blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Hervorming van bo-af, deel 3 - Die Aptekerswese: Is dit die einde van die apteek om die hoek? Die waarnemings van ‘n gemeenskapsapteker 2005-02-03
Anita du Preez

Is dit die einde van die apteek om die hoek? Die waarnemings van ‘n gemeenskapsapteker
Deur Anita du Preez, apteker in ‘n arm Wes-Kaapse gemeenskap

Wat is die rol van die apteek om die hoek?

My spesifieke omstandighede is die volgende:
Ek besit en bestuur ‘n apteek in ‘n vroeër en tans steeds minderbevoorregte gemeenskap. Die oorgrote deel van die gemeenskap kan as agtergeblewe beskou word met hoë werkloosheid, alhoewel ‘n deel ook uit ‘n middelinkomstegroep bestaan. Mediese dienste in die gemeenskap van meer as 60 000 inwoners bestaan hoofsaaklik uit ‘n hospitaal asook enkele staatsklinieke. Daar is ongeveer 13 private dokters asook een ander apteek in die gemeenskap. Die werklikheid is dat die dienste oor die algemeen nie voldoen aan al die behoeftes nie. Daar is ‘n beperkte verskeidenheid middels en medisyne. Dit is nie ongewoon dat pasiënte wie nie die nodige fondse het nie vir langer as ‘n dag moet wag voor hulle by die staatshospitaal gehelp kan word nie.

Die behoefte wat uit die aard van die saak voorop staan is primêre gesondheidsorg. Die apteek het ‘n kliniek met ‘n volledig gekwalifiseerde suster wie in sekere gevalle kan diagnoseer en voorskryf. Verder word meer ernstige gevalle na die dokter of hospitaal verwys. Die meeste aanmeldings by die kliniek blyk te wees: gesinsbeplanning, SOS (seksueel oordraagbare siektes soos onder meer MIV) en borsverwante kwale.

Die apteek bied natuurlik primêr die diens aan van die beskikbaarstelling van voorskrif- en ander medikasie, ‘n diens wat dikwels nie volledig deur die hospitaal, dokters of klinieke gebied kan word nie, veral met betrekking tot die verskeidenheid van medikasie en goedkoper alternatiewes. Die diens wat hiermee saamgaan is toepaslike konsultasie rakende die siekte, behandeling en dosering asook effekte en newe-effekte van die medikasie.

Die apteker se stelsel waarin elke pasiënt/kliënt se persoonlike mediese inligting en medikasie geskiedenis beskikbaar is, stel hom/haar in staat om op die uitkyk te wees vir allergieë en onwenslike of gevaarlike interaksies. So word daar byvoorbeeld uitgekyk vir medikasies wat gevaarlik en nadelig kan wees vir verwagtende moeders, diabete, hipertensielyers, ens.

In hierdie spesifieke gemeenskap is voortdurende opvoeding en onderrig aangaande gesondheid asook verantwoordelike gebruik van medikasie van kardinale belang. As voorbeelde kan hier genoem word hoe dikwels ouers kinders na die apteek bring met simptome van dehidrasie en selfs breinvliesontsteking. Doeltreffende, daadwerklike verwysing in so ‘n geval beteken telkens die verskil tussen lewe en dood. Onderrig en opvoeding begin eers werklik doeltreffend plaasind indien daar ‘n persoonlike vertrouensverhouding tussen die apteker en pasiënt/kliënt bestaan. In die agt jaar se bestaan van my apteek is dit verbysterend hoeveel tyd daagliks spandeer word aan inligting, opvoeding en konsultasie.

In die lig van die etlike bogenoemde aspekte is dit duidelik dat die apteek ‘n groot rol speel in primêre aanmelding, behandeling, konsultering en effektiewe verwysing. Dit plaas die apteek regstreeks en effektief in die middel van die netwerk van dokters, klinieke, hospitale en ander gesondheidsdienste wat beswaarlik hierdie dienste op dieselfde vlak kan bied weens druk, lading en beskikbare infrastruktuur.

Buiten die regstreekse mediese en gesondheidsaspekte is daar die hantering en administrasie van eise na die mediese fondse. Die bestaande elektroniese stelsels wat tussen die apteek, die groothandelaar en die mediese fondse gedeel word (die apteker dra die koste) is as geheel meer doeltreffend as wat die pasiënt self sou kon behartig. Pasiënte het dikwels nie eers die basiese kennis en inligting oor hoe hulle eie mediese fondse funksioneer nie omdat dit byna ‘n spesialiteit op sy eie geword het. Nog opvoeding!


