|
||||
Johann Rossouw * Ek bedank graag Ampie Coetzee en Pieter Duvenage vir hulle kommentaar en voorstelle ter verbetering van hierdie opstel Met Agaat lewer Marlene van Niekerk ‘n grootse, briljante roman. Soveel van die deugde wat vandag in die Afrikaanse kuns ontbreek, is hier teenwoordig: deurdagtheid, vakkundigheid, beheersing van die medium, kennis van die tradisie. Met reg kan ‘n mens dit bekroon met die Duitse term: Gesammtkunstwerk. Maar as daar een ding is wat die Afrikaanse kuns in die afgelope jare nog meer as goeie skrywers ontbreek, is dit goeie lesers. As ‘n mens dit op jou wil neem om hierdie band van 718 bladsye te lees, moet jy dit deeglik doen, of glad nie, want so ‘n skrywer verdien niks minder nie. Wat Van Niekerk verder ‘n belangrike skrywer maak, is die feit dat sy dwarsdeur haar loopbaan as digter, kortverhaalskrywer, romansier en literêre kritikus nóg vir kritiek, nóg vir die politiek teruggedeins het. Om die waarheid te sê, het sy haar nog altyd onderskei deur haar vreeslose omgang met kritiek en politiek. In hierdie sin span Agaat die mooiste kroon tot dusver op Van Niekerk se œuvre, want dit is ‘n meedoënlose kritiek op Afrikanernasionalisme, apartheid en die Afrikaner se omgang met politieke mag van 1948 tot 1994. Dit is dan ook as ‘n kritiese, politieke roman wat ek as kritiese, politieke leser verkies het om die boek te benader, en ek sal my daarby bepaal om die roman as sodanig hieronder te behandel. Laat dit egter ook in die verbygaan gesê word dat die roman sig leen tot verskeie ander lesings: gender; wit en bruin; taal en sy grense; en die liggaam is alles temas wat op grootse wyse aan die bod gestel word, en wat ryk betekenisse oplewer. Ook merkwaardig is die mate waartoe die roman ná die twintigste eeu se grondige kritiek op die metafisika (Nietzsche, Heidegger, Deleuze, Derrida, en andere) onverskrokke die ou metafisiese probleem van goed en boos takel, alsy dit dan met groot vernuf: Van Niekerk se skoling in en liefde vir die filosofie kom haar mildelik ten goede soos sy een van die belangrikste probleme van die 20ste eeu behandel, naamlik die weerloosheid (én duursaamheid) van die goeie in die aangesig van die bose – hiervaan is Agaat, die bruin vroulike hoofkarakter wie se naam ‘goed’ in die Griekse grondvorm beteken, die beliggaming, soos sy deur die grootste lyding heen steeds ‘n beeld van goedheid bly, hoewel nie in die vroom sin van die woord nie, maar eerder in die sin van ‘n Goeie aan die anderkant van goed en boos, soos Nietzsche dit reeds in Anderkant Goed en Boos aan die orde gestel het. Ook die estetiese inslag van die roman is asembenemend: waar sommige lesers Van Niekerk miskien haar woordrykheid sal verwyt, was dit vir my eerder ‘n lus om haar malse, oordadige omgang met Afrikaans te beleef. Dit val te betwyfel of Afrikaans binne die genre van poëtiese oordaad (anders as poëtiese gestrooptheid) al so skouspelagtig in ‘n roman hanteer is. Die woordspeletjies, rympies, plant- en diername, tegniese terme en dubbelsinnighede is verbluffend. En dan is daar ook die konstruksie van die roman, sowel as haar emosionele inslag. Elke karakter word lewensgroot en volkome oortuigend uitgebeeld, sodat die leser hom volledig in die wêreld van die plaas Grootmoedersdrif bevind. Maar soos ek reeds hierbo gesê het, het ek verkies om die boek as kritiese, politieke werk te lees. My lesing het geskied teen die agtergrond van twee sleuteldebatte van ons tyd, die een globaal, die ander lokaal. Wat die globale debat betref, woed daar vandag ‘n globale debat oor die stand en toekoms van gemeenskap. Hierdie debat se wortels is minstens terug te voer na Europa se kolonisering van die Amerika’s, Afrika en dele van Asië vanaf die 15e eeu, en strek verby die nasiestaat, imperialisme en vandag globalisering. Die vraag wat regdeur hierdie geskiedenis loop, is die volgende: lê mense se heil in die kleiner politieke gemeenskap of in die groter magsblok (die nasie, die koloniale moederland, die imperium, die mark)? Wat die lokale debat betref, woed daar na 1994 (maar eintlik al lank voor dit, eintlik van altyd af) onder Afrikaners ‘n debat oor die volgende vraag: waar moet die Afrikaners hulle politieke heil inwerp? Dit is natuurlik die vraag na die toekoms en hoe dit beantwoord word, hang af van hoe die verskillende deelnemers aan die debat Afrikaners se geskiedenis lees. Breedweg gesien, word drie antwoorde op hierdie vraag gegee. Die