blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die stad en die gemeenskap: Die stad. Ons stad 2005-02-03
Lize de Ridder

Die stad. Ons stad.

Deur Lize de Ridder, Lektor, Departement Stads- en Streekbeplanning, Universiteit van die Vrystaat

Die stad. Plek van geboue. Plek van mense. Plek van netwerke. Plek van ekonomie. Plek van politiek. Plek van veiligheid. Plek van vrees. Plek van konsentrasie. Plek van dekonsentrasie. Plek van evolusie. Plek. Ons stad.

Elk van hierdie komponente verduidelik die grondliggende rede, funksie en vorm van die stad in historiese, huidige en toekomstige konteks. Le Play het hierdie komponente die beste saamgevat deur te sê dat die stad ‘n perfekte balans tussen mens-plek-werk moet kry. Diegene wat by die onderskeie komponente betrokke is, het egter die neiging om hul komponent as die belangrikste te ag.

Volgens argitekte máák die geboue ‘n stad. In die proses om net op geboue en veral die estetika daarvan te fokus, word daar soms van die mense wat daardie geboue moet bewoon en benut vergeet. Talle mense het al die woorde “dis deur ‘n argitek ontwerp” as verskoning eerder as rede vir onleefbare ruimtes gebruik. Argitektuur gee egter identiteit aan die stad, al is daar ‘n reuse meningsverskil tussen argitekte en die gemeenskap oor wat die gepaste identiteit is, soos wat die Toskaanse boustyldebat illustreer. Die kultuur van die gemeenskap en die identiteit van die omgewing druk uiteindelik ‘n stempel op die stad af, maak nie saak hoe hard daar probeer word deur KFC en MacDonalds om identiese stede te skep nie. Sekere kenmerkende stede word selfs akteurs in die rolprentbedryf. New York as plek en as identiteit speel meer as net ‘n agtergrondrol in films deur Woody Allen en televisieprogramme soos Sex in the City.    
 
As maatskaplike werkers en sielkundiges hul sin kan kry, sal die stad primêr op die mens gefokus bly, maar om elke stedelike individu haar of sy sin te gee, sal die stad in chaos laat verval. Daarom is stadsbeplanning ‘n professie en wetenskap wat die gemeenskaplike belang, eerder as die individuele belang, in ag neem. Sonder die mens het die stad egter geen bestaansreg nie, wetenskapfiksie ter syde gestel. Detroit in die VSA is ‘n uitstekende voorbeeld van ‘n stad wat op een stadium deur haar inwoners verlaat is, nadat werksgeleenthede aan onder meer Meksiko verloor is, en die mense gevolglik uitgetrek het. Blokke woonstelle, woonbuurtes en besighede staan leeg en word regeer deur troppe agtergelate honde. Talle stede ondervind tans probleme omdat die wêreld se bevolkingsgroeikoers besig is om af te neem. Die platteland word natuurlik nog erger daardeur geraak, met sekere dele van Oos-Europa wat totaal ontvolk is. Die mens het egter kultureel behoefte aan haar en sy eie, en gevolglik het die diaspora van volke etniese voorstede laat ontstaan, met die China Towns as ou voorbeelde en The Russian Neighbourhoods as nuwe voorbeelde. Moet ook nie van die Afrikaanse inname van sekere woonbuurtes in Australië vergeet nie.

Ingenieurs sal graag die stad so funksioneel moontlik wil vorm met lekker reguit strate, alles so plat as moontlik en met die kortste afstande. Roosterblokke vol reguit strate lei egter na hoë spoed deur die verkeer en ‘n gebrek aan identiteit in die gemeenskap. 

Ekonomie en stadsvorming loop hand aan hand en in baie gevalle is die stad ‘n weerspiëeling van wat in die ekonomie gebeur het. Namate die Nywerheidsrewolusie die ekonomie versterk het, het stede ongekend gegroei en uiteindelik moes daar na voorstede uitgewyk word.

Globalisering en die inligtingsrevolusie is van die grootste invloede in stadsvorming vandag. Sommige teoretici het so ver gegaan om die dood van die stad as ‘n gevolg aan te kondig. Gedurende die vroeë 1990s is daar weens die koms van die persoonlike rekenaar en internet spekuleer dat die administratiewe mens nou papierloos van haar of sy huis af kan werk, sonder dat daar ‘n werklike kantoor in die stad is waarheen gereis word. Banke word toenemend internetgebaseerd, wat ook gevolglik minder geboue opeis.

