blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Tyd vir regstreekse optrede: Kry weer energie! 2005-02-03
Koos Malan

Tyd vir regstreekse optrede
Deur Koos Malan

In die November-uitgawe van Die Vrye Afrikaan is uiteengesit hoe die meeste opposisiepartye weens die ANC se eenparty-oorheersing grotendeels hulle status as politieke partye verbeur, en tot parlementêrverkose ombudsmanne of bearbeidingsgroeperings gereduseer is. Ontdoen van die vooruitsig op politieke mag en gestroop van invloed, het die politieke party, eens Afrikaners se beproefde middel tot politieke heil, sy rol (minstens vir eers) uitgedien. Die vraag wat Afrikaners dus nou te doen staan, is op hierdie oomblik so krities soos nouliks ooit tevore. Dis duidelik waar die antwoord nie lê nie.

- Dit lê nie by die mistroostige vooruitsig van politieke partye nie, wat presies weens die uitsigloosheid nie daarin slaag om die energie te mobiliseer nie. Die politieke party kan weens sy uitsigloosheid binne die huidige bedeling gewoon niks werklik sinvol vir Afrikaners bied om hulle mee besig te hou nie.

- Dit lê ook nie by ‘n beroep op die grondwet nie, want ofskoon howe klein regstellings van afwykings -wat by uitsondering mag voorkom - kan maak, is hulle nie in staat om sistemiese probleme te remedieer of om ‘n ideologiese projek – transformasie, Afrikanisering of iets dergeliks - om te keer nie.

- Aansluiting by die ideologiese hegemoon van die tyd is eweneens geen antwoord nie, want die ANC – die verpersoonliking van die huidige hegemonie - is geen pragmatiese luisteraar na advies om vermeende gemeenskaplike probleme op te los nie, maar ideologies skerp gefokus op die Afrikanistiese transformasie van die samelewing.

Afrikaners is teen hierdie agtergrond oënskynlik in ‘n situasie waar hulle vervreem is van hulle eie politieke energie. Die beskikbare opsies bied, soos gesê, beswaarlik iets sinvols te doen. Waar energie wel kragtens die drie geykte opsies hierbo bestee word, is dit grootliks tot mislukking gedoem of maak dit geen beduidende impak op Afrikaners se welweë nie. Dis grootliks verspilde energie. Daarmee word nie betoog dat die partypolitiek heeltemal afgeskryf moet word nie. Afrikaners kan sekerlik steeds stem en aan die partypolitiek deelneem maar dan met die deeglike besef van die radikaal gemarginaliseerde rol daarvan. En Afrikaners kan en moet inderdaad litigeer, maar dan met die duidelike begrip vir die inherent beperkte rol wat die howe kan vervul.

Die antwoord op die eise van die tyd lê elders: op ‘n veelheid van kleinskalige handelinge gemik op die verwerwing van selfstandige gesag op kulturele, maatskaplike, onderwys-, ekonomiese en dergelike terreine. Afrikaners moet beheer neem oor hulle latente en tans onbenutte energie en dit deur middel van regstreekse optrede aanwend vir die behaal van onverwylde sukses. Sukses moet gemeet word aan die hand van die bewerk van optimale selfstandige beheer oor dié dinge wat sy welweë bepaal. ‘n Verduidelik van wat hiermee bedoel word, volg weldra.

Die sentrale konsepte van die ou politiek – vir die grootste gedeelte van die vorige eeu en veral die tydvak toe Afrikaners polities in beheer was - was die politieke party, verkiesings en staatsmag.  Politieke partye het ‘n geleentheid vir Afrikaners gebied om hulle politieke energie vir die wen van verkiesings met die oog op die verkryging van regeringsmag aan te wend. Dit was sinvol omdat dit die potensiaal van sukses ingehou het en trouens daadwerklike sukses gelewer het.

Daarenteen is die leidinggewende gedagtes tans ter sake dié van kleinskaligheid, selfstandigheid, regstreekse handeling, en onverwylde sukses.

In die ou politiek het die politieke party se handelinge grootskaalse doelwitte nagejaag. Dit moes op verkiesingsoorwinnings en die beheer van regeringsmag uitloop. Die optrede van die politieke party was geskoei op die dubbele premis van indirekte optrede en opgeskorte (uitgestelde / vertraagde) sukses: die politieke party kon nie dadelik sy program in werking stel nie: dit moes eers ‘n verkiesing wen; die program moes noodwendig uitgestel word totdat sukses in ‘n verkiesing behaal of andersins (soos deur koalisie) beheer oor die hefbome van regeringsmag verkry is. Indien ‘n verkiesingsoorwinning nooit realiseer nie, was die uitgestelde sukses natuurlik afgestelde sukses en dus mislukking.

