|
||||
In ‘n mediaverklaring wat op 10 Februarie 2005 uitgereik is, het die FAK verwys na die “klaarblyklik georkestreerde druk wat op Afrikaanse skole landswyd geplaas word”. In ‘n hoofartikel van Die Burger (20/2/2005) word in ‘n artikel wat sy hoop op Pres. Mbeki se onlangse belofte van ‘n gesprek oor Afrikaanse onderwys vestig, die “elemente van waarheid” van hierdie persepsie van georkestreerde druk erken. In sy antwoord van 17 Februarie 2005 op die parlementêre replieke uit die geledere van opposisiepartye op sy parlementêre openingstoespraak van 11 Februarie 2005 het Pres. Mbeki hom soos volg teenoor mnr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront, uitgelaat: “Afrikaans is ‘n Suid-Afrikaanse taal en hierdie regering sal hierdie taal soos alle ander tale te alle tye verdedig. Ek is vol vertroue dat vele Suid-Afrikaners ook bereid sal wees om al ons tale, insluitend Afrikaans, te verdedig, omdat hulle ten volle verstaan dat ons in diversiteit verenig is. “Terselfdertyd het die regering talle klagtes ontvang van Afrikaans wat, veral in sommige skole, gebruik word om swart leerlinge van regeringskole uit te sluit. In sommige gevalle het swart leerlinge geen keuse nie as om Afrikaans te leer, omdat dit sal verseker dat hulle tot hierdie skole toegelaat word. Kennelik sal niemand, insluitend die agbare lede wat hul kommer oor hierdie saak gelug het, daarmee eens wees dat taal gebruik word om mede-Suid-Afrikaners toegang tot skole of ander fasiliteite te ontsê nie. “Die Minister van Onderwys het reeds ingestem om sekere Afrikaansprekende mense te ontmoet ten einde ‘n billike vergelyk oor hierdie sake te vind.” Pres. Mbeki se woorde was skaars koud, of swart studente het op Maandag 20 en Dinsdag 21 Februarie 2005 amok gemaak by die nuutgestigte Universiteit van Johannesburg. Hoewel veral klasgelde voorop in hul griewe staan, is daar ook sterk te velde getrek teen Afrikaans as onderrigmedium aan hierdie universiteit, wat die voormalige Randse Afrikaanse Universiteit insluit. Een van die protesplakkate het gelees: “Ons praat nie Afrikak nie”. (Die ironie daarvan dat hierdie uitspraak in Afrikaans die bekende seggingskrag van die taal beklemtoon, laat ons voorlopig daar.) Ook in die onlangse poging van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) om die Laerskool Mikro te dwing om 21 Engelse graad eens in te neem, is die kwessie van toeganklikheid as argument deur die WKOD ingespan. Die volkome ontoepaslikheid van hierdie argument in die geval van Laerskool Mikro is met meedoënlose helderheid uitgewys deur Regter J. Thring in sy hofuitspraak van 18 Februarie 2005, ‘n aangeleentheid waarna Die Vrye Afrikaan in sy Maartuitgawe sal terugkeer – en nie in die minste nie weens die skandalige wyse waarop amptenare van die WKOD die Laerskool Mikro vir alle praktiese doeleindes met staatsmag probeer paaiboelie het. Maar die kwessie van die spanning tussen taal en toeganklikheid is een wat hardnekkig telkens weer manifesteer, soos onder meer blyk uit Pres. Mbeki se aangehaalde woorde hierbo, asook betogings by die Universiteit van Johannesburg. Van heethoofdige studente wat nou die wrang vrugte van die voormalige Minister van Onderwys se verbete en hoogs politiese rasionalisasie van die hoëronderwyssektor pluk, kan ‘n mens hierdie verdraaiing van die feite in ‘n mate nog verstaan (hoewel dit nie daardeur aanvaarbaar raak nie). Maar wanneer die Staatspresident hom aan hierdie laakbare verdraaiing van die feite skuldig maak, is dit ‘n ernstige saak. Wat is die eintlike feite? Terwyl niemand sal stry oor die ideaal van ‘n veranderde of “getransformeerde” samelewing nà apartheid nie, is die feit van die saak dat die huidige regering sedert 1994 doelbewus gekies het om van transformasie ‘n demografiese en rassekwessie te maak. So het hulle minstens, bedoeld of onbedoeld, drie ernstige probleme geskep of vererger: ‘n nuwe swart rasse-elite is geskep sonder veel verandering aan arm swartmense se lewens; welwillende Afrikaners is toenemend die harnas in gejaag en van ons demokrasie vervreem; en die rassetemperatuur in die land is aangeblaas. Want die feit van die saak is dat om die rassepolitiek