|
||||
Ignacio Ramonet Deur Ignacio Ramonet, redakteur (Januarie 2005, uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw) Niks simboliseer die wanorde van die Franse pers - gekonfronteer met ‘n kommerwekkende daling in sirkulasie - beter nie as die onlangse bereidwilligheid van die eens Maoïstiese dagblad, Libération, om 37% van sy kapitaal deur die bankier, Eduard de Rotschild, te laat oorneem nie… Kort gelede is die groep Socpresse, wat meer as 70 titels waaronder Le Figaro, L’Express, L’Expansion en tientalle streekskoerante publiseer, self deur ‘n wapenvervaardiger, mnr. Serge Dassault, gekoop. En ons weet dat ‘n ander wapennyweraar, mnr. Arnaud Lagardère, reeds die Hachette-groep (1), wat sowat 47 tydskrifte (waaronder Elle, Parents, Première) en dagblaaie soos Provence, Nice-Matin of Corse-Presse, besit. As hierdie daling in sirkulasie sou voortduur, loop die onafhanklike pers die gevaar om algaande onder die beheer van nyweraars te beland: Bouygues, Dassault, Lagardère, Pinault, Arnault, Bollorè, Bertelsmann… wat hulle onderlange alliansies vermenigvuldig en pluralisme bedreig. Die voorste onafhanklike Franse persgroep, La Vie-Le Monde, het self onlangs beduidende skommelings beleef, en in besonder die bedanking van Le Monde se redaksieredakteur. Gegewe die grondliggende rol van dié koerant in die Franse intellektuele lewe moet ‘n mens hoop dat hy afgeskerm bly van die roofdiere wat hom begeer, en dat die nuwe fase wat begin in feite minder deur aanbieding gekenmerk sal word, en meer deur “die strewe na noukeurigheid” wat dit vir lesers moontlik maak om “’n verwysing, ‘n seker antwoord, ‘n geldigverklaring te vind”; kortom, “’n koerant waar bevoegdheid voorkeur bo alle ander sake geniet”, soos Jean-Marie Colombani, redakteur, skryf in Le Monde van 16 Desember 2004. Die daling affekteer nou die voorste koerante en tydskrifte. Vir die eerste keer in meer as 15 jaar spring Le Monde Diplomatique dit nie vry nie. Ons koerant, wat sedert 1990 ‘n reëlmatige styging in sirkulasie beleef het, en tussen 2001 en 2003 ‘n rekordstyging in verkope – meer as 25%! – het ongetwyfeld in 2004 (die finale syfers is nog nie vasgestel nie) ‘n daling in sirkulasie van nagenoeg 12% beleef (2). Die meeste groot nasionale Franse dagblaaie het insgelyks ernstige dalings beleef wat dikwels op dié van 2003 volg. Die verskynsel is allesbehalwe beperk tot Frankryk. Die Amerikaanse dagblad, International Herald Tribune, se verkope het byvoorbeeld in 2003 met 4,16% gedaal. In die Verenigde Koninkryk het die Financial Times met 6,6% gedaal; sirkulasie in Duitsland het die afgelope vyf jaar met 7,7% gedaal; in Denemarke met 9,5%; in Oostenryk met 9,9%; en selfs in Japan, waar die inwoners die meeste koerante ter wêreld koop, was die daling 2,5%. In die Europese Unie het die aantal verkoopte dagblaaie die laaste agt jaar met 7 miljoen eksemplare verminder… Wêreldwyd word betaalde dagblaaie se sirkulasie gemiddeld elke jaar 2% minder. Sommige mense begin vra of die gedrukte media nie iets van die verlede is nie, ‘n mediavorm van die Nywerheidsera wat besig is om uit te sterf. Hier en daar begin titels verdwyn. In Hongarye het die dagblad Magyar Hirlap (wat aan die Switserse groep Ringier behoort het) die handdoek op 5 November 2004 ingegooi. Die vorige dag, 4 November, het die dagblad van naam oor Asiatiese aangeleenthede, die Far Eastern Economic Review (wat aan die Amerikaanse Dow Jones-groep behoort het), ophou verskyn. Ook in Frankryk het die weektydskrif Nova Magazine op 7 Desember 2004 sy verskyning opgeskort. Tussen 2000 en 2004 is meer as 2 000 poste in die Amerikaanse drukmedia