Presies hierdie scenario van afgestelde sukses en mislukking geld tans vir Afrikaners binne die huidige eenparty-oorheersde orde - as ons gelate by die uitgediende politiek van weleer berus. Dit hoef egter nie gedoen te word nie. Afrikaners hoef nie die voldoening aan die voorwaardes vir hulle welweë saam met partypolitieke verkiesings af te stel en saam met die uitgediende strukture en middele van die verlede laat wegsyfer nie. Ons hoef nie die omsien na ons belange afhanklik te stel (en uit en af te stel) van ‘n toekomstige gebeurtenis – ‘n suksesvolle verkiesingsuitslag – wat nie realiseerbaar is nie. Inteendeel, Afrikaners moet presies die teenoorgestelde doen en summier die dinge begin doen wat noodsaaklik is om ons welstand op alle tersaaklike terreine te verseker. Ons moet regstreeks optree en onmiddellik sukses behaal, deur selfstandig beheer te neem van die dinge wat bepalend vir ons welstand is. Dít staan ons te doen deur kleinskalige handelinge deur talle latente Afrikanergemeenskappe in dorpe stede, voorstede, plaasgemeenskappe, nywerhede, professies, die handel of waar ook al.

Twee dinge is hiervoor nodig:

Eerstens die bevrydende besef dat Afrikaners oor aansienlike latente energie beskik, wat ofskoon onbenutbaar vir verkiesingspolitiek, juis die bron van regstreekse optrede is.

Tweedens, die aanwending van daardie energie vir die summiere uitoefening van selfstandige beheer oor al daardie dinge wat bepalend is vir die herstel en gesonde kontinuïteit van die Afrikaner.
 
Hierdie energie het in die dekade sedert 1994 weens die feit dat verkiesingspolitiek dit nie kan mobiliseer nie toenemend dermate onbenut geraak dat dit selfs mag lyk of dit glad nie daar is nie. Dis egter nie so nie.  Dit is inderdaad daar en wag om deur suksesbelowende handelinge in beweging gebring te word. Die energie en die vermoë is daar en die talle mense wat daaroor beskik, moet net in die geleentheid geplaas word om sinvolle dinge te doen.

Die nuwe politiek wat sigself nou aanmeld beklemtoon dat Afrikaners se heil nie afhang van beheer oor Suid-Afrika af nie, maar daarenteen van die vermoë om op veel kleinskaliger grondslag selfstandige beskikkers van hulle eie welweë op kulturele, maatskaplike, onderwys, ekonomiese en dergelike terreine te word. Nie oor die strukture van die staat moet Afrikaners beheer kry nie, maar daarenteen rigtinggewende beheer oor hulleself verwerf.

Daar is nie ‘n bloudruk van hoe regstreekse optrede onverwylde sukses en selfstandigheid moet meebring nie. Dit moet op talle plekke en situasies en aan die hand van die eise van elke situasie bewerkstellig word. Dit moet oral kleinskalig werklikheid word, dit wil sê op grond van die (radikaal) demokratiese energie en grondvlakleierskap in elke gemeenskap en situasie. ‘n (Sentrale) organisasie wat leiding, onderskraging en wenke kan verskaf van hoe hierdie dinge bewerkstellig kan word, is welkom. En as daar meervuldige kleinskalige aksie is, sodat wedersyds bymekaar gebaat kan word, is dit nog beter.  Daar hoef egter nie daarvoor gewag te word nie. Regstreekse optrede is dadelik tot die beskikking van enigiemand met verantwoordelikheid, inisiatief, vindingrykheid en energie. Regstreekse plaaslike optrede is juis die bousteen vir ‘n federatiewe organisasie soos die FAK wat die plaaslike aksie kan saamsnoer en tegelyk weer daardie plaaslike aksie van raad en versterking kan bedien.

Die onverwylde sukses in terme van selfstandigheid wat deur regstreekse optrede bewerkstellig kan word, is so onbeperk soos die vindingrykheid en inisiatief van diegene wat dit onderneem.

Dit kan egter die volgende insluit:

- Gemeenskappe van Afrikaners kan met inagneming van die tersaaklike plaaslike omstandighede beheer oor die Afrikaanse onderwys van hulle kinders neem, hetsy deur hulle kinders na ‘n geselekteerde staatskool te stuur, ‘n plaaslike Afrikaanse burgerlike (private) skool tot stand te bring, deur tuisonderrig of wat ook al in hulle omstandighede gerade is.

