|
||||
Vandeesweek se kommentaar ‘n Netjiese meevaller van 1,6 miljard rand: dít is die dividend wat die eienaar van Ispat Iscor (eersdaags Mittal Steel South Africa), die Indiese staalmagnaat, mnr. Lakshmi Mittal, volgens Business Day (15/2/2005) in sy sak gaan steek - nadat Ispat Iscor se aandeelhouers verlede week meegedeel is dat hulle met ‘n laer as verwagte dividend van R1 per aandeel tevrede sal moet wees terwyl Ispat Iscor se totale verdienste verlede week met 183% tot 4,5miljard rand gestyg het. Business Day berig verder dat, soos bekend is, Mittal se oorname van Iscor deel uitmaak van sy meesterplan om die wêreld se grootste staalmaatskappy te stig - ‘n oogmerk wat hy waarskynlik binne enkele maande sal bereik wanneer sy ryk saamsmelt met die VSA se International Steel Group. Dat Mittal se suksesse hom goed te pas kom, is nie altemit nie: nadat hy verlede jaar die duurste huistransaksie ooit in Londen teen sowat 800 miljoen rand beklink het, was daar ook nog in Juliemaand sy dogter se troue in Parys wat hom na bewering sowat 600 miljoen rand uit die sak gejaag het. Hoe kan hierdie duiselingwekkende syfers vertolk word? Soos bekend is Iscor oorspronklik in 1928 as Yskor gestig. Algaande is dit as semi-staatsonderneming tydens die Nasionale Party-bewind uitgebou tot ‘n magtige yster- en staalvervaardiger met aanlegte te Pretoria, Vanderbijlpark, Saldanha en Newcastle. Yskor was nie net sentraal in die opheffing van arm Afrikaners nie, maar ook in Suid-Afrika se tweede industrialisasie vanaf die 1930’s. As sodanig was dit mettertyd onlosmaaklik verbind aan die projek van Afrikaner-nasionalisme, en as sodanig het dit reeds - net soos Afrikaner-nasionalisme, sedert 1980 ‘n opdraande stryd gevoer. Volgens syfers van die National Union of Mineworkers of South Africa (NUMSA) wat deur die Mededingingstribunaal aangehaal word in hul bevinding van Mittal se oorname van Iscor het Iscor se werknemerstal gedaal vanaf 44 000 in 1980 tot slegs 12 200 in 2004. Volgens Solidariteit is 'n beduidende aantal werknemers afgedank tussen 2001 en 2004, dit wil sê vandat Mittal 'n aandeelhouer van Iscor geword het tot met sy oorname daarvan. Hoewel Numsa en Solidariteit 'n moratorium van drie jaar op verdere afdankings kon kry, het die afdankings van die vorige bestuur dit ook moontlik gemaak dat Mittal nie self as afdanker in die spervuur kom nie. Reeds die vorige bestuur van Iscor, waarvan die grootste gros in die afgelope maande sedert Mittal se oorname Iscor se diens verlaat het, het ‘n brutale strategie ten gunste van aandeelhouersbelange by Iscor nagejaag. Afgesien van Iscor se dekadelange skade aan veral die omgewing in Vanderbijlpark, het hierdie afdanking van werkers in die naam van aandeelhouers veral in die 1990’s verwoestende skade aan die maatskaplike weefsel van die Vaaldriehoek aangerig. In weerwil van ‘n verbete geveg wat Numsa en Solidariteit teen die oorname voor die Mededingingstribunaal gevoer het, het die Tribunaal op 5 Julie 2004 die oorname (“merger”) “onvoorwaardelik” goedgekeur. Die grusame verhaal van individuele verryking en gemeenskapsvernietiging wat die afgelope jare rondom Iscor ontvou het, word klaarblyklik met mening onder sy nuwe bestuur voortgesit. Tot vandag toe hang daar onbeantwoorde vrae oor Mittal se oorname van Iscor. Een so ‘n vraag is waarom die regering, wat sy ekonomiese beleid die afgelope 18 maande begin stuur het in die rigting van ‘n sogenaamde ontwikkelingstaat wat werk moet skep, toegelaat het dat Iscor in buitelandse hande beland. Per slot van rekening het ons nou hier te make met enorme winste wat deur al hoe minder Suid-Afrikaanse werkers geproduseer (en gedeel) word, en