besnoei, oftewel 4% van die werknemers in dié bedryf. Die resessie tref ook die nuusagentskappe wat koerante van inligting voorsien. Die voorste van hulle, Reuters, het onlangs die besnoeiing van 4 500 poste aangekondig. Die eksterne oorsake van hierdie krisis is bekend. Enersyds is daar die verwoestende offensief van die gratis dagblaaie. In Frankryk het 20 Minutes reeds die grootste leserstal met meer as 2 miljoen per dag, ver voor Le Parisien (1,7 miljoen) en nog ‘n gratis koerant, Metro, wat daagliks deur meer as 1,6 miljoen mense gelees word. Hulle trek aansienlike advertensiegelde, terwyl adverteerders nie onderskei tussen die leser wat sy koerant koop en die een wat dit nie doen nie. Om hierdie mededinging die hoof te bied, bied sekere publikasies – veral in Italië, Spanje, Griekeland en Turkye – daagliks vir ‘n effens hoër prys DVD’s, strokiesprente, CD’s, boeke, atlasse, ensiklopedieë, maar ook seëlversamelings of ou banknote, of selfs glasstelle of skaakstelle, ens. Dit vererger die verwarring van inligting met verhandeling, met die gevaar dat lesers nie meer weet wat hulle koop nie. Die koerante verwater hul identiteit, stroop die titel van sy waarde en ontketen ‘n diaboliese spiraal waarvan die uitkoms onbekend is. Die ander eksterne oorsaak is natuurlik die internet wat sy fabelagtige uitbreiding voortsit. Slegs gedurende die eerste kwartaal van 2004 is meer as 4,7 miljoen webwerwe geskep. Tans is daar meer as 70 miljoen ter wêreld, en meer as 700 miljoen mense gebruik die web. In die ontwikkelde lande laat vaar baie mense die pers – en selfs die televisie – vir die rekenaarskerm. ADSL (Asymetric Digital Subscriber Line) in die besonder verander die gegewe. Vir pryse wat wissel tussen R80 en R240 per maand kan ‘n mens nou inteken op vinnige internet. In Frankryk het meer as 5,5 miljoen huishoudings reeds toegang deur vinnige internet tot die aanlynpers (79% van die wêreld se koerante het aanlynuitgawes), allerhande soorte tekste, e-pos, foto’s, musiek, TV- of radio-uitsendings, rolprente, videospeletjies, ens. Reeksvervalsings Daar is ook die verskynsel van blogs wat so kenmerkend van die webkultuur is, gedurende die tweede semester van 2004 ontplof het, en in die trant van ‘n dagboek dikwels sonder skroom inligting en opinie, geverifieerde feite en gerugte, gedokumenteerde ontledings en fantasieïndrukke vermeng. Hul sukses is so groot dat ‘n mens van hulle in die meeste aanlynkoerante vind. Hierdie gier wys dat baie lesers die doelbewuste subjektiwiteit en bevooroordeeldheid van die bloggers verkies bo die vals objektiwiteit en skynheilige onbevooroordeeldheid van ‘n sekere segment van die pers, en die verbinding tot die internetsonnestelsel deur die selfoon-wat-alles-doen hou die risiko van die verdere versnelling van hierdie beweging in. Inligting word nog meer mobiel en nomadies. ‘n Mens kan te enige oomblik weet wat in die wêreld gebeur. In Indië versprei die maatskappy Times Internet, multimediafiliaal van die dagblad Times of India, elke maand meer as 30 miljoen selfoonteksboodskappe (SMS’e) – ‘n vorm van tegnologie wat goedkoop, kort en vinnige kommunikasie bied. In Japan en Suid-Korea bly al hoe meer mense deur hulle selfoon ingelig. Daar ontvang hulle deurlopend radio- en TV-uitsendings. Die gevolg is dat alle mediasektore buiten die internet gehore verloor namate die mededinging tussen verskillende mediavorme hewiger word (3). Maar hierdie krisis het ook interne oorsake wat hoofsaaklik verband hou met die verlies aan geloofwaardigheid van die pers. Eerstens omdat dié, soos ons gesien het, toenemend behoort aan nywerheidsgroepe wat die ekonomiese mag het en