blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde Diplomatique: Hernuwing van deelnemende demokrasie - Gedeelde wetenskaplike intelligensie 2005-02-11
Jacques Testart



Kritieke besluite (oor genetika, tegnologie, energie, ens.) word dikwels geneem deur te steun op die raad van “objektiewe” deskundiges sonder raadpleging van die bevolking, insluitende diegene wat eerste daardeur geraak word. Sodoende groei die gaping tussen die aspirasies van die breër bevolking en die menings van die regeerders wat deur ekonomiese drukgroepe beïnvloed word. Ervarings van deelnemende demokrasie wys egter dat ‘n “burgerlike kundigheid” moontlik is.

Deur Jaques Testart, Navorsingsdirekteur aan die Franse Nasionale Instituut vir Gesondheids- en Mediese Navorsing
(Februarie 2005, uit die Frans vertaal deur Ernst Wolff)
Onder die tien mees geliefde persoonlikhede van die Franse tel twee sportlui, twee verskeidenheidsangers en twee rolprentakteurs (1). Geen politikus, vakbondleier, skrywer of navorser, “intellektueel” of projekdraer nie. Almal weet van hierdie skandaal wat telkens met opnames uitgewys word, maar niemand waag dit om die feit in ag te neem by 'n oordeel oor wat demokrasie is nie. Mens maak of jy glo dat “die ergste stelsel, behalwe al die ander” dié een is wat vervreemding of die fantasieë van die grootste hoeveelheid mense goedkeur. Mens maak of die geskatte gevoel van die meerderheid van onvergelykbare waarde is aangesien – Aristoteles het dit reeds gesê – “die wil van die grootste hoeveelheid geld as wet”.

Die regeerders weerhou hulle egter deeglik daarvan om belangrike keuses aan die meerderheid te stel, wanneer die opnames aan hulle resultate te kenne gee wat onaanvaarbaar vir die moraal (doodstraf) of vir ekonomiese drukgroepe (genetiesgewysigde organismes) is. Sodoende steun mag op ‘n politieke stelsel waaraan dit sy legitimiteit ontleen, maar waarvan dit die gebruik vir die politieke spel beperk.

In ‘n artikel in hierdie koerant vra José Saramago hom af oor die meganismes van afvaardiging waardeur die kieser van sy persoonlike politieke aksie afsien tot die volgende verkiesing en hy doen aan die hand dat “demokrasie in alle debatte heroorweeg moet word” (2). Dit is hoogs onwaarskynlik dat die toename in gemiddelde “opvoeding” genoegsaam sal wees om ‘n humanistiese bewussyn voort te bring, soos daar lank geglo is: die ouderdomsgroepe wat ‘n meerderheid matrikulante het maak blykbaar nie ‘n grondliggend verskil aan die besluite wat hulle in vergelyking met diegene uit die tradisionele samelewing neem nie.

Daarbenewens plaas spoedige en dikwels onomkeerbare ontwikkelings van tegnowetenskap besluitnemers voor kritieke keuses wat toekomstige geslagte gaan raak. Die verkose verteenwoordigers ondergaan die druk van die mark, maar meesal sonder om oor die nodige bevoegdhede te beskik om dit die hoof te bied wanneer dit gaan om besluite oor die verspreiding van nuwe tegnologieë. Die gewone burgers, veral diegene in die verenigingsbeweging, is soms heelwat beter ingelig as die politieke leiers.

Die kundigheid van strydende burgers moet egter sy plek ken, net soos die geval is met die amptelike deskundiges, selfs al bevind laasgenoemde hulle feitlik altyd in ‘n belangestryd met die wêreld van die industrie. Mens behoort ook op jou hoede te wees vir “die ideologie van kundigheid en vir die bevoegdheid wat dien om die strewes van die burgers eenkant te skuif deur die strewes van sekere persone uit dieselfde sosiale milieu wat hulle laat koöpteer sonder om ooit verantwoording te doen voor die bevolking.” (3) Dit is dus hoog tyd om nuwe praktyke uit te vind, in die besonder om te poog om tekortkomings van verteenwoordigende demokrasie reg te stel deur meer deelnemende vorms daarvan.


