|
||||
Gedurende die laaste paar jaar het ‘n krisis in Suid-Afrika ontstaan rondom moedertaalonderrig in die algemeen en Afrikaanse moedertaalonderrig in die besonder. Hierdie krisis spruit voort uit onder meer veral twee faktore. Die eerste faktor is die feit dat taalgemeenskappe nie self vir hulle onderwysinstellings verantwoordelikheid neem nie en dikwels verkies om onderwys as ‘n staatsaangeleentheid en nie ook ‘n gemeenskapsaangeleentheid nie te beskou. Die tweede faktor is die Suid-Afrikaanse regering se verwaarlosing van die Grondwet se oproep om moedertaalonderrig, wat lei tot ‘n situasie waar Engels die de facto taal van onderwys word, terwyl meer as 70% van Suid-Afrikaners nie voldoende vaardig in Engels is nie. Dit is ‘n ernstige hindernis onderweg na die demokratisering van Suid-Afrika, omdat dit lei tot die uitsluiting van die meerderheid van ons mense van gehalteonderrig. Hierdie toedrag van sake het veral met betrekking tot Afrikaans gemanifesteer, aangesien Afrikaans die een inheemse taal is wat op die basis van ‘n gemeenskapsbeweging tussen 1875 en 1925 daarin geslaag het om ‘n volledig ontwikkelde taal van die gesproke en die gedrukte woord te word. Sedert 1994 het Afrikaans ‘n hindernis onderweg na die verengelsing van die openbare lewe in Suid-Afrika geword, en dit het tot groot spanning rondom Afrikaans gelei, waar Afrikaans dan dikwels as ‘n versperring van die toegang tot onderwys blameer word. Wat kan Suid-Afrikaners in die algemeen en sprekers van Afrikaans in die besonder doen om hierdie krisis op te los? Die eerste stap lê in gemeenskappe se aanvaarding van verantwoordelikheid vir onderwys in hul moedertale. Saam met die groot Keniaanse skrywer en denker, Ngugi wa’Thiongo, verklaar ons dat eers wanneer Afrikane hul lewens in hul moedertale kan lei hulle waarlik die kettings van kolonialisme sal verbreek. Dit is wanneer ons in ons moederale onderrig word wat ons die deure na ekonomiese en politieke selfstandigheid en selfrespek oopsluit. Tweedens, as Afrikaans as die een inheemse taal wat die koloniale erfenis suksesvol beveg het as taal van die onderwys tot ‘n val kom, sal ons ander inheemse tale nog slegter daaraan toe wees as wat tans die geval is. Dit is waarom ons ooreengekom het op ‘n spesiale plan van aksie waar alle sprekers van Afrikaans sekere stappe kan neem om die toekoms van Afrikaanse onderrig te verseker. Hierdie plan sal bespreek word met die breë Afrikaanse wêreld, wit, bruin en swart. Hierdie plan word aangevoer vanuit die Afrikaanse burgerlike samelewing, en ons hoop dat ons ons ervaring met ons broers en susters van ander inheemse tale kan deel op die weg na ware vryheid en demokrasie. Derdens sal ons nie langer die toedrag van sake aanvaar nie waar Afrikaans geblameer word vir die regering se eie mislukking om gehalteonderwys en toegang vir almal te voorsien. Hierdie mislukking spruit veral voort uit die feit dat die regering daarop aandring om ‘n beleid af te dwing waar die meerderheid van ons mense in hulle tweede of derde taal onderrig word, en wat lei tot die enorme vermorsing van skaars hulpbronne. Dit is nie daardie Afrikaanse onderwysinstellings wat stry om die suksesse wat hulle in hul eie anti-koloniale stryd behaal het, te behou, wat vir ‘n gebrek aan toegang tot onderwys vir almal in Suid-Afrika geblameer moet word nie, maar juis die regering se mislukking om ons inheemse tale in die openbare lewe te gebruik en te ontwikkel. ‘n Skreiende voorbeeld hiervan is dat die regering die meerderheid swart kinders dwing om in Afrikaans of Engels te studeer omdat geen studiemateriale na graad drie in ons ander inheemse tale beskikbaar gemaak word nie. Ons is nie teen Engels nie, maar ons is teen die misbruik van Engels om ons in ons eie land in ‘n koloniale situasie te hou. Engels is ‘n sleutel tot Afrika en die res van die wêreld, maar nie wanneer dit ons inheemse tale vernietig nie. Dit is juis omdat ons die slagoffers van die misbruik van Engels was, maar ook omdat Afrikaans self tydens apartheid gebruik is om mense te onderdruk, wat ons hierdie gevaar verstaan. Dit is waarom ons vandag ‘n beroep op alle mede-Suid-Afrikaners doen om by ons aan te sluit in die stryd vir inheemse taalbevryding. |