| ||||
Raoul Marc Jennar Deur Raoul Marc Jennar, politieke wetenskaplike; navorser verbonde aan Oxfam en die Eenheid vir Navorsing, Opleiding en Inligting oor Globalisering (Urfig); en skrywer van Europe, la trahison des élites (Europa, die verraad van die elites), Parys: Fayard, 2004, wat in 2004 die Prys van die Vriende van Le Monde Diplomatique verower het. (Februarie 2005, uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw) Op 23 Junie 2004 onderteken die Europese Unie (EU) en 77 lande van Afrika, die Karibbiese en Stille Oseaanstreek (AKSO) die Kotonouverdrag in Benin. Die teks is tipies van die EU se inisiatiewe die afgelope vyftien jaar. Agter ‘n humanistiese, solidêre en vrygewige diskoers neem ‘n Europa wat die speerpunt van die neoliberale globalisering wat sy sieninge afdwing op diegene aan wie dit hulp verleen, vorm aan (1). Dit was nie altyd die geval nie. In 1963 gee die ondertekening van die Yaoundeverdrag in Kameroen vorm aan die eerste ooreenkoms tussen die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG) en 18 geassosieerde Afrika- en Malgassiese state. Dit het betrekking op handel, met nie-wederkerige voorkeurtariewe ten gunste van hierdie lande se produkte; op finansiële en tegniese samewerking; en bowenal ekonomiese en maatskaplike infrastruktuurprojekte. In 1975 word die eerste Loméverdrag in Togo onder die inisiatief van die Europese Kommissaris, Claude Cheysson, onderteken met ‘n groep voormalige kolonies gegroepeer onder die akroniem AKSO. Hierdie konvensie, wat op vennootskap en solidariteit gegrond is, betrek 46 lande en beskik oor ‘n sekretariaat in Brussel. Lomé I voorsien nie-wederkerige voorkeurtariewe vir uitvoere vanaf die AKSO-sone na die EEG, en stel ‘n meganisme van die “stabilisering van uitvoere” (genaamd Stabex) in wat daarop gerig is om te vergoed vir die uitvoertekort meegebring deur die wisseling van pryse op wêreldmarkte. Die verdrag sluit protokolle in wat gunstig is vir uitvoere van die AKSO-sone in sektore soos suiker, beesvleis en piesangs. Die verdrag finansier infrastruktuur en landbouprogramme. In 1979 onderteken 58 lande Lomé II, waaraan Sysmin toegevoeg word, ‘n Stabex aangepas vir mynprodukte. Van 1984 tot 1995 volg Lomé III, Lomé IV en IVb wat uiteindelik 70 lande betrek. Bietjie vir bietjie word die verdrae deurtrek van die opkomende neoliberale teses. Die respektering van die strukturele aanpassingsplanne van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en steun op die ontwikkeling van die privaatsektor word afgedwing op die AKSO-lande. Op die koop toe sluit die EU die respektering van menseregte hierby in. ‘n Merkwaardige sin van solidariteit Na die oprigting van die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) in 1995, word die noodsaak om “sig in die wêreldekonomie te integreer” die prioriteit. In 1996 wil die Europese Kommissie die einde van die Koue Oorlog, die oprigting van die WHO, die impak van konflikte en natuurrampe, en die interne institusionele konteks van die AKSO-lande in aanmerking neem. Hy stel die onderhandeling van ‘n nuwe verdrag voor, wat vier jaar later in Kotonou onderteken word. Die EU het verkies om die reëls van die WHO op die AKSO-lande af te dwing, eerder as om hom by hulle te skaar ten einde die reëls billiker te maak. Hy het verkies om die mees onderontwikkelde lande (MOL) van die AKSO-sone (40 uit 77) die kwytskeldings wat die WHO-reëls hulle toelaat indien hulle nie die vryehandelsverdrae onderteken nie, te ontsê (2). Die nie-wederkerige voorkeurtariewe moet