blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die Suurmoere in opmars: Wat gaan aan op Stellenbosch? 2005-02-24
Kleinjan Schietekat, rondreisende verslaggewer

‘n Spesiale ondersoek van Die Vrypostige Afrikaan oor etlike maande, het opspraakwekkende inligting oor die bestaan van ‘n hoogs geheime groep aktiviste - Die Suurmoere - aan die lig gebring. Die groep bestaan uitsluitlik uit vroue, en die leierskap is almal verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch.

‘n Leser wat vrees vir sy lewe het Die Vrypostige Afrikaan enkele maande gelede geskakel nà die sogenaamde Fischerdebakel, oftewel die omstrede nadoodse toekenning van ‘n eredoktorsgraad aan adv. Bram Fischer deur die Universiteit van Stellenbosch. “Dis net die begin,” het die bevreesde leser gesê. “Ek is met die dood gedreig as ek hierteen stem op die senaat. En waarsku asseblief vir Prof. Blignaut dat hy op hulle lys is…” (Prof. Blignaut is ‘n fiktiewe naam vir ‘n bekende Stellenbosse historikus wat hom sterk in die openbaar teen die toekenning van die graad uitgelaat het. Weens die gevoeligheid van hierdie ondersoek is name en plekke feitlik deurgaans fiktief.)

Kort hierna is die bejaarde Prof. Blignaut byna dood toe ‘n gemaskerde aanvaller hom teen skemer tussen sy tamatieplante in sy agtertuin oorval en verwurg het met die veters van ‘n paar grys skoene wat aan mekaar vasgemaak is. Heelwat van Blignaut se vriende – die meeste afgetrede Stellenbosse akademici – wou blykbaar met die saak na die media, maar nà druk uit die hoogste kringe van die universiteit het Blignaut blykbaar uit lojaliteit teen die instelling se goeie naam die saak daar gelaat.

‘n Nota wat deur Blignaut se aanvaller op sy bors vasgespeld is, was die volgende belangrike leidraad in ons ondersoek: “Jou argumente was te goed vir jou gesondheid
 - Die Suurmoere.” Die nota, waarvan ‘n afskrif in Die Vrypostige Afrikaan se besit is, en waarvan ons die oorspronklike besigtig het, is aan ‘n forensiese laboratorium oorhandig en verbind met die DNS van me. Hanja Stapelberg, ‘n nagraadse student van die universiteit.

Stapelberg is vir ‘n tyd dopgehou, en dit het geblyk dat sy byna elke aand na 10 kuier in ‘n versteekte solderkamer by ‘n bekende Stellenbosse uithangplek, The Hidden Propeller. Dit het Die Vrypostige Afrikaan herhaalde vermommings as vrou gekos om agter die ware rede vir Stapelberg se besoeke aan The Hidden Propeller te kom, maar uiteindelik is ons moeite beloon: dié kroeg is die informele hoofkwartier van Die Suurmoere.

Tydens een van hulle byeenkomste het dinge een aand hand uitgeruk. Heelwat alkohol is verbruik onder die lewering van etlike vurige toesprake deur wat later sou blyk die leierskap van Die Suurmoere te wees. In ‘n stadium het prof. Franka de Haar, ‘n gesiene letterkundige van ‘n ander universiteit wat gereeld in die pers doenig is, en dr. Rita Coetzee, ‘n argivaris van Stellenbosch, mekaar in ‘n spontane boksgeveg toegetakel, wat later etlike lede van die byeenkoms betrek het. ‘n Mens sou kon glo jy kyk na ‘n aangepaste toneel uit die rolprent Fite Club.

Hierna was die tonge los, en was prof. Koeks Steyn, ‘n akademikus wat internasionaal bekendheid verwerf het met haar werk oor toleransie, die eerste om met ons te praat. “Ons het aanvanklik ontstaan as ‘n steungroep onder leiding van ‘n plaaslike berader by wie ons almal in terapie was. Ons was almal slagoffers van Afrikanerpatriargie, en uit die deel van ons verskriklike ervarings is ‘n diep band gesmee. By een van ons byeenkomste het Franka, ‘n kenner van aktivistiese leesteorie, ons voor die spreekwoordelike bors gegryp en gesê dit is tyd om ons trauma in iets positiefs om te skakel.”

