blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die hedendaagse Suid-Afrikaanse ekonomie: Die begroting, die “people’s budget” en die groot gaping 2005-03-03
Margaret Legum

Deur Margaret Legum, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nuwe Ekonomie-netwerk (SANE) en stigter van die Sentrum vir Anti-Rassisme en Anti-Seksisme


As ’n mens weet dat die formele sakesektor as ’n werkgewer voortaan steeds minder belangrik gaan wees en dat ons elders sal moet soek vir inkomstegewende werk vir ons mense, hoe sal jy dan die regering se jongste begroting aanslaan?

Die Minister van Finansies het in ’n ander konteks inderdaad daardie waarheid erken, en armoede is, tereg ook, bo aan sy agenda. Maar wat die heersende makro-ekonomiese teorie betref, is dit so revolusionêr dat beleid steeds gemaak word asof besigheid, as dit reg hanteer word, met die werksgeleenthede vorendag sal kom wat armoede sal beëindig.

Belastingverlagings word dus toegestaan om sakelui aan te moedig om in nuwe werksgeleenthede te investeer. Is daar bewyse? Wat dit wel doen, is om belegging in kapitaal aan te moedig, wat werksgeleenthede verminder, en om dividende te verhoog om wispelturige aandeelhouers in die kraal te hou. Dit is sakeondernemings se taak om mee te ding ten einde te oorleef en uit te brei – en dit behels meer dikwels dat daar van werksgeleenthede ontslae geraak word as wat werksgeleenthede geskep word.

Die begroting erken tereg dat “die eerste ekonomie” – die grootondernemingswese – deur die kleinondernemingswese aangevul moet word. Belastingvergunnings sal daar help. (Dit is jammer dat hulle nie aangemoedig word om van SETA-opleiding [SETA = “Sectoral Education and Training Authority”] gebruik te maak nie – selfs al het hulle nie die heffing betaal nie – want die SETA’s het ’n enorme oorkapasiteit.)

’n Verlaging in die rentekoers op lenings sou baie nuttiger vir kleinsake gewees het. Radikale denke oor die verhouding tussen inflasie en die rente op banklenings is nodig. Reuse-inkomstes aan die bopunt van die ekonomie is baie meer inflasionêr as verhogings in inkomste aan die onderpunt. Eersgenoemde jaag pryse op in ’n poging om te bestee, terwyl arm mense koop wat reeds oorgeproduseer is en die surplusse absorbeer.

Top-inkomstes wat te groot is om te bestee, word in eiendom “belê”, tot nadeel van ons almal. Normale rentekoersveranderinge raak dit nie, omdat die selfvervullende voorspelling van eiendomsinflasie so sterk is. Ons rentekoerse is verlammend vir kleinsake en dit doen min om behuisingsinflasie hok te slaan. Dit is dus nie verbasend dat eiendomsinflasie nie ingereken word wanneer die inflasiekoers bereken word nie.

Hoe goed kleinsake ook al hanteer word, dit is ook nie die antwoord op werkverskaffing nie. In die wêreldmark moet sakeondernemings uitbrei of ondergaan; en kleinsake word altyd deur groot besigheid doodgemaak of ingesluk. Wanneer daar ook al ’n oorname of samesmelting is, gaan werksgeleenthede verlore. Oor die hele wêreld, hetsy in die kleinhandel (supermarkte, banke), die produksiewese (fabrieke) of die landbou (monokultuur), veroorsaak groot ondernemings ’n werkverskaffingswoestyn om hulle heen. Dit is hoe dit werk – dit gaan nie om hebsug nie – en wens sal dit nie verander nie.

Om ’n bestaan te maak, is iets anders. Miljoene mense kan klein of groot inkomstes verdien – van smouse en vissers tot konsultante en ontwerpers – deur spesialisgoedere of  dienste aan die mark te voorsien. Dit kan hulle doodsvonnis beteken as hulle gedwing sou word om kleinsakeondernemings te word.

Die groot gaping in die begroting word natuurlik deur die People’s Budget-veldtog (www.naledi.org.za) uitgewys. Die balansering van die begroting se steun vir die private en die openbare sektor laat die regering met ’n ernstige tekort aan die inkomste wat hy nodig het om te voldoen aan die behoeftes van die mense aan die onderpunt van ons ongelyke samelewing – dit wil sê om ontwikkelingstoelaes soos die basiese inkomstetoelae te verskaf, sowel as om mense in diens te neem wat nie deur die mark betaal kan word nie. Infrastruktuurontwikkeling, hoewel goed op sigself, is nie daarop gemik om langtermynwerksgeleenthede in die maatskaplike sektor of elders te skep nie.

