|
||||
Ignacio Ramonet Deur Ignacio Ramonet, redakteur (Februarie 2005, uit die Frans vertaal deur Ernst Wolff) In die mooi strate van Teheran, met sy apokaliptiese verkeersopeenhopings, merk mens by die verbygangers geen angs dat die moontlike militêre bedreiging van die Verenigde State, wat reeds in Irak en Afganistan is, nou by die poorte van is Iran nie. Geen senuweeagtigheid in die lughawens nie – daar skyn die sekuriteitsmaatreëls, in vergelyking met dié wat van krag is in Europa of Amerika belaglik laks te wees. Die plaaslike media voeg niks hierby nie en wy hul hoofberigte aan ander onderwerpe : President Khatami se reis na Afrika, die verhoor van Charles Graner, die “folteraar van Aboe-Ghraib” of die Irakese verkiesings. Maar ‘n onrustigheid skyn agter hierdie oënskynlike kalmte deur. So byvoorbeeld het die pers dadelik, reeds die dag na sy verskyning in die New Yorker, Seymour Hersh se ondersoek, “The Coming Wars (1)”, herpubliseer. Hierdie joernalis stel in die genoemde artikel dat die “oorlog teen terrorisme” na Irak verder gevoer gaan word deur ‘n aanval op Teheran. Na raadgewing deur die “burgerlikes van die Pentagon” (mnre. Donald Rumsfeld, Paul Wolfowitz en Douglas J. Feith), sou mnr. George W. Bush magtiging gegee het vir geheime sendings in Iran. Met die hulp van inligting wat deur Israel en Pakistan voorsien is, sou kommando’s sedert Julie 2004 poog om inligting oor meer as drie dosyn teikens te bekom rakende die Iranese kern-, chemiese - en ballistiese programme. Presisie-aanvalle deur die spesiale magte sou laasgenoemde binnekort in die visier kon neem. Die Pentagon het dit nie ontken nie. En President Bush, aan wie die TV-kanaal NBC gevra het of hy hom distansieer van militêre optrede teen Iran, het dreigend geantwoord : “Ek hoop dat ons dit op ‘n diplomatieke wyse kan oplos, maar ek sluit geen moontlikheid uit nie.” Met wie ‘n mens ookal in Teheran praat - of dit nou amptenare of anti-establishment gespreksgenote is - hulle bly gelate. Die gematigde teenstander en voormalige presidentskandidaat van die Republiek, prof. Mahmoed Kashani, het byvoorbeeld aan ons gesê : “Dit is nou al vyf-en-twintig jaar dat ons in die sigveld van die Verenigde State is. Sedert 1995 het Washington besluit om ‘n handelsverbod teen Iran uit te vaardig, wat intussen vererger is deur die Amato-Wet (2). Verder het Mnr. Bush ons gekategoriseer onder die lande van die “spil van die bose” en die nuwe Minister van Buitelandse Sake, mev. Condoleezza Rice, het Iran pas beskryf as een van die “gevorderde stasies van tiranie” in die wêreld. Ons is gewoond aan hulle vyandigheid. Die kernbomaangeleentheid is net ‘n nuwe voorwendsel.” Die Iranese Minister van Verdediging, mnr. Ali Shankhani, was fermer en verklaar in antwoord op die dreigemente uit Washington: “Ons is in ‘n posisie om daarop aanspraak te maak dat ons oor so ‘n hoë vlak van mag beskik dat dit in geen land se belang is om ons aan te val nie. Geeneen van ons teenstanders ken pas die krag van ons militêre kapasiteit pas nie en ook nie ons vermoë om totaal nuwe strategië in werking te stel nie. Ons het vinnig die toerusting geproduseer wat aan ons ‘n baie groot afskrikmag verleen.” (3) Iran het altyd beweer dat sy kernprogram ‘n burgerlike aard het binne die raamwerk van die Verdrag op die Nie-Vermeerdering van Kernwapens, waarvan Teheran ‘n ondertekenaar is. Die land het hom in November 2004 daartoe verbind om sy uraanverrykingsaktiwiteite op te skort na samesprekings met die Verenigde Koninkryk, Duitsland en Frankryk – drie moonthede wat by dié geleentheid verenig was in hul gemeenskaplike diplomatieke werkswyse wat daarop afgestem is om Teheran finaal te laat afsien van enige militêre kernwapenambisie en ‘n eskalering soos dié wat gelei het tot die inval van Irak in Maart 2003 te voorkom. (5) Maar Israel is oortuig dat die Iranese kernwapenprogram binnekort ‘n punt sal bereik waarna geen ommekeer meer moontlik sal wees nie. “As niks daaraan gedoen word nie, sal Iran binne ses maande van nou af verrykte uraan kan produseer, wat die land in staat sal stel om teen 2008 sy eerste atoombom te vervaardig”, het generaal Aharon Zeevi, hoof van Israel se Militêre Inligting op 12 Januarie 2005 gesê. Hy het ook beklemtoon dat Iran reeds oor ‘n missiel beskik, die Shihab-3, wat ‘n trefafstand van 1300 km het en “in staat is om die hart van Israel te tref.” Terwyl Iran hom tans voorberei op die presidensiële verkiesing in Junie 2005 - waarvoor die hervormingsgesinde mnr. Mohammad Khatami, wat sy tweede mandaat voltooi, nie sal kan staan nie - is hierdie bedreigings ontydig. Vir baie teenstanders kan dit paradoksalerwys ‘n moeë Islamitiese regering versterk. ‘n Nie-godsdienstige joernalis het byvoorbeeld aan ons gesê: “Die vergrype van ‘n radikale Islam het ‘n reaksie van die mense tot gevolg en in die besonder van vroue, wat meer demokrasie eis. Die meeste Iranese het die die Amerikaanse optrede teen die Afgaanse Taliban en teen Saddam Hoessein se Irak met simpatie bejeën, omdat dit ons bevry het van twee regimes wat hewig vyandig teenoor ons was. Maar die huidige dreigemente van Washington en Israel dien daarenteen die mees konserwatiewe stromings en dryf die mees anti-hervormingsgesinde kandidate na die presidensie. Vir demokratiese Iranese is dit ‘n katastrofe.” __________ (1) Iran News, Teheran, 18 Januarie 2005. (2) Die Amato-Wet wat op 5 Augustus 1996 aanvaar is, bepaal dat ‘n maatskappy - selfs al is dit nie ‘n Amerikaanse maatskappy nie - wat skuldig bevind word daaraan dat dit meer as 40 miljoen dollar in Iran belê, aan sanksies onderwerp sal word. (3) Tehran Times, Teheran, 18 Januarie 2005. (4) Twee bondgenote van die Verenigde State in die streek het dit nooit onderteken nie en beskik oor ‘n kernwapen : Pakistan en Israel. Hulle staan onder geen sanksie van Washington nie. (5) Lees Walid Charara, "Après Bagdad, Téhéran?", Le Monde Diplomatique, Januarie 2005. |