verdwyn. In effek is dié nie pasbaar met die WHO-reëls wat wederkerigheid afdwing nie: die AKSO-lande moet hulself oopstel vir Europese produkte op dieselfde wyse as wat die Europese mark sig oopstel vir AKSO-produkte. Die Stabex en die Sysmin word geskrap. Ten einde hierdie oogmerke te verwesenlik, dwing die EU die verdeling van die AKSO-lande – wat te geneig is om in internasionale onderhandelinge as blok te onderhandel – in sones af met wie hulle elkeen ‘n vryehandelsverdrag genaamd “Ooreenkoms van ekonomiese streeksvennootskap” (OES) in ooreenstemming met die verdrae van die WHO onderhandel. Die EU finansier programme in drie sektore: steun vir strukturele aanpassingsprogramme; steun vir maatskaplike dialoog; en streeksintegrasie in die sones wat vir die ooreenkomste van die vennootskap tot stand gebring is. Kotonou vertaal ‘n radikale ontwikkeling: ons beweeg vanaf die respek vir soewereiniteit na die dogma van groei ten gunste van ‘n mark “bevry” van hindernisse in die weg van mededinging. Die voorrang van die internasionale reëls van handel en finansies word bevestig. So vereis Artikel 36 die ooreenstemming van elke ooreenkoms met die WHO se vereiste deregulerings; Artikel 41 stel die reël van die liberalisering van dienste binne die kader van die Algemene Ooreenkoms op Handel in Dienste (AOHD) in; Artikel 46 dié van die toepassing van die regulering van patente vervat in die WHO se Ooreenkoms oor die Aspekte van Intellektuele Eiendom verwant aan Handel (OAIEH); en Artikel 67 dié van die respektering van die strukturele aanpassingsplanne van die IMF. Die EU het sy volle gewig gebruik om ‘n ooreenkoms wat vir hom gunstig is, te bereik. Soos prof. Séverine Rugumamu van die Universiteit van Dar-es-Salaam, Tanzanië dit stel: “Danksy die feit dat hy oor intrinsiek meerdere institusionele en ekonomiese bronne beskik, is die EU in staat om die onderhandelinge van die dag in ‘n rigting te stuur en samewerkingskriteria te omskryf soos hy dit vertolk” (3). Vanselfsprekend word die waarborgklousules en proteksionistiese meganismes wat die Europeërs vir hulself toegeëien het, in die besonder in die landbou-afdeling, nie in die gedrang gebring nie. Dit word betreur deur ‘n verslag van die Verenigde Nasies (VN): “Die ontwikkelde lande het gereken dat dit die moeite werd is om sowat 3% tot 4% van die aktiewe bevolking te beskerm teen die skadelike effekte van die onstabiliteit en dalingsgeneigdheid van basisprodukte, terwyl hulle terselfdertyd gekant is teen die aanwending van soortgelyke instrumente om 70% tot 80% van die bevolkings van baie armer ontwikkelende lande, waarvan landbou die enigste bestaansmiddel is, te beskerm” (4). Die onderhandelinge oor die OES het gedurende September 2003 ‘n aanvang geneem. Van meet af het die Europese Kommissie – alleenonderhandelaar namens die ledestate van die EU – die taal, inhoud en ritme daarvan bepaal, ten spyte van die protes van die AKSO-regerings. Die dokumente word in Engels opgestel, en die diskussies word ook daarin gevoer. Maar die betrokke Afrikalande, wat meer as 94% van die AKSO-bevolking verteenwoordig, het hoofsaaklik Frans as voertaal. Volgens Afrikadiplomate is dit glad nie ongewoon nie dat Europese onderhandelaars die gesprekke in ‘n rigting dwing, terwyl hul Franssprekende AKSO-gespreksgenote nog skaars die Franse vertaling van die dokumente waaroor hulle ‘n standpunt moet inneem, ontvang het. Die EU – wat beteken Frankofonie nou eintlik wanneer die winste van Franse firmas op die spel is? – ag die 20 van die 48 Afrikastate waarvan