Die onlangse onrus by hoëronderwysinrigtings, die onluste oor dienslewering en woede oor openbare dienste sal ook nie die laaste wees nie. Wesenlik vloei dit voort uit ’n diepliggende besef dat ’n samelewing wat massa-armoede te midde van ontsaglike rykdom duld, nie volhoubaar is nie. Aangesien dit nou duidelik is dat rykdom nie van die private sakesektor af deursyfer nie, moet dit doelbewus geskep word deur finansieringshulpbronne te verskuif uit die sektor wat werksgeleenthede verloor, na die sektor waar werkverskaffing werklik nodig is.

Die werklik dringende behoefte is aan groter werkverskaffing in die nie-marksektor, dit wil sê mense wat maatskaplike kapitaal ontwikkel maar nie regstreeks betaal kan word nie: onderwysers, verpleegsters en dokters, maatskaplike ondernemers; diegene wat omsien na die samelewing se wondbares (dié wat werk met bejaardes en sterwendes, mishandelde kinders en wese, slagoffers van gesinsgeweld); mense wat die omgewing en die kunste beskerm en bevorder; goed opgeleide en goed betaalde verskaffers van openbare dienste.  

Anders gestel, beteken dit dat daar nie ’n groot genoeg vraag in die sakesektor na werknemers is nie, maar dat daar ’n enorme vraag na werknemers is in die sektor wat die samelewing as geheel voed deur hom te voorsien van geskoolde, vaardige, gesonde en gelukkige mense wat ook produktief sal wees. In die sakesektor, en die gepaardgaande finansiële sektor, is daar ’n geweldige akkumulasie van geld wat opgegaar word. Wat nodig is, is ’n manier om dit oor te bring na waar dit doeltreffend benut kan word om mense in diens te neem in die nasionale belang.

Die “People’s Budget” doen in effek aan die hand dat inkomste verkry kan word deur ’n groter tekort, ’n vergrote begroting en die konvensionele belastingstelsels: hoër belasting op maatskappye en rykes en ’n veranderlike BTW op luuksegoedere. Dit sal egter nie voldoen aan die behoefte aan ’n ernstige verskuiwing van hulpbronne nie. Daarvoor is nuwe denkwyses en navorsing nodig.

In die eerste plek sal byvoorbeeld ’n klein transaksiebelasting genoeg inkomste inbring dat die Minister alle ander belastings kan afskaf as hy wil. (Dit sal tot baie groot voordeel van kleinsake strek, wat alle belastingvorms vaarwel sal kan toeroep.) Dit moet ’n belasting insluit op alle valutatransaksies wat spekulatief is – eerder as om iets werkliks te finansier – wat die toksiese uitwerking van fluktuasie van die rand aan bande kan lê.

In die tweede plek is byvoorbeeld staatskuld aan banke deel van ’n geërfde las wat belastinginkomste wegvreet. Slegs die banke trek voordeel daaruit. Die nasie se pensioene en ander spaargeld sal beter en veiliger in die land se infrastruktuur belê kan word as in fluktuerende aandelemarkte. Die staat sal ’n rentekoers aan spaarders betaal eerder as om by banke te leen, terwyl spaarders ’n gewaarborgde opbrengs deur die staat ontvang.

Nog radikaler, maar uiteindelik onafwendbaar, is dat die staat die reg van banke om geld deur lenings te skep, kan beëindig. In plaas daarvan kan die staat die voordeel van nuwe geld te skep aan die nasie as geheel gee. Banke sal slegs toegelaat word om uit te leen wat hulle self kan leen; slegs die staat sal nuwe geld kan skep en dit, sonder skuld, in die ekonomie bestee.

Ten slotte: as die regering die taak kry om inkomste te skep, sal nuwe denke nodig wees om die uitbetaling daarvan te organiseer. Die beroepstaatsdiens is nie die enigste manier waarop toesig oor nasionale besteding gehou kan word nie. ’n Vennootskap tussen die openbare en die burgerlike sektor, mutualisering van eienaarskap, en private maatskappye van die plaaslike gemeenskap is nuwe ekonomiese entiteite waaroor navorsing in ons land gedoen moet word.

Die begroting, tesame met die President se staatsrede, het een politieke paradigmaskuif bewerkstellig: van ’n verbintenis tot kleinregering na die bevordering van instaatstellende regering. Dit is uiters belangrik, maar is skaars opgelet. Dit kan die weg behoorlik baan vir ’n ekonomiese paradigmaskuif na hulpbronregering.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=143
Artikel nagegaan:
    -