eerste antwoord is dat Afrikaners se heil lê in ‘n hernude nasionalisme en isolasie; die tweede dat dit lê in ‘n opheffing van Afrikaneridentiteit; en die derde dat dit lê in ‘n ander of nuwe Afrikaneridentiteit. Hier is dit belangrik dat ons nie die ou koloniale denkfout maak deur te dink dat die debat onder Afrikaners uniek is nie: gegewe ons bepaalde historiese situasie, is dit in die lokale sin wel ‘n unieke debat (geen ander gemeenskap in Suid-Afrika het ons bepaalde geskiedenis nie), maar in die globale sin is dit presies dieselfde debat wat vandag wêreldwyd gevoer word. Diegene wat dink Afrikaners se heil lê in ‘n opheffing van Afrikaneridentiteit sluit breedweg aan by die globale posisie waarvolgens politieke heil in aansluiting by die groter magsblok lê, terwyl die nasionaliste of diegene wat soek na ‘n nuwe of ander Afrikaneridentiteit breedweg aansluit by die globale posisie waarvolgens politieke heil in die kleiner politieke gemeenskap lê. Daar is egter twee ander kwalifikasies omtrent hierdie drie posisies, waarna ek later in hierdie opstel sal terugkeer, naamlik: 1) Die nasionaliste vind hul heil in die sluit van die grens met die buitewêreld; die selfopheffers in die opheffing van alle grense met die buitewêreld; en die nuwe Afrikaners in ‘n posisie tussen die geslote en die oop grens. 2) Die nasionaliste sowel as die selfopheffers stem ooreen in die mate waartoe hulle die wêreld soos hy is wil handhaaf – die nasionaliste deur die eie gemeenskap met sy vasgelegde definisie as norm te neem, en die selfopheffers deur die buitewêreld met sy vasgelegde definisie as norm te neem (“die nuwe orde in Suid-Afrika lyk so en so en ons moet ons hierby skik, daarom sluit ons aan by die meerderheid of emigreer ons”; “globalisering en die mark gee die toon aan en ons moet ons hierby skik, daarom word ons markondernemers”). Die nuwe Afrikaners wil sowel die definisie van die eie gemeenskap as van die buitewêreld uitdaag en met ander inhoude vul, en dus wil hulle die wêreld verander. In die ou sin van die woord is die nasionaliste en die selfopheffers dus regs (omdat regsheid oor die bevestiging van die wêreld soos hy is, gaan), en die nuwe Afrikaners links (omdat linksheid oor die verandering van die wêreld gaan). Dié debat wat hom die afgelope jare onder Afrikaners afspeel, word dikwels met die grootste intensiteit gevoer, en dit kan met reg beskryf word as ‘n simboliese oorlog, waarin die stryd oor niks minder nie as die skep en propagering van nuwe simbole gaan. Ook in hierdie opsig is Afrikaners pens en pootjies binne die globale simboliese oorlog wat vandag woed tussen diegene wat ‘n wêreld van gestandaardiseerde simbole voorstaan (diegene wat hulle by die groter magsblok en die diktate van die mark wil neerlê, veral die mark van bewussynsinhoude – rolprente, musiek, TV-programme, sportbyeenkomste), en diegene wat singuliere simbole voorstaan (diegene wat in die kleiner gemeenskap met sy eie, maar nie afgesonderde kuns wil leef). In sy voorlaaste werk, De la misère symbolique: 1. L’époque hyperindustrielle (Oor simboliese ellende: 1. Die hiperindustriële era) (Parys: Galilée, 2004) ontleed Bernard Stiegler hierdie oorlog, en wys hy op die onlosmaaklike band tussen die politiek en die estetika: daar kan geen politiek sonder simbole gevoer word nie, en sodanige simbole is afhanklik van die werk van simboolskeppers – filosowe, digters, romansiers, musikante, rolprentmakers, TV-regisseurs, ens. (Stiegler vat hierdie gedagtes saam in ‘n briljante opstel wat pas verskyn het in no.12/13 van Fragmente: Tydskrif vir Filosofie en Kultuurkritiek.) Kenmerkend van die Afrikaanse wêreld is dat daar inderdaad ‘n massiewe simboliese produksie vanaf die vroeë 1990’s aan die gang is. (Op die verlies aan politieke mag kom ‘n reuse estetiese reaksie.) Die posisie wat by verre die meeste openbare blootstelling kry, is dié van die selfopheffers, aangesien hulle beide die agenda van staatkundige én korporatiewe Suid-Afrika bevorder. Daarenteen is die nasionaliste en die nuwe Afrikaners, hoewel hulle waarskynlik beduidende steun in die breër gemeenskap geniet, chronies uitgelewer aan gebrekkige openbare blootstelling, deels omdat hulle in spanning met korporatiewe en staatkundige Suid-Afrika staan, deels omdat hulle oor bittermin media beskik. Maar waar hulle die selfopheffers wel een voor is - en veral geld dit die nuwe Afrikaners – is hulle intellektuele diepgang. Nietemin kan