Frans die amptelike taal is as ‘n weglaatbare entiteit. Met ‘n merkwaardige eensgesindheid het die AKSO-lande ‘n raamwerkooreenkoms wat vir almal geldig is aangevra voor die opening van die aparte onderhandelinge oor die OES. Tevergeefs. Tans hanteer die Europese Kommissie die AKSO-sekretariaat as ‘n “ligte struktuur vir die uitruiling van inligting ten einde samehang op die vlak van die Europa-AKSO-groep te verseker” (5). Hy het hierdie groep in ses streke verdeel: Wes-Afrika, Sentraal-Afrika, Oos-Afrika en die Horing van Afrika, Suider-Afrika, die Karibbiese streek, en die Stille Oseaan-streek. Hierdie arbitrêre versnippering stem nie ooreen met die bestaande streeksorganisasies nie, en dit is ook nie deur die geaffekteerde partye voorgestel nie, wat uiteindelik gedwing was om die diktate van die EU te aanvaar. Sedert September 2003 onderhandel die EU afsonderlik met elk van die ses streke. Vir die Europese Kommissie gaan dit nie daaroor om die AKSO-lande as vennote te behandel nie, maar eerder om die aard van hul mededinging te organiseer, dit wil sê, volgens die nou heilige formule “om hulle in die wêreldhandel te integreer.” Die onderhandelinge is daarop gerig om die meganismes van solidariteit van die Loméverdrae te vervang met ekonomiese en handelsmededingendheid georkestreer deur die WHO. Die Kotonouverdrag dwing onderontwikkelde ekonomieë sodoende om die ondernemings van die rykste lande op gelyke voet die stryd aan te sê (6). Die wêreldbeskouing wat die EU nou in navolging van die VSA propageer, word georganiseer rondom die oorheersende idee van mededinging. Die AKSO-lande hou vol dat “die bestaande reëls van die WHO nie gunstig is vir die instelling van samehangende ontwikkelingstrategieë in die AKSO-lande nie, en op so ‘n wyse aangepas moet word dat dit hulle spesifieke situasies en belange in ag neem” (7). Hiervoor voel die Europese Kommissie vere. Hy vereis by name die streng toepassing van die AOHD, in besonder dit wat in die jargon bekendstaan as “modus 3”, oftewel die skrapping van beperkings op beleggings in die dienstesektor, terwyl die omvang van beleggings in die AKSO-lande in 2000 slegs 1,5% van die wêreldtotaal uitgemaak het. In feite gaan dit daaroor om hierdie lande te verhoed om self hulle buitelandse beleggers te kies en te bepaal watter soort samelewing hulle wil bou. Daarbenewens lê die EU hom daarop toe om dit wat hy nie binne die kader van die WHO kon behaal nie, tydens hierdie onderhandelinge wel op drie terreine reg te kry: mededinging, waarvan, volgens ‘n formule wat die Europese Grondwetlike Verdrag waardig is, die “vrye, onverwronge” aard verseker moet word; die openbare markte, waar hulle verstaan dat buitelandse en binnelandse ondernemings streng op gelyke voet behandel word; en laastens investering, waar hy die deregulering van die heersende opset wat in die meeste AKSO-lande van krag is, vereis. Om volkome vry te opereer Ten einde hierdie eise te regverdig, hamer die EU op die betoë van sakeleiersdrukgroepe, waarvolgens deregulering investering begunstig. Hierdie betoog is nie meer geloofwaardig nie: daar is al hoe meer studies oor die honderde bilaterale ooreenkomste wat die EU se vereiste klousules bevat, en hulle almal relativeer die impak van hierdie deregulerings op die vloei van beleggings (8). Selfs die Wêreldbank is verplig om te erken dat “die ontleding van meer as twintig jaar se regstreekse buitelandse beleggings afkomstig van die lande van die Organisasie vir Samewerking en Ontwikkeling in Europa (OSOE) in ontwikkelende