blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Om Afrika te bevry: ‘n Standpunt 2005-02-03
Johann Wingard

Om Afrika te bevry: ‘n Standpunt

Deur Johann Wingard, oud-nyweraar en voormalige voorsitter van die grondwetlike Volkstaatraad wat staatkundige selfbeskikkingsmodelle na 1994 nagevors het.
*Hierdie artikel verteenwoordig nie noodwendig die redaksionele standpunt van Die Vrye Afrikaan nie, maar ons plaas dit graag in belang van debat - Redakteur

Die nuwe millenium het sestig jaar se onvrede in Afrika ingelui waarin miljoene mense sedert die Tweede Wêreldoorlog in die haglikste omstandighede in Afrika gesterf het.

Waarom?

Die akademici wat ons te woord gestaan het tydens 'n besoek aan die London School of Economics (LSE) in 1996, het die standpunt gehuldig dat etnisiteit vir Afrika se ellendes verantwoordelik is. Dit is as rede aangevoer waarom inheemse tale moes verdwyn en deur Engels as lingua franca vir nasiebouprogramme vervang word. Volgens hulle manifesteer rassisme, wat as die groot euwel van vandag se wêreld beskou word, ook in die vorm van etnisiteit.

Die LSE-akademici het beweer dat, voordat vrede en harmonie bereik sou word, multikulturele samelewings mettertyd in nuwe gewade geplooi sal móét word, ongeag die etniese of rassesamestelling van gemeenskappe. Hul teorie vorm die basis van ‘n liberalistiese siening wat individualiteit bo kommunaliteit stel om as sosiale en regsnorm te dien en verskaf die onderbou vir nasiestate gedurende die moderne era. Kommunaliteit by etniese gemeenskappe word as 'n oudmodiese en gevaarlike praktyk beskou en moes deur individuele regte as beskawingsnorm vervang word.

Maar ‘n onlangse Wêreldbankverslag beweer die teendeel. In hul belangwekkende verslag vra Ibrahim Elbadawi en Nicholas Sambanis (E+S) die vraag: "Waarom is daar so baie burgeroorloë in Afrika?" Die verslag ontleed gewelddadige konflik sodat burgeroorloë beter verstaan kan word en om metodes te vind om hulle te voorkom.
 
Die kernbevinding van die verslag is dat Afrika se burgeroorloë nie aan sy etniese of religieuse diversiteit te wyte is nie, maar aan ander oorsake. E+S betwis dus die LSE se siening en verskaf wetenskaplike gegewens om hul bevindings te staaf.  Die verslag bevind onder meer dat ‘n gebrek aan toegang tot natuurlike hulpbronne spanning binne nasiestate skep wat die basis vir burgeroorloë vorm.

Met behulp van onlangs geformuleerde modelle maak hulle 'n ontleding van burgeroorloë in 161 lande gedurende die tydperk 1960 - 1999 en bewys dat die hoër voorkoms van burgeroorloë in Afrika nie aan die etno-linguistiese fragmentasie van Afrikalande te wyte is nie, maar eerder aan die voorkoms van armoede, afhanklikheid van natuurlike hulpbronne en mislukte politieke stelsels. Armoede skep onrus, afhanklikheid van hulpbronne skep mededinging daarvoor en mislukte politieke stelsels verskaf die morele vonk wat burgeroorloë laat ontketen. Hoewel dit gewoonlik inwoners van 'n bepaalde stam of gebied is wat gemobiliseer word om vir oorlewing in opstand te kom, hou etnisiteit as sodanig geen kousale verband daarmee nie.

In sy boek Collapse: How societies choose to fail or survive skryf prof. Jared Diamond van die Universiteit van Kalifornië onder meer oor die Hutu’s en Tutsi’s van Rwanda. Die landbougrond van die homogene Hutu-gebied was oorbevolk en almal was honger. Ongeskoolde jongmanne kon nie meer op nuwe plaasgrond vestig nie. Tussen 1988 en 1993 het die verhouding van jongmanne wat by hul ouers inwoon van 71% na 100% gestyg, sodat jongmans bo die ouderdom van 20 nie meer selfonderhoudend was nie.
Hy plaas die aanspreeklikheid vir die Tutsi volksmoord vierkantig op die skouers van die owerhede wie se politieke amptenare uit die Hutu-meerderheidsgroep bestaan. Laasgenoemde het tienduisende pangas ingevoer en die hele volksmoord georkestreer. Die punt wat hy maak, is dat wanneer mense van honger sterf, dit makliker is om hul bure te vermoor in die hoop om hul goed, geld of beeste te bekom as om langtermyn landbouprojekte te ontwikkel. Etniese verdelingslyne kom dan handig te pas om jou prooi te teiken.