“Mienke du Plessis, die digter, het ons op die naam van Die Suurmoere gebring. Jy weet  moer is so ‘n manlik misbruikte term, en dié van ons wat self moeders is kon dadelik by die voorstel aanklank vind. Mienke is steeds ‘n steunpilaar met slagspreuke en etikettering van ons opponente. My persoonlike gunsteling is, ‘Die enigste goeie Afrikanerman is ‘n dooie een of ‘n mak een’.

“Ons word ook verenig deur die feit dat ons ‘n afkeur in enige soort groep het. As jy om jou kyk, sal jy sien watter sterk individue vanaand hier is.”

Hanja Stapelberg het ook met ons gepraat. Stapelberg (25), erken dat sy self nie enige persoonlike ervaring van Afrikanerpatriargie het nie, maar sy sê, “Dit maak nie saak nie. Deur my simpatie met my susters het ek as’t ware self ‘n slagoffer geword. En laat ek jou sê, dis soet om so bitter te wees!”

Na hierdie byeenkoms is ons speurtog voortgesit, en het dit aan die lig gekom dat Die Suurmoere aan verskeie aksies rondom die Universiteit van Stellenbosch verbind kan word. Dit sluit in die Fischerdebakel, die hersiening van die universiteit se taalbeleid, en die poging om Dan Roodt by aanstaande maand se Woordfees verban te kry. Die aanduidings is dat Die Suurmoere se invloed tot in die rektoraat van die universiteit strek, en dat hulle ook ‘n uiters vernuftige mediastrategie volg. ‘n Aspek van laasgenoemde is dat hulle soms in skyndebatte met mekaar tree ten einde die valse beeld van openbare vyandskap voor te hou.

Dit het ook aan die lig gekom dat Die Suurmoere oor aansienlike fondse beskik. Van dit is blykbaar bekom deur ‘n nie-regeringsorganisasie, Vroue vir Koekoeke, wat hulle vir die Wes-Kaapse voëllewe beywer, maar in feite ‘n front vir Die Suurmoere is. ‘n Bron na aan die intelligensiedienste beweer dat Die Suurmoere ook geld van die regering ontvang het in ruil vir strategiese advies aan studente wat nou landswyd op kampusse van Afrikaans die sondebok maak. Kan Mienke du Plessis iets te doen hê met ‘n slagspreuk soos “Ons praat nie Afrikak nie,” wat die afgelope week op ‘n plakkaat by die University of Johannesburg gesien is?

Prof. Servaas Jooste, ‘n sosiale sielkundige en kenner van groepspatologieë, sê Die Suurmoere is ‘n goeie voorbeeld van groepsgedrag wat soms voorkom by gemeenskappe wat deur nasionalisme staatsmag verower en later verloor het. “Ons weet almal nasionalisme hanteer vroue bra sleg, en dit is na magsverlies wat sulke vroue dan terugslaan deur die taktiek van hulle vorige manlike onderdrukkers te gebruik.” Jooste sê “die slagofferstatus” wat hierdie vroue geniet, maak hulle feitlik onaantasbaar in die openbaar, en gee aan hulle die “skyn van progressie”. “Groepe soos Die Suurmoere haal dikwels jare en selfs dekades se opgekropte wraakgevoelens op die mans van hulle gemeenskap uit in die naam van die nuwe orde,” vertel Jooste. “’n Interessante verskynsel is hoe die haat vir die eie vader dikwels omgeskakel word in liefde vir heengegane mans wat onder die nuwe bedeling ‘n aanvaarbare beeld geniet. Hierdie fiksasie op gestorwe mans staan onder sielkundiges as spektrofilie bekend.”

Nog ‘n bekende afgetrede Stellenbosse akademikus, prof. Susan van Boeschoten, wat deur Die Vrypostige Afrikaan om kommentaar genader is, was woedend toe sy van Die Suurmoere se doen en late hoor. Van Boeschoten, wat in die 1980’s deur een van haar manlike kollegas met ‘n truprojektor aangerand is nadat hy gemeen het sy is bo hom bevorder, sê: “Wat weet dié spul van lyding onder die patriargie? Koeks Steyn het eers op 24 met haar BA begin toe haar modelloopbaan misluk het. Franka de Haar se pa finansier vandag nog haar motorfietsstokperdjie, en Hanja Stapelberg het die arme registrateur nooit vir haar koshuisplasing vergewe nie. Ek sê, na Hades met die hele spul!”


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=135
Artikel nagegaan:
    -