blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die FAK en Versoeningsdag 2004-12-15
Die FAK neem hiermee standpunt in ten opsigte van die vraag op watter wyse Afrikaners aan Versoeningsdag en in die besonder aan die “cleansing and healing” -seremonies tydens die “week van versoening” kan deelneem.

Alvorens die vraag na die hoe van Afrikaners se deelname ter sprake gebring kan word, moet eers kortliks verwys word na die begrip “versoening” ten grondslag van Versoeningsdag. Wat beteken versoening?

1. Prinsipiële standpunt oor die begrip “versoening”.

Daar is die afgelope tien jaar en meer en vanuit ‘n veelheid van perspektiewe in die Afrikanergemeenskap oor die begrip versoening nagedink. Terselfdertyd is op velerlei wyses besin oor die vraag hoe versoening tussen Afrikaners en ander gemeenskappe gestalte kan kry. Die bedoeling van die begripsomskrywing hieronder is nie om dié werk te herhaal of te hersien nie. Die bedoeling is veel eerder om in die lig van ‘n nuwe historiese konteks en in die besonder ná 10 jaar van demokrasie ‘n kort omskrywing van “versoening” te maak. Elke unieke plek en tyd vra dat dié woord opnuut inhoud gegee word.

Die begrip “versoening” is in die verlede en word ook vandag vanuit verskillende perspektiewe verstaan. So kan dit byvoorbeeld vanuit ‘n teologiese, morele, sosiale of ekonomiese perspektief geïnterpreteer word. Elkeen van dié perspektiewe bring iets van die ryke geskakeerdheid van die begrip “versoening” na vore.

Die FAK is daarvan oortuig dat die begrip versoening, buiten vanuit bogenoemde perspektiewe, ook in “kultuurpolitieke” terme verstaan moet word. Alhoewel sodanige perspektief by bogenoemde aanleun, het dit ook ‘n eie beklemtoning. Ná 10 jaar van demokrasie is dit nodig om ook by die kultuurpolitieke vertolking van versoening aansluiting te soek.

Vanuit ‘n kultuurpolitieke perspektief dui versoening op dié proses waarvolgens die demokratiese etos onder en tussen al die gemeenskappe in Suid-Afrika verdiep en uitgebou word. Die FAK is daarvan oortuig dat versoening tussen alle gemeenskappe op die lange duur slegs ‘n werklikheid sal word as die hoogste ideale eie aan die demokratiese tradisie tussen die gemeenskappe konkrete gestalte sal kry. Dit is ideale soos geregtigheid, die reg op kulturele selfbetuiging, verdraagsaamheid jeens en bondgenootskappe tussen die veelheid van gemeenskappe.

Die demokrasie is, in die woorde van die filosoof, Jacques Derrida, iets wat altyd weer moet kom. Dit beteken dat daar altyd weer institusionele ruimtes geskep moet word waarbinne die ideale van die demokrasie gestalte kan kry. In ‘n gewisse sin van die woord is dit ‘n nimmereindigende taak, omdat daar altyd weer sentraliserende kragte aan die werk is wat die demokratiese lewe inkort. In die aanvaarding van dié eindelose verantwoordelikheid lê die sleutel tot egte versoening.

Hoe moet gestalte aan dié taak gegee word? Die demokratiese etos word volgens die FAK die beste in ‘n multikulturele land soos Suid-Afrika gedien wanneer ‘n skeppende balans tussen die algemene en die partikuliere gehandhaaf word, dit wil sê wanneer ‘n balans gehandhaaf word tussen dit wat alle inwoners met mekaar gemeen het en dit wat uniek tot elke gemeenskap is. In die handhawing van dié balans word voorkom dat een gemeenskap sy definisie van die algemene belang as maatstaf aan almal voorhou.

Wanneer een gemeenskap sy definisie van die algemene belang aan andere opdwing, word die voorwaardes vir sentralistiese neiginge en uiteindelik selfs totalitêre bewinde neergelê. Wanneer genoemde balans daarenteen gerespekteer word, word die demokratiese etos versterk. En juis dan kan versoening tussen die gemeenskappe ‘n wesenlike realiteit word.

Die FAK is daarvan oortuig dat die wanbalans tussen die algemene en die partikuliere ten grondslag van apartheid gelê het. In die praktiese deurvoering van apartheid het een partikuliere stem (die minderheid) sy wil aan almal (die meerderheid) opgelê. Daarmee is die demokratiese etos aangetas en ten diepste verwring. Wanneer ook versoening nagestrewe word, moet dit wees om genoemde balans in beskerming te neem.

2. Versoeningsdag

Die FAK is daarvan oortuig dat bogenoemde omskrywing van “versoening” konkrete uitdrukking moet vind in die viering van Versoeningsdag. Versoeningsdag behoort ‘n vergestalting te wees van die breë kultuurpolitieke wil om ‘n balans tussen die algemene en die partikuliere te handhaaf.

