van die Skolewet.” Gevolglik bevind Regter Thring dan ook op p.19 dat die saak voorhande nie as ‘n “interregeringsdispuut” beskou kan word nie.

In antwoord op Arendse se betoog dat hierdie saak eers na die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad verwys moes gewees het, bevind Thring: “Ek dink dit kan met veiligheid aangeneem word dat daar baie mense is vir wie die hoofkwessies in hierdie aangeleentheid, en veral die sentrale kwessies van taalbeleid in openbare skole en die regte en magte van hul beheerliggame van groot belang is. Dit sal betreurenswaardig wees as ’n kwessie van sulke omvang en belang agter geslote deure deur ‘n statutêre raad of ‘n arbiter beslis moet word.” Inderdaad, en so hou die regter die kwessie ook waar dit hoort, naamlik tussen die betrokke partye, eerder as om dit te burokratiseer.

Betreffende die WKOD se poging om Mikro te dwing om 21 Engelse leerders in te neem, bevind Regter Thring dat opgetree is “asof die skool se taalbeleid nie bestaan nie, of nie tel nie.” Thring gee ook verskeie gesaghebbende kommentators oor die aantasting van Afrikaanse onderwysinstellings deur die instelling van Engelse onderrig gelyk wanneer hy op p.24 verklaar: “Waar die beheerliggaam van ‘n skool verkies het om een taal as onderrigmedium te gebruik, moet die instelling van ‘n tweede onderrigtaal onvermydelik ‘n invloed hê op die modus vivendi, die gebruike, tradisies en bykans elke aspek van die atmosfeer wat in die skool vaardig is.” Voorbeelde van praktyke wat aangetas word, en wat Thring aandui, sluit in: skoolbyeenkomste en ouervergaderings; kennisgewings; korrespondensie tussen die skool en ouers, skoolrapporte, die leuse, die skoollied en die skool se Grondwet.

‘n Argument wat gereeld ingespan word teen die aanspraak op moedertaalonderrig, is dat dit kwansuis die grondwetlike reg op toegang tot gehalteonderwys sou verydel. Op p.27 van sy uitspraak dien Thring hierdie drogargumente ‘n vernietigende slag toe met ‘n aanhaling van prof. Rassie Malherbe: “Enige persepsie dat enkelmediuminstellings die regstelling van diskriminasie in die verlede verhinder, is ongegrond… [M]oedertaalonderrig is in feite ‘n kragtige werktuig om onderwysgeleenthede na alle Suid-Afrikaners uit te brei. Navorsing het die korrelasie tussen moedertaalonderrig en optimale onderwysvooruitgang bevestig. Daarbenewens word gelyke toegang tot onderwysfasiliteite in elk geval gewaarborg…”

Regter Thring gee ook erkenning van Laerskool Mikro en sy skoolhoof se erbarmingsvolle hantering van die 21 “Engelse” leerders, in weerwil van die onbehoorlike en ondemokratiese wyse waarop sowel die WKOD as die LUR met die skool gehandel het. (Ek verwys in aanhalingstekens na die Engelse leerders, aangesien me. Christe Loubser, die onderwyseres van die 21 kinders, in ‘n beëdigde verklaring aan die hof gesê het dat “sowat driekwart van die leerders inderwaarheid Afrikaanssprekend is en sukkel om onderrig in Engels te volg.” [Die Burger, 9/2/05]. Kortom, wat hier gebeur het is dat Afrikaanse ouers nogmaals gehandel het onder die waan dat onderrig in Engels eerder as in hul moedertaal aan hulle kinders die beste toekoms sal bied, en die staat lustig meegedoen het daaraan om ‘n Afrikaanse skool te verplig om hoofsaaklik Afrikaanse kinders in Engels te onderrig!). Thring verwys op p.31 na “die wyse waarop die skoolhoof hierdie moeilike situasie hanteer het… en dat die kinders welkom laat voel is by die skool in weerwil van die litigasie. Die Hof erken ook die skool se grootmoedige gedrag in hierdie opsig.”

