|
||||
Die krisis in Suid-Afrikaanse onderwys Elke jaar gedurende die somervakansie word Suid-Afrika aan twee bedrukkende rituele blootgestel, naamlik die padslagting en die matriekuitslae. Wat die matriekuitslae betref, word ons gewoonlik getrakteer op die beste moontlike hoek wat die Minister van Onderwys op die ietwat somber prentjie probeer gee. Aan die begin van die nuwe jaar word die ritueel die afgelope jare aangevul deur ‘n besondere variasie, naamlik die rig van die staatsvisier op Afrikaanse skole. Reeds in November verlede jaar het die Johannesburgse Centre for Development and Enterprise ‘n opspraakwekkende verslag oor probleme in Suid-Afrikaanse skole uitgereik, waarin onder meer verwys is na, soos hulle dit sien, ontoereikende vaardigheid in Engels, asook gebrekkige wiskunde- en wetenskapsonderrig in die onderwysstelsel. Dit het aanleiding gegee tot ‘n taamlik intense openbare debat waarin die rol van taal, wetenskap en wiskunde sterk bly figureer het. Een van die kommerwekkendste kwessies waarna deur meer as een kommentator in koerante verwys is, is dat die skoolstelsel te min swart kandidate vir die natuurwetenskappe produseer. Elders in vandeesmaand se maanduitgawe verwys Christo Viljoen daarna dat slegs sowat ‘n dosyn swart leerders jaarliks goed genoeg presteer om toelating tot die beter Suid-Afrikaanse ingenieursfakulteite te kry! Dit kos nie ‘n diepere insig om te snap dat die gaping tussen die vereistes van regstellende aksie en wat die skoolstelsel produseer eenvoudig absurd is. Onlangs het pres. Thabo Mbeki se woordvoerder, mnr. Bheki Khumalo, in die Sunday Times (23/1/2004) in sy persoonlike hoedanigheid ‘n aanval op Afrikaanse skole geloods. Die klip in Khumalo se skoen was dat die skole in die omgewing waar hy woon (Ekurhuleni, oftewel die Oos-Rand) nie voorsiening maak vir moedertaalonderrig aan sy seun nie, en dat die Afrikaanse skole weier om sy seun in te neem as hy nie in Afrikaans onderrig sal word nie. Op voorspelbare wyse het Khumalo dié standpunt aan “apartheidsonderwys” verbind. Dit is ook onwaarskynlik dat Khumalo sy standpunt sonder die medewete en/of goedkeuring van sy hoof sou geskryf het, sodat ‘n mens hier waarskynlik met die ou taktiek van ‘n politieke loodballon te doen het om te bepaal wat die openbare reaksie is op ‘n standpunt wat jy nog nie amptelik uitspel nie. Nog ‘n slag teen Afrikaanse skole is pas gelewer deur ‘n beslissing van mnr. Cameron Dugmore, die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys, dat die Laerskool Mikro gedwing gaan word om 21 Engelse graad 1-leerders in te neem. Die besluit volg op mislukte onderhandelings tussen die LUR en die skool se beheerliggaam, en die saak is nou op pad hof toe. Volgens Die Burger van 2/2/2004 het mnr. Gert Witbooi, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys, gesê: “Ons is vasbeslote om die onderwysstelsel te transformeer. Praktyke van eksklusiwiteit kan nie toegelaat word nie.” Hierdie gebeure geskied teen die agtergrond van drie opspraakwekkende verslae oor die onderwys wat pas deur twee redaksionele raadslede van Die Vrye Afrikaan, prof. Hermann Giliomee en dr. Lawrence Schlemmer, asook prof. Chris Heese vrygestel is. Die verslae volg op ‘n kongres oor die onderwys wat verlede jaar op 4 en 5 Junie by die Universiteit van Wes-Kaapland op inisiatief van Schlemmer en Giliomee in samewerking met onder meer die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans gehou is. Die Vrye Afrikaan ag hierdie verslae as so belangrik dat ons dit vandag as deel van ‘n spesiale dossier oor die krisis in onderwys publiseer. Ons hoop om hiermee by te dra tot ‘n sinvolle debat in die Afrikaanse wêreld oor die onderwyskrisis. Die verslae word tans reeds druk bespreek en sal hopelik tot openbare opvolgaksies aanleiding gee. Wat egter reeds duidelik is, is dat die huidige regering onversetlik in sy eksperiment van sosiale ingenieurswese in die onderwys is, en bepaald deur rasseintegrasie via medium van Engels in skole bo die reg op moedertaalonderrig te stel. Die afgelope jare het dit duidelik geword dat enigiets wat in die pad van hierdie program staan met ‘n byna fanatiese ywer getakel sal word. So sal konsepwetgewing oor die onderwys wat onder meer die magte van skoolbeheerliggame inkort later vanjaar voor die parlement dien. Volgens mnr. Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van SA Skole, “sal dit die begin van die einde van Afrikaans op skool wees as die regering beheerliggame die reg ontsê om die taalbeleid van skole te bepaal.” (Die Burger, 2/2/2005). Daar is heelwat tekens dat die oogmerk van die wetgewing onder meer juis groter staatsbeheer oor taalbeleid mag wees. ‘n Woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement het byvoorbeeld laat verlede jaar verwys na Afrikaans as die “gif in die onderwysstelsel”, terwyl mnr. Khumalo self tydens ‘n radiodebat op SAFM op 24/1/2005 sy ergernis oor beheerliggame se outonomie uitgespreek het. Wat staan ouers wat moedertaalonderrig vir hulle kinders wil hê te doen? Ons vra die vraag spesifiek wyer as Afrikaans, omdat een van Schlemmer en Giliomee se verslae bevind dat meer as 60% swart ouers ook moedertaalonderrig as belangrik ag, wat die persepsie dat die eis om moedertaalonderrig tot Afrikaanse ouers beperk is, die nek inslaan. Die antwoord is groter vorme van gemeenskapsbetrokkenheid en weerstand teen die verstaatliking van die onderwys. Hier moet ‘n mens egter realisties wees: Afrikaners in die besonder en die Afrikaanse wêreld in die algemeen het reeds die sukses van ‘n eeu se taalbemagtiging agter die blad, terwyl dit nie geld vir die ander inheemse tale nie. Dit, tesame met die feit dat die regering sedert 1994 ‘n verengelsingsbeleid van die openbare lewe najaag en bittermin gedoen het om ons ander inheemse tale tot tale van prestasie te verhef, maak dit tans baie moeilik vir Afrikaans en die ander inheemse tale om ‘n alliansie teen die regering te vorm. Nogtans moet die Afrikaanse wêreld nie ophou om sodanige alliansies met elke moontlike instrument na te streef nie. Maar ‘n mens moet ook jou idealisme temper. Hoewel Schlemmer, Giliomee en Heese bevind dat die meeste Afrikaanse ouers nog nie bereid is om vir moedertaalonderrig te betaal nie – waarskynlik omdat institusionele winste van die vorige bedeling individuele skole tans nog teen verengelsing beskerm – spekuleer hulle ook dat as die verengelsing eers met mening in Afrikaanse skole intree, dit by Afrikaanse ouers baie meer geesdrif vir aksie sal kweek. Maar soos hulle ook aantoon het Afrikaans nie tyd om tot dan te wag nie. Dit is juis een van die voortreflikste strategieë van verstaatliking wat die huidige regering volg, naamlik om sentralisme in die naam van diversiteit en gemeenskap deur te druk – subtiel, maar dodelik. Die Afrikaanse wêreld sal ‘n dringende strategie moet ontwikkel wat minstens twee elemente bevat, naamlik onderhandeling met die regering en, tweedens, as dié misluk, ‘n plan om die bestaande Afrikaanse staatskole in ‘n netwerk teen verengelsing te bolwerk en, waar nodig en moontlik, die oprigting van gemeenskapskole. Reeds meer as 150 jaar gelede het spesifiek Afrikaners so ‘n strategie teen die destydse koloniale verengelsingsbeleid in werking gestel, en gegewe die durende koloniale inslag van die Suid-Afrikaanse staat, sal sodanige stap waarskynlik nodig word. Soos Koos Malan ook elders in hierdie uitgawe betoog, is regstreekse optrede ter verwesenliking van selfstandigheid (en die gepaardgaande spening van ‘n staatsmentaliteit) nodig, en dit is waarskynlik dat die onderwys een van die terreine is waarop hierdie strategie verwesenlik kan word. Om so ‘n strategie suksesvol te ontwikkel, sal twee dinge voortdurend onder oë gehou moet word. Ten eerste sal niks minder nie as ‘n debat oor transformasie self gevoer moet word, en sal dit aangetoon moet word dat transformasie as verengelsde rasgelykheid die keerkant van verafrikaansde rasongelykheid is. Waaroor transformasie eintlik behoort te handel, is die balansering van eenheid en veelheid, en waar moedertaal belangriker as velkleur is, selfs al beteken dit in sommige gevalle ‘n mate van “enkelrassigheid” by skole. Ten tweede is ‘n voortdurende gesprek tussen wit en bruin in Afrikaans noodsaaklik. Historiese wantroue van bruin kant tesame met gewaande of werklike staatsvoorkeur vir swart bo bruin (“Transformation in rugby is about black Africans in the national team” het ‘n ANC-parlementslid enkele maande gelede verklaar) hou die wesenlike gevaar in dat die bruin gemeenskap nogmaals agterbly by Afrikaners, of deur die staat uitgelaat word. Hier rus die onus ook op leiers uit die bruin gemeenskap om die inisiatief te neem sodat ook hulle kinders die voordele van moedertaalonderrig mag bly pluk, en Engels nie as taal van prestasie nagestreef word nie. |