kop in een mus met die politieke mag is. En ook omdat kantkiesery, die gebrek aan objektiwiteit, die leuens, die manipulasie en selfs doodeenvoudige valshede nie ophou toeneem nie. Ons weet dat daar nog nooit ‘n goue era van inligting was nie, maar hierdie afwykings tref nou dagblaaie van gehalte. In die Verenigde State het die Jason Blair-aangeleentheid – die sterjoernalis wat feite vervals, plagiaat vanaf die internet gepleeg en tientalle stories uit sy duim gesuig het – kolossale skade aangerig aan die New York Times, wat sy fabriserings dikwels op die voorblad publiseer het (4). Dié koerant, wat deur professionele as verwysing geag word, is tot in sy fondamente geskud: die twee redaksiehoofde, Howell Raines en Gerald Boyd, is gedwing om te bedank en ‘n ombudsmanpos is vir die eerste keer geskep en toevertrou aan Daniel Okrent, ‘n essayis en oud-hoofredakteur van Time. Enkele maande later het ‘n nog groter skandaal losgebars by die grootste Amerikaanse dagblad, USA Today. Sy lesers het geskok ontdek dat sy mees gevierde verslaggewer, Jack Kelley – ‘n internasionale ster wat die planeet deurkruis, onderhoude met 36 staatshoofde gevoer en meer as tien oorloë gedek het – ‘n kompulsiewe vervalser is, ‘n “reeksvervalser”. Tussen 1993 en 2003 het Kelley honderde sensasionele stories versin. Hy het hom telkens toevallig op die aksietoneel bevind en uitsonderlike stories deurgestuur. In een van sy berigte het hy voorgegee om ‘n getuie van ‘n aanval in ‘n pizzarestaurant in Jerusalem te wees, en drie mans beskryf wat langs hom geëet het en wie se liggame deur die geweld van die ontploffing die lug in geslinger is en in die straat geval het met hulle koppe wat straataf rol… Sy skokkendste berig, wat op 10 Maart 2000 verskyn het, het oor Kuba gehandel. Kelley het ‘n hotelwerknemer , “Jacqueline”, se vlug aan boord ‘n mankolieke vaartuig en latere verdrinking in die Straat van Florida, afgeneem. In werklikheid is hierdie vrou, wie se regte naam Yamilet Fernandez is – springlewendig, het sy nog nooit so iets beleef nie, en het ‘n ander joernalis van USA Today, Blake Morrison, haar ontmoet en geverifieer dat Kelley dit opgemaak het (5). Die onthullings van hierdie bedrog, wat beskou word as een van die grootste skandale van die Amerikaanse joernalistiek, het gelei tot die ontslag van die redaksiehoof, Karen Jurgensen, en twee ander belangrike base – Brian Gallagher, haar adjunk, en Hal Ritter, inligtingshoof (6). Meer onlangs, met die verkiesingsveldtog in volle swang, het ‘n nuwe etiese skok die mediawêreld getref. Dan Rather, steraanbieder van CBS se nuusbulletin en die prestigeryke program Sixty Minutes, het erken dat hy vals dokumente uitgesaai het sonder om hulle te kontroleer om te bewys dat President Bush gehelp is om deelname aan die Viëtnamoorlog vry te spring (7). Dan Rather het aangekondig dat hy sy pos ontruim en bedank. Disinformasie oor Irak By al hierdie katastrofes moet nog gevoeg word hoe die groot mediaïnstansies, in besonder die TV-kanaal Fox News, in propagandaliggame verander is deur hul oorname van die Withuis se leuens oor Irak. Die koerante het nóg die bewerings van die Bush-administrasie geverifieer, nóg dit betwyfel. As hulle dit gedoen het, sou ‘n dokumentêr soos Michael Moore se Fahrenheit 9/11 nie so suksesvol gewees het nie, aangesien die inligting vervat in die rolprent lankal reeds bekend was, maar deur die media verswyg is. Selfs die Washington Post en die New York Times het deelgeneem aan die “breinspoeling”, soos die mediaspesialis, John Pilger, aangetoon het: “Lank voor die Irakinval het hierdie twee dagblaaie namens die Withuis wolf geskree. Op