blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Suid-Afrika as Demokrasie van Emosie: Die geval van President Mbeki en sy openbare kritici 2005-01-20
“Ons word vandag effektief nie langer in die gesig gestaar deur die bedreiging van ‘n demokrasie van opinie wat die verteenwoordigende demokrasie van politieke partye sou vervang nie, maar wel deur die buitensporigheid van ‘n ware demokrasie van emosie; van ‘n kollektiewe emosie wat gelyktydig gesinchroniseerd en geglobaliseerd is, en waarvan ‘n na-politieke teleëvangelisme die model kan wees.”

Aldus die Franse stadsfilosoof, Paul Virilio, op p.48 van sy jongste boek, Ville Panique: Ailleurs commence ici (Paniekstad: Elders begin hier) (Parys: Galilée, 2004). Die verskynsel van die demokrasie van emosie is inderdaad ‘n kenmerk van ons tyd: Ignaçio Ramonet, redakteur van Le Monde Diplomatique, het die uitslag van die Spaanse algemene verkiesing van verlede Maart, enkele dae na die Madrid-treinbomaanvalle, toe José Maria Aznar se dienende konserwatiewe regering weens sy lomp poging om die aanvalle vir eie gewin te manipuleer onverwags deur ‘n emosionele kieserspubliek uitgestem is, in een van sy hoofartikels as ‘n voorbeeld van die demokrasie van emosie toegeëien.

Die demokrasie van emosie is ook iets waarvan Suid-Afrika toenemend die slagoffer word, en hiervan is die voortdurende interaksie tussen president Thabo Mbeki en sy openbare kritici ‘n sprekende voorbeeld. Maar voor ons verder hierop ingaan, eers enkele opmerkings oor die omstandighede waarin ‘n demokrasie van emosie voorkom.

Dit is alombekend dat die opkoms van die moderne nasiestaat, asook die regstaat, veel te make het met die opkoms van die gedrukte woord as primêre medium van oordrag vanaf die 15e eeu in Europa. Régis Debray, grondlegger van die mediologie, verwys hierna as die grafosfeer. Vir die nasie- en regstaat was die vestiging van geletterdheid onder sy bevolking van wesenlike belang, want so het die breë massa toegang gekry tot die inligting wat voorheen in die hande van ‘n klein magselite gekonsentreer was. Trouens, die moderne burger is allereers geletterd: kritiese burgerskap is ondenkbaar sonder geletterdheid.

Eie aan hierdie staatsvorm is dan ook wat Jürgen Habermas na verwys as die openbare sfeer: daardie kritiese, openbare gespreksruimte wat ontstaan by grasie van instellings eie aan die grafosfeer, soos die universiteit, die skool, die literêre salon, die reg, die parlement, en dies meer. In al hierdie instellings is daar sprake van ‘n soort bemiddeling tussen betekenis en sy senders en ontvangers. Besinning is eie aan hierdie soort owerheidsvorm.

Maar met die opkoms van wat Debray as die videosfeer beskryf, oftewel wanneer oordrag primêr deur die elektroniese beeld geskied, word die voorwaardes vir ‘n demokrasie van opinie en later ‘n demokrasie van emosie neergelê. In die videosfeer kan inligting baie gouer oor ‘n baie groter gebied aan baie meer mense versprei word, soos wat TV by uitstek bewys. Maar anders as by die gedrukte woord, begunstig die elektroniese beeld by uitstek emosionele en onmiddellike reaksies. Die bemiddeling van betekenis wat so eie aan die grafosfeer was, word in die videosfeer onwelkom en direktheid en lewendheid word die groot waardes van betekenis. Noodwendig moet besinning in die slag bly, en noodwendig moet ons tydsbegrip krimp: politici word nie langer gemeet aan die hand van vyfjaarplanne of die implementering van partybeleid nie, maar aan die hand van uitsprake en emosionele appél op die burgery.

‘n Goeie voorbeeld hiervan is oud-president Nelson Mandela, wie se regering volgens sy eie erkenning nie genoeg gedoen het om gedurende die eerste vyf jaar na 1994 beleid konkreet deur te voer nie. Nietemin was en is Mandela in die mees visuele samelewing in Afrika feitlik ‘n onaantasbare held danksy sy geweldige emosionele appél, andersins bekend as die Madiba Magic.

Reeds gedurende Mandela se bewind was dit duidelik dat wat die gedrukte woord vir die NP was, die TV vir die ANC sou word. Die ANC se vernaamste leiers het per slot van sake die videosfeer in ballingskap in Noord-Amerika en Wes-Europa goed onder die knie gekry. Op die koop toe is die meeste ANC-ondersteuners veel meer ingestel op TV of radio as op die gedrukte woord. En so het massiewe opwellings van openbare emosie een van die groot kenmerke van ons demokrasie sedert 1994 geword, waar sportbyeenkomste en musiekkonserte die statuur van nasionale geleenthede verkry.