Van ‘n veel ernstiger aard as voorgenoemde aspekte van sy bevinding kom nou in Regter Thring se uitspraak aan die beurt,  wanneer hy op p.36 bevind dat die WKOD en die LUR se beroep op die demografie, of op die staat se wetlike verpligting dat 40 of meer kinders se versoek om in ‘n amptelike taal van hul keuse onderrig te word, moet nakom, om hul optrede te regverdig, ongeldig is in hierdie geval. Thring skryf: “…[G]eeneen van hierdie dinge kan die [LUR en die WKOD] se summiere verontagsaming van die skool se taalbeleid en die behandeling daarvan asof dit nie bestaan of saak maak nie, regverdig nie. Hulle remedie, as hulle werklik een benodig het, was om die hulp van die bepalings van afdeling 22 van die Skolewet in te roep, en [die beheerliggaam] se funksie om die skool se taalbeleid te bepaal, terug te trek… [D]it staan nie tot beskikking van ‘n provinsiale onderwysdepartement om die behoorlik gevestigde taalbeleid van ‘n enkelmediumskool ter syde te stel tensy eers vasgestel is dat alle ander openbare skole in die betrokke skooldistrik waar onderrig in die ander taal gegee word, vol is nie.”

Thring vervolg dan om uit te wys dat die WKOD se opdrag aan die skool om die “Engelse” leerders in te neem, en sy eensydige poging om dit op 19 Januarie af te dwing, “onwettig” was. Hierdie onwettige optrede was nie al nie: Thring bevind ook dat die ingryping van die twee senior amptenare van die WKOD by Laerskool Mikro op 19 Januarie neerkom op “inmenging deur hulle in die regering en professionele bestuur van die skool” en dat die een amptenaar, Mnr. Caroline, homself “die funksie van die skoolhoof in effek wederregtelike toegeëien het”!

Dat die amptenare oorywerig in hul optrede was, blyk ook uit Thring se verwysing op p.47 dat die woordvoerder van die betrokke 21 leerders, mev. J. du Preez, gesê het dat die betrokke ouers sowel Mikro as De Kuilen aanvaarbaar sal vind, solank hul kinders in Engels onderrig word.

Op die argument dat die 21 leerders onnodig gedestabiliseer sal word indien hulle na ‘n ander skool verskuif word, wys Regter Thring daarop dat wat nog belangriker is, is dat die staat die wet moet gehoorsaam (p.50): “…[D]it moet slegs uiters selde wees, indien ooit, dat die rule of law ‘gyselaar gehou’ kan word… vir die beste belang van die kinders. Dit is inderdaad moeilik om jou voor te stel hoe dit op die langtermyn ooit in die beste belang van die kinders kan wees om groot te word in ‘n land waar die staat en sy organe en funksionarisse verhef is tot die posisie waar hulle hulself as bo die wet kan ag…” Tereg sê Thring dat die hof die kinders sodoende ‘n groter onguns sal bewys as om hulle so vroeg in hul skoolloopbaan te verskuif na ‘n skool wat slegs ‘n kort afstand (1,2km) verder is en ook vir hul ouers aanneemlik is!

Op p.54 gee Thring nog ‘n voorbeeld van hoe die betrokke amptenare geheel en al onaanvaarbaar gehandel het. Mnr. Caroline het naamlik in ‘n beëdigde verklaring beweer dat enkele tydelike klaskamers by De Kuilen “in ‘n vervalle toestand is en ‘n ernstige veiligheidsrisiko inhou”, en dat die enigste alternatiewe tydelike plasingsmoontlikheid vir die 21 leerders “Alta du Toit, ‘n skool vir ernstig verstandelik gestremde kinders is”. Met verwysing na ‘n beëdigde verklaring deur ‘n ingenieur wat die tydelike klaskamers by De Kuilen op 31 Januarie 2005 besoek en nie net in ‘n goeie toestand aangetref het nie, maar dat kinders ook in drie van die vier klaskamers onder volwasse toesig was, bevind Thring op p.56 dat die WKOD en die LUR die hof “potensieel mislei het”, en dat die ongegronde dreigement om die 21 leerders in Alta du Toit te huisves “hoogs laakbaar” is.

Op sterkte van die twee dokumente waaraan hierdie artikel ontleen is, is dit duidelik dat die staat hom in hierdie hele saak aan uiters gemene spel skuldig gemaak het deur die feite oor die demografie van die twee buurlaerskole te verdraai en die posisie van die 21 leerders se ouers oor die keuse van ’n skool vir hul kinders verkeerd voor te stel. Dat hulle klaarblyklik ‘n kwota van 40 leerders aktief gesoek het om Mikro se taalbeleid te probeer omvergooi en Mikro as eksklusiewe, ondemokratiese instelling voor te stel. Amptenare het hulle met politiek opgehou en klaarblyklik die gemoedere van ouers in Kuilsrivier met goedkoop rassepolitiek opgesweep.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=148
Artikel nagegaan:
    -