van die verlede met ‘n nuwe rassepolitiek te wil ongedaan maak, daarop neerkom om vuur met vuur te probeer blus. Die eintlike uitdaging van transformasie en demokratisering in Suid-Afrika bestaan daarin om die lang geskiedenis van inheemse taalmiskenning ongedaan te maak. As die hoofoogmerk van transformasie in Suid-Afrika die uitbouing en ontwikkeling van al ons inheemse tale was, sou minstens die volgende gevolge in die hand gewerk kon word: Afrikaans as reeds ontwikkelde inheemse taal sou nie langer die vyand nie, maar ‘n gids van die proses wees; Afrikaanssprekendes wat sterk oor hul taal voel, sou beslis meer simpatiek wees teenoor transformasie as taalgedrewe beleid (jy kan, soos Gerrit Brand eens geskryf het, ‘n ander taal aanleer, maar nie jou velkleur verander nie); voorheen benadeelde mense sou baie beter toegang tot onderwys en die ekonomie kry; die staat sou ‘n baie beter diens aan sy burgers kon lewer; en die meeste Suid-Afrikaners sou weens die erkenning van hul tale daardie allerskaarsste waarde van postkoloniale state, naamlik selfrespek, smaak. Op die koop toe sou die rassisme van die verlede - wat dikwels met taalmiskenning gepaard gegaan het - ook ontkrag word. Boonop sou dit demokrasie ‘n baie groter werklikheid vir gewone mense maak, want soveel meer mense sou via hul moedertale insae kon kry in wat vandag deur die besluitnemers van die land gedoen word. Wat egter tans gebeur, is dat die staat sy grondwetlike plig tot moedertaalonderrig eenvoudig versaak, en hardnekkig miljarde rande vermors op ‘n onderwys- en opleidingsbeleid wat die meerderheid Suid-Afrikaners in hul tweede of derde tale onderrig. Intussen bly Afrikaanse onderwysinstellings presteer, om die eenvoudige rede dat Afrikaanse kinders van kindsbeen af in hul moedertaal onderrig word. Die sukses van hierdie instellings word verkeerdelik deur hul opponente na “meer hulpbronne” herlei, terwyl dit ten diepste gaan om die staat se vermorsing van skaars hulpbronne. Met ander woorde, deur hardnekkig met ‘n rasgedrewe (Engels-hegemoniese) beleid van transformasie te volhard, is dit niemand anders nie as die staat self wat miljoene Suid-Afrikaners toegang tot onderwys, die ekonomie, die reg, en so meer ontsê. Intussen is dit duidelik dat die gemoedere in die Afrikaanse wêreld aan die oplaai is oor die skandalige wyse waarop Afrikaanse onderwysinstellings die sondebok gemaak word, pleks van aandag te gee aan gebrekkige staatsbestuur. Hierdie stygende Afrikaanse temperatuur is geensins beperk tot Afrikaners nie: onlangs het bruin leerlinge aan ‘n landbouskool op Jan Kempdorp luidkeels betoog teen dubbelmediumonderrig, terwyl persone naby aan die Laerskool Mikro volgens inligting van Die Vrye Afrikaan uit veel meer as slegs wit oorde deur steun oorval is. Maar hoe onbeholpe die staat ook tans in sy hantering van die saak is, bly die feit dat die toekoms van Afrikaanse onderrig in die eerste plek die verantwoordelikheid van die Afrikaanse wêreld self is. As ons nie as gemeenskap hiervoor gaan sorg nie, gaan niemand anders dit doen nie. Meer as vyftig jaar van staatsorg vir die Afrikaanse onderwys het tot heel onlangs nog ook gesorg vir ‘n taamlik passiewe en lamsakkige houding jeens die staat se aanslag teen Afrikaanse onderwys, maar die gety is duidelik besig om te draai. Een voorbeeld hiervan is die plan van aksie vir Afrikaanse onderwys wat die FAK met die ter perse gaan van vandeesweek se kommentaar op die punt was om aan te kondig. Die essensie van die plan is dat die heil van die Afrikaanse onderwys van die Afrikaanse burgerlike samelewing self afhang. Almal wat die saak van Afrikaans, en gevolglik die saak van ‘n werklik demokratiese Suid-Afrika steun, het hiermee ‘n unieke historiese geleentheid om skouer aan die wiel te sit. Meer inligting oor hierdie plan sal in aanstaande week se uitgawe bekendgemaak word. Intussen sal dit die regering ten goede kom as hy kennis neem van die feit dat hy besig is om te krap waar dit nie jeuk nie, en dat Afrikaans ‘n lang geskiedenis van verset teen onverdraagsame magshebbers het. Afrikaanse demokrate sal hulle ook nie nou deur ‘n haatdraende elite laat rondboender nie. |