lande feitlik geen bewys lewer dat bilaterale beleggingsooreenkomste tot bykomende investering gelei het nie” (9). Maar wat maak dit saak? Europese firmas neem hulle voor om met volkome vryheid te opereer waar hulle belê en maksimumwins te maak in die afwesigheid van salarisvoorskrifte, maatskaplike wetgewing en omgewingsbeperkings. Hulle sekulêre arm, die Europese Kommissie, word dus gepaai om hierop te staan. In so ‘n mate dat laasgenoemde oor hierdie kwessies ‘n verwoestende neerlaag by die laaste ministersberaad van die WHO in Cancun, Meksiko in 2003 gely het. Ten spyte van die herhaalde weiering van die versoeke van die Afrikalande om hierdie kwessies weer op die tafel te sit (10), en deur in die OES-onderhandelinge die magsverhoudinge wat vir hom gunstiger as by die WHO is, in te span, spits die Europese Kommissie hom daarop toe om dit op die AKSO-lande af te dwing nadat hy hulle verdeel het. Op 21 Junie 2004 het honderde Afrikaverenigings wat in Maputo, Mosambiek byeengekom het op uitnodiging van een van die aktiefste alterglobaliseringsnetwerke, Third World Network Africa, die Maputoverklaring aanvaar. As ware begrondingsdokument van Afrikaweerstand teen herkolonisering by wyse van vryehandel, veroordeel dit die OES as ‘n instrument van Europese oorheersing van opkomende markte; as ‘n aanval op die reg tot selfbeskikking en die vermoëns van state; as ‘n poging om die spanning tussen Afrika-subgroepe aan te wakker; en as miskenning van die geldige besorgdhede van Afrikalande wat vra om ‘n verandering van die WHO-reëls. Oorgeneem deur die Maatskaplike Afrikaforum (Lusake, Desember 2004), doen dit ‘n beroep om ‘n radikale verandering van die verhoudinge tussen Europa en die AKSO-lande, geskoei op een beginsel: die bevryding van Afrika se mense moet hul eie handewerk wees. ________ (1) Ontwikkelingshulp styg tot sowat 108 miljard rand vir die periode 2000 – 2007. (2) Groupe de recherche pour une stratégie économique alternative (GRESEA), EPA ou PAS? Introduction critique aux Accords de partenariat économique, Brussel, 2004. (3) Séverine Rugumamu, “Le nouvel accord de partenariat entre les ACP et l’Union européenne ne résout pas tout”, Coopération Sud, no.2, New York: PNUD, New York, 2000. (4) “Le développement économique en Afrique. Résultats commerciaux et dépendance à l’égard des produits de base”, Genève, Cnuced-verslag, 2003. (5) Communiqué van die Europese Kommissie, 21 Oktober 2004. (6) Lees Raphaël Ntambue Tshimbulu, “L’Union européenne sous le feu de la critique”, Manière de voir, no.79, “Résistances africaines”, Parys: Januarie-Februarie 2005. (7) AKSO-sekretariaat, “Négociations ACP-UE des AP. Points de convergence et de divergence”, ACP/61/113/03 Rev.1, Brussel, 28 September 2003. (8) African Development Bank, International Investment in Africa: Trends and Opportunities, Abidjan, 2001; Cnuced, A Positive Agenda for Developing Countries : Issues for Future Trade Negotiations, Genève: Cnuced, 2000; Wêreldbank, Global Economic Prospects and the Developing Countries 2003: Investing to Unlock Global Opportunities?, Washington DC: World Bank, 2003. (9) Mary Hallward-Driemeier, Do Bilateral Investment Treaties Attract FDI?, Washington DC: World Bank, 2003. (10) By name deur die Dakarverklaring van die Ministers van Handel van die Mees Onderontwikkelde Lande (5 Mei 2004); deur die Kigaliverklaring van die Ministers van Handel van die Afrika-Unie (28 Mei 2004); en deur die Groot Baaiverklaring van die Ministers van Handel van die Lande van die AKSO-sone (11 Julie 2004). |