hulle weens hul beperkte mediamiddele tans nog nie op gelyke voet met die selfopheffers meeding nie, en is hulle voortdurend blootgestel aan nie net ‘n verdagmakery van die eerste water nie, maar ook ‘n gemaklike en flagrante saamgooi met die nasionaliste deur die selfopheffers: praat ‘n mens vandag van ‘n nuwe Afrikaner, word jy deur die selfopheffers daarvan beskuldig dat jy wil terugkeer na die ou Afrikaner van die nasionaliste. Dit is teen hierdie verwikkelde simboliese agtergrond wat Agaat verskyn, en dit ly geen twyfel nie dat Van Niekerk nie net deeglik daarvan bewus is nie, maar ook dramaties stelling in die debat onder Afrikaners inneem, soos ek hieronder sal probeer verduidelik. Hoewel ‘n roman nie vandag die onmiddellike impak van, sê, ‘n TV-reeks het nie, is die duursame nawerking en diepgang daarvan steeds noemenswaardig, veral in soverre dit aangewend kan word ter legitimering van ‘n bepaalde politieke posisie. Dit is my betoog dat Agaat die vernuftigste en deeglikste begronding van die posisie van selfopheffing tot nog toe in Afrikaans is, en ek sal in my afsluiting ook hierna terugkeer. Om hierdie lesing van Agaat te begrond, het ek my verlaat op sowel uitsprake van Van Niekerk in die media die afgelope jare as op die struktuur van die roman, veral soos dit aan die hand van die datering van belangrike gebeure in Agaat na vore tree. Wat mediauitsprake betref, het sy by meer as een geleentheid haar irritasie met sowel die nasionaliste as die nuwe Afrikaners uitgespreek. Een so ‘n geleentheid was waar sy haar spesifiek afgegrens het van intellektuele wat polities op die institusionele verswakking van Afrikaans reageer, en haar voorkeur vir ‘n estetiese reaksie – soos die skryf van ‘n roman of om vir haar studente Afrikaanse woorde by te leer – uitgespreek het. (Vanselfsprekend is dit haar goeie reg, maar soos onder andere Stiegler uitwys is die estetiese en die politieke nie los te maak van mekaar nie, en te oordeel aan die baie duidelike politieke posisie wat wel in Agaat ingeneem word, is Van Niekerk wel deeglik hiervan bewus.) In ‘n onderhoud met Rapport van 28 November 2004 het sy dit ook duidelik gemaak dat ‘n verantwoordelike politieke posisie (my parafrasering) afhang van ‘n “volwasse” bestekopname van wat met die politieke oorgang deur Afrikaans (en vermoedelik Afrikaners) “verloor” is, en haar ongunstig uitgelaat oor “kultuurfilosowe” wat klaarblyklik nie so “volwasse” op die politieke oorgang reageer nie, en per implikasie moontlik selfs verdink kan word dat hulle na vorige mag terugverlang. Agaat verstaan ek dan ook as Van Niekerk se poging tot bestekopname van wat verloor is, terwyl ek die volgende vraag aan die roman gevra het: waar moet die Afrikaners hulle politieke heil inwerp? Wat die struktuur van die roman betref, is die volgende belangrike merkers: 1) Die aanhalings voor-in die roman 2) Die name van die karakters 3) Die datering van gebeure. 1) Die aanhalings voor-in die roman: Drie aanhalings word gegee. Die eerste kom uit die Inleiding tot die eerste uitgawe van die FAK-Volksangbundel (1937): “Hierdie nuwe bundel wil die volksiel se wasdom, drang en sy uitbreiding vertolk. Mag die ondefinieerbare element – die krag en geur van die Suiderland se bloed en bodem – tasbaar hierin gevind en deurvoel word, dan sal die volk dit aan die hart druk en dit as sy eie aanneem.” Hiermee is dit vanuit die staanspoor duidelik dat Afrikanernasionalisme in Agaat aan die orde gestel word. Die voertuig van die politieke gemeenskap in die nasionalisme is natuurlik die volk (en sy nasiestaat), en hierdie aanhaling staan in die tradisie van ‘n sekere vorm van die Duitse Romantiese nasionalisme laat in die 18e eeu, en waar die verband tussen bloed en grond sentraal is. Van watter bloed jy is, bepaal watter grond joune is. (Anders as in die republikanisme, waar die grond en nie die bloed nie die merker van die gemeenskap is, soos dit byvoorbeeld in die Franse Republikanisme geld.) Dit is juis met die oorgang van die logosfeer na die grafosfeer (van die gesproke na die gedrukte woord) in Afrikaans wat Afrikaners wegbeweeg van republikanisme (grond as voorwaarde van gemeenskap) na nasionalisme en rassisme (bloed as voorwaarde van gemeenskap) – iets wat regstreeks saamhang met die verlies aan grond na die Anglo-Boereoorlog, en wat die klassieke patroon van enger gedefinieerde identiteit en genderrolle met die oorgang na skrif, bevestig. Die tweede aanhaling