blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


'n Nuwe politiek van Afrikaner en Afrikaan? 2005-02-03
‘n Nuwe politiek tussen Afrikaner en Afrikaan?
    
Is dit vandag in Suid-Afrika moontlik om in alle erns van ‘n nuwe politiek tussen Afrikaner en Afrikaan ter wille van ‘n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe te praat? Om behoorlik bestek van hierdie vraag op te neem, is dit nodig om die stand van die grootste hindernis in die weg van hierdie nuwe politiek, naamlik die Afro-nasionalisme van die ANC, te evalueer, want eers as genoeg Afrikaners en veral Afrikane die gevare van die Afro-nasionalisme vir Suid-Afrika insien, sal so ‘n nuwe politiek werklik beslag kan kry.

    Om die Afro-nasionalistiese projek van die ANC – die “nasionale demokratiese rewolusie” waaroor President Mbeki dit voortdurend het – te evalueer, is dit nuttig om dit te vergelyk met sy historiese voorganger, Afrikaner-nasionalisme. Hierdie vergelyking is nie net raadsaam nie, maar ook onontbeerlik, aangesiene beide hierdie nasionalismes hulle programme deur middel van ‘n koloniale tegniese en staatsbestel wou en wil verwesenlik.

    By ‘n vorige geleentheid is al in Die Vrye Afrikaan aangetoon dat die grootste enkele blokkasie onderweg na ‘n vrye Suid-Afrika die koloniale tegniese en staatsbestel is wat deur die Nederlanders geskep, deur die Britte uitgebrei, deur die Afrikaner-nasionaliste bestendig en deur die Afro-nasionaliste aangevul is. Die kenmerke van hierdie bestel sluit in: die nastrewing van een nasionale identiteit; ‘n strewe na totale beheer oor die netwerke van vervoer en kommunikasie (wat die belangrikste magsinstrument in uitgestrekte Suid-Afrika is); die skep van ‘n klein ekonomiese elite wat net genoeg doen om die lojaliteit van die middelklas te behou, en wat afhanklik is van die stom, gedienstige arbeid van ‘n proletariaat (tans sowat 50% van Suid-Afrika se bevolking); die inbinding van alle openbare instellings in die staatsfeer; en, les bes, eentaligheid, met die taal van keuse dié van die elite (Engels onder die Britte; Afrikaans onder die Afrikaner-nasionaliste; Engels onder die Afro-nasionaliste).

    Die Suid-Afrikaanse geskiedenis is onder meer die verhaal van hoe een nasionalistiese groep telkens die koloniale tegniese en staatsbestel inspan ter verwesenliking van sy doelwitte ten koste van die res van die land se gemeenskappe. Die gemeenskappe wat uitgesluit word, reageer dikwels by wyse van ‘n politiek van identiteit, wat, soos wat die heersende nasionalisme al hoe meer onverdraagsaam word, aanleiding gee tot ‘n al hoe harde politiek van identiteit op voetsoolvlak. So het Afrikaner-nasionalisme ontstaan en gedy in weerstand teen die Britse nasionaliste wat aan bewind was; en so het Afro-nasionalisme ontstaan en gedy teen die Afrikaner-nasionaliste wat die Britse nasionaliste opgevolg het.

    Omdat die tegniese en staatsbestel so ‘n magtige politiek-maatskaplike instrument in Suid-Afrika is, is dit dan verstaanbaar dat die gemeenskappe wat telkens aan die ontvangkant van hierdie bestel is, daarvan droom om dit oor te neem en so ‘n einde aan die verdrukking in die land te bring. Maar omdat daar nooit behoorlike ontledings van hierdie bestel deur die nuwe heersers gedoen word nie, verander hulle kort voor lank in agente van hierdie bestel, en herhaal hulle dieselfde geykte patroon as hulle voorgangers.