Ver van die georganiseerde maskerades

So kan die inwoners van ‘n streek al meer gereeld hulle gesamentlike behoeftes verwoord, byvoorbeeld tydens openbare ondersoeke via plaaslike inligtings- en/of konsultasiekomitees. Wat nasionale aangeleenthede betref, moet daar eerder gekyk word na groepe deskundiges (komitees van sogenaamde “wyses”), na panele van regstreeksgeraakte persone (gespreksgroepe) en selfs na nie-betrokkenes (burgerlike konferensies). Om te ontkom aan die beskuldiging dat dit doodeenvoudig oor opportunisme gaan, moet hierdie ervarings dien tot die uitbreiding van openbare beleide voortspruitend uit die menings wat so versamel kan word. Dit is ver van altyd die geval en die skokkendste voorbeeld hiervan is waarskynlik dié van geneties aangepaste plante (GAP).

Die verbouing van GAP op die lande, dus in ‘n nie-ingeperkte gebied, is in Frankryk agtereenvolgens veroordeel deur ‘n burgerlike konferensie (1998), deur die “Komitee van Vier Wyses” (2002), deur verskeie openbare raadplegings (2003-2004) en deur die uitslae van talle meningspeilings. Die e-posse – ‘n demokraties aanvegbare praktyk – wat aangevra is deur die Ministers van Landbou, Ekologie en Navorsing was meer as 90% gekant teen toetse op GAP in nie-ingeperkte gebiede. Die organiseerders van hierdie maskerades maak egter daaruit die gevolgtrekking... dat die toetse moet voortgaan! Die Europese Kommissie word nie hierin oortref nie: op 19 Mei 2004 het die Kommissie die moratorium op die invoer van GAP opgehef ten spyte van herhaalde uitslae van meningspeilings (meer as 70% staan hierdie gewasse in Europa teen) en sonder om enigsins rekening te hou met die antwoorde op die Kommissie se valse uitnodiging, wat in Engels opgestel is, om jou mening per e-pos te lug (“Submit a comment by e-mail ...”).

Die eksperimente wat veral in Europa die afgelope twintig jaar uitgevoer is, het dit moontlik gemaak om met behulp van leke voorstelle uit te werk om onsekere situasies te bestuur, wat meesal in verband staan met nuwe tegnologieë (GAP, keuses oor energie, kunsmatige voortplanting, uitsaaisenders...). Vir sodanige beraadslagings waar die uitreiking van ‘n ingeligte oordeel genoegsame voorafgaande opvoeding vereis, kan sogenaamde “deelnemende” demokrasie nie die hele burgery betrek nie. In een van die mees belowende vorms van “dialogiese demokrasie” (4)– die burgerlike konferensie (5) – kan die groep taamlik verteenwoordigend van die diversiteit in die bevolking wees, al is die groep beperk tot ‘n stuk of vyftien persone: kwotas word per kategorie (ouderdom, geslag, beroep, politieke oriëntasie, streek) toegepas op ‘n steekproef van minder as honderd vrywillige persone wat ewekansig gekies is. Die doel van hierdie prosedure is om ‘n mening in te win wat veronderstel is om die geheel van die gemeenskap s’n te wees as mens aan hulle vooraf die middele vir ‘n ingeligte besluit kon gee, terwyl dit prakties nooit uitvoerbaar sou wees nie.

Dit gaan nie net daaroor om ‘n tegniese dossier voor te berei nie, maar om die steekproefgroep in ‘n situasie van verantwoordelike verstaan, interaksie en optrede te plaas. Die wedywering wat so tot stand kom, is duidelik sigbaar, soos waarnemers opgemerk het aangaande die afsluitingsbyeenkoms van die konferensie oor die gebruik van geneties gewysigde organismes. Tydens die geleentheid het die paneel sy beslissings aan die pers bekend gemaak: “Die kalm saaklikheid waarmee elkeen daarin slaag om die vrae te konfronteer, skep ‘n atmosfeer van beskeie trots en van gedeelde eerlikheid, wat deur baie deelnemers, joernaliste inkluis, ervaar is met werklike emosie.” (6) Hierdie paneel van burgers moet ‘n mandaat ontvang oor ‘n spesifieke saak; dit moet al die nodige inligting vir sy oordeel ontvang, sonder om onsekerhede of botsende teorieë weg te steek. Die werksaamhede van die paneel moet deur ‘n psigo-sosioloog gesteun word, moet beskut wees teen moontlike manipulasie (vandaar die anonimiteit van die deelnemers tot en met die afhandeling van hul taak), en die paneel sal daarna ontbind word ten einde te voorkom dat ‘n liggaam van “lekedeskundiges” gevorm word.

