|
||||
Na aanleiding van Johann Rossouw se artikel “Is die einde van Amerikaanse hegemonie op hande?” skryf Jaco Kleynhans van Pretoria op 4 Desember 2004: Johann Rossouw vind dit oënskynlik maklik om in sy artikel, “Is die einde van Amerikaanse hegemonie op hande?”, die tipiese liberale, en veral hedendaags-Europese siening van Amerikaanse politiek aan die hand van dié land se wêreldposisie en leierskapsrol te verwoord. Wat opvallend van sy artikel is, is talle populistiese persepsies wat orals opduik en waarin hy ‘n sekondêre gevolgtrekking maak dat die konserwatiewe beweging in die VSA eintlik besig is om die land se hegenomie te vernietig. Die konserwatiewe beweging in die VSA was nog altyd maklik definieerbaar, weens die ongelooflike manier waarop die wêreldmedia hierdie ideologie probeer verstaan het en in meeste gevalle probeer ondermyn het. Dit staan vir suiwer kapitalisme en die vryemarkstelsel. Dit staan vir kleiner regering met minder welsyn en eerder meer ondernemerskap, veral ten opsigte van klein besighede. Dit staan vir die instandhouding van Christelike en selfs breër waardegedrewe stelsels. Dit staan ook vir ‘n sterk weermag wat kommunisme en terrorisme as teikens beskou. Dan is daar die persepsies dat die konserwatiewe beweging rassisties, sleg vir die omgewing, bevooroordeeld teenoor groot korporasies en vyandiggesind teenoor arbeidsorganisasies en die armes is, om nie eens van minderheidsgroepe, Afrika en eintlik die meeste van die Derde Wêreld te praat nie. Waar word hierdie persepsies geskep? Deur die liberale wêreldmedia waarvan Suid-Afrika self oor ‘n sterk dosis beskik. Wat is die werklike situasie? Bush word die eerste Amerikaanse president wat burgerskap gee vir Mexikane wat onwettig die VSA instroom, sodat hulle makliker werk kan kry. Hy stel die meeste swart persone ooit in ‘n Amerikaanse president se kabinet aan. Hy vergroot die bewaringsarea in die Noord-Westelike dele van die VSA met 60%. Hy word die Amerikaanse president wat die meeste geld vir arm Afrika-lande bewillig. Hy gee die grootste belastingverligting ooit vir jong werkende gesinne. Aan die hand van my ervaring ten opsigte van die leierskap wat juis deur hierdie konserwatiewe beweging getoon word, verskil ek graag ten sterkste daarvan dat die Amerikaanse hegemonie bedreig word. Waarom? Wanneer jy na die Amerikaanse samelewing kyk, het daar ‘n groot draaipunt ontstaan met die verkiesing van die eerste uitgesproke konserwatiewe president, Ronald Reagan, in 1980. Johann Rossouw is reg wanneer hy sê dat die gaping tussen ryk en arm in die Reagan-jare vergroot het. Hy vergeet egter gerieflikheidshalwe om die rede hiervoor te gee. Tydens Reagan se bewind is welsynsgelde wat aan werklose en arm Amerikaners uitbetaal word met die helfde verminder. Waarom so ‘n dramatiese stap? Werkende Amerikaners was moeg daarvoor om elke maand hoë belasting te betaal ten einde lui mense wat nie wil werk nie aan die lewe te hou. Tydens my onlangse besoek aan die VSA was een ding duidelik: Daar is geen tekort aan werk in die land nie. Restaurante sit dwars deur die bank met ‘n tekort aan kelners, terwyl ek op die busse die groot tekort aan busbestuurders, en op treinstasies die groot tekort aan skoonmakers, ervaar het. Tans bestaan daar nie werklik iets soos werkloosheid in die VSA nie. Daar is egter ‘n groep Amerikaners (sowat 5%) wat te lui is om te werk of wat hul werk in die ou ekonomie (mynbou, vervaardiging, vervoer, ens) verloor het en nou nie oor die nodige opleiding vir ‘n pos in die nuwe ekonomie (tegnies, tegnologies, ekonomies, ens.) beskik nie. Die Republikeinse party se beleid van laer belasting en minder welsyn is een wat juis mense dwing om beter en selfs voortdurende opleiding te kry, asook om meer ondernemerseienskappe te begin toon. Beginsels wat natuurlik teen die Demokrate se sosialistiese denke en die Amerikaanse vakbonde se hardkoppige verkrampte arbeidsdenke van dekades gelede, indruis. Die Republikeine se stelsel sal waarskynlik binne die volgende vier jaar vrugte afwerp met die VSA se werkloosheidsyfer wat tans op 5% staan en wat waarskynlik oor 4 jaar so laag as 2 tot 3% kan