is van mev. Betsie Verwoerd in die Voorwoord van Borduur só (1966): “Dit is die mooie, die waardevolle van hierdie boek: dat dit uit liefde gebore is en tot liefde inspireer, daaraan kan niemand twyfel nie. En daarmee word ‘n groter diens gelewer aan die volk, want wie vir skoonheid voel, op watter gebied ook al, het ‘n bydrae te lewer tot die kulturele ontwikkeling van die volk. Die gebied wat in dié boek betree word, is ‘n spesifiek vroulike en dra daardeur by tot die verfyning en verfraaiing van die huislike atmosfeer. So ‘n atmosfeer onderskei die kultuurbewuste volk van die onbeskaafde.” Hiermee word die verband tussen die estetika en die politiek, wat reeds uit die eerste aanhaling (komende uit ‘n sangbundel) spreek, bevestig, en selfs verder gevoer, in die sin dat hier van ‘n estetisering van die politiek sprake is (“skoonheid… op watter gebied ook al”), net soos wat dit in die Duitse fascisme die geval was, maar wat uiteindelik in die grootste lelikheid geëindig het – soos Agaat ook meedoënloos aantoon. Verder word die vrou dan ook hier tot die huis en die volk verbind in ‘n soort vaste kode waar elke element sy plek het. Milla, die wit vroulike hoofkarakter, se voorliefde vir musiek uit die Duitse Romantiek is dus ook nie toevallig nie. Die derde aanhaling is van ‘n eertydse Minister van Landbou, generaal J.G.C. Kemp, in die Voorwoord van die Hulpboek vir boere in Suid-Afrika (1929): “Hierdie Hulpboek… dien as ‘n sleutel vir die ontsluiting van die skatkamers van klimaat, grond, lewende hawe en bemarkings potensialiteite op elkeen van die 93,000 plase van ons land. Net soos die Bybel die pad wys tot geestelike volmaaktheid so sal hierdie Hulpboek ook op middels en maniere wys tot meer winsgewende boerdery en tot groter welvaart vir elke boer in elke deel van die land. Ek sal graag wil sien dat hierdie Hulpboek sy weg tot elke boerewoning vind en in besit kom van elke persoon wat boer of belangstel in landbousake, omdat dit ‘n ryke myn is van nuttige informasie.” Hiermee word nog ‘n klassieke nasionalistiese tema aan die orde gestel, naamlik die skakeling van die religie en die grond, en hier dan ook waarskynlik ‘n manlike boer. Hoe die grond lyk, so lyk die gees, en dit is aan hierdie maat wat Agaat Afrikanernasionalisme dan ook weeg en uiteindelik skreiend lig bevind. Die drie aanhalings karteer dus vanuit die staanspoor die terrein waarop Agaat afspeel – die hele Afrikanernasionalistiese bedeling waar vrou, man, grond en God elk sy bepaalde plek gehad het. ‘n Stelsel, so leer die geskiedenis en die filosofie van veral die 20ste eeu ons, moet veral gemeet word aan wat hy uitsluit, aan sy ander, om nou die modewoord te gebruik. Van Niekerk onderskei haar dan ook meesterlik met die blootlegging van die gaping tussen Afrikanernasionalisme se simboliese voornemens en materiële werklikhede. Dit is die onvermoë om hierdie gaping te begryp en te oorbrug wat uiteindelik daartoe lei dat die materiële werklikhede van Afrikanernasionalisme sy simbole uiteindelik volledig rysmier, in so ‘n mate dat selfs die sentrale simbool – “die Afrikaner” – in die slot van Agaat dood (Milla, Jak) en leeg (Jakkie) eindig. Van Niekerk se blootlegging van die gaping tussen simbool en materie kom onder meer ter sprake in: Jak, wat meer op sy skoonheid as boerdery ingestel is; Milla, wat meer op boerdery as skoonheid ingestel is; en Agaat, wat eers kind, dan slaaf, dan meester is, en wat in ‘n sekere sin ‘n beter Afrikaner as die Afrikaners van Afrikanernasionalisme is. 2) Die name van die karakters: Die simboliese verwarring wat Van Niekerk met die verhaal saai, word ook met die name van die karakters gesaai. Jakob/Jak de Wet, regsgeleerde, is die ou konvensionele verbinding van manlikheid met die wet, maar dwarsdeur die roman word die leser getuie van sy onvermoë om enige wette te laat geld, omdat hy nie die groter wette van die liefde, die etiek en die politiek begryp nie. Sy voornaam beteken onder meer “die verdringer”, en hy is by uitstek ‘n karakter wat mense hulle ruimtes ontneem. Kamilla/Milla Redelinghuys se van verbind haar aan redelikheid en huislikheid, maar al haar pogings om ‘n huis te skep of redelikheid aan die mense om haar oor te dra, misluk (behalwe met Agaat, wat uiteindelik nie net haar moeder-meesteres se redelikheid bemeester nie, maar dit ook teen haar gebruik en uiteindelik ook te bowe gaan). Haar voornaam beteken volledig of volmaak: sy streef beide