- Goeie, gehalte naskoolse opleiding – universiteits-, tegniese en vaardigheidsopleiding in Afrikaans kan ‘n prioriteit van organisasies soos die Akademie vir Wetenskap en Kuns en professionele organisasies word. Die bestaande administratief lompe instellings is al hoe minder in staat om aan opleidingsbehoeftes te voldoen en leemtes wat vra om gevul te word, raak al hoe groter. Gefokusde naskoolse opleiding, wat hetsy permanent of ad hoc georganiseer word, bied toenemende moontlikhede. Daar is ‘n groeiende behoefte daarvoor en talle goedgeskoolde Afrikaanse akademici, professioneles, tegnici, ambagslui ens. wat opleiding kan verskaf. Die behoefte hieraan word beklemtoon deur die feit dat die hedendaagse ekonomie deurlopende volwasse onderrig vereis en dat vaardighede, eerder as (soms bedenklike) formele kwalifikasies toenemend deurslaggewend word.

- Gemeenskappe kan beheer neem van die maatskaplike versorging van mede-Afrikaners, insluitende bejaardes, wese, mense wat broodgebrek ly, nie onderdak het nie, of wat die geval ook al mag wees. In geskikte gevalle kan dit gebeur deur sulke mense tydelik of andersins in diens te neem.  Die Solidariteit Gemeenskapsalliansie onder leiding van Kallie Kriel het reeds ervaring op hierdie gebied opgedoen en verskeie sulke kleinskalige plaaslike projekte word reeds suksesvol bedryf.

- Gemeenskappe kan plaaslike ekonomiese bemagtigingsprojekte tot voordeel van alle Afrikaners in daardie gemeenskap onderneem. Mense wat andersins broodgebrek sou ly, kan gehelp word om klein tuisondernemings tot stand te bring. Hulle kan ondersteun word deur produkte en dienste eerder daar as by ketting- of dergelike groot ondernemings aan te skaf.

- Veral Afrikaanse (klein-)sakelui kan mekaar wedersyds deur gesamentlike projekte wat ook tot hulle finansiële voordeel strek, ondersteun.

- Beursskemas kan geloods word om Afrikaanse studente wat andersins nie in staat sou wees om te studeer nie finansieel by te staan om verkieslik in Afrikaans te laat studeer.  Die Rapport Onderwysfonds waarby ook Solidariteit en die Afrikanerbond betrokke is, doen reeds goeie werk in hierdie verband.

- By voltooiing van hulle skoolloopbaan kan studente wat hulle in die professies of tegnies wil bekwaam by Afrikaanse ondernemings van tersaaklike Afrikaanse professionele mense, tegnici en ambagslui in diens geneem word. Afrikaanse werkgewers kan (ook tot eie voordeel) ander Afrikaners en veral Afrikaanse jongmense op hierdie manier ekonomies bemagtig. Die Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA) bedryf benewens ‘n beursskema, onder leiding van Carel Taute, reeds so ‘n projek vir Afrikaanse regstudente. Afrikaners presteer besonder goed in die professies, die tegniese en die sakewêreld. Afrikaanse professioneles en sakelui is derhalwe besonder goed geplaas om hulleself tot voordeel van hulle gemeenskap te organiseer en bowendien self ook daarby te baat. Afrikaanse ondernemings kan voorkeur aan die indiensneming van afgestudeerde Afrikaanse studente en skoolverlaters gee, selfs al verleen so ‘n onderneming grootliks diens aan ‘n Engelstalige kliëntebasis. So ‘n onderneming kan steeds wesenlik ‘n Afrikaanse onderneming met ‘n maatskaplike verantwoordelikheid teenoor die Afrikaanse gemeenskap bly en afgestudeerde Afrikaanse studente en skoliere in ‘n wesenlik vriendelike Afrikaanse kulturele omgewing inbind. Benewens die feit dat hierdie strategie jong Afrikaners ekonomies bemagtig in plaas daarvan dat hulle slagoffers van werkloosheid word, word verhoed dat hulle die land verlaat of in die suigstroom van verengelsing beland.

- ‘n Personeelagentskap om Afrikaanse werksoekers by Afrikaanse werkgewers uit te bring, sluit hierby aan. Dit het ‘n dringende noodsaak geword. Onder beheer van die regte mense bied dit benewens die maatskaplike en ekonomiese diens wat dit sal verleen, boonop ‘n uitstekende sakegeleentheid.

- Afrikaanse professionele organisasies vir onder meer regslui, medici, ingenieurs, tegnici, rekenmeesters, natuurwetenskaplikes, argitekte, landmeters, ens. kan hulleself bemagtig deur onderlinge samewerking tussen lede en deur die verskaffing van indiensopleiding in Afrikaans. Hierdie soort aksies strek Afrikaanse professionele mense tot groot voordeel omdat dit op hulle besondere behoeftes afgestem is, goeie diens lewer en boonop finansieel sin maak.  Die VRA verskaf die afgelope agtien maande met vrug praktiese indiensopleiding aan sy eie lede en ander Afrikaanse regslui.