Wat is die apteker se persoonlike situasie ten opsigte van hierdie dienste en besigheid?

Die apteker se vaardigheid lê daarin dat hy/sy ‘n graadkursus aan ‘n universiteit voltooi waarin terreine van onder meer chemie, farmaseutika en farmakologie bestudeer word om voldoende opgelei te wees om bogenoemde dienste te kan bied. Enige ander persoon wat oor spesifieke en spesiale vaardighede in ons gemeenskap beskik bied dit aan ander mense teen betaling. Dit is hoe mense in ons bestel ‘n bestaan maak. Dit geld die loodgieter, die dokter, die onderwyser, die fabriekswerker, en so meer. Die realiteit vir die apteker is: hy/sy het histories nog nooit vergoeding gevra vir sy spesifike vaardigheid nie. Hy/sy gebruik wel sy/haar spesifieke vaardighede om sodoende die reg te hê om medisyne te verskaf en ‘n wins daarop te maak. Dit is hoe die apteker ‘n bestaan maak.

Wat behels dit dan om ‘n apteek te besit en te bestuur?
‘ Dit begin deur 5 jaar se studie wat normaalweg studieskuld impliseer soos in die meeste ander professies.
‘ Diens aan die gemeenskap en praktiese ervaring moet oor ‘n tydperk opgebou word.
‘ ‘n Apteek is ten minste ‘n kleinhandelsonderneming waar daar gewoonlik geld by banke geleen moet word om die besigheid, toerusting en die nodige voorraad te bekom.
‘ Personeel van ten minste 7 lede moet aangestel word en toepaslik vergoed word.
‘ Sagteware en inligtingstegnologiestelsels moet installeer word, in stand gehou en voortdurend opgegradeer word.
‘ Betaling van die apteek aan die groothandelaars moet binne 30 dae geskied terwyl dit tot 6 maande kan duur voor mediese fondse eise aan die apteek uitbetaal. Dit veroorsaak ‘n direkte probleem met kontantvloei waarvoor daar gewoonlik ‘n verdere oortrokke fasiliteit by ‘n bank gereël moet word.
‘ Daarna moet onbetaalde eise hanteer word en geld van die pasiënt verhaal word. ‘n Verdere diens en onkoste.
‘ Vervalde voorraad moet verwyder word en beloop koste om te laat vernietig.

Meeste apteke soos die spesifieke apteek hier ter sprake is 7 dae van die week oop, dikwels van 8 tot 8 met uitsonderings. Die apteker moet uit die aard van die saak altyd aan diens wees en indien nie moet ander aptekers in diens gestel word teen verdere hoë kostes.

Tot dusver het die gemiddelde apteker probeer oorleef deur die wins wat gemaak word op die prys van die medisyne. Daar is voorheen nie tariewe gehef op konsultasie, administrasie, digitale eise of lang tydsame oproepe na mediese fondse toe nie.


Maar wat nou van die duur medisyne en veral die beskikbaarheid aan die arm mense?

In die lig van my spesifieke apteek en situasie glo ek dat ek deeglik daarvan bewus is hoe duur medisyne is vir arm mense. Mense in hierdie apteek staan dikwels vir ‘n uur en wag in ‘n ry tot by die deur uit. Hulle kom dikwels met R1 of R2 in die hand met die behoefte om so goed as moontlik gehelp te kan word. Daarvoor het ek (en ander) lankal reeds ‘n sisteem waardeur medikasiepakke opgebreek word om kleiner hoeveelhede te kan voorsien. Dit werk dikwels teen ‘n verlies vir die apteker omdat onvolledige pakke oorbly wat nie verkoop word nie terwyl die voorraad steeds gedra moet word.

Die idee van goedkoper medisyne is goed. Die vraag is egter op watter wyse die pryse aangepas moet word en hoe so ‘n sisteem toegepas moet word. Dit behoort ten minste so te gebeur dat die apteek kan voortbestaan en dus nog steeds die diens kan lewer, anders benadeel jy die persoon wie jy aanvanklik wou help. As die apteek nie kan bestaan nie, kan die armste mens in elk geval nie gehelp word nie.