na, en beide ontglip haar tragies. Jakkie de Wet, seun van Jak en Milla, afgestudeerde lugvaartingenieur maar uiteindelik praktiserende etnomusikoloog, is met sy verkleinde manlike voornaam manlik sowel as vroulik, byna androgeen of tweevoudig, selfs meervoudig, omdat hy hom op die laaste bladsy eien as die produk van Jak, Milla én Agaat. Sy voornaam herinner aan ‘n ander betekenis van die naam Jakob: “van God beskerm”, soos Jakkie vanaf sy geboorte die een lewensgevaarlike situasie na die ander oorleef. Agaat Lourier se naam bring haar nie net in verbinding met die weerlose en duursame goeie nie (soos ek reeds hierbo genoem het), maar ook met die een wat die wedloop wen en die lourierkrans verower. Die feit dat Agaat uiteindelik die plaas Grootmoedersdrif kry, en sowel Jak, Milla en Jakkie op die plaas oorleef, kan so verstaan word. Ook die plaas Grootmoedersdrif is ‘n karakter in die roman, die stille grond waarop die dekadelange intriges afspeel. Waar die grond onder Afrikaners in die grafosfeer (c.1875 – 1975) gewoonlik van vader na seun oorgedra is, word dit hier van ouma na dogter na kleindogter (na aangenome dogter) oorgedra. Natuurlik kan daar ook heelwat ander betekenisse in die naam gelees word: die groot driftigheid van moeders; die drif as vagina, oerpoort van lewe (waar Jak, gepas vir iemand wat vroulikheid so hardhandig hanteer, uiteindelik sterf); die grond as ons moeder, en hoe die manlike miskenning van hierdie moederlikheid uiteindelik tot dood en vernietiging lei. 3) Die datering van die gebeure: Myns insiens is hierdie die belangrikste sleutel vir ‘n kritiese, politieke lesing van Agaat, want in samehang met die openingsaanhalings, die karaktername en die gebeure in die roman, is dit by uitstek die datums wat aandui dat ons hier met niks minder nie as ‘n simboliese vertelling, ‘n vertellende ontleding van die wel en wee van Afrikanernasionalisme vanaf magsoorname (1948) tot magsverlies (1994) te make het. In hierdie sin handel Agaat oor niks anders nie as Afrikanernasionalisme en sy weergawe van “die Afrikaner” nie. By nadere beskouing blyk dit trouens dat die belangrikste datums in die karakters se lewens ook grootliks saamval met die belangrikste datums in Afrikaners en Suid-Afrika se geskiedenis in die tweede helfte van die 20ste eeu. Hierdie ooglopende sameval maak van Agaat ‘n politieke allegorie. Die betrokke datums is: 11 Maart 1926 - Milla gebore 12 Desember 1947 - Milla en Jak trou (sy is 21; hoe oud hy is, weet ons nie) 12 Julie 1948 - Agaat gebore (datum waarop Kamilla later besluit) (Nasionale Party wen algemene verkiesing in Mei 1948) 16 Desember 1953 - Milla neem Agaat aan (jaar waarin NP weer verkiesing wen) 1 Januarie 1960 - Milla swanger, vermoedelik op haar 13e huweliksherdenking swanger geword (in die jaar van Sharpeville en die referendum wat tot republiekwording sou lei) 12 Julie 1960 - Agaat word in buitekamer gesit, en haar status verander van aangenome kind na “spesiale” bediende, bo res van volk, maar nie gelyk aan Jakkie nie (enkele jare na bruinmense deur die NP effektief van stemreg ontneem word, en status van “spesiale ondergeskiktes” verkry) 12 Augustus 1960 - Jakkie gebore, Agaat vang hom (en eien hom heimlik vir haarself toe) 12/13 Augustus 1985 - Jakkie 25, verlaat die land vir Kanada; Jak sterf in motorongeluk wat hierop volg (PW Botha hou sy Rubicon-toespraak; algemene noodtoestand word ingestel, townships ontplof) Paasfees 1993 - Op 67 eerste simptome van Milla se motorneuronsiekte (Chris Hani sterf in sluipmoord, ernstige landswye spanning ry byna politieke onderhandelinge in die wiele) Januarie 1996 - Milla finaal bedleênd, Agaat begin borduur aan Milla se doodsrok met materiaal wat Milla vir haar as kind gegee het vir die dag wat sy sou meester wees (die nuwe Grondwet word aanvaar) 12 Desember 1996 - Op haar 50ste huweliksherdenking wys Agaat aan die verlamde, stom Milla die kaarte van haar plaas wat sy al weke lank vir oulaas wil sien, en dwing sy Milla tot een laaste groot ontlasting, terwyl sy self mondeling “ontlas” en dekades se ongesegdes oplaas wraaksugtig uitspreek – ‘n soort letterlike uitkakparade. 