die voorblad van die New York Times kon mens die volgende opskrifte lees: [Irak se] geheime arsenaal; ‘n Droster beskryf die vordering met Irak se atoombom; ‘n Irakiër praat oor die opknapping van die chemiese en kernwapenterreine; Drosters bevestig die Amerikaanse dossier teen Irak sê amptenare. Al hierdie artikels het suiwer propaganda blyk te wees. In ‘n interne e-pos (deur die Washington Post gepubliseer), erken die sterjoernalis van die New York Times, Judith Miller, dat haar hoofbron mnr. Ahmed Chalabi was, ‘n Irakse uitgewekene en veroordeelde korrupte wat die Nasionale Irakse Kongres (NIK) gebaseer in Washington en gefinansier deur die CIA gelei het. ‘n Kongresondersoek het later vasgestel dat feitlik al die inligting verskaf deur Mnr. Chalabi en ander uitgewekenes van die NIK waardeloos was (9).” ‘n Offisier van die CIA, mnr. Robert Baer, het onthul hoe die disinformasieveldtog gewerk het: “Die NIK het sy inligting by vals uitgewekenes gekry en aan die Pentagon deurgegee, waarna die NIK dieselfde inligting aan joernaliste deurgegee en vir hulle gesê het: ‘As u ons nie glo nie, bel die Pentagon.’ So kry ‘n mens inligting wat in ‘n lus sirkuleer. So kon die New York Times sê dat hy oor twee bronne aangaande die wapens van massavernietiging in Irak beskik. Die Washington Post ook. Die joernaliste het nie meer probeer uitvind nie. En bowendien het die hoofredakteurs hulle dikwels gevra om die regering te steun. Uit patriotisme (10).” Die hoofredakteur van die Washington Post, Steve Coll, moes op 25 Augustus 2004 bedank na ‘n ondersoek wat aangetoon het hoe min ruimte afgestaan is aan artikels wat die regeringsposisie in aanloop tot die inval van Irak weerspreek het (11). Die New York Times moes ook bely. In ‘n hoofartikel van 26 Mei 2004 het hy sy gebrek aan noukeurigheid by die aanbieding van die gebeure wat tot die oorlog gelei het, erken, en die publisering van “foutiewe inligting” berou. In Frankryk is die mediakatastrofes nie minder nie, soos getoon deur die hantering van die aangeleenthede rakende Patrice Alègre, die kruier van Orly-lughawe in Parys, die “pedofiele” van Outreau, en Marie L., wat voorgegee het dat sy die slagoffer van anti-semitiese aggressie op die RER D-treinlyn was (12). Die verskynsel is identies in ander lande. In Spanje het die media onder beheer van mnr. José Maria Aznar se regering byvoorbeeld manipulasie gepleeg deur ‘n “amptelike waarheid” in diens van Aznar se verkiesingsambisie af te dwing deur die verantwoordelikheid van Al Kaida te verdoesel en die skuld op die Baskiese organisasie ETA te pak. Al hierdie aangeleenthede, sowel as die al hoe nouer alliansie met die ekonomiese en politieke magte het die geloofwaardigheid van die media ‘n verwoestende knou toegedien. Dit onthul ‘n kommerwekkende demokratiese gebrek. Sonskynjoernalistiek oorheers, terwyl kritiese joernalistiek agteruitgaan. ‘n Mens kan jouself selfs afvra of die begrip van ‘n vrye pers nie nou in die era van globalisering en megamediagroepe aan die verdwyn is nie. “Gesonde idees” In hierdie sin bevestig mnr. Serge Dassault se uitlatings alle vrese. Vanaf die oomblik wat hy sy nuwe funksie opgeneem het, het die nuwe eienaar van die Figaro aan die redaksie verklaar: “Ek hoop dat die koerant meer klem op ons ondernemings sal plaas. Ek reken dat daar soms inligting is wat baie voorsorgmaatreëls vereis. Dit is die geval met artikels wat handel oor kontrakte in onderhandeling. Daar is inligting wat meer kwaad as goed doen, met die risiko dat kommersiële of nywerheidsbelange van ons land in gevaar gestel word (13).” Ons verstaan dat wat Mnr. Dassault “ons land” noem sy