|
||||
Gerrit Brand 'n Verslag van die Nasionale Konferensie oor die Bevordering van die Verskeidenheid van Kulturele Inhoude en Kunsuitinge en die Rol van Kultuur in Nepad, Unisa, Pretoria, 8-11 Oktober 2004 Hoekom dié konferensie? Die konferensie is gesamentlik aangebied deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Kommissie vir Unesco, Unisa en die Departement van Kuns en Kultuur. 130 afgevaardigdes en ongeveer 70 organisasies is betrek. Die aanleiding vir die konferensie was die verskyning, in Julie vanjaar, van die Konsep Unesco-Konvensie oor die Beskerming van die Verskeidenheid van Kulturele Inhoude en Kunsuitinge. Met die oog op die verdere proses, wat uiteindelik moet uitloop op 'n finale dokument wat deur al 132 lidlande onderskryf word, moet die Suid-Afrikaanse regering 'n posisie ten opsigte van die Konsepdokument formuleer en indien. Onderhandelings met die oog op die finalisering van die Konvensie sal gedurende 2005 voortduur en Suid-Afrika sal daarin deur dr. Pallo Jordan, Minister van Kuns en Kultuur, verteenwoordig word. Die konferensie moes as 'n klankbord dien wat aan die regering leiding verskaf ten opsigte van sake wat in dié onderhandelingsproses voorkeur moet geniet. Die konferensie is verder as 'n geleentheid gesien om debat oor kwessies rakende kulturele verskeidenheid in Suid-Afrika asook in die breër Afrikakonteks, veral met verwysing na Nepad, te stimuleer. Dit is naamlik so dat die uiteindelike Konvensieteks implikasies kan hê vir die wyse waarop in Suid-Afrika asook op streeks- en kontinentale vlak met hierdie soort kwessies omgegaan word. In hul inleidende opmerkings het mnr. Victor Julies, Adjunkdirekteur-Generaal van Kuns en Kultuur, asook twee lede van die Suid-Afrikaanse afvaardiging by die internasionale vergadering van kundiges wat die konsepteks van die Konvensie opgelewer het - prof. M.S. Makhanya, sosioloog van Unisa, en mnr. Glenn Masokoane, rolprentmaker - die Konvensie in perspektief geplaas deur dit te vertolk as 'n poging van die kant van Unesco om bepaalde neigings in die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) se denke oor kulturele artefakte te balanseer. Binne die WHO word naamlik oor kulturele artefakte gedink as "maar net nog 'n stel kommoditeite" waarvan die uitwisseling eenvoudig deur vryehandelsooreenkomste gereguleer kan word. Hierteenoor wil Unesco beklemtoon dat kulturele artefakte - en die wyse waarop daarmee omgegaan word - meer as kommoditeite betref in die sin dat dit ook die identiteit en waardigheid van individue en gemeenskappe tot uitdrukking bring en konstitueer en dat spesifieke menseregte dus ook ter sprake kom wanneer met sulke "produkte en dienste" handel gedryf word. Verder het die inleiers beklemtoon dat bepaalde kwessies rakende kulturele verskeidenheid wat spesifiek vir ontwikkelende lande soos Suid-Afrika van belang is nie noodwendig genoegsaam in die Konsepkonvensie aandag geniet nie. Veral kwessies soos "ontasbare erfenis" (in teenstelling tot "tasbare erfenis" soos museumversamelings, geboue, geskrewe tekste, en dies meer) en inheemse kennisstelsels (IKS) as onderdeel daarvan is in dié verband uitgelig. Daar is verder beklemtoon dat, vanuit die perspektief van ontwikkelende lande, dit belangrik is dat kulturele verskeidenheid kulturele ontwikkeling moet onderlê en dat sake soos gender, kinders, jeug en onderwys, taal- en godsdiensverdraagsaamheid ook in die Konvensie behandel moet word. Masokoane het die voormalige Minister van Onderwys, mnr. Kader Asmal - wat as voorsitter van die internasionale byeenkoms van kundiges in Parys opgetree het - aangehaal. Asmal het die Konvensie-in-wording beskryf as "'n nuwe soort vredesverdrag wat nuwe horisonne vir gewone mense regoor die wêreld open". Barney Pityana oor ras en rassisme Prof. Barney Pityana, rektor van Unisa, het ook die konferensie toegespreek en in sy voordrag die klem veral op die kwessie van ras laat val. Hy sien in die internasionale debat oor rassisme 'n belangrike geleentheid vir Suid-Afikaanse intellektuele om vanuit hul besondere ervaring 'n unieke bydrae tot die gesprek te lewer en selfs die leidende rol daarin te speel. Hy meen dat dié uitdaging nog nie werklik deur Suid-Afrikaanse universiteite aangegryp is nie. 'n Regeringsperspektief Minister Jordan het in sy openingstoespraak 'n duidelike beeld gegee van hoe daar in regeringskringe oor kulturele verskeidenheid gedink word. Enersyds het hy beklemtoon dat sowel in Unesco-kringe as in die Suid-Afrikaanse Grondwet, kulturele verskeidenheid as "onderliggend aan sekere regte" bedink word en dat die internasionale diskoers oor hierdie saak verklaarbaar is teen die agtergrond van "werklike, vermeende en misverstane bedreigings vir kulturele verskeidenheid". Andersyds meen hy dat Suid-Afrikaners, vanuit hul spesifieke historiese ervaring van die begrip "kulturele verskeidenheid" as "een van die mees misbruikte elemente onder kolonialisme en apartheid", 'n paar waarskuwings aan die internasionale gemeenskap kan rig oor die moontlike "misbruik van kultuur, outentisiteit en verskeidenheid". Hy het dan ook wat hy noem "ons gedeelte menslikheid" en die waarde van "kulturele kruisbestuiwing" as "suurdeeg vir vooruitgang" beklemtoon. Burgerlike samelewingsperspektiewe Baie van die sentimente wat tot dusver vermeld is, is ook in die bydraes van ander sprekers by die konferensie verwoord. Uit dié ander bydraes was dit egter ook duidelik dat daar so iets soos 'n burgerlike samelewingsperspektief - met 'n groot mate van konsensus onder organisasies en individue wat op die kultuurterrein werksaam is - in onderskeiding van 'n staatsperspektief te bespeur is. Daar was twee hoofsprekers oor elke tema en hul bydraes is telkens in subtemas verdeel en in wegbreeksessies deur konferensiegangers verder bespreek. Geleentheid vir terugvoer vanuit die wegbreeksessies is ook gegee. Hierdie "oop gesprek" kant van die konferensie was uiters waardevol en het beslis die basis gelê vir vrugbare nuwe diskoerse oor kultuur wat hopelik in die toekoms op 'n georganiseerde basis verder verken sal word. Enkele temas is telkens in die onderskeie sprekers se bydraes asook in die terugvoer uit groepbesprekings ter sprake gebring. Dit wil dus lyk asof hierdie temas - wat dikwels ook kritiek op die huidige situasie en die hantering daarvan deur die Suid-Afrikaanse regering en die Nepad-sekretariaat behels - prominent in die gemoedere van kulturele werkers en aktiviste figureer. Veral vier sulke prominente temas kan uitgesonder word. Kerntemas Eerstens was daar in die algemeen 'n gevoel dat die waarde van kultuur vir ontwikkeling op sowel nasionale as streeks- en kontinentale vlak ernstig onderskat word. Heelwat kritiek is uitgespreek teen die dominante neoliberale verstaan van ontwikkeling as 'n suiwer tegnologiese en ekonomiese uitdaging. Hierteenoor is beklemtoon dat kultuur ekonomiese waarde het en dat waardevolle kennis opgesluit lê in die diverse kulturele erfenisse van Afrika se mense. In aansluiting hierby is daar, tweedens, herhaaldelik gewys op 'n gebrek aan plaaslike kulturele beleid. Met "plaaslik" word hier veral na die dorps- of stadsvlak verwys. Die gedagte is dat elke munisipaliteit 'n weldeurdagte en