16 Desember 1996 - Milla sterf presies 43 jaar nadat sy Agaat aangeneem het op Versoeningsdag. Op haar grafsteen staan soos Agaat dikteer het: “Heengegaan in vrede. En toe sien God dat dit Goed was.” (Na die uitbarsting van 4 dae terug, uiteindelik versoening en vrede, waaraan oor ‘n hele leeftyd geskep is; God sien dat dit goed is, as verwysing na die Skepping, en na Agaat se naam, en na die Goeie anderkant goed en boos) Soos reeds hierbo genoem, is die strategie wat hier gevolg word om die stelsel (Afrikanernasionalisme, apartheid) te evalueer aan die hand van sy ander. Die karakter Agaat is dan hier die ander van nasionalisme, en sy beleef die volgende veranderinge: van verwaarloosde kind (deur haar eie ouers) na aangenome en later verstote kind (deur Milla); van aangenome kind (van Milla) na aangenome moeder (van Jakkie); van slaaf na meester (met die dekade 1980 bepalend, net soos wat dit die dekade was wat Afrikaners hul houvas op die politieke mag begin verloor het); van deelboer na eienaarboer (wanneer Jakkie Grootmoedersdrif aan haar bemaak). Maar daar is ook ‘n ander vorm van andersheid, naamlik hoe diegene wat veronderstel is om deur die stelsel ingesluit te word, uiteindelik almal uitgeslotenes word: Jak word geleidelik uit die huis en die bestuur van die plaas verdryf; Milla word uitgesluit van liefde en van haar kind; Jakkie emigreer. Die slotsom waartoe die roman dus oor Afrikanernasionalisme kom, is dat dié wat uitgesluit was, uiteindelik ingesluit word, terwyl dié wat ingesluit was, uiteindelik uitgesluit word. Milla se opkoms en val – vanaf haar huwelik tot welvaart tot moederskap tot ‘n mislukte gesinslewe, verlies van spraak en beweging en uiteindelike dood – is by uitstek die metafoor van die Afrikaner van Afrikanernasionalisme se opkoms en val. Haar aantreklike, lewenskragtige liggaam van die 1950’s is uiteindelik ‘n patetiese, stom sak bene en spiere, net soos die ideologie waarvan sy ‘n aanhanger en produk was. Daarenteen begin Agaat as verwaarloosde kind met vernielde liggaampie en eindig sy as volronde matriarg, die triomfantelike baas van die plaas wat meer vitaliteit as haar base en hul ideologie gehad het. Dat daar ‘n ander Afrikaner as die een van nasionalisme was of nog kan wees, word nooit in Agaat oorweeg nie. Ek het hierbo gesê dat Van Niekerk met hierdie roman deeglik stelling in die debat onder Afrikaners oor waar hulle politieke heil sal lê, inneem, en dat Agaat inderdaad die vernuftigste en deeglikste begronding van die posisie van selfopheffing tot nog toe in Afrikaans is. Waarom sê ek so? Die antwoord lê opgesluit in die keuses wat Jakkie de Wet maak. Waar Milla en Jak tot die verlede behoort, behoort Jakkie en Agaat tot die toekoms, ook as toekomstige Afrikaner en bruine met nuwe mag, ook as Afrikaanssprekendes. En die politiek is miskien by uitstek die keuses van die toekoms aan die hand van ons verstaan van die verlede. Daarom is die politieke posisies waarmee Agaat Afrikaners vir die toekoms laat, saamgetrek in Jakkie. Soos reeds gesê, eien Jakkie homself op die laaste bladsy van die roman eksplisiet as die produk van sy pa, sy ma en sy aanneemma, Agaat. Anders gestel: hy is die produk van sy verlede. Uit hierdie verlede – en dit is die verlede waarmee alle toekomstige Afrikaners per implikasie dan moet saamleef – moet hy sy keuses maak. Veral drie keuses is hier belangrik: sy beroepskeuse, sy keuse om die plaas aan Agaat te bemaak, en sy keuse om hom in Kanada te vestig. Hoewel hy hom, soos hierbo genoem, as lugvaartingenieur bekwaam het, het Jakkie uiteindelik etnomusikoloog geword. Ook hierin handhaaf Van Niekerk haar vernuftige simboliese ommekerings: Jakkie sit sy pa se ingesteldheid op etnisiteit voort, hoewel dit nie soos by sy pa gaan dit nie om die eie etnisiteit nie, maar om ander etnisiteite. Ook sit hy sy ma se liefde vir musiek voort, hoewel dit nie soos by sy ma gaan om Westerse musiek nie, maar om nie-Westerse musiek; daarbenewens maak hy nie musiek soos sy ma gehoop het nie, maar luister hy daarna. Die betekenis van Jakkie se beroepskeuse is dus om eerder te luister as te praat, eerder op die ander as op die self ingestel te wees. Met sy keuse om die plaas te bemaak aan Agaat en hom in Kanada te vestig, is Jakkie ten beste netjies in lyn met die oproepe op Afrikaners om eerder nou te aanvaar dat hulle “hul kans gehad het”, dat dit nou ander se beurt is; ten slegste in lyn met diegene wat onomwonde verklaar dat Afrikaners bloot koloniste is wat nie ‘n plek in Afrika het nie. Ook word spesifiek verwys na hoe Agaat haar Afrikanermeesters “se taal” bemeester het, asof die toekoms van die taal nou uitsluitlik in bruin hande is. Dit is geen wonder nie dat Jakkie wat sy toekoms betref ‘n “lewenslange