    Dit is in hierdie opsig wat die vergelyking tussen die Afrikaner-nasionaliste en die Afro-nasionaliste ná staatsverowering so insiggewend is. Laat ons egter hier net twee kwalifikasies inbou. Ten eerste word die fout gereeld in Suid-Afrikaanse politieke kommentaar gemaak om die huidige Afro-nasionaliste se landsbestuur met dié van die Afrikaner-nasionaliste in die 1980’s te vergelyk. Die vergelyking is verstaanbaar, maar byna volkome ongeldig: teen die 1980’s was daar reeds heelwat tekens dat Afrikaner-nasionalisme as ideologie uitgedien was, dat die steun daarvan aan die verkrummel was, en dat die orde homself vir gesprek met sy opponente begin open het. Ironies genoeg het hierdie opening met ‘n oordrewe sekuriteitsreaksie gepaardgegaan: groter openheid lei tot groter weerstand, en so is die spiraal van geweld wat Suid-Afrika destyds geteister het, aangeblaas. Hierdie geweld was dus nie in die eerste plek regstreeks die gevolg van die destydse orde se politiek nie, maar juis weens die begin van sy einde. Kortom, die vergelyking wat getref moet word, is tussen die Afrikaner-nasionaliste in die jare wat hulle ideologie nog die hoop van ‘n werklik veranderde samelewing kon voorhou, en wat tans in Suid-Afrika gebeur: dit wil sê die jare 1948 tot ongeveer 1976 moet vergelyk word met die tyd na 1994.

    Ten tweede is dit ook so dat die tyd in die politiek vanaf 1948 tot nou aansienlik korter geword het danksy die versnelde prosesse van vervoer en kommunikasie in ons samelewing. So byvoorbeeld het die eerste kritiese geluide teen Afrikaner-nasionalisme eers tien tot vyftien jaar na 1948 uit eie geledere begin, terwyl dit na 1994 reeds sowat vyf tot tien jaar na Afro-nasionalistiese magsoorname begin het. Om die vergelyking tussen die twee nasionalismes se magsrekord te tref, moet ons dus in gedagte hou dat dit eerder die herhalende verskynsels van die twee eras is wat ons moet vergelyk, as hoe lank hierdie prosesse geneem het.

    Wat leer die vergelyking ons? In 1948 het die Afrikaner-nasionaliste (in minstens die Westerse indien nie die hele wêreld se oë) die “morele hoëgrond” beklee, en met groot moed die sosiale ingenieursprojek genaamd apartheid in werking gestel. Sonder veel inagneming van diegene wat deur hierdie projek negatief geraak sou word, of ekonomiese en tegniese werklikhede, is die projek teen wil en dank deurgedryf, tot dit in die 1960’s weens ‘n tekort aan beskikbare blanke arbeid duidelik was dat apartheid nie kon werk nie. (Daar was natuurlik talle ander tekens, waarop ons nie hier ingaan nie.)

    In 1994 het die Afro-nasionaliste in die wêreld se oë die “morele hoëgrond” beklee, en met groot moed die sosiale ingenieursprojek genaamd transformasie (of die “nasionale demokratiese rewolusie”) in werking gestel, ook sonder inagneming van diegene wat negatief daardeur geraak sou word, en ook sonder inagneming van die ekonomiese en tegniese kostes van die beleid. Kort voor lank het ‘n krisis van aflewering weens die beleid van regstellende aksie ontstaan (wat nêrens ter wêreld gewerk het as instrument om die noodsaaklike regstelling van historiese ekonomiese ongeregtigheid uit te wis nie), en bevind die staat en in mindere mate die privaatsektor hom in ‘n kapasiteitskrisis.