- Afrikaanse persone wat in siviele geskille met mekaar gewikkel is, hoef nie noodwendig uitgelewer te wees aan duur, tydverspillende Engelstalige en dikwels swak regspleging nie.  Daar is talle goedgeskoolde en ervare Afrikaanse regslui, wat doeltreffende geskilbeslegting deur mediasie en arbitrasie teen mededingende fooie en binne ‘n veel korter tydsbestek kan bewerkstellig. So ‘n Afrikaanse burgerlike geskilbeslegtingsprogram is tans in beplanning.
 
- Gemeenskappe kan hulleself soos in die geval van Orania op territoriale grondslag kultureel homogeen organiseer en selfonderhoudende Afrikaanse gemeenskappe word.  Ofskoon hierdie opsie vir die meerderheid Afrikaners weens demografiese faktore onhaalbaar is, moet die moontlikhede wat dit inhou nie gering geskat word nie. Orania het die afgelope tyd ‘n beter as verwagte voorbeeld hiervan geword.

Hierdie beperkte lysie van wat regstreekse optrede behels, kan bykans onbeperk uitgebrei word. Dit gee egter ‘n aanduiding van wat Afrikaners deur regstreekse optrede sonder aarseling kan begin doen en van geleenthede van hoe Afrikaanse energie onverwyld ontsluit kan word. Die breë politieke situasie hoef nie omgekeer te word alvorens regstreeks opgetree kan word nie. Die sentralistiese Grondwet hoef nie vir dié doel verander te word nie. Afrikaners kan deur regstreekse optrede onmiddellik hulle situasie deur spoedige suksesse gunstig verander. In plaas van kwyn voor oënskynlik ontsagwekkende politieke kragte, in plaas van emigrasie of in die waan van eie onmag toevlug tot ‘n klein geïnsuleerde wêreld van private eiebelang te neem, of te verengels asof dit ‘n noodwendigheid van die geskiedenis is, in plaas van ongekwalifiseerd aan die uiterste implikasies van Afrikanisering uitgelewer te wees, of om die mistroostige uitsigloosheid van die verkiesingspolitiek as die finale oordeel oor ons eie onmag te aanvaar, kan ons deur regstreekse optrede as’t ware outonome gesag oor ons vermoëns en energie verwerf.  Regstreekse optrede stel Afrikaners in beheer van hulle eie latente vermoëns. Dit bring ‘n einde aan die vervreemding van ons vermoëns wat meegebring word deur die voorspelbare herhaalde mislukking van verkiesingspolitiek.

Regstreekse optrede vereis nie van enigiemand om ‘n politikus te word, van beroep te verander of ‘n ongebreidelde organisasie- of vergadering-mens te word nie. Dit bring wel latente vermoëns van elkeen, wat haar / sy nering ook al mag wees, aan die lig en ontsluit energie en bied die geleentheid om sinvolle en suksesvolle dinge te kan doen. Dit ontsluit energie tot die voordeel van Afrikaners wat sonder regstreekse optrede verborge en onbenut sou bly. Regstreekse optrede bring terselfdertyd ‘n einde aan watter vervreemding daar ook al mag bestaan tussen die individu en gemeenskap. Dit maak die individu bykans burger van sy gemeenskap. Dit is tot die voordeel van die breër gemeenskap van Afrikaners vir wie regstreeks opgetree word, maar dit is tegelyk ook uit daardie gemeenskap wat energie ontsluit word. Die verhouding tussen Afrikaanse individue onderling en tussen individue en gemeenskap is derhalwe nie teenoorstellend nie, maar wederkerig: wedersyds sin-gewend en voordelig. Juis daarom neem die individu in hierdie sin inderdaad ‘n bykans burgerskaplike hoedanigheid in die klassieke Atheense sin van die woord aan.

Hermann Giliomee het verduidelik dat Afrikaners reeds baie vroeg gedemokratiseer het. Aangewese op hulleself het die agtiende en negentiende eeuse Afrikaners geen keuse gehad as om regstreeks beheer van hulle eie lotgevalle te neem nie.  Danie Goosen het in sy versugting na die nuwe Afrikaner verduidelik dat die nuwe Afrikaner heel moontlik die oudste Afrikaner – ‘n radikaal demokratiese Afrikaner - sal weerspieël. Wanneer ons beheer van ons eie vermoëns neem, regstreeks selfstandig op talle plekke en situasies kleinskalig optree en onverwyld sukses behaal, dan kom ons in kontak met ons tot nou toe vervreemde openbare vermoë, hernieu ons, ons verbintenis met ons radikaal demokratiese self en neem ons beheer van ons welweë. Niks staan in ons pad om dit te begin doen nie. Ons moet gewoon regstreeks begin handel.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=114
Artikel nagegaan:
    -