oefening van rou” (p.709) en ‘n “treurwerk” sien. Sy bestaan word dié van ‘n treurende, luisterende, geabdikeerde: oop vir die ander, maar sonder ‘n self. Dit is dan in hierdie sin dat Marlene van Niekerk met Agaat die vernuftigste en deeglikste begronding van die posisie van Afrikanerselfopheffing tot nog toe in Afrikaans gee. Dit bring my by enkele slotopmerkings: 1) Die keuses van nasionalisme, selfopheffing of ‘n ander vorm van gemeenskap waarna ek hierbo verwys het, is keuses wat vandag nie net in Afrikaans nie, maar wêreldwyd bespreek word. Soos ek ook hierbo aangetoon het, het nasionalisme en selfopheffing dit gemeen dat beide uiteindelik die huidige politieke status quo aanvaar – die nasionalisme deur hom in suiwerheid daarvan te probeer afsluit, selfopheffing deur jou in estetiese peïteit daaraan oor te gee (Jakkie se keuse). Soos ek verder aangetoon het, is beide keuses ten diepste oerregs, en wel in die sin dat die huidige orde as onveranderlik aanvaar word. Nasionalisme se woedende reaksie daarop is weliswaar ietwat minder ontroerend as die “lewenslange treurwerk” van selfopheffing, maar in feite is selfopheffing net so nihilisties as nasionalisme. Trouens, selfopheffing as strategie van selfnivellering is miskien nog meer nihilisties. Miskien is dit omdat die selfopheffing so ‘n verdoemende geskiedslesing het, een wat hom veral onderskei in die oordrewe aandag wat dit aan innerlikheid en subjektiewe motiewe gee – soos Agaat op magistrale skaal doen – maar ook hierin volg dit presies dieselfde benadering tot die geskiedenis as die nasionalisme, wat die suiwer volk met die skoon gemoed en die edel motiewe – kollektiewe innerlikheid – sentraal stel. (Nasionalisme en selfopheffing as teenpole van mekaar word ook vergestalt in Jak, die nasionalis, en Jakkie, sy selfopheffende seun.) Selfopheffing, en die hele 20ste eeuse tradisie wat dit voorafgaan, vanaf Freud (uitvinder van die term ‘treurwerk) tot Derrida (vervolmaker daarvan en huilende, rouende, maar ook polities problematiese filosoof by uitstek), het weliswaar ‘n verbluffende arsenaal ontleedgereedskap wat aan dit die skyn van linksheid gee, maar uiteindelik laat dit die orde net so ongeskonde soos enige ander regse, ordebevestigende projek. In hierdie opsig is Agaat miskien die grootste regse roman wat nog in Afrikaans geskryf is. (Dit is in sigself geen aanklag nie, want tekenend van die bloedarmoede van die Afrikaanse politieke ideëgeskiedenis is dat eers linksheid en vandag regsheid as boos en gevaarlik beskryf is. ‘n Volwasse gesprek - om nou by Van Niekerk se oproep tot volwassenheid aan te sluit – vereis juis ‘n stewige linkerpool én regterpool in die debat.) Wat vir ‘n ander Afrikaner nodig is, is ‘n lesing van die geskiedenis wat ook na subjekte as produkte van stelsels en tegnieke kyk, wat ons kan help om die koloniale staat wat vanaf Jan van Riebeeck tot Thabo Mbeki gevestig en verdiep word as die eintlike politieke probleem te eien. Hier kan Derrida en die dekonstruksie ook op ‘n polities kragtiger wyse as in Agaat ingespan word, byvoorbeeld om Afro-nasionalisme en sy omgang met die ander aan ‘n kritiek te onderwerp. 2) Waar die nasionalisme harde grense wil trek, wil selfopheffing alle grense ophef. Weliswaar werk laasgenoemde nie noodwendig met die droom van universele eenheid nie (soos alle gewelddadige politieke projekte, vanaf kolonialisme tot imperialisme tot neo-liberale globalisering): per slot van sake dink Jakkie dat die aard van dinge een is van “klankryk diep verwant en onverenigbaar” (718). Die nasionalismes wat ons vandag sien, is natuurlik veral ‘n reaksie op neo-liberale globalisering se wil om alle grense op te hef, en dit is gedoem, omdat neo-liberale globalisering die harde grens eenvoudig nie verduur nie, sodat nasionalisme moet misluk. Selfopheffing, daarenteen, speel uiteindelik volledig in die hande van die imperiale versugting van neo-liberale globalisering, deurdat selfopheffing die subjektiewe weergawe van die grensopheffing is wat neo-liberale globalisering objektief najaag. Ook selfopheffing as politieke projek is dus gedoem, en hierin het dit ook ‘n raakpunt met die nasionalisme wat dit so verag: die estetisering van die politiek lei tot ‘n politieke katastrofe en uiteindelik uitsigloosheid. 3) Terwyl datering van sulke sleutelbelang in Agaat is, is dit byna onmoontlik om nie te vra nie waarom Agaat so laat in die geskiedenis wel verskyn. Heelwat groot romans het reeds in Afrikaans verskillende aspekte van Agaat beslissend en bepalend gedek: Foxtrot van die Vleiseters (die gierigheid en vergrype op en aan die grond); Verkenning (die koloniale, besitsugtige naamgewende omgang met die grond teenoor die luisterende, abdikerende houding, en waar die hoofkarakter – dit is nie toevallig nie – ook sterf: hoe mooi die treurwerk ook al is, dit moet eindig by dood en leegte, oftewel nihilisme); Die Swerfjare van Poppie Nongena (vroulike meester en slaaf in die huis), ens. Met ander woorde: inhoudelik werp Agaat nie betekenisvolle nuwe lig op die kritiese letterkundige reaksie op Afrikanernasionalisme nie, hoewel dit natuurlik al haar voorgangers vormlik oortref. Soos Ampie Coetzee, kenner van die plaasroman, in sy resensie van Agaat geskryf het, is hierdie inderdaad die plaasroman der plaasromans. As dit dan so is dat Agaat nie iets sê wat nie reeds gesê is nie, kan ek nie anders nie as om die tydsberekening van die roman te verstaan as dat dit sê: “Julle Afrikaners het nog nie genoeg gerou nie”; en selfs: “Julle toekoms lê in selfopheffing.” Dit is natuurlik so dat die treurwerk nooit afgehandel kan wees nie, maar om die res van jou lewe te treur, is ‘n stadige dood (om van ‘n onvolwasse politieke houding maar te swyg). Miskien is ‘n ooreenkoms om te verskil met mekaar hier die mees gepaste: dat daardie Afrikaners wat nie anders kan nie as om te bly huil, hulle routyd gegun moet word (al is dit ook lewenslank), net soos wat die huilendes die nuwe Afrikaners die geleentheid moet gun om iets nuuts te droom sonder om hulle te verwar met die nasionaliste wat lewe in die ou Afrikaner probeer blaas. As Jakkie anders gekies het, byvoorbeeld om hom te verset teen koloniale verskynsels na 1994 – die miskenning van inheemse tale, die hernude “self-kolonisering” van die geskiedenis deur die Afro-nasionaliste wat Afrikanernasionalisme opvolg, die skandalige misbruik van grond om politieke oogmerke na te jaag eerder as om gevestigde boere se selfstandigheid te respekteer en nuwe boere se selfstandigheid aan te help – was hy in die geselskap van Disgrace se David Lurie of Die Buiteveld se Smerski wat nie skroom om die koloniale gedrag van die nuwe magshebbers te takel nie. Die tragedie van Agaat is dat dit buiten Jakkie se keuses sou kon gestaan het as die groot roman oor self-kolonisasie waarin Afrikaners na 1948 die res van hul swart vastelandsgenote voorgegaan het. 3) Diegene wat glo in ‘n ander of nuwe Afrikaner – nóg woedend nasionalisties, nóg treurend selfopheffend – bevind hulle voor minstens twee simboliese probleme. Die eerste is dat daar nog veels te min nuwe simbole geskep is. Die roman wat die nuwe Afrikaner beskryf – nóg onderhorig aan, nóg baasspelerig oor Afrika; nóg vlugtend na ander lande, nóg knielend voor die nuwe Afro-nasionaliste, of korporatief snuiwend aan hul trog; één met ‘n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe, oplaas werklik vry van kolonialisme – moet nog geskryf word (hoewel Die Buiteveld en selfs Oemkontoe van die Nasie eerste treë in hierdie rigting gee). Die tweede probleem is die tragiese gaping wat daar vandag tussen spesifiek Afrikanerfilosowe en Afrikanerskrywers bestaan. Waar die filosowe hulle oorwegend met die geboorte van die nuwe Afrikaner besig hou, is die skrywers oorwegend besig met die begrafnis van die ou Afrikaner, en waarvan Agaat die heel mooiste begrafnis is. Om geboorte te skenk sonder om dood te gedenk, is gevaarlik; om dood te gedenk sonder om geboorte te skenk, is hopeloos. 4) Die Suid-Afrika waarvan vrye Afrikane droom, moet nog kom. Terwyl soveel kunstenaars en intellektuele in Suid-Afrika vandag hulle blindstaar teen ‘n nuwe regering met die morele hoëgrond en nou ook, les bes, “die beste ekonomiese prestasie in Suid-Afrika se geskiedenis”, vergeet hulle die paralelle met Suid-Afrika onder sy vorige nasionaliste in hulle wittebroodsjare. Ook hulle het die morele hoëgrond gehad, ook hulle “die beste ekonomiese prestasie in Suid-Afrika se geskiedenis”. Ons vryheid sal eers kom wanneer ons insig in die koloniale staatsbestel in Suid-Afrika het, wat ons in ‘n silklus van een nasionalisme na die ander hou. Die Agaats van “demokratiese Suid-Afrika” se stories word reeds geskryf. Wat ons nodig het, is ‘n politiek wat Afrikaner en Afrikaan anderkant hierdie siklus neem. Moet dus nie meer huil nie, moet dus nie meer treur nie, want kyk, hy kom nog: die jollie bobbejaan. |