Die gesig van die stedelike nywerheidsgebied word verander in die ontwikkelde lande, waar die administratiewe sentrum nog gesetel is, maar vervaardiging vind in lande soos China, Meksiko en Brasilië plaas. Die stedelike nywerheidsgebied word gevul deur pakhuise vir internetverskaffers soos Amazon.com en gesloop vir voorstedelike ontwikkeling.

‘n Interessante patroon op streeksvlak het egter na vore getree, naamlik dat globalisering op geografiese vlak nie eweredig plaasvind nie, maar dat dekonsentrasie in die stadsfeer plaasvind, en konsentrasie na sekere stede en streke plaasvind. As die konsep van “volg net die geld” in werking gestel word, sentreer banke en aandelebeurse in stede soos Londen, New York, Sao Paulo, Zürich, Buenos Aires, Hong Kong, Sydney, en dies meer. Op hulle hakke volg konsultantfirmas, prokureurs, ouditeure en al die relevante diensverskaffers. Waar Switserland voorheen talle kleiner aandelebeurse gehad het, is dit nou verenig in Zürich. Stede soos Lyon het nie slegs hul aandelebeurs nie, maar ook talle firmas se hoofkantore aan Parys afgestaan.

Waar lande besef hulle het nie meer die kompeterende mag wat nywerhede betref nie, word daar na die innovasie- en inligtingsekonomie oorgeskuif. Die innoverende ruimtes soos die Innovation Hub in Gauteng is ‘n voorbeeld van die wêreldwye poging om die Sillicon Valley-ideaal na te streef, waar innovasie en tegnologie gebruik word om werk en talle miljoenêrs te skep. Binne hierdie ideaal het sekere streke in Suid-Korea vanaf ‘n landboubestaan reguit na ‘n hoë-tegnologiebestaan gespring en sodoende nooit die industriële fase betree nie.

Selfs streekbeplanning het in die1970s begin kwyn met die sterk fokus op die stad as entiteit. In Suid-Afrika het die meeste universiteite streekbeplanning uit hul kursusse gehaal of in belangrikheid laat vervaag. Daar het egter in die VSA en Europa die besef ontstaan dat om die stad in isolasie te beskou besonder nadelig is vir die holistiese konsep van plek-mens-werk en neo-regionalisme is besig om die stad terug in die konteks van die streek te plaas.

Die politiek van die dag is ongelukkig ook ‘n besondere omvangryke stedelike rolspeler, met die ontwikkeling van ondere meer die apartheidstad in Suid-Afrika, asook grys woonstelblokke wat as deel die van sosiale behuisingsbeleid in die voormalige kommunistiese lande gebou is ter illustrasie. Regeringsbeleid kan ook besonder diskriminerend wees, waar die huidige klem op streng en enkelgebruik sonerings in Suid-Afrika baie mense daarvan weerhou om ekonomies aktief te raak. Sodoende word veral vrouens in voormalige swart nedersettings en voorstedelike huise vasgevang, omdat die regering sloer met die proklamering van nuwe grondgebruikswetgewing.

Die meeste stede wêreldwyd het hul ontstaan te danke aan die feit dat dit ‘n plek van veiligheid is. Gepanser teen aanvalle is plekke soos Mapungubwe in Suid-Afrika op hoogliggende dele gevestig, sodat dit die mense kan beskerm. Vandag is daar ‘n terugkeer na die beskuttingselement van die stad, in die vorm van geslote woonbuurte en sekuriteitsdorpies wat vanaf Frankryk tot Peru en China gewildheid wen. Nie net word veiligheid verseker nie, maar ‘n sin van gemeenskap word te midde van die gesigloosheid van globalisering en die modernistiese stad herwin. In Suid-Afrika is hierdie situasie egter polities besonder sensitief, maar dit keer egter nie die groei daarvan nie. Miskien is dit tyd dat mense wie se aansoek tot die omskep van hul woonbuurt in ‘n sekuriteitswoonbuurt diegene wat dit afkeur binne die reg verantwoordelik hou vir enige misdade wat volg, as gevolg van ‘n gebrek aan sekuriteit in daardie woonbuurte.