Die FAK is egter nie daarvan oortuig dat genoemde balans tans op ‘n sinvolle wyse deel van die proses rondom Versoeningsdag is nie. Die grondoorsaak daarvan moet gesoek word in die persepsie onder Afrikaners dat die algemene idioom in terme waarvan die week van versoening gehou word, ‘n idioom is wat deur een te midde van ander gemeenskappe ingevul en bepaal word. Dit is ‘n idioom wat Afrikaners per definisie uitsluit van spontane en ongedwonge deelname.

Anders verwoord, die algemene idioom in terme waarvan die week van versoening gestalte gegee word, staan in die teken van nasionalistiese neigings tot sentralisering. Nasionalistiese strewes na eenheid is begrypbaar. Waar dit tot die herstel van die selfrespek van gemeenskappe lei, is dit bewonderenswaardig en verdien dit die volle steun van Afrikaners. Maar die strewe na eenheid moet altyd weer met die strewes van die veelheid van gemeenskappe versoen kan word. In sy sug na eenheid laat die nasionalistiese strewe dikwels nie voldoende ruimte vir die sinvolle erkenning aan die veelheid van gemeenskappe nie. Laasgenoemde is ook op Versoeningsdag van toepassing.

Dié voorbehoud spruit nie uit ‘n onwilligheid om saam te werk of uit dislojaliteit teenoor die land en sy mense nie. Om die betrokke voorbehoud egter korrek te beoordeel, moet dit binne konteks geplaas word. Afrikaners se ervaring van die proses ten grondslag van Versoeningsdag moet verstaan word teen die agtergrond van wat ervaar word as sentralistiese tendense, soos die toenemende druk op Afrikaanse skole en universiteite om, ten spyte van grondwetlik verskanste regte, Afrikaans nog verder af te skaal; die onvermoë van die staat om substantiewe veeltaligheid in die publieke sektor en in die besonder in die onderwys tot stand te bring; die eensydige wyse waarop naamsverandering hanteer word; kommer rondom die grondkwessie en regstellende aksie sonder grense.

Afrikaners ervaar ook toenemend hoe die huidige bedeling vanweë sy nasionalistiese inslag geneig is om dieselfde moreel eensydige herskrywing van die geskiedenis te onderneem as wat Afrikaners ná 1948 gedoen het. Afrikaners sal ongetwyfeld meer simpatiek teen die huidige projek van Afro-nasionalisme staan as hulle konkrete belange rondom taal, onderwys, werk, en dies meer in 'n gesonder balans met die meerderheid Suid-Afrikaners s'n geplaas word.

3. Die hoe van Versoeningsdag.

Die vraag is hoe op ‘n sinvolle wyse verseker kan word dat Afrikaners aan die amptelike feesvieringe rondom Versoeningsdag sal deelneem.

a). Die langtermyn

Die FAK is daarvan oortuig dat dit tyd sal verg alvorens Versoeningsdag volgens bogenoemde ideale georganiseer sal word. Daarom stel ons voor dat prosesse in werking gestel word wat daarvoor sal sorg dat ‘n werklik verteenwoordigende Versoeningsdag in die toekoms ‘n konkrete werklikheid sal word.

Dit moet verreken word dat die oorgang van 1994 dikwels deur gemeenskappe ervaar word as die gevolg van ‘n ooreenkoms tussen die “elites” en dat die ewe wesenlike ooreenkoms tussen die “gemeenskappe” gevolglik agterweë gebly het. Vanuit ‘n gemeenskapsgedrewe sin vir versoening en met die oog op die versterking van die demokratiese etos stel die FAK voor dat ‘n verteenwoordigende liggaam soos die FAK en die Freedom Park Trust ‘n indaba hou oor die tema “Africans, Afrikaners and Reconciliation”. ‘n Datum wat oorweeg kan word, is die komende Vryheidsdag, 27 April 2005.

b). Die korttermyn

Die FAK wil aan die hand doen dat die proses van samewerking eerder op klein skaal en "van onder-af" ontwikkel moet word, as om nou al te droom van groot nasionale gedenkgeleenthede. Dit kan byvoorbeeld sinvol wees om eerder een of twee klein gesamentlike gedenkgeleenthede op plaaslike vlak te hou. Die mate waartoe reeds gevorder is om Afrikaners en Zoeloes saam op nuwe maniere na Bloedrivier te kyk, is reeds ‘n goeie voorbeeld.

Die FAK stel voor dat hyself wat betref Versoeningsdag 2004 betrokke sal wees by en ook mede-vennoot sal wees van dié dag se verrigtinge by die Oranjerivier Konsentrasiekerkhof in die Noord-Kaap. Indien die FAK mede-betrokke is by die opstel van die agenda vir dié dag, kan dit ‘n belangrike simboliese gebaar verteenwoordig in die soeke na ‘n balans tussen die algemene en die partikuliere.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=99
Artikel nagegaan:
    -