Die Wêreldbankverslag beweer dat etniese diversiteit die prosesse vir intergroeponderhandeling juis bevorder en dus politieke stabiliteit aanhelp liewer as benadeel. Hierdie prosesse verloop gewoonlik vreedsaam as etniese groepe voel dat hulle voldoende politieke verteenwoordiging geniet en wanneer die ekonomie ‘n regverdige geleentheid vir produktiewe ekonomiese aktiwiteit bied. Op die oog af klink dit na 'n heeltemal logiese formule vir vrede, naamlik voldoende politieke verteenwoordiging, gepaardgaande met voldoende ekonomiese betrokkenheid om 'n bestaan te kan maak. Sou hierdie kernbevinding dus binne ‘n staatkundige model toegepas kon word, sou vrede en voorspoed in die vasteland kon heers.
‘n Nasiestaat is ‘n staat wat deur ‘n bepaalde geografie begrens word en mag verskillende etniese groeperings of minderheidsvolke insluit. Voorbeelde is Suid-Afrika, Kanada, Australië, die VSA en selfs Brittanje. Afrika se nasiestate het egter nooit kans gestaan om te slaag nie. Dit was nie haar se leiers se skuld nie, maar die gevolg van gedwonge huwelike tussen strydende etniese gebiede wat saam ingesluit was en die kleiner groepe hul selfbeskikking ontneem het, wat hulle na oehoeroe in ‘n slegter posissie geplaas het as tydens of voor die koloniale tydperk. Voor kolonisasie het al Afrika se bevolkingsgroepe in ‘n meerdere of mindere mate hul selfbeskikking geniet, tydens die koloniale tydperk was die tradisionele leierskorps se gesag grootliks as die de jure en de facto gesag op streeksvlak gehandhaaf, maar na oehoeroe was die minderheidsvolke van Afrika permanent ondergeskik aan groter volksgroepe wat óf deur die demokratiese proses óf met staatsgrepe die mag bekom het waardeur hulle die land se ekonomiese hulpbronne kon inpalm. Die tradisionele leiers se magte is ingekort en deur beamptes van buite die gebied vervang. In baie gevalle kon die beamptes nie eens die gemeenskappe wat hulle moes bedien se taal verstaan nie. Sulke beamptes probeer heers, liewer as om te dien.
Die Wêreldbank se verslag wys op ‘n moontlike formule vir vrede, naamlik voldoende politieke verteenwoordiging, gepaardgaande met voldoende ekonomiese betrokkenheid om 'n bestaan te kan maak. Hoe wyer ‘n gebied wat deur heterogene gemeenskappe bewoon word se grense getrek word, hoe meer etniese groepe word by die gebied ingesluit en hoe kleiner is die politieke verteenwoordiging van die verskillende gemeenskappe daarbinne. Deur Pretoria se grens byvoorbeeld tot ver buite Gauteng se grense te trek, waardeur getalryker aangrensende etniese gemeenskappe by Pretoria ingesluit word, word politieke verteenwoordiging vir Pretoria se belastingbetalers grootliks afgewater en het hulle gevolglik geen seggenskap meer in munisipale sake wat hulle ten nouste raak nie en word hulle deur vreemdelinge binne hul eie woongebiede bedien. Daar bestaan ook geen alternatiewe institusionele kanale waardeur hul eie sake bevorder kan word nie en die aandrang op sodanige strukture word as isolasionisties, polities onkorrek en 'n hunkering na apartheid beskou.
Ondanks die feit dat Suid-Afrika as die modeldemokrasie vir die res van Afrika voorgehou word, sterf meer mense daagliks in Suid-Afrika as in die huidige Irakese oorlog in wat ‘n onlangse kommissie van ondersoek as armoedegedrewe geweldsmisdaad beskryf het.
Volgens die Wêreldbank se verslag word 1000 sterftes oor die duur van 'n konflik as die drumpel vir 'n burgeroorlog beskou. Deurdat reeds meer as 20 000 mense jaarliks gewelddadig sterf, is Suid-Afrika sonder twyfel reeds vir etlike jare in 'n oorlog-om-middele gewikkel, wat niks anders is as die tipiese Afrika-burgeroorlog nie. Die feit dat daar swartes van alle etniese groeperings, sowel as blankes van alle nasionaliteite; selfs ook toeriste, hierdeur geraak word, beklemtoon die feit dat die huidige stryd nie aan etniese of religieuse verskille toegedig moet word nie, maar dat dit as 'n stryd om hulpbronne binne 'n nasiestaat gesien moet word.
Hoewel die oorlog in die Kongo amptelik verby is, sterf daar volgens die International Rescue Committee tans meer as 1000 mense daagliks, hoofsaaklik weens ellendes soos hongersnood en siektes wat deur die oorlog veroorsaak was. Die bloedige burgeroorlog in die Soedan het sedert 1983 meer as 2 miljoen lewens geeïs.
Hopelik sal die regerings van Afrika begin besef dat die ganse vasteland, insluitende Suid-Afrika, in 'n ewigdurende burgeroorlog gedompel is en dat die basis vir sy voortbestaan nie in die soewereiniteit van nasiestate gesetel is nie, maar in genoegsame politieke verteenwoordiging van sy gemeenskappe asook ‘n geordende en voldoende deelname aan die ekonomie.
Die Wêreldbank se verslag is uiteindelik ‘n aanvaarding van die mislukte dekoloniseringsprogram deur middel van nasiestate. Premier Tony Blair maak melding van vermybare tsunamis wat daagliks in Afrika woed. Daar is net te veel antropoloë, sosioloë en navorsers wat die tragiese geskiedenis van post-koloniale Afrika wetenskaplik ontleed het om hierdie feit te ontken. Dit is dus futiel om Afrika se mislukkings op die skouers van haar leiers of mense te plaas, want die werklike probleem word vandag deur talle navorsers, selfs deur die Wêreldbank, gesaghebbend blootgelê.