geïntegreerde plan moet ontwikkel om die kulturele erfenis en artefakte van die plaaslike gemeenskappe te bestuur, die plaaslike kulturele bedryf te stimuleer en kultuur sodoende aan te wend as 'n enjin vir plaaslike ontwikkeling. Wat die provinsiale en nasionale vlak betref, is die mening dikwels uitgespreek dat bestaande beleidstukke nie genoegsaam gekoördineer is nie en dat dit kulturele werkers en gemeenskappe blootstel aan uitbuiting deur kulturele ondernemers. Derdens het die taalkwessie in byna elke spreker se bydrae en tydens alle groepgesprekke opgeduik. Die algemene gevoel onder konferensiegangers is dat daar van die taalbepalings in die Grondwet nog veel te weinig tereg gekom het en dat daar dringend stappe gedoen moet word om veeltaligheid - en veral die toegenome gebruik van Afrikatale op alle lewensterreine - te verwesenlik. In die vierde plek het 'n groot aantal sprekers en konferensiegangers die belang van landelike gemeenskappe en tradisionele leierskap in die ontginning van inheemse kulturele bronne vir ontwikkelingsdoeleindes onderstreep. Skerp kritiek is dan ook uitgespreek teen die stedelik geöriënteerde etos van ons openbare diskoers en die marginale rol wat tradisionele leierskap in die politieke proses speel. Grepe uit die gesprek Van die bydraes deur hoofsprekers was werklik uitstekend en verdien om gepubliseer te word met die oog op wyer kennisname en debat. Vervolgens gee ek 'n paar aanhalings uit van die bydraes om vir lesers 'n breë indruk van die toon en tekstuur van die gesprekke te bied: "Kulturele verskeidenheid is 'n wonderlike hulpbron …. Dit kan mense bemagtig … mense beheer oor hul lewens teruggee … mense se waardigheid herstel … as beskerming teen swaarkry en armoede dien … eenheid skep en dit is een van die mees bekostigbare kommoditeite tot ons beskikking." (Mike de Jongh) "Gedurende die koloniale era en ná onafhanklikheid is geen moeite ontsien in 'n poging om die heterogene bevolkings van Afrikastate te verenig nie … Selfs die groot Afrikafilosoof en politieke leier van Guinee, Sekou Toure, het voetsoolvlak-identiteite beskou as 'n vorm van agterlikheid wat deur nasiebou en snelle ekonomiese ontwikkeling uitgewis moes word. Vandag … klink hierdie opvattings en visioene oor voetsoolvlak-identiteite en kulturele verskeidenheid taamlik anachronisties en opvallend argaïes." (C. de Beer) "Afrika kan nie Westers geïnduseerde aandoenings met Westerse strategieë beveg nie …. Tekens dat kulturele vernuwing reeds begin het, sluit in dat die regering begin om tradisionele leierskap te erken, toegenome aandag vir inheemse kennis en etnomedisyne asook 'n groeiende bewussyn oor taal." (W.M. Sobahle) "In Suid-Afrika is ons 'n heterogene groep met 'n gemeenskaplike lotsbestemming." (Terugvoer uit wegbreeksessie) "Die kwessie van selfbeskikking is belangrik …. Wanneer minderhede geakkommodeer word, moet hulle self kan bepaal hóé hulle ingesluit word." (Opmerking uit gehoor) "Die stelsel van intellektuele eiendom, soos dit tans bestaan, moet nie op ander stelsels (soos inheemse reg) afgedwing word nie …. Moenie wette op ander mense afdwing nie; die feit dat hulle nie rebelleer nie, beteken nie dat hulle dit aanvaar nie." (M. Netshitenzhe) "Die WHO se posisie is dat kulturele produkte soos enige ander produk is en behandel moet word soos ander kommoditeite … maar kulturele produkte is ook beliggamings van identiteite, kulture en tradisies, 'n stelling wat uit die WHO-perspektief 'proteksionisties' klink." (P. Makhubele) "Die Universele Verklaring van die Regte van die Mens praat oor die reg om vryelik aan die kulturele lