blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die FAK in gesprek met die DA 2004-12-02

Die FAK het op Vrydag 26 November  'n vrugbare gesprek met die DA gehad. Daar was verlede jaar ook 'n gesprek met die DA.  Dit was 'n oop sakelys en verskeie moontlike gesprekspunte is aanvanklik genoem, waaronder onderwys en taal, die Artikel 185 Kommissie, rassisme en die naamsveranderinge.

Prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK, het die konteks van die gesprek en die verwagting van die FAK aan die hand van die FAK se nuwe visie en fokus geskets.  Die gesprek het aanvanklik hoofsaaklik op filosofiese en prinsipiële standpuntsverskille gefokus.  Die vraag wat die FAK aan politieke partye en die DA in die besonder vra is op watter wyse politieke partye agente van gemeenskapsintegriteit en subsidiariteit kan of wil wees.  Die balans tussen die líberale en die demokratiese is noodsaaklik.  Afrikaners moet agter die geslote mure waarheen hulle onttrek het uitkom - die vraag is hoe dit gedoen kan word.  Die FAK het beklemtoon dat die erkenning van gemeenskappe so hanteer moet word dat dit nie weer uitloop op 'n nuwe nasionalisme nie. 

Slegs die onderwys kon tydens die gesprek kortliks aangeraak word. Daar is kennis geneem van die FAK se inset oor die Wysigingswetsontwerp op die Skolewet en ooreengekom om standpunte hieroor wedersyds beskikbaar te stel.  Die DA het die noodsaak van verskeie alternatiewe optredes deur die burgerlike samelewing beklemtoon en ook aanbeveel dat die FAK dit oorweeg om, wanneer nodig,  ook persoonlike voorleggings by die portefeulje komitees te maak.

Die behoefte aan verdere gesprekke oor sake van gemeenskaplike belang is weer bevestig.  Daar is ooreengekom dat daar volgende jaar drie formele gespreksgeleenthede oor spesifieke  sleutelkwessies tussen die twee leierskappe gehou sal word  en dat informele skakeling deurlopend sal geskied.

Die afvaardiging van die DA het bestaan uit mnr. Tony Leon (LP, leier); me. Desiree van der Walt (LP, adjunkwoordvoerder oor kuns en kultuur); mnr. Russel Crystal (LP); dr. Manie van Dyk (LP); mnr. Philip de Wet (LPW); en dr. Tertius Delport (LP). Die afvaardiging van die FAK het bestaan uit prof. Danie Goosen (voorsitter); mnr. Roland Henwood (ondervoorsitter); mnr. Hennie de Wet (besturende direkteur); dr. Dioné Prinsloo (direksielid); en mnr. Johann Rossouw (navorsings- en kommunikasiebeampte)


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=97
Artikel nagegaan:
    -