|
||||
Henry September Raul Rivero is ‘n Kubaanse digter-joernalis. "El Gordo" (die vette) - sy bynaam - is die oprigter van 'n onafhanklike Kubaanse nuusblad, Cuba Press. Die 20ste Maart 2003 word hy tesame met 74 medeburgers gearresteer, aangekla van misdade teen die staat (asof mens enige misdaad behalwe misnoeë teen jou eie poephol sou kon begaan), en veroordeel tot 20 jaar gevangenskap. Die Europese Unie reageer deur die Baardbek se eiland tot die buitenste duisternis te verban. Zapatero, die onlangs verkose Spaanse Eerste Minister, sien tereg in dat tromp-op konfrontasie nie gaan help nie en beding 'n ander kompromie in die skadu, seker maar so 'n rapsie stok en 'n klossie wortels; die gevolg is dat 'n twaalftal politieke gevangenes vrygelaat is oor die afgelope dae, waaronder Raul Rivero. Hy het 20 kilogram in die boep verloor. Hulle neem hom terug na sy studeerkamer en sy vrou, Blanca Reyes ("Blanca" is wit, "Reyes" beteken konings). Hy sê hy sal weer so maak, verder probeer werk as joernalis. Die alledaagse gebeure is 'n veld wat gedek moet word, byna soos die bul die koeie van diens is, sodat kalwers van begrip die lig mag sien. Verse natuurlik ook. By ontstentenis aan interpretasie. Dis nou indien die owerhede hom nie te veel in die staat gaan (be)loer nie. Gaan hy bly of gly? Nee, sê hy; om heen te gaan is nie 'n opsie nie; hy is en bly 'n Kubaan. 'n Opstel oor Tirannie Dié een op straat, die land s'n die ruwe en driftige tirannie wat my burgerlike bestaan beheer is verbygaande want dit striem die liggaam maar het nie genoeg vindingrykheid of agente om my gees aan te tas nie Maar hoor my Berta van jou reuk van jou reuk wat my geheue se kroon is van die laaste soene van 'n handjievol gesprekke wat reeds weerklink van hierdie intieme tirannie se verhewe strafheid wat ek self oproep en ewig maak kan niks my red nie. Septembergebed Maagd van Genade Daar lê jou seun Juan Antonio weer in die tronk klam, vroom, vieslik verander in 'n bees sonder skaduwee Kyk na hom agter grendel en slot as jy vannag verbykom in die hemel bo Pinar del Rio en help hom tog die lans van Mag en van lyding begryp Jy, moeder van alle bandiete spaar 'n blik vir Juan jou ou dienskneg die deurmekaar ou, die trae, die sagte verraaiersklong wat na sy eerste Nagmaal gaan aansluit het by die Kommunistiese Party Los in sy sel 'n boodskap vir dagbreek want die heiliges is gemaak van vergewe en vergeet en hulle haat mos nie en koester nie 'n wrok soos ons mense nie |