wees. Dit sou natuurlik nou reeds die geval gewees het, was dit nie vir die 1 miljoen werksgeleenthede wat weens die 9/11-terroriste-aanval, asook die groot werksverliese na aanleiding van die ineenstorting van die Amerikaanse finansiële markte tydens die laaste maande van Bill Clinton se presidentskap nie, verloor is nie. Johann Rossouw baseer sy oorkoepelende argument ook sterk op die VSA se afhanklikheid van olie. Dit maak egter geen sin hoe juis hierdie feit die VSA se hegemonie kan bedreig nie. Dit is tog immers die hele wêreld (waarvan die meerderheid van lande nie oor olie beskik nie) wat van oliereserwes in die Midde-Ooste en Wes-Afrika afhanklik is. Terwyl ander lande hierdie probleem egter ignoreer tree die VSA doelgerig op om die Midde-Ooste te stabiliseer, maar ook om alternatiewe vorme van energie te vind soos gesien kan word aan die hoë verkoopsyfer van die Toyota Prius (‘n semi-hidroliese motor) wat tans in die VSA beleef word. Waar die skrywer egter sy grootste fout begaan is ten opsigte van wat hy die propagandamasjien van die Amerikaanse massamedia noem. Dit is vreemd dat hy nie melding maak van die feit dat slegs 26% van alle beriggewing in die Amerikaanse media oor George W Bush en die Republikeine voor die afgelope verkiesing positief was, terwyl meer as 60% van die beriggewing oor John Kerry en die Demokrate positief was nie. Die meeste media in Amerika behoort vandag aan groot korporasies met aandeelhouers in lande soos Duitsland, ‘n land wat ons almal weet nie baie lief vir die VSA is nie. Die volgende uittreksel uit ‘n gesprek op CNN wys net hoe ernstig die media die konserwatiewe beweging in die VSA tydens verkiesings benadeel: CNN's HOWARD KURTZ: "It is a tight race. Do you believe that most reporters want John Kerry to win?" NEWSWEEK'S EVAN THOMAS: "Yeah, absolutely." KURTZ: "Do you think they're deliberately tilting their coverage to help John Kerry and John Edwards?" THOMAS: "Not really." KURTZ:"Subconsciously tilting their coverage?" THOMAS:"Maybe." KURTZ:"Maybe." THOMAS:"Maybe." KURTZ:"Including at Newsweek?" THOMAS:"Yeah." KURTZ:"You've said on the program 'Inside Washington' that because of the portrayal of Kerry and Edwards as young and optimistic, that's worth maybe 15 points. That would suggest." THOMAS:"Stupid thing to say. It was completely wrong. I do think that the mainstream press, I'm not talking about the blogs and Rush and all that, but the mainstream press favors Kerry. I don't think it's worth 15 points. That was just a stupid thing to say." KURTZ:"Is it worth five?" THOMAS:"Maybe, maybe." Bush beskik oor geen propagandamasjien wat aan sy kant is nie. Die meeste Amerikaanse media, asook Hollywood, word in elk geval vandag as uiters onpatrioties beskou. Johann Rossouw se euforie van “die VSA se onhoudbare posisie van afhanklikheid” wat volgens hom deur die konserwatiewes se “propagandamasjien” verdoesel word, is werklik vergesog. Toe die VSA die Taliban en later Saddam Hoesein (wat toevallig miljoene van sy land se eie burgers vermoor het, maar waarvan die liberale media graag vergeet) wou aanval het hulle nie juis tekens van afhanklikheid getoon nie. Dit is egter interessant dat Rossouw Bush se oorlog (of eerder oorloë, maar die liberales vergeet tot te graag van die suksesvolle offensief in Afghanistan) beskou as ‘n manier waarop Bush probeer om die Amerikaanse kiesers veilig te laat voel sodat hulle vir hom sal stem. Dit is natuurlik belaglik om die minste te sê. Ek het tydens my besoek aan die VSA, tydens die verkiesing, nie een kieser kon opspoor wat oor hierdie rede vir Bush gestem het nie. G’n wonder dat die meningsopnamens na die verkiesing aangetoon het dat die meerderheid van kiesers (22%) hul stem op morele kwessies gebaseer het en dat die ekonomie en werkskepping (20%) in die tweede plek was. Terrorisme was maar derde en Irak slegs vyfde. Dit is eerder vir my duidelik dat daar tans ‘n verskuiwing in die ideologiese en demografiese samestelling van die wêreld plaasvind. Dit is ook vir my duidelik dat die VSA weereens eerste gaan wees om hulself as die leier in die nuwe wêreldorde te vestig. Europa is vinnig besig