Die Oos-Afrikaanse Federasie sal waarskynlik teen 2010 gestalte kry, waarna die internasionale grense van Tanzanië, Kenia en Uganda sal verdwyn. Hoe die deelstate presies sal lyk is nog onseker, maar ‘n kundige soos Prof. Dani Wadada Nabudere redeneer dat die Federasie uit dosyne etniesgebaseerde deelstate sal bestaan. Rwanda en Burundi geniet tans waarnemerstatus by die onderhandelings.

Oos-Afrika is dus reeds besig om die juk van hul nasiestate af te skud; hulle het eerstehands ervaar dat nasiestate nooit sal kan werk nie; die sosiale gom het eenvoudig ontbreek. Kolonies was arbitrêr as state saamgeflans, hul grense loop dikwels regdeur statjies sonder om rekening te hou met die demografiese samestelling van ‘n land of streek. Dieselfde uitgebreide families woon weerskante van riviere en mere, maar nogtans was dit natuurlike hulpmiddels vir die koloniale moondhede om internasionale grense mee vas te stel.

Die demokratiese beginsel van een mens een stem was ‘n verdere probleem. Bevolkings as geheel het hul selfbeskikking by onafhanklikheid ontvang, maar vir kleiner volke binne die oud-kolonies, was die werklikheid anders. Die logiese uitvloeisel van ‘n vereenvoudigde demokrasie is dat slegs die grootste groepe op selfbeskikking aanspraak kan maak terwyl die kleiner volke se belange en aspirasies ondergeploeg word. Sou hulle daarteen beswaar maak, word hul besware as ‘rassisties’ of ‘terugkeer na die goeie ou dae’ beskryf.

Hoewel die nuwe state se eksperimente van nasiebou en assimilering ten doel gehad het om die grense tussen stamme en rasse uit te wis, word die post-oehoeroe era deur sestig jaar van bloedvergieting, etniese suiweringsoorloë, hongersnood, uiterste armoede, siektes en ontberings gekenmerk. Die tyd het dus nou aangebreek vir alle betrokkenes om te besef en te aanvaar dat die Afrika-projek gefaal het en dat dit geskrap moet word.

Is daar dan nog hoop vir Afrika?

Maar natuurlik!

Benewens sy minerale rykdom en reuse arbeidspoel, het die vasteland die enorme natuurlike potensiaal om die ganse mensdom van voedsel te voorsien. Dit is Afrika-inwoners se grootste enkele inherente voortbestaansfaktor. Maar hiervoor smag Afrika na vrede en stabiliteit om daardie natuurlike ekonomie te laat opbloei. Om bloot geld na die probleem van Afrika te gooi sal ook nie help nie – dit het nog nooit gewerk nie.

Die realiteit is dat die demografie van die vasteland in diep historiese vorms gegiet lê en as ‘n gegewe feit aanvaar moet word. Dit vereis dat die gebiede wat deur bepaalde etnië bewoon word, hul selfbeskikking sal kry sodat hulle hul plaaslike regeringsvorm salf kan bepaal asook die wyse om toegang tot die ekonomie te verkry.

Om Afrika te laat ontwaak, moet die gees van Afrika se mense dus bevry word van die heersende verwarrende politiek van nasiestate wat daarop ingestel is om ook wanabee moondhede te wil wees. Waar die rede vir hul mislukkings aan ander toegedig word is die werklikheid aan struktuurfoute toeskryfbaar. Die werklike sondebok is die konsep van eenheidstate wat probeer om identiteitslose sosiale zombies van sy bevolking te probeer maak deur ‘n kunsmatige geografiese patriotisme vir ‘n nasiestaat by hulle te probeer kweek. Die enorme ego’s van politici veroorsaak blinde kolle wat politieke korrektheid bo die aanvaarding van die werklikheid stel. Daardeur ag hulle ‘n land se transformasie of beeldverandering veel belangriker as die doeltreffende werking van die strukture wat die dienste moet lewer.