wapenonderneming, Dassault Aviation, is. En dit is ongetwyfeld om dié te beskerm wat hy ‘n onderhoud oor die vals verkoop van Mirage-vliegtuie aan Taiwan gesensureer het; soos inligting oor gesprekke tussen pres. Jacques Chirac van Frankryk en pres. Abdelaziz Bouteflika aangaande ‘n projek vir die verkoop van Rafale-vliegtuie aan Algerië (14). Sy onlangse verduideliking van die redes wat hom beweeg het hom L’Express en Le Figaro – ‘n koerant, het hy verklaar, “maak dit moontlik om ‘n sekere aantal gesonde idees te laat oorkom” – te koop, het joernaliste se kommer versterk (15). As ons sy uitlatings in verband bring met dié van mnr. Patrick Le Pay, hoof van die TV-kanaal TF1, oor die ware funksie van sy kanaal, ‘n reus van die Franse media, sien ons tot watter gevare die verwarring van genres kan lei in die mate waartoe die kommersiële obsessie en die etiek van inligting mekaar blyk te weerspreek: “TF1 se werk is om Coca-Cola te help om sy produk te verkoop. Wat ons aan Coca-Cola verkoop, is die menslike brein se beskikbare tyd” (16). Hierdie vermenging van genres kan sonder die medewete van lesers baie ver gevoer word. Walter Wells, uitvoerende redakteur van die International Herald Tribune (wat aan die New York Times-groep behoort en op Wall Street genoteer is) het onlangs gewaarsku teen die gevolge van persondernemings wat die aandelebeurs betree: “Dikwels vra diegene wat ‘n joernalistieke besluit moet neem of dit die aandeelprys van die uitgewer met ‘n paar sent gaan laat styg of daal. Hierdie soort oorwegings het kardinaal belangrik geword, en koerantredakteurs ontvang voortdurend dié soort instruksies van die finansiële eienaars van die koerant. Dit is ‘n nuwe feit in eietydse joernalistiek. Dit was nie voorheen so nie” (17). Op die internet kan hierdie soort verwarring, wat lesers uiteindelik kan vasvang, nog verder strek. So byvoorbeeld gebruik die webwerf forbes.com (van die Amerikaanse saketydskrif Forbes) ‘n nuwe prosedure om publisiteit te skep, naamlik deur promosieskakels regstreeks in die inhoud van die artikels te integreer. Adverteerders koop sleutelwoorde en wanneer die internetgebruiker se muis daaroor beweeg, verskyn ‘n venster met ‘n advertensieboodskap op die skerm. Die joernaliste word nie vooraf ingelig oor die sleutelwoorde gekoop deur adverteerders nie, maar sommige vra hulself af of hulle nie binnekort gevra gaan word om spesifieke woorde in artikels te gebruik nie ten einde nog meer inkomste vir die publikasie in te bring nie. Meer en meer burgers neem kennis van hierdie nuwe gevare. Hulle verwoord ‘n uiterste gevoeligheid ten opsigte van mediamanipulasies en blyk oortuig te wees dat in ons oorgemediatiseerde samelewings ons paradoksaal in ‘n staat van inligtingsonsekerheid leef. Inligting word vermenigvuldig, maar sonder die geringste waarborg van betroubaarheid. Dit gebeur dikwels dat inligting ontken word. Ons aanskou die triomf van die joernalistiek van spekulasie en spektakel ten koste van ‘n joernalistiek van inligting. Aanbieding (verpakking) is belangriker as die verifiëring van feite. In plaas daarvan om die laaste borswering teen hierdie afwyking voortspruitend uit sowel spoed as onmiddellikheid te wees, het talle dagblaaie in hul missie gefaal en soms in die naam van ‘n lui of polisie-opvatting (18) van ondersoekende joernalistiek bygedra tot die diskreditering van wat voorheen bekendgestaan het as die “vierde mag” (fourth estate). Ons stigter, Hubert Beuve-Méry, het altyd gesê: “Feite is heilig, maar opinies is vry.” Maar die houding wat vandag oënskynlik deur die media versprei, blyk hierdie formule om te keer. Meer en meer joernaliste reken