| ||||
Wessel Visser Die dilemma van ‘n gedeelde Afrikaanse identiteit: Kan wit en bruin mekaar vind? Deur Wessel Visser, historikus, Universiteit van Stellenbosch Sedert omstreeks 1994 is verskeie aspekte rondom hierdie kwessie op forums soos die KKNK en in Naspers-publikasies soos Die Burger gedebatteer – die voortbestaan en status van Afrikaans, die toekoms van die Afrikaner in ‘n veranderde Suid-Afrika, Afrikaners en apartheid, die posisie van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch, nie-rassigheid en die bruin stem in Afrikaans en Engfrikaans, om maar enkeles te noem. Na aanleiding van Die Burger se besluit om eerder met die term “Afrikaanssprekendes” of “Afrikaanses” na alle moedertaalgebruikers van die taal te verwys ten einde inklusiwiteit en ‘n sterker samebinding rondom Afrikaans oor die kleurgrense heen te bevorder, het die Departemente Geskiedenis en Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch in Oktober 2003 dit goed gedink om ‘n gespreksforum rondom hierdie terme as uitinge van ‘n kulturele identiteit te reël. Uit die debatte, waar bekendes soos Peter Sidego van Naspers, Hermann Giliomee, buitengewone professor in Geskiedenis aan die Universiteit van Stellenboch en Johann Rossouw as gespreksinleiers opgetree het, het die identiteitsdilemma waarin die Afrikaanssprekende taalgemeenskap hom tans bevind, duidelik na vore gekom: Aan die een kant is daar dié Afrikaanssprekendes, hoofsaaklik bruin of swart, wat hulle weens ‘n negatiewe ervaring daaraan verweef glad nie met die term “Afrikaner” kan of wil vereenselwig nie en ter wille van inklusiwiteit en versoening die terme “Afrikaanssprekende” of “Afrikaanse” verkies. Die historiese verwerping en vernedering van nie-wit Afrikaanssprekendes tydens kolonialisme en apartheid, om nie as integrale deel van die wit Afrikanerkultuur en gemeenskap beskou te word nie, het in ‘n baie groot mate tot sodanige siening bygedra. Aan die ander kant is daar (hoofsaaklik) wit Afrikaanssprekendes wat hulleself onwoorwaardelik as “Afrikaners” beskou en nie daarmee verlief sal neem om sodanige identiteit maklik te versaak nie. Hierdie beskouing berus op ‘n diepgewortelde historiese en veral emosionele vereenselwiging met die Afrikaanse taal en kultuur. Johann Rossouw praat van die sogenaamde grafosfeer of tradisie van ‘n gedrukte woord wat al vir meer as ‘n eeu lank ‘n Afrikanerkultuuridentiteit verwoord. Hierdie emosionele vereenselwiging is by meer as een geleentheid in die geskiedenis in die Afrikanerpsige geïntensifeer deur doelbewuste pogings tot verengelsing deur byvoorbeeld lord Charles Somerset en Alfred Milner. Wyle Laurens van der Post het dié vurige toeëiening van ‘n kulturele identiteit toegeskryf aan die “Latynse bloed” (afkomstig van die Franse Hugenote) wat in die are van die Afrikaners vloei. Dis teen hierdie agtergrond dat ‘n groot gros Afrikaners in die huidige tydsgewrig die stelselmatige verdringing van Afrikaans in die staatsdiens, die sakewêreld, die onderwys, en veral die vervanging van enkelmediumskole ten koste van parallelmediumskole as ‘n aanslag op hulle kulturele voortbestaan beskou. Dat die dikwels hewige reaksie op wat sommige Afrikaners, gegewe die genoemde historiese ervaring, as ‘n verdrinking van hul kulturele identiteit beskou nie maklik gaan verdwyn nie, is iets waarvoor daar onder sommige nie-Afrikaners klaarblyklik nie altyd ‘n begrip en sensitiwiteit voor is nie. Net soos wittes nooit werklik die aantasting van die menswaardigheid van nie-wittes op grond van hulle velkleur onder apartheid sal kan begryp soos dikwels deur die slagoffers daarvan verwoord word nie. Die rubrieke van Flip Buys van Solidariteit en Jason Lloyd, rubriekskrywer van LitNet, in Rapport van 16 Januarie 2005 aksentueer myns insiens hierdie debat. Ten eerste het Buys vanuit ‘n wit perspektief verklaar dat “’n spesiale fokus behoort op samewerking met nie-wit Afrikaanstaliges te val. ‘n Beeld van selfsugtige laertrekkers wat net hul eie voorregte wil beskerm, moet tot elke prys vermy word”. Jason Lloyd, weer, lig juis