|
||||
Gérard Prunier Brose, gedeeltelike vrede in Soedan Gaan die bloedige konflik wat Soedan al twintig jaar lank verskeur uiteindelik tot ‘n einde kom? Die vredesooreenkomste wat op 9 Januarie tussen Khartoem en die Volksbevrydingsleër van Soedan onderteken is, stel ‘n deling van mag en van die olierykdom in die vooruitsig. Onsekerheid oor die lewensvatbaarheid daarvan duur egter voort, omdat dit ‘n belangrike gedeelte van die opposisie uitsluit en nie die konflik in Darfoer besleg nie. Deur Gérard Prunier, Navorser by die CNRS, Parys; Direkteur van die Franse Sentrum van Ethiopiese Studies, Addis-Abeba (Februarie 2005, uit die Frans vertaal deur Ernst Wolff) Die vredesooreenkomste wat op 9 Januarie 2005 in Nairobi, Kenia onderteken is, maak ‘n einde aan die konflik wat Soedan al twintig jaar lank verskeur. Die konflik sou nagenoeg een en ‘n half miljoen lewens geëis het, meer as vier miljoen mense binnelands ontwortel en 600 000 vlugtelinge na die naburige lande tot gevolg gehad het (1). Met reg het die “internasionale gemeenskap” hom verheug oor hierdie politieke, maar ook ekonomiese, ooreenkoms, wat na twee-en-‘n-half jaar se onwaarskynlike onderhandelings behaal is. Hier moet mens egter versigtig wees, want Soedan bly steeds die teater van hoogs gewelddadige konflik in die westelike provinsie van Darfoer (2), wat nie deur die ondertekenare in Nairobi aangespreek is nie. Daarby sal die uiters ingewikkelde reëlings wat aanvaar is, moeilik gehandhaaf kan word deur ‘n saamgestelde politieke korps, wat sowel uit die Christelike guerillas as die fundamentalistiese Moslem-bewegings kom, en waarvan noordelike én suidelike opponente kla dat hulle uitgesluit is. Die oorlog tussen Noord- en Suid-Soedan, wat sowel ‘n kulturele as godsdienstige oorlog was, het sy oorsprong al ‘n halfeeu terug. In Augustus 1955, toe die Britte nog nie die land verlaat het nie, het die aankondiging dat die Britse offisiere deur Arabiese offisiere vervang sou word, ‘n muitery ontlok in die Equatoria Korps, ‘n militêre eenheid bestaande uit swart soldate. Hierop het sewentien jaar se oorlog gevolg waaraan die vredesooreenkoms van Addis-Abeba in Februarie 1972 ‘n einde gemaak het. Die ooreenkoms het aan die drie suidelike provinsies ‘n relatiewe outonomie binne ‘n federale opset gegee. Maar toe olie in 1979 in die Suide ontdek is en ‘n enorme kanaal die daaropvolgende jaar gebou is om water uit die Nyl te bekom tot voordeel van Egipte (Jonglei Canal Project), is president Gaafar Muhammad Nemeiry daartoe gelei om die ooreenkoms van Addis-Abeba eensydig te verbreek. Die oorlog het in Mei 1983 hervat toe die swart eenhede van die Soedanese weermag weer ‘n keer in opstand gekom het teen hulle Arabiese bevelvoerders. Kolonel John Garang het die leiding geneem en die Volksbevrydingsleër van Soedan (VBLS) gestig. Aangesien President Nemeiry deur die Verenigde State gesteun is, het die rebellie die steun van Ethiopië van kolonel Menguistu Haile Marïam en sy sosialistiese bondgenote gekry. Die einde van die Koue Oorlog en die val van die Menguistu-regime in Mei 1991 het die VBLS erg verswak en amper tot sy nederlaag gelei. Maar vanaf 1993 het president Yoweri Museveni se Uganda die plek van die kwynende Ethiopië geneem. Aangesien ‘n fundamentalistiese Moslem-regering intussen in 1989 in Khartoem sitting geneem het, het die VBLS, net soos Kampala, toenadering gevind by... die Verenigde State. Na verskeie onvrugbare pogings in die 1990’s, het Khartoem toegestem tot ernstige onderhandelings ná 11 September 2001. Die Islamistiese regime het ‘n moontlike Amerikaanse militêre ingryping gevrees, omdat dit aan Al Kaida steun gebied