om te verander in ‘n gebied waar mense wat nie in God glo nie en Moslems die twee hoofgroepe gaan wees. Afrika bly Afrika met vigs, burgeroorloë, diktatorskap en absolute anargie, ‘n situasie wat duidelik in die nuwe wêreldorde sal vererger. Die VSA sal binne die volgende dekade daarin slaag om die Midde-Ooste te stabiliseer, waarna die gebied vinnig sal verAmerikaans en waar Christenskap selfs sal begin groei. Baie van dieselfde sal ook oor Asië gesê kan word, hoewel vigs ook lande soos Indië en China ekonomies sal vermorsel. Dit is duidelik dat die einde van die wêreld naby is en dat geloof die ideologie van die nuwe wêreldorde sal wees. Met ‘n al sterker Christelik-konserwatiewe beweging in die VSA sal dié land net soos wat hy in die 1980’s kommunisme met kapitalisme vermorsel het, die ateïsme en Moslemgeloof met die Christengeloof vernietig. Soos wat die waardes van kapitalisme net eenvoudig beter as die waardes van kommunisme vir die wêreld is, sal die VSA bewys dat die wêreld se probleme slegs deur die Christelike geloof opgelos kan word. Die VSA is ver daarvan om sy hegemonie te verloor. Om die waarheid te sê, die konserwatiewe beweging in dié land, gaan juis onder leiding van briljante, eerlike, gelowige leiers soos George W Bush en Dick Cheney die VSA se hegemonie versterk. Ons redakteur antwoord: 1. Die sentrale argument van my betoog oor die einde van Amerikaanse hegemonie was nie afgestem op die figuur Bush nie, maar op die breër stelsel waarbinne hy funksioneer, asook die hedendaagse geopolitieke toneel. Die rede hiervoor is dat hierdie sake vandag so omvangryk is dat die verkiesing van een individu nie die bepalende faktor in die taksering daarvan is nie. In sy reaksie op my verkies mnr. Kleynhans egter wel om eerder op die figuur Bush te fokus – waarop hy heelwat hoop vestig – en dan om, in die lig van sy hoop op Bush, op my argumente met betrekking tot die breër stelsel en die geopolitieke toneel te reageer. 2. Dit is gevolglik myns insiens van mindere belang wie die VSA se president is, en ek sal dus verkies om mnr. Kleynhans hieronder eerder te antwoord op sy argumente met betrekking tot die breër stelsel en die hedendaagse geopolitieke toneel. Nietemin wel enkele opmerkings oor sy taksering van Bush en die Republikeine: - Mnr. Kleynhans gooi “kommunisme en terrorisme” in een mandjie en reken ‘n sterk weermag is nodig om dié te beantwoord. Kommunisme was ‘n ideologie; terrorisme is nie. Die terrorisme van vandag is, soos altyd, ‘n uitvloeisel van politieke en ekonomiese faktore, waaronder meer as sewe dekades van Westerse en veral Amerikaanse uitbuiting van die Midde-Ooste die belangrikste rede is. As klassieke sekurokraat begaan Bush, net soos Sharon in Israel, die fout om ‘n politieke probleem met sekuriteit te probeer oplos, en die gevolge is voorspelbaar katastrofaal. - Mnr. Bush se ekologiese rekord laat veel te wense oor, ten spyte van meer bewaringsgrond in die VSA. Die verlating van die Kioto-protokol het veel groter implikasies, soos ook die feit dat Bush reeds die Environmental Protection Agency begin vul het met sy eie apparatchiks. Pas na sy herkiesing is ook aangekondig dat olie-eksplorasie in Alaska nou op hande is, ten spyte van wye openbare teenstand daarteen. Talle ander voorbeelde kan by dié lysie gevoeg word. - Die geld vir Afrika wat deur die Bush-regering beskikbaar gestel is, is veral daarop gerig om Amerikaanse farmaseutiese maatskappye se belange in Afrika te bevorder, asook weermagte op te lei in daardie Afrika-lande wat as terreurbasisse beskou word, soos Kenia. Bush se skielike belangstelling in Afrika is part en deel van sy sekurokratiese reaksie op die wêreld na 9/11. - Mnr. Kleynhans se verklaring vir die groter gaping tussen arm en ryk sedert Reagan mag waar wees, maar die feit van die saak is dat die gaping steeds verskerp. Hy mag ook reken die Demokrate is “sosialisties” (is dit ‘n sonde?), maar intussen gebruik die Republikeine die mees klassieke sosialistiese ekonomiese truuk – die vergroting van die begrotingstekort om staatsoogmerke te verwesenlik – op so ‘n skaal dat die Amerikaanse begrotingstekort nou die grootste