hierdie dilemma uit, naamlik dat bruin Afrikaanssprekendes uitgesluit voel van begrippe soos die “Afrikaner-verlede”, die Afrikaanse kommersiële leefwêreld, die “Boetman-debat”, die debatte oor Afrikaans en Bram Fischer op die kampus van die Universiteit Stellenbosch, ens. Kortom, volgens Lloyd val die fokus van die debatte rondom Afrikaans en die Afrikaanssprekende gemeenskap tans te eng op die wit Afrikaner, word bruines op nog te veel vlakke deur Afrikaners as tweedeklas Afrikaanssprekendes behandel en word bruin kwessies steeds nie as belangrik genoeg geag nie. “Die taal is gans die volk”, lui die gesegde uit ‘n vorige eeu. En dis juis hier waar die dilemma lê. Om ‘n bekende metafoor te gebruik, sou mens kon sê daar word tans in twee spanne om die bal - die behoud van die Afrikaanse taal en kultuurerfenis – geskrum: ‘n “Woensdagspan” en ‘n “Saterdagspan”, oftewel ‘n wit en ‘n nie-wit en ‘n “ons” en “julle” perspektief. Lloyd se beskuldigings is myns insiens uiters geldig en soos hy tereg sê, staan dit in die pad van die verwesenliking van die ideaal van een Afrikaanse gemeenskap. Hoe dan gemaak om alle belanghebbende partye wat dit feil het vir ‘n Afrikaanse identiteit inklusief in een span saam te bind - die Peter Sidegos, Hein Willemses, Heinrich Wyngaards en Jason Lloyds, sowel as die Hermann Giliomees, Johann Rossouws, Danie Goosens, Flip Buyse en Tim du Plessis, om maar enkele standpunte in die debat te noem? Tydens die samevattingsessie op die laaste dag van die Afrikaanse Taalberaad wat in 2004 op Stellenbosch gehou is, het veral bruin Afrikaanssprekendes dit beklemtoon dat die gesprek tussen wit en bruin oor kwessies wat die Afrikaanssprekende gemeenskap raak nog nie afgehandel is nie en dat die Taalberaad eintlik maar slegs die vertrekpunt is vir ‘n lang agenda van onafgehandelde kwessies wat nog uitgepraat en gedebatteer moet word: kwessies soos die diepe kwetsing van apartheid wat wit Afrikaanssprekendes bruin Afrikaanssprekendes aangedoen het, die onderbewussynlike uitsluiting of ignorering van bruines uit debatte rondom Afrikaans, Afrikanerkwessies, die ignorering of verwaarlosing van kwessies wat vir bruin Afrikaanssprekendes belangrik is en ander sake wat die Afrikaanssprekende gemeenskap in sy geheel raak. Het die tyd nie aangebreek dat ‘n soort “Versoeningskonferensie” tussen bruin en wit Afrikaanssprekendes gehou word nie (Lloyd suggereer inderdaad iets in daardie lyn) ten einde te begin om daardie kwessies (polities, kerklik, sosiaal, ekonomies, kultureel, ens.) wat nog kwetsend is aan te spreek, sodat uiteindelik aan een Afrikaanse gemeenskap (waarna Tim du Plessis van Rapport ook verwys) gestalte gegee kan word? Die groot vraag is natuurlik, soos wat ook maar met die reël van die Taalberaad die geval was, wie moet die inisiatief neem, wie moet genooi word en wat moet op die agenda wees? ‘n Goeie vertrekpunt sou wees dat mekaar se standpunte nie net gehoor word nie, maar dat daadwerklik ook daarna geluister moet word. Ten aanvang sal wedersydse ruimte en toegeeflikheid vir kulturele uitdrukkingsvorme soos “Afrikaner” en “Afrikaanssprekende” geskep en mekaar se standpunte sensitief gerespekteer moet word. Persoonlik, en ek beklemtoon dat dit slegs ‘n persoonlike standpunt is, het ek geen erg aan die kunsmatige Naspers-skepping “Afrikaanse” nie, daar dit eenvoudig soos ‘n onvoltooide en onselfstandige amorfe maaksel klink – dus ‘n term wat die potensiaal van ‘n negatiewe konnotasie kan inhou wat juis vermy behoort te word. Maar dis nie die punt ter sake nie. Hoe dit ook al sy, die debat oor ‘n gedeelde Afrikaanse identiteit het maar pas begin en sal by vele geleenthede, byvoorbeeld tydens die KKNK, die Suidoosterfees, die Stellenbosse Woordfees, Aardklop, ens., nog deurtrap moet word totdat daarin geslaag kan word om ras as faktor in die bepaling van sodanige identiteit irrelevant te maak. Dit sou ‘n dilemma in ‘n geleentheid tot die bevordering van die belange van alle sprekers van Afrikaans kon verander. Sou die kolomme van Die Vrye Afrikaan dalk as vertrekpunt kon dien? |