Die aard van inligting wat voorsien word aan die burgers wat in hierdie eksperimente betrokke raak, is een van die belangrike punte. Ten einde hulle objektiwiteit te waarborg, blyk die beste formule te wees om ‘n loodskomitee te vorm wat, buiten die organiseerders van die proses wat die werking daarvan goed ken, ook deskundiges insluit wat uiteenlopende of selfs weersprekende menings huldig. Hierdie komitee skep dan by wyse van konsensus die inligtingsprogram (watter onderwerpe behandel word, dokumente voorgestel word en die identiteit van die opleidingsamptenare). Die verenigingsbeweging vind op dié manier sy plek sowel in die loodskomitee as onder die opleidingsamptenare, wat sodoende ‘n teen-kundigheid oplewer wat dikwels teen die kundigheid van die meeste institusionele deskundiges is.

Sulke eksperimente het aan die eenkant getoon dat elke burger wat instem om deel te neem bevoeg blyk te wees aangesien hy/sy in staat is om te leer, om te verstaan, om te analiseer en om ‘n gemotiveerde oordeel te formuleer; aan die anderkant het dit getoon dat net ‘n minderheid van die mense wat genader is (omtrent een uit drie) die inperking daaraan verbonde aanvaar, waarvan die mees inperkende is om ‘n klomp naweke daaraan te wy om jou in te lig, te bespreek, te ondersoek, en jou mening op ‘n anonieme en nie-vergoede wyse te gee.

My hipotese is dat hierdie twee stellings dit moontlik maak om ‘n outentiese demokratiese funksionering in die vooruitsig te stel. Waarom nie toegee dat demokrasie die stelsels is wat die politiek laat saamval met die stem van die meerderheid burgers wat aanvaar om te leer en te verstaan in ‘n proses wat vir almal oop is nie? Daar moet ‘n einde gemaak word aan die magiese opvatting van die demokrasie wat die indruk skep dat sommer enigiemand ‘n relevante opinie oor ‘n komplekse aangeleentheid kan hê sonder om eers die middele te verwerf om die opinie te steun. Wanneer die Verklaring van Burger- en Menseregte (Déclaration des droits de l'homme et du citoyen) stipuleer dat “die wet die uitdrukking van die algemene wil” is, dan veronderstel dit dat hierdie uitdrukking die gevolg is van ‘n vrywillige konstruksie vanuit die politieke arbeid van die burgers.

Hierdie voorstelle mag as elitisties getakseer word, op grond van die idee dat die bevolking saamgestel word uit die geheel van die burgers en dat daar dus nie sprake daarvan kan wees om ‘n gedeelte uit te sluit nie... Dit is vanselfsprekend, maar wys die groeiende gebrek aan deelname tydens verkiesingsraadplegings nie op ‘n uitsluiting (waarvan daar gesê word dat dit vrywillig is) van 30%, 50% of selfs meer van die mense wat uitgenooi is om te stem nie? Wat belangrik is, is om nie ‘n gedeelte van die bevolking na die rand van die samelewing te stoot en daar te hou, terwyl ‘n ander deel verantwoordelik gemaak word vir die samelewing nie. Op dieselfde manier as waarop al die burgers tot die stembus geroep word, kan almal op ‘n gelykkansige manier aangewys word om debat te voer en hulle mening te gee tydens ‘n burgerlike konferensie. As die verhouding van mense wat nalaat om hieraan deel te neem (weens die swaar inperkings van hierdie prosedure) vergelykbaar is met die rekordvlakke van onttrekking tydens verkiesings, kan dit nogtans wees dat sekere wegblyers meer gemotiveer sal wees om aan so ‘n eksperiment deel te neem as om na die stemlokaal te gaan.

Die demokrasie van beraadslaging is nie daar om ‘n konfrontasie tussen die verkose parlement en ‘n ander parlement van burgers wat deur loting gekies is, te organiseer nie. Eerstens, omdat die burgerlike forum verdwyn nadat dit sy mening gegee het oor die probleem wat tot sy totstandkoming gelei het, en omdat ander burgers, wat net sulke leke is, hulle gevoel oor ander probleme sal opper (of weer ‘n keer oor dieselfde probleem, indien nodig). Tweedens, beoog niemand dat ‘n wet geskryf word deur anonieme persone wat geen mandaat as verkose leiers het nie. Dit gaan nie daaroor om die funksie van die parlement te vergroot onder die veronderstelling dat dit noodwendig tot die beste vir almal sal lei nie; dit gaan daaroor dat alle politieke betrokkenheid ‘n seël vereis, naamlik dié van nasionale verteenwoordiging. Die wetlike maatreëls oor burgerlike konferensies (wat die presiese omskrywing van hulle protokol en die beheer van hulle funksionering vereis) behoort die plig van die verkose persone in te sluit om hulle gevolgtrekkings te maak en die gevolge wat daaruit spruit openbaar bekend te maak.