    Soos onder andere R.W. Johnson uitwys in sy jongste boek, South Africa: The First Man, The Last Nation (Kaapstad: Jonathan Ball, 2004), kan Suid-Afrika nie funksioneer sonder buitelandse kapitaal nie, en hiervoor is dit noodsaaklik om ‘n positiewe boodskap oor die handel en die wandel van die voormalige verdruktes in regering die wêreld in te stuur. Die eens verdrukte Afrikaner-nasionaliste het dit met groot sukses tot selfs teen die einde van die 1970’s gedoen, en gevolglik kon hulle daarop aanspraak maak dat Suid-Afrika nog nooit in sy geskiedenis ekonomies so goed presteer het nie (terwyl die strukturele armoede in die samelewing nie uitgewis is nie, maar eerder bestendig is). Insgelyks kon die eens verdrukte Afro-nasionaliste danksy hul sterkste punt – hulle kommunikasievaardigheid – met selfs nog meer sukses na 1994 ‘n positiewe boodskap oor hul landsbestuur die wêreld instuur. Intussen het morele Manicheïsme ook die dominante diskoers van die wêreld geword, en is voormalige slagofferstatus ‘n primêre kommoditeit in die moderne politieke ekonomie.

    Die vergelyking tussen Thabo Mbeki en Hendrik Verwoerd is ook boeiend (hoewel dit natuurlik sy beperkings het). By beide was en is daar: ‘n rasbeheptheid; ‘n beheptheid met die status van die eie groep in die oë van die wêreld; ‘n sentralisering van kabinet, koukus en staatsgesag; ‘n onwrikbare geloof in ‘n ontwikkelingstaat; ‘n sterk intellektuele benadering tot die politiek; en ‘n onverdraagsaamheid teen kritiek. Ook deel beide ‘n vernuftige ontplooiing van simpatieke kaders in die openbare en privaatsektor. Die jongste voorbeeld hiervan, soos Tim du Plessis onlangs in Rapport (23/1/2005) netjies aangetoon het, is die hantering van die SAUK: ‘n partykader sal waarskynlik nou soos in 1959 oorneem as uitvoerende hoof van die SAUK - toe ter oorreding van die Engelse van Afrikaner-nasionalisme se meriete, en nou ter oorreding van die nasie van die meriete van Afro-nasionalisme en transformasie.

    Die Vrye Afrikaan is van mening dat die eintlike toets vir ons huidige nasionaliste wag wanneer genoeg mense daarin kan slaag om hulle as alternatiewe gemeenskapsbeweging buite die partypolitiek, maar bes moontlik in samewerking met opposisiepartye te vestig. Afrikaners het ‘n ontontbeerlike rol hierin te speel, nie net weens hulle hoë geletterdheid en ekonomiese kundigheid nie, maar ook weens hulle toegang tot media.

    Soos Pieter Duvenage uitwys in ‘n referaat oor Afrikaanse taalpolitiek wat hy in Desember 2004 in Antwerpen gehou het, is die begrip van ‘n “deliberatiewe demokrasie” vandag toonaangewend in moderne demokratiese teorie. Duvenage skryf: “Hier verskuif die klem vanaf wat in die stembus gebeur na wat gebeur in die openbare deliberering van die burgerlike samelewing. Hierdie deliberatiewe wending in demokratiese teorie impliseer dat politieke besluite meer geldig is wanneer die besluitnemingsproses steun op die ongeartikuleerde kennis en insigte van burgers wat krities in die openbaar ondersoek word.”

    Miskien die kosbaarste kenmerk van Suid-Afrika na 1994, is die geweldige omvang van gesprek in ons openbare sfeer. Afrikaners kan en moet nog baie meer hieraan deelneem, ook in die Engelse hoofstroommedia, as brug na ons swart landgenote, en as antwoord aan die Afro-nasionaliste. Die probleem is natuurlik dat soveel van wat gesê word absoluut geen effek op die besluite in ons samelewing het nie.

    Dit is waarom praktyke op voetsoolvlak waar gemeenskappe self omsien na hul onderwys, ekonomiese welstand, en selfs gesondheid so belangrik is. Die Vrye Afrikaan is met hart en niere hieraan verbind, en ons is van voorneme om die gesprek tussen Afrikaner en Afrikaan vanjaar met nog groter inspanning na te jaag, in soveel tale as moontlik, en ons nooi u uit om hieraan deel te neem.

 
 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=109
Artikel nagegaan:
    -