het ten tye van sy stigting. Samesprekings is dus in 2002 in Kenia begin. Khartoem het die gesprek baie lank laat sloer, in die hoop dat ‘n verandering in die geopolitieke balans hom sou spaar daarvan om te groot toegewings te maak. Daar moes tot November 2004 (die herkiesing van mnr. George W. Bush) gewag word, voordat die Islamistiese regime bereid was om ‘n omvattende ooreenkoms te aanvaar. Intussen, in Februarie 2003, het die westelike provinsie van Darfoer ook teen die sentrale gesag in opstand gekom, wat daarop wys dat die hoofprobleem in Soedan setel in die magsmonopolie van ‘n klein Arabiese elite uit die Nylvallei, en nie in ‘n godsdienstige probleem nie. Darfoer is 100% Moslem en die burgeroorlog wat die afgelope twee jaar daar afspeel is nie ‘n stryd van “Arabiere teen Afrikane”, soos dit al te dikwels beskryf word nie. Die stadige uitbreiding van die guerilla-oorlog na die uitsluitlik Arabiese provinsie van Kordofan toon dat die verskil daar ook eerder ekonomies en polities is as godsdienstig en rassig. Die ooreenkoms van 9 Januarie is nie een ooreenkoms nie, maar ‘n stel afsonderlike ooreenkomste oor spesifieke onderwerpe wat op verskillende datums sedert die somer van 2002 onderteken is. Die eerste van hierdie dokumente staan bekend as die “Protokol van Machakos”, die naam van die klein Keniaanse stad waar die ondertekening in Julie 2002 plaasgevind het. Die ooreenkoms stel ‘n referendum oor selfbeskikking vir Suid-Soedan in die vooruitsig ná ‘n tussentydse periode van ses jaar, voorafgegaan deur ‘n voor-tussentydse periode van ses maande, dit wil sê ‘n totaal van ses-en-‘n-half jaar. In September 2003 het die partye teenwoordig tot ‘n skikking gekom aangaande die “sekuriteitsreëlings”. Laasgenoemde voorsien die onttrekking van noordelike troepe uit die Suide en van die magte van die VBLS uit die Noorde (3), asook die oprigting van gesamentlike geïntegreerde eenhede (GGE). Die GGE wat uit ongeveer 40 000 lede sou bestaan, sou saamgestel wees uit gelyke dele van die magte van die VBLS en die bestaande weermag. Dit sou gestasioneer wees in die drie provinsies in die Suide sowel as die Noord-Suid-grensgebied, wat gedeeltelik deur die VBLS beset is (dit sluit die Abyei-sone, die berg Nuba en die suide van die Blou Nyl-provinsie in). ‘n Gemeenskaplike staf is in die vooruitsig gestel. Afgesien van die GGE, sou die VBLS en die regering toegelaat word om hul eie magte te behou wat onderskeidelik in die Suide en die Noorde gestasioneer sou wees. In Desember 2003 is ‘n “ooreenkoms oor die verdeling van rykdom” bereik. Dit reël die hantering van vraagstukke oor grond, die bestuur van die Ministerie van Finansies, die daarstelling van ‘n dubbele bankstelsel (‘n Moslem-stelsel (4) in die Noorde en ‘n klassieke stelsel in die Suide), die beheer van doeane en van die fiskale stelsel. Maar dit stel veral ‘n verdeling van die baie belangrike voordele van olie in die vooruitsig. Die land het sedert die voltooiing van die Heglig-Port Soedan-oliepypleiding in 1999 ‘n middelslagoliemoondheid geword. Gegewe die wêreldolieprys, bring die sowat 390 000 vate per dag feitlik 11,8 miljard rand per jaar in. Die Ministerie van Energie het planne uitgewerk om die produksie uit te brei tot 500 000 vate per dag teen die einde van 2005. As die pryse konstant bly, beteken dit dus ‘n gelukslag van meer as 15,8 miljard dollar waarvan die herverdeling binne ‘n jaar verseker moet word (5). Die ooreenkoms oor rykdomme voorsien die gelyke verdeling van oliegeld tussen Noord en Suid. Drie ander verdrae is onderteken in Mei 2004. Die eerste en belangrikste handel oor die gemeenskaplike uitoefening van politieke