Die stad is egter ook ‘n plek van vrees. Agterstrate en parke word ideale misdaadterreine, waar talle donker bome in baie woonbuurte ‘n gevoel van angs by die gemeenskap laat ontstaan, eerder as ‘n gevoel van omgewingstrots. Stopstrate word ‘n teelaarde vir grypdiewe en motorkapings. Weer eens moet die ontwerp en ontwikkeling van stede rondom die mooi geboutjies en tuintjies wat dit voorhou kyk en die ware kleure van die stad raaksien. Gevolglik moet die polisie meer ernstig in stadsontwikkeling betrek word, sodat die stad werklik in diens van die gemeenskap staan. 

Stedelike konsentrasie is deur baie teoretici voorgehou as die modernistiese ideaal aangesien dit soveel meer natuurlike omgewing in die oorspronklike vorm bewaar, grond maksimaal benut en hulpbronne (beide menslik en natuurlik) bymekaarpoel. Dit word ook as die oplossing vir verstedelikingsprobleme gesien en talle regerings konsentreer op laekostebehuising en rig enorme en onooglike wolkekrabbers op vir hul werklose massas.

Stedelike gebiede wat kenmerkend van konsentrasie is, is Hong Kong en Manhattan van New York. Tans vind die meeste konsentrasie vanweë beperkte grond en gevolglike hoë grondpryse plaas. Talle teoretiese toekomsstede en wetenskapfiksie hou die konsentrasie-idee voor, waar ontsaglike hoë geboukonstruksies op ‘n klein stukkie grond voorkom en tuie tussen die geboue rondvlieg. Al die spekulasies oor die mens se kolonisering van Mars is op gekonsentreerde stede gebaseer. Die nadele van konsentrasie is op 11 September 2001 in New York aan ons uitgewys. Verder lei dit tot isolasie van die mens en besoedeling van die direkte omgewing.

Stedelike dekonsentrasie word gekenmerk deur stadskruip wat wêreldwyd ‘n feit is en stede inmekaar laat vloei. Die massaverbruik van die motor, asook openbare vervoer, het dit moontlik gemaak vir mense om ver van hul werkplek te woon. Stadskruip word tans gekenmerk deur voorstedelike winkelsentrums omring deur voorstedelike woonbuurte waar meenthuiskomplekse, sekuriteitsbuurte en gholflandgoedere opgerig word, wat sy aan sy is met woonhuiskantore en kantoorparke. Hierdie voorstedelike gebiede word aan die stadskern en met mekaar verbind deur ‘n verweefde netwerk paaie en spoorlyne. Selfs Europa wat stadskruip teëgestaan het, word al hoe meer die slagoffer daarvan. ‘n Voorstedelike leefwyse met ‘n eie motor word wêreldwyd as die ideaal gesien. Talle dorpies wat naby stede geleë is, word ook deur stedelinge ingeneem wat ‘n meer plattelandse bestaan wil voer, alhoewel hulle in die stad werksaam is. Dit beteken dat al hoe meer landbougrond en natuurlike landskap deur die stad ingeneem word, met paaie wat deur gebiede sny. Die voordeel van stedelike dekonsentrasie is dat daar minder mense per vierkante meter woon en werk, wat dit duidelik veiliger maak en inderdaad tot beter lewenstandaard lei.

Laastens is die stad ‘n plek van evolusie. Iets wat konstant verander, soos die mens verander. Hoe meer ons dit probeer beheer, hoe meer raak dit buite beheer. Konsepte soos die anargistiese stad en die organiese stad, illustreer ook dat die stad ‘n eie identiteit het, wat nie beheer kan word nie, maar die stad self besluit hoe, waar en wanneer dit wil ontwikkel.

Die feit bly egter staan dat die mens in beheer van die stad sal wil bly. Die gemeenskap sal die stad as hul eie wil eis. Gevolglik sal politici, argitekte, ingenieurs, besigheidsmense, ongewingsbelangegroepe, stads- en streekbeplanners of die gemeenskap hul unieke stempel op die stad en die omliggende streek wil afdwing. Dit is net noodsaaklik dat al die komponente in ‘n fyn balans funksioneer, met sensitiwiteit teenoor mekaar. Almal moet ook besef die stad is elke inwoner en rolspeler se individuele verantwoordelikheid en dit kan nie permanent aan ‘n gesiglose “hulle” oorgelaat word nie. Daar moet meer op verantwoordelikheide gefokus word, minder geëis word en minder op regte konsentreer word. Dan alleen kan dit Ons Stad, eerder as Die Stad word.  






 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=111
Artikel nagegaan:
    -