Deeglike sakemodelle wat die toepassingsrealiteite uitspel, is nagevors en opgestel teen hoë koste. Hierdie modelle is nie deur die regering aanvaar nie. Ongelukkig is die besluite wat oënskynlik aan die hand van sekere ideologieë geneem is blindelings en uiters haastig toegepas. Meeste mense het meer begin betaal vir medisyne. ‘n Rede hiervoor is onder meer omdat groot verpakkings se pryse volgens die nuwe wetgewing aangepas moes word by die kleiner verpakkings. Dit het juis die arm man se medisyne duurder gemaak.

In my situasie het ek ‘n persoonlike verhouding en kontak met elke persoon vir wie ek medisyne gee - ryk of arm. Dit hang dus van my insig af om elke persoon op die beste en bekostigbaarste wyse te help maar om nog terselfdertyd te sorg dat die apteek as geheel kan voortbestaan. ‘n Skokkende aantal apteke moes noodgedwonge reeds hul deure sluit. Oorblywende apteke wat nog hand en tand veg vir oorlewing, vir hulself maar ook vir hul pasiënte/kliënte, se moreel en hoop is laag. Die situasie duur nou reeds 8 maande met voortsleurende hofsake en byna weeklikse veranderinge.

Op hierdie stadium aanvaar die regering nie die Hooggeregshof se eenvormige uitspraak dat die prysaanpassingsregulasie geskrap moet word nie en beroep hom op die Grondwetlike Hof. Dit geskied natuurlik met hoë koste aan die staat en mag nog maande of langer duur. Intussen is daar tans onduidelikheid oor of die Hooggeregshof se uitsprake aanvaar moet word en of die regering se bevele aanvaar moet word. Verskeie mediese fondse wat bereid was om meer as die aangeduide tarief te betaal is selfs verlede week deur die regering gedreig met verdere hofsake.

Wie word tot dusver bevoordeel? Reuse farmaseutiese maatskappye, groothandelaars, mediese fondse en die regering. Wie word tot dusver benadeel? Die apteker, pasiënt/kliënt en veral die arm mense.

Dit kom voor asof nuwe wetgewing wat neergelê is volgens sekere sienings summier toegepas is ten spyte van die ooglopende nadele vir die mense juis betrokke, en ten spyte van hofuitsprake waarin realiteitsmodelle deeglik bestudeer is. Daar is intussen beter planne op die tafel - onder meer ‘n model voorgestel deur ‘n onafhanklike maatskappy wat vir hierdie navorsing onlangs ‘n spesiale toekenning in die VSA ontvang het, maar dit word blootweg nie oorweeg nie. Die geveg word oënskynlik voortgesit om die ideologie te handhaaf.

Die basislyn hier is: met die toepassing van die sisteem soos tans deur die regering geïmplementeer kan die gemiddelde kleinhandelapteek nie as ‘n onderneming funksioneer nie.

Om op te som

Vir die apteek om die hoek is die huidige situasie onuithoudbaar en die toekoms lyk nog slegter. Hierdie siening kom nie van ‘n ryk ‘vetkatapteker’ af nie, maar eerder van ‘n optimistiese persoon wat elke minuut van elke dag in die afgelope 18 jaar in persoonlike gesprek en met sorg voor die siek en behoeftige arm persoon staan. Watter medisyne gee jy vir ‘n dodelike siek ou met R1 in sy hand? Dit klink soos ‘n sorgwerker tydens ‘n rampprojek. Die verskil is dat liggame wat sulke rampprojekte bestuur genoeg befonds word om te kan bestaan. Die apteker ontvang nie sulke befondsing nie en die apteek in hierdie spesifieke gemeenskap sal nie meer mense kan help nie.

Vir die siek ou beteken dit dat hy in die toekoms ‘n drastiese laer gehalte diens gaan kry, langer gaan wag, onpersoonlike diens gaan kry en uiteindelik meer gaan betaal omdat niemand meer vir hom gaan ‘instaan’ by die medies fondse nie. En die apteker? Meer as ‘n duisend Suid-Afrikaanse aptekers het in Novembermaand werk aanvaar by slegs een maatskappy in die VSA. Hmmm?! ‘n Honger ou sal volgens Maslow se struktuur van behoeftes trek na waar hy kan eet en kan lewe …

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=113
Artikel nagegaan:
    -