waarvan minstens 1,6 miljard rand nou uit die land geneem gaan word. Die antwoord op die regering se goedkeuring van die Mittal-oorname setel bes moontlik in die verklaarde beleid van die Mbeki-regering om sogenaamde Suid-Suid-samewerking na te streef. In hierdie strategie is samewerking tussen Suid-Afrika, Brasilië, Indië en China voorop. Reeds gedurende Oktober 2003 het Pres. Mbeki ‘n staatsbesoek aan Indië gebring, nadat hy self gedurende 1996 in sy hoedanigheid as adjunkpresident ook ‘n amptelike besoek daar afgelê het, en Pres. Mandela óók Indië tydens sy ampstermyn besoek het. Indië was nie net die eerste land om sanksies teen Suid-Afrika tydens apartheid in te stel nie, maar dit was ook een van die eerste lande met wie sportbetrekkinge na die vrylating van Nelson Mandela herstel is, en wat tot die Proteas se eerste buitelandse kriekettoer na dekades van isolasie gelei het. Minder as ‘n jaar na Pres. Mbeki se staatsbesoek van Oktober 2003 het Indië se president, mnr. Abdoel Kalam, Suid-Afrika weer van 14 tot 18 September 2004 besoek. In ‘n hele aantal internasionale forums is Indië en Suid-Afrika vandag alliansievennote. Dit is teen hierdie agtergrond dat Mittal se oorname van Iscor moontlik gemaak is, op voorwaardes wat uiters gunstig vir hom as individu, maar tegelyk minder gunstig vir Iscor se werknemers en die omliggende gemeenskappe van veral die Vaaldriehoek is. Tot dusver was daar geen teken van beleggings in hierdie gemeenskap nie, hoewel mnr. Davinder Chugh, Hoof Uitvoerende Beampte van Ispat Iscor, darem kapitaalplanne ter waarde van 1,5 miljard rand vanjaar by die maatskappy bekendgemaak het. Hoe die aandeelhouers – wie se belange dan nou so sentraal sou wees – oor hul minderwaardige dividend voel, kan ‘n mens maar net raai, maar wat seker is, is dat aandeelhouersbelange kwalik met die reusagtige dividend aan Mittal gedien word. Mittal se oorname sou waarskynlik nooit kon plaasgevind het sonder die goedkeuring van die Suid-Afrikaanse regering was nie. As sodanig het dit dus netjies ingepas by die regering se strewe na groter samewerking met Indië, en is dit ‘n klassieke voorbeeld van hoe die nasiestaat vandag ‘n aktiewe bouer aan die nuwe internasionale wanorde is, waar die mag nie in die hande van gemeenskappe lê nie, maar in die mag van ‘n roekelose staatskorporatiewe bestel. In Suid-Afrika is die wagwoord ter bevordering van hierdie staatskorporatiewe bestel transformasie, en in die buitewêreld staan dit bekend as “integrasie in die globale ekonomie” (kyk Raoul Marc Jennar se ontleding van hierdie frase in Februarie se Le Monde Diplomatique). Dit is in feite misleidend om te praat oor die einde van die nasiestaat, aangesien die nasiestaat veral sedert die 1980’s aktief meewerk aan die oprigting van ‘n ondemokratiese internasionale magsnetwerk. Selfs die Europese Unie, wat eens op ‘n tyd nog ‘n moontlike alternatief op hierdie handelswyse - toespeling bedoel – kon gebied het, is nou pens en pootjies daar ingeskryf. In hierdie verband toon Bernard Cassen in Februarie se Le Monde Diplomatique aan hoe die derde afdeling van die sogenaamde Europese Grondwet eintlik niks anders nie as ‘n verskansing is van die mark bo alles, ten koste van nasionale en burgerlike soewereiniteit. Die enigste alternatief op hierdie staatskorporatiewe elite-bestel, is dat die burgerlike samelewing wêreldwyd via die nuwe alterglobaliseringsbeweging hulle met groot ywer op die skepping van ‘n ander wêreld moet toelê, waar ekonomiese selfstandigheid, ekologiese volhoubaarheid en deelnemende demokrasie die kernwaardes is. Dit is hierdie uitdaging wat ook op Afrikaner en Afrikaan in Suid-Afrika se burgerlike samelewing wag. |