in die geskiedenis is (nadat hulle ‘n surplusbegroting van Clinton geërf het). Sommige ekonome reken dat die kombinasie van ‘n begrotingstekort, ‘n verswakkende dollar en afhanklikheid van buitelandse kontant die Amerikaanse ekonomie op sy knieë gaan dwing. Die tyd sal leer. 2. Wat die breër stelsel en die hedendaagse geopolitieke toneel betref: 2.1 Dit is inderdaad so dat die VSA ‘n groter olieafhanklikheid as die res van die wêreld het, maar dit is dan ook wat die VSA meer kwesbaar as die res van die wêreld maak. Mnr. Kleynhans mag beïndruk wees deur die suksesse van die Toyota Prius (in Japan ontwerp) in die VSA, maar dit val te betwyfel of dié veel van ‘n verskil maak aan die feit dat die VSA met minder as 5% van die wêreld se inwoners vir meer as 25% van die planeet se energieverbruik en besoedeling verantwoordelik is. 40% van alle Amerikaners besit brandstofsuipende nutsvoertuie (“SUV’s”). Die kort en die klaar daarvan is dat ‘n leefstyl gebaseer op buitensporige energieverbruik die VSA se eintlike probleem is, ongeag of Demokrate of Republikeine in die Withuis sit. Tot dusver het geen Amerikaanse hoofstroompolitikus die moed gehad om hierdie probleem te takel nie. 2.2 Van wanneer af is Bush besig om die Midde-Ooste te stabiliseer? Sy steun aan Sharon is die grootste enkele faktor vir die verslegting van die Israelse vredesproses. In Afganistan kan die president nie die hoofstad met veiligheid verlaat nie en word ‘n rekordopiumoes vanjaar verwag. Beide probleme spruit uit Amerikaanse steun aan die moedjaddin vanaf die laat 1970’s. Praat van ‘n suksesvolle offensief in Afganistan! In Irak is meer mense sedert die “einde” van die oorlog dood as tydens die oorlog, en gaan Islamitiese ekstremiste beslis ‘n groot invloed in die demokratiese verkose Irakese regering hê. 2.3 Ek verwys mnr. Kleynhans graag na die Le Monde Diplomatique-verslag van Westerse onderduimsheid in Irak wat in ons Desember-maanduitgawe verskyn het. Verskeie Amerikaanse regerings blink uit in die bydrae wat hulle tot die dood van miljoene Irakese onder Saddam Hoessein gelewer het, waarvan die ergste die meer as ‘n halfmiljoen Irakese kinders wat tydens die embargo na 1991 se oorlog gesterf het, en wat pertinent deur die VSA in koelen bloede gehandhaaf is. 2.4 Mnr. Kleynhans se laaste paragrawe is eenvoudig skokkend. ‘n Kursus in Politieke Wetenskap 1 is genoeg om enigiemand te stroop van die illusie dat “eerlike, gelowige leiers” lande regeer. Hitler was, soos bekend, ‘n Katoliek, om maar een voorbeeld te noem. Die “eerlike, gelowige” Dick Cheney trek steeds finansiële voordeel uit sy verbintenis met Halliburton, by verre, volgens ‘n Amerikaanse ondersoekkommissie, die mees korrupte rolspeler in “na-oorlogse” Irak, terwyl Bush se familie se verkiesings gefinansier word deur Bechtel, wat ook geskitter het in hul medewerking met Saddam Hoessein se Irak – afgesien van die vriendelike handelsbetrekkinge tussen die families Bush en Ben Laden. Mnr. Kleynhans mag hoop die Midde-Ooste gaan binne tien jaar veramerikaans, maar sewe dekades van Amerikaanse invloed in die streek het presies die teenoorgestelde veroorsaak: meer Islamtiese ekstremisme. Maar sy mees skreiende uitlatings is oor hoe die Christelike geloof die “ateïsme en die Moslemgeloof” sal “vernietig”: praat van religieuse verdraagsaamheid en ‘n religie van liefde! Mnr. Kleynhans behoort kennis te neem van die skeiding tussen kerk en staat wat al vir minstens vier eeue die hoeksteen van die moderne wêreld vorm, en met goeie bloedige redes ook. Hy moet ook versigtig wees om nie die Christelike geloof vir sy neo-imperiale vergesigte in te span nie: dit is op die minste ‘n ernstige belediging vir dié geloof. Hy behoort ook kennis te neem dat enige geloof wat hom op alleenpag oor die waarheid beroep se voorland een van bloedige konflik en selfverloëning is. Die Judaïsme van die Ortodokse fasciste in die Gasastrook, die Islam van Ben Laden se falanks, die Boeddhisme van Sri Lanka se staatsmoordenaars, en die Christelike geloof van Bush se moordhandelaars beklemtoon almal hierdie feit. So ‘n omgang met geloof hoort nie in ‘n moderne wêreld nie. |