Bevry die Afrika-mense se gees dus sodat hulle ‘n duidelike toekomspad voor hulle uitgestippel kan sien, ‘n pad waarin jonk en oud saam hul toekoms kan tegemoetgaan. Waar ‘n ingeperkte of onderdrukte gees van sy talente ontdaan word en in ewigdurende konflik met sy omgewing staan, is ‘n vry gees skeppend, prestasiegedrewe, vreedsaam, verdraagsaam en meelewend.

Die huidige Afrika-pessimisme moet deur ‘n nuwe realisme vervang word. Die persepsie bestaan dat die huidige nasiestate ‘n gegewe is sodat die gevolglike inherente struktuurfoute alle hoop op enige ekonomiese opbloei dus verydel. ‘n Nuwe toekomsbeeld word benodig van ‘n bevryde Afrika wat uit ‘n paar honderd federale deelstate sal bestaan, elkeen met seggenskap oor sy eie sake volgens sy eie vermoë, of met vrywillige samewerking met naburige deelstate om hulself te orden volgens hul eie vermoë; ‘n toekomsbeeld met die potensiaal om die energie van elke volk en elke gebied te ontsluit.

Dit is die toekomsbeeld van ‘n bevryde Afrika...

Om Afrika te laat herlewe, sal dus beteken dat ‘n nuwe Afrika-Federasie in die plek van die huidige sinnelose en tandlose Afrika-unie moet kom; dat al die huidige nasionale grense uiteindelik sal versmelt in nuwe grense wat deur die inwoners van elke gebied regoor die vasteland self bepaal sal word. Nuwe deelstate sal op hierdie wyse tot stand kom, elkeen met sy outonome owerheidstrukture. Lande soos Egipte, Marokko, Libië, Tunisië ens., wat nader aan Arabië staan as aan Afrika, sal hulself waarskynlik vrywillig wil uitsluit en deel van ‘n groter Arabië wil word.

Soos die nuwe beoogde Oos-Afrikaanse Federasie wat uit ‘n dosyn of meer etniese deelstate sal bestaan, kon ‘n Noord-Afrikaanse Federasie, ‘n Suid-Afrikaanse Federasie, ‘n Wes-Afrikaanse Federasie en ‘n Sentraal-Afrikaanse Federasie as tussenstap tot stand kom. Oor ‘n paar dekades sal hierdie federasies op streeksvlak gestabiliseer wees en regstegniese -, monetêre -, veiligheids - en makro ekonomiese vraagstukke opgelos wees. Dan kan die uiteindelike versmelting van Afrika in sy natuurlike etniese komponente plaasvind.

Die Suid-Afrikaanse Federasie kan die huidige RSA-gebied plus Lesotho, Swaziland, en Botswana insluit, bestaande uit vyftien of meer deelstate. Laasgenoemde drie kan hul bestaande grense behou, aangesien hulle mono-etniese gebiede is. Selfs Afrikaners kan hul vryheidsaspirasies soos al die ander etniese groeperings binne ‘n deelstaat in ‘n relatiewe klein gebied so groot soos België bevredig binne ‘n deelstaat waar hulle ‘n natuurlike meerderheid uitmaak rondom Pretoria-Oos, Centurion en Pretoria-Noord om aan hul groeiende behoefte te voldoen. Metropolitaanse gebiede wat grootliks uit ontstamdes en gedeëtnifiseerde mense van alle rasse bestaan, het inderwaarheid ‘n nuwe etnisiteit aangeneem en is op hul eie gebiede geregtig net soos historiese etnië dit wil hê.
 
Die uitbreek van ‘n langdurige vrede is dus noodsaaklik vir Afrika om soos ander vastelande sy volle ekonomiese potensiaal te verwesenlik. Die ongekende ekonomiese welvaart van die Europese Unie is ‘n voorbeeld. Vanweë Europa se geskiedenis om sy grense in bloed te trek, bestaan die EU reeds hoofsaaklik uit etniese state, met ‘n gewaarborgde handves van minderheidsregte aan kleiner etniese groepe. Brittanje het ‘n soort federasie geword tussen Noord-Ierland, Skotland, Engeland en Wallis om die Noord-Ierlandse probleem op te los en stabiliteit te verseker; ‘n voorvereiste vir ekonomiese ontwikkeling.

Die vraag is of Suid-Afrika se nuwe politieke elite, veral daardie uitverkore groepie wat miljarde uit die huidige bateverskuiwingsprogram maak, met so ‘n visie vir vrede sal saamstem en of hul eie geldmagambisies nie belangriker is as wat die bestemming van die vasteland se mense is nie.



 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=112
Artikel nagegaan:
    -