Rewolusionêre eksperimente

Net soveel as by die praktyke van afvaardiging, kan dié van deelname versprei word oor die grense van ‘n streek of ‘n land, en raak dit die hele planeet. Dit kom daarop neer om te sê dat die beoordeling van globale bedreigings (klimaatsveranderings, omgewingsrisiko’s, etiek van die lewe) nie die uitsluitlike domein van deskundiges is nie en dat internasionale organisasies toesig kan hou oor die prosedure van ‘n wêreldwye beraadslagende demokrasie.

Hierdie weë wat nog eksperimenteel is, is rewolusionêr omdat hulle die kontoere van ‘n ander demokrasie aandui en die geldigheid van die ingeligte oordeel van ‘n verantwoordelike paneel, en die billikheid van dialogiese prosesse erken. Want “’n billike maatreël is ‘n maatreël wat geneem word deur prosedures te volg wat by alle deelnemers die oortuiging skep dat dit billik is”. (7) Hierdie prosedure is natuurlik nodig om die komplekse sake van nuwe tegnologieë te bestuur (8), maar dit sal ook baie bydra tot die oplossing van etiese of politieke konflikt (9).

Kom ons neem die voorbeeld van die afskaffing van die doodstraf in Frankryk in 1984. Die betrokkenheid van die Minister van Justisie, mnr. Rober Badinter, wat toegelaat het dat hierdie barbary stopgesit word, is ‘n geval van “misbruikende verteenwoordigende demokrasie”: ‘n belangrike besluit is geneem sonder ‘n spesifieke mandaat. ‘n “Misbruikende deelnemende demokrasie” by wyse van ‘n referendum wat tot ‘n impulsiewe “keuse” sou lei eerder as om diepgrondig te dink, sou waarskynlik tot die teenoorgestelde gevolgtrekking gekom het. Aan die anderkant weet almal wat burgerlike konferensies bygewoon het dat so ‘n werkwyse, as dit op die doodstraf van toepassing gemaak is, sou uitloop op die standpunt van die Ministerie van Justisie. Die verantwoordelikheid van die betrokke persone (die vrywillige “superburgers”) en die omstandighede van hul nadenke (plegtigheid, verdieping in die onderwerp, uitruil van argumente, wedywering) bring by die grootste deel van die deelnemers die wesenlike menslike eienskappe van intelligensie, morele bewussyn en altruïsme na vore.

_________

(1) Volgens die IFOP-Journal du dimanche-opname, 25 Julie 2004.
(2) José Saramago, "Que reste-t-il de la démocratie?", Le Monde diplomatique, Augustus 2004.
(3) André Bellon en Anne-Cécile Robert, Le Peuple inattendu, Parys : Sylepse, 2003.
(4) Lees Michel Callon, Pierre Lascoumes en Yannick Barthe, Agir dans un monde incertain. Essai sur la démocratie technique. Paris : Seuil, 2001.
(5) Hierdie prosedures word « konsensus-konferensies » genoem in Denemarke, waar dit van stapel gestuur is in die 1980’s en waar dit betreklik geïnstitusionaliseer is. Raadpleeg die Amerikaanse webruimte van die Loka-instituut (www.loka.org) en ook dié van die vereniging Fondation sciences citoyennes : www.sciencescitoyennes.org.
(6) Daniel Boy, Dominique Donnet-Kamel en Philippe Roqueplo, "Un exemple de démocratie délibérative : la conférence de citoyens sur l’usage des OGM en agriculture et dans l’alimentation", Revue française de science politique, 50 (4-5), pp. 779-809, 2000.
(7) Agir dans un monde incertain, op.cit.
(8) Suzanne de Cheveigné, Daniel Boy en Jean-Christophe Galloux, Les Biotechnologies en débat. Pour une démocratie scientifique, Parys: Balland, 2002.
(9) "Conférences de citoyens : les vertus du débat public", Transversales Science Culture, 2e kwartaal 2002


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=133
Artikel nagegaan:
    -