gesag. Volgens hierdie dokument sal mnr. Omar Hassan El-Bechir president bly en Kolonel Garang sal vise-president word met ‘n vetoreg op die besluite van die staatshoof. ‘n Gesamentlike regering sal saamgestel word tydens die ses voor-tussentydse maande met 52% van die poste toegeken aan die huidige enigste party (Mutamar al-Watani oftewel die Patriotiese Kongres), 28% aan die VBLS, 14% aan die noordelike opposisie (6) en 6% aan suidelike magte wat nie tot die VBLS behoort nie. In dieselfde tydperk van ses maande moet ‘n grondwetlike kommissie ‘n Grondwet uitwerk, iets waarvan Soedan nog altyd slegs tydelike en diktatoriale weergawes geken het. ‘n Sensus sal na twee jaar gehou word - die laaste was in 1982 - om ‘n algemene verkiesing na drie-en-‘n-half jaar moontlik te maak, dit wil sê in die helfte van die oorgangstydperk. Die twee ander dokumente wat in Mei 2004 onderteken is, voorsien tussentydse streeksadministrasiestelsels vir die Abyei-sone op die grens van Bahr-elGhazal en Kordofan, die Nubagebergtes en die suide van die Blou Nyl-provinsie. Dit is drie streke met gemengde bevolkings van Arabiere en Afrikane, gedeeltelik Moslem en gedeeltelik Christen en wat, hoewel dit in die Noorde geleë is, invalle van die VBLS beleef het tydens die oorlog. Die laaste twee dokumente wat in Naivasha in Kenia op 31 Desember 2004 onderteken is, stel verskeie sekuriteitsooreenkomste van September 2003, asook die implementeringskalender van al die vorige dokumente, reg. Die eerste swakpunt van die ooreenkomste hou verband met die aard van die ondertekenaars. Die regime is die direkte erfgenaam van die Nasionale Islamitiese Front, die fundamentalistiese Moslem-groepering wat ongeveer 7% van die stemme tydens die laaste vrye verkiesings in April 1986 gekry het. Selfs al sou mens vir die regime die krediet kon gee vir ‘n tipe “vredesdividend”, is dit moeilik om jou voor te stel dat dit meer as 15% van die kieserskorps verteenwoordig. Daarbenewens is die VBLS, wat aangewys is as die enigste politieke vennoot van die regime, ver daarvan om die hele Suide te beheer. Die verskeidenheid van suidelike politieke partye wat teen die einde van 1986 bestaan het, het hulself “tussen die lyne” gehandhaaf en verteenwoordig magte wat nie geminag kan word nie. Die anti-VBLS-milisie wat lankal deur die regering gebruik word, is ver van eenvoudige kollaborateursorganisasies sonder plaaslike steun. Veral onder die groot etnie van die Nuers, en onder die stamme van die ewenaar geniet die VBLS beswaarlik populêre steun – sy etniese basis is grootliks die Dinkas uit die Bor-streek. As in gedagte gehou word dat die Suide (vlugtelinge en ontwortelde mense inkluis) slegs 25% tot 30% van die totale bevolking van die land verteenwoordig, het die ondertekenare van die Nairobi-ooreenkomste slegs sowat 30% van die Soedanese massas agter hulle. Hoe is dit dan met die orige 70% gestel? Dit is duidelik die groot onbekende van die komende verkiesing. Kolonel Garang gaan ‘n weddenskap aan: hy hoop om in die Noorde ten minste soveel te wen as wat hy in die Suide gaan verloor. Die verdwyning van die Soedanese Kommunistiese Party en die onvermoë van die nie-godsdienstige linkse politieke magte om hulself te organiseer veroorsaak ‘n soort “swart gat” in die Soedanese verkiesingsosiologie (7). Mnr. Garang en die VBLS hoop om verlore stemme terug te wen tot hulle voordeel, ten spyte van die kulturele verskil tussen die “Arabiese” kieserskorps en hulle “Afrikaan”-beeld. Maar gaan daar by die verkiesings uitgekom word? Die eerste slaggat is die voortslepende konflik in Darfoer wat heelwat meer slagoffers geëis het as die 70 000 wat deur die “internasionale