|
||||
Johann Rossouw Gister is die laaste van Suid-Afrika se jaarlikse nasionale dae, Versoeningsdag, in die tiende jaar van demokrasie gevier. Dit is dan ook die dag waarop veral die verhouding tussen Afrikaner en Afrikaan in die kalklig kom, en daarom is dit ook vir Die Vrye Afrikaan van besondere belang. Een manier om na Suid-Afrika te kyk, is om dit te beskryf as ‘n land waarin die verskillende gemeenskappe nie noodwendig baie van mekaar hou nie, maar waar hulle nietemin op een of ander manier met mekaar moet saamleef ten einde te verseker dat hulle almal ‘n toekoms het. Ook in hierdie opsig is Versoeningsdag as indeks van hoe ver Suid-Afrikaners met ‘n gedeelde modus vivendi gevorder het van belang. Tekenend van die moralisering van die openbare debat in Suid-Afrika is ook die wyse waarop die tema van versoening die afgelope jare hanteer is, naamlik as ‘n kwessie van goeie gesindhede of selfs ekonomiese opheffing. Dat goeie gesindhede en ekonomiese opheffing belangrik is vir versoening, val nie te betwyfel nie, maar dit is nie die essensie van versoening nie. Versoening handel in die eerste plek oor hoe gemeenskappe met ‘n verdeelde en verdelende verlede met mekaar saamleef. Hierdie saamleef kan slegs geskied waar die verskillende protagoniste in die situasie mekaar as gelykwaardige vennote erken. Dit is nie ‘n erkenning wat afhang van hoe die protagoniste mekaar eerstens moreel oordeel nie, maar van die blote feit dat hulle hulle teenoor mekaar in ‘n situasie bevind. Anders gestel, ek erken jou nie omdat jy aan my verwagtinge van geregtigheid voldoen nie, maar bloot omdat jy bestaan. Goeie gesindhede, ekonomiese opheffing en dies meer volg hieruit. Die probleem in Suid-Afrika is dat die blote erkenning van mekaar se bestaan, wat die hoeksteen van versoening is, sekondêr gestel word tot die morele verwagtinge wat van mekaar gekoester word. Teen die agtergrond van die uiters skewe magsbalans wat daar nog altyd in Suid-Afrika tussen gemeenskappe geld, moet sodanige morele verwagting noodwendig onderlê word deur iets wat ons as die verwagtinge van die gewonde oorwinnaar kan beskryf. Meer konkreet sou dit byvoorbeeld beteken dat die Engelse na die Anglo-Boereoorlog van Afrikaners verwag het om hul taal as teken van “versoening” af te gee, of dat Afrikane vandag van Afrikaners verwag om transformasie toe te pas soos die staatselite dit verstaan, in plaas daarvan om ‘n voortdurende debat daaroor te voer. Om so met versoening om te gaan, is om bloot die volgende rondte konflik met mooi morele woorde uit te stel tot dit uiteindelik uitbars. Wanneer dit om Afrikaners en nasionale versoening gaan, is daar veral twee indrukke wat vandag bestaan, en wat Afrikaners se bydrae tot versoening kortwiek. Eerstens bestaan die indruk dat Afrikaners hulle van nasionale geleenthede onttrek, en tweedens bestaan die indruk dat Afrikaners slegs welkom is by nasionale geleenthede wanneer hulle inval by die organiseerders se voorkeure. Beide hierdie indrukke word ruim deur konkrete voorbeelde ondersteun, en ongelukkig sal versoening nie so bevorder word nie. Op die koop toe hang hierdie twee dinge saam: in ‘n situasie van ‘n skewe magsbalans tussen meerderheid en minderheid is dit eenvoudig naïef om van die vorige maghebber te verwag om gemaklik en onbevrees by die nuwe maghebber se vieringe in te val. Wat nodig is, is bepaalde meganismes om die skewe magsbalans te balanseer. Een so ‘n meganisme kan wees dat die staat ‘n openbare forum met verteenwoordigers van die Afrikaanse burgerlike samelewing saamstel wat spesifiek saamwerk rondom nasionale geleenthede, insluitend Versoeningsdag. As Afrikaners sodoende die geleentheid kry om te sien dat hulle insette in die vorm en inhoud van nasionale geleenthede verreken word, sal hulle waarskynlik mettertyd in baie groter getalle by sulke geleenthede opdaag. |