In Suid-Afrika se demokrasie van emosie is die emosionalisering van die politiek ook sigbaar in talle ander verskynsels: woedende uitbarstings deur politici en ander openbare figure; die evaluering van politici aan die hand van hoe “vriendelik” hulle openbare beeld is (vergelyk die “nuwe” Thabo Mbeki tydens die verkiesingsveldtog verlede jaar); die gewig wat aan meningspeilings verleen word; en hoe mense se emosionele ingesteldheid teen hierdie of daardie saak op ‘n gegewe tydstip as tekenend van hoe dit met die gemeenskap staan, beskou word. (Veral sommige Afrikaanse kommentators evalueer die stand van Afrikaners gedurig aan die hand van hoe Afrikaners sou “voel” oor hierdie of daardie saak, in plaas van hoe dit, byvoorbeeld, met Afrikaanse instellings staan.)

Dit is dan ook binne hierdie konteks dat voortdurende interaksie tussen President Mbeki en openbare kritici verstaan moet word. Sentraal tot hierdie interaksie is nie politieke idees, dade of beleid nie, maar uitsprake. Teen die agtergrond van ons demokrasie van emosie het Mbeki natuurlik met sy stywe intellektuele beeld reeds ‘n agterstand, en hierop reageer hy veral met sy weeklikse internetnuusbrief, maar ook met sy openbare toesprake. Tipies van die videosfeer probeer Mbeki hiermee om ‘n meer regstreekse kontak tussen hom en die mense te bewerkstellig, en tipies van die videosfeer lei dit ook tot meer emosionele, onbemiddelde reaksies.

Die jongste voorbeeld hiervan is natuurlik die reaksies wat gevolg het op Mbeki se Versoeningsdagtoespraak, waarin hy Suid-Afrikaners as deel van ‘n “simfonie” die lof toegeswaai het, en sy toespraak twee weke later voor die Soedanese parlement waarin hy gesê het: “In die Suid-Afrikaanse geval was ons gelukkig in soverre ons geen ernstige ervaring van gewelddadige maatskaplike konflik gehad het nie, maar wel wat ons kan beskryf as ‘n koue eerder as ‘n warm oorlog, gevoer deur diegene wat nie bereid is om die einde van wit minderheidsoorheersing te aanvaar nie.”

Waar kommentators amper oor hulle voete geval het om Mbeki die lof toe te swaai na sy Versoeningsdagtoespraak, was hulle net so gou om hom oor sy Soedanese toespraak onder die stof te loop. Soms was dit dieselfde kommentators wat Mbeki op sy emosionele skommeling binne die bestek van twee weke gevolg het!

Die probleem is dat ons hier te make het met die kort tydsbegrip van die demokrasie van emosie, waar die politiek nie in terme van idees of handeling evalueer word nie, maar veel eerder in terme van die jongste uitspraak. Op grond van watter emosie die jongste uitspraak by ons ontlok, word daar dan ‘n stuk kommentaar geskryf.

Die gevolge is voorspelbaar: Mbeki en sy openbare kritici val gedurig vas in emosionele moddergooiery, in plaas daarvan dat die land die openbare debat kry wat so nodig is vir ‘n demokrasie. Met ons bepaalde verdeelde geskiedenis is dit dan ook dikwels nie benede Mbeki en sy kritici om mekaar se motiewe te bevraagteken nie, en so eerder op die glybaan van innerlikheid te beland.

Wat ons benodig, is ‘n openbare gesprek waar die uitspraak minder aandag verdien as die idee of die handeling, en waar die politiek eerder oor ‘n langer as ‘n korter tyd geëvalueer word. Die laaste ding wat Suid-Afrika kan bekostig is dat almal vrye teuels aan hulle emosies in die politiek gee, want dit is ‘n kortpad na bloedvergieting en anti-demokratiese politiek.

Dit kan aangevoer dat Suid-Afrika nog nooit in sy geskiedenis werklik ‘n politiek gehad het nie, aangesien die mag in die land telkens so eensydig verdeel word. Van ‘n ware politieke spel, waar wedersydse erkenning en magswisseling sowel as debatsvoering voorop staan, was daar eintlik maar nog baie min sprake in Suid-Afrika se geskiedenis. ‘n Magsoorwig lei ook tot ‘n siening van die politiek waar dit uitsluitlik om die doen van dinge gaan, en in die demokrasie van emosie verskraal dade tot woorde, sodat ons ons in ‘n situasie van hiperaktiewe spraak bevind.

Om uit hierdie demokrasie van emosie te kom, is nie net groter geletterdheid met inbegrip van moedertaalonderrig nodig nie, maar ook ‘n veel groter samewerking tussen Afrikaner en Afrikaan op gemeenskapsvlak. Hierdie samewerking het die potensiaal om die brute magspolitiek van die land wat verhewig word deur die hoë temperatuur van ‘n demokrasie van emosie, werklik te open en ons nader aan die wedersyde erkenning vind wat Suid-Afrika tot vandag toe ontglip.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=104
Artikel nagegaan:
    -