dat hul opinies – selde begrond – heilig is, terwyl hulle nie huiwer nie om die feite aan te pas ten einde hulle opinies te regverdig. In so ‘n konteks waar militante geesdrif verflou, terwyl ‘n pessimistiese siening van die toekoms versprei, span die redaksie van Le Monde Diplomatique hom in om sy redaksionele inhoud te verbeter en oordeel ons dat niks belangriker is nie as om nie ons lesers se vertroue te skok nie. Ons reken op hulle mobilisering en solidariteit om die onafhanklikheid van ons koerant en die vryheid wat dit vir ons waarborg, te verseker. Die beste manier om ons te ondersteun, is om u en u vriende sonder omhaal in te teken. Ons wil die koerant van ‘n samelewing in beweging wees, van diegene wat wil hê dat die wêreld verander. En ons lê ons daarop toe om getrou te bly aan die grondliggende beginsels wat ons manier van inligting kenmerk: deur die mediaversnelling te vertraag; deur te reken op verhelderende joernalistiek om die skaduwees rondom aktualiteit te verdryf; deur stil te staan by situasies wat nie onder die projektors van aktualiteit voorkom nie, maar wat help om die internasionale konteks beter te verstaan; deur dossiere oor die groot eietydse vraagstukke aan te bied wat nog vollediger, nog meer diepgaande en nog beter gedokumenteer is; deur metodies, nougeset en ernstig tot die kern van die probleem deur te dring; deur ongepubliseerde en dikwels verdoeselde inligting en ontledings aan te bied; en deur te probeer ingaan teen die hoofstroom van die heersende media. Ons bly oortuig dat die gehalte van die burgerlike debat afhang van die gehalte van inligting. En die aard van laasgenoemde is einde ten laaste bepalend vir die rykdom van die demokrasie. __________ (1) Hachette Filipacchi Médias, filiaal van Lagardère Media, is die wêreld se voorste tydskrifuitgewer, met meer as 245 titels wat in 36 lande uitgegee word. Kyk www.observatoire-medias.info. Die Lagardèregroep het ‘n aandeel van 10% in Midi libre en Monde interactif van die Le Monde SA-groep, die hoofaandeelhouer (51%) in Monde diplomatique SA. (2) Daarenteen het die aantal artikels wat daagliks (gratis) op ons webwerf www.monde-diplomatique.fr gelees word, meer as verdubbel gedurende 2004. Ons internasionale leserstal bly ook groei – ons het tans 45 internasionale uitgawes in twintig tale, en hul gesamentlike sirkulasie is meer as 1,1 miljoen uitgawes. (3) In die Verenigde State het die kykertal van die TV-joernaalprogramme van die groot TV-kanale vanaf gemiddeld 36,3 miljoen per dag in 1994 gedaal na 26,3 miljoen in 2004. (4) Kyk Le Monde, 21 Mei 2003, en Time, 16 Junie 2003. (5) www.usatoday.com/news/2004-03-19-kelley-cuba_x.htm (6) Le Monde, 30 April 2004. (7) Le Monde, 28 September 2004. (8) Vergelyk Robert Greenwald se dokumentêr, Outfoxed (2004). (9) John Pilger, “Fabriquer des citoyens consommateurs, mal-informés et bien-pensants”, Le Monde Diplomatique, Oktober 2004. (10) In Robert Greenwald se dokumentêr, Uncovered (2003). (11) The Washington Post, 12 Augustus 2004. (12) Lees Gilles Balbastre, “Les faits divers, ou le tribunal implacable des médias”, Le Monde Diplomatique, Desember 2004. (13) Le Monde, 9 September 2004. (14) Le Canard enchaîné, 8 September 2004. (15) Ná Mnr. Dassault se oorname van Socpresse het 268 joernaliste van die groep – dit wil sê 10% - van die oordragklousule gebruik gemaak en hul vertrek aangekondig. (16) In die boek Les Dirigeants face au changement, Parys: Éditions du Huitième Jour, 2004. (17) El Mundo, Madrid, 12 November 2004. (18) Waar ware bronne en twyfelagtige informante, werklike ondersoeke en die “gifpenskrywers” dikwels met mekaar verwar word. |