gemeenskap” erken word (8). Hierdie krisis is tipies van die gebrek daaraan om te reken met groepe mense wat hulle nóg met die regime van Khartoem, nóg met die VBLS identifiseer. Darfoer, ‘n volledig Moslem-streek wat sowel deur Afrikane as Arabiere bewoon word (maar waar laasgenoemde heelwat verskil van die Arabiere van die Nyl-vallei), is al ‘n eeu lank die slagoffer van dieselfde sosio-ekonomiese en politieke marginalisering as die Suide. Sy Moslem-identiteit het egter gemaak dat dit die kwade met geduld verdra en die betoog van die Arabiere van die dominante groep aanvaar het, wat aan hulle vergoedings beloof het wat nooit gekom het nie (9). Toe die provinsie se inwoners in 2002 sien dat die VBLS waarskynlik konkrete voordeel sou trek uit die twintig jaar se oorlog, het hulle in opstand gekom met die veronderstelling dat slegs geweld aan hulle toegang tot die onderhandelingstafel sou gee. Hulle het daarvan uitgesluit gebly en dit is waarskynlik dat hulle sal aanhou veg tot hulle toegelaat word. Wat die Suide betref: sal die regime van Khartoem met die nodige deursigtigheid sal voortgaan met die oordrag van sy deel van die inkomste uit olie? Sal die VBLS genoeg opgeleide bestuurslui hê om sy plek in die sentrale administrasie op te neem? Wat sal die verhouding wees tussen die nasionale regering en die regering wat die VBLS toegelaat word om in Suid-Soedan op te rig? En as sake nie soos voorsien afloop nie, kan mens hoop dat die VBLS-offisiere (waarvan baie die lang tussentydse periode met agterdog bejeën) stilswyend sal wag vir die datum van die referendum oor selfbeskikking in Julie 2011? Die pad na ware vrede gaan lank wees vir ‘n verdeelde en ongelyke Soedan, met sy ryk Noorde en uitgeputte Suide. ___________ (1) Lees Gérard Prunier, "Paix introuvable au Soudan", Le Monde diplomatique, Desember 2002. (2) Lees Jean-Louis Penimou, "Désolation au Darfour", Le Monde diplomatique, Mei 2004. (3) Die terme Noord en Suid verwys na die interne grens soos wat dit deur die Britse koloniale administrasie in die 1920’s vasgestel en deur die vredesooreenkoms van Addis-Abeba in 1972 bevestig is. (4) Dit wil spesifiek sê dat dit nie geld teen rente uitleen nie. Lees Ibrahim Warde, "Les principes religieux à l’épreuve de la mondialisation", Le Monde diplomatique, September 2001. (5) Geen van die groot Westerse oliemaatskappye is betrokke by die produksie nie. Die Nile Petrolium Corporation, die konsortium wat 90% van die olie produseer, behoort 50% aan die China National Petroleum Corporation, 30% aan die Maleisiese maatskappy Petronas, 15% aan die Indiese nasionale maatskappy ONGC-Videsh en 5% aan die nasionale Soedanese Sudapet. Die maatskappye Total (Frankryk), Sonatrach (Algerië) en verskillende Russiese en Japannese maatskappye besit sedert 20 jaar permitte wat rustend of nie-produktief is. (6) Hierdie opposisie is min of meer onder die sambreel van die Nasionale Demokratiese Alliansie georganiseer, wat in Asmara in ballingskap is en onder die presidensie staan van die oud-stryder van die Soedanese politiek en president van die Verenigde Demokratiese Party, mnr. Mohamed Osman Al-Mirghani. (7) Die ou demokratiese partye (die Verenigde Demokratiese party en Oemma) is hoofsaaklik godsdienstig. Wat meer is, hulle is uitgeput deur vele jare waartydens mag sleg uitgeoefen is. (8) Die getal sterftes kan so hoog wees as 300 000 en neem nie af nie weens die onveiligheid en die onmoontlikheid vir ‘n wêreldvoedingsprogram om ontwortelde mense te voed. (9) As voorbeeld kan genoem word dat Darfoer, wat so groot is soos Frankryk, in 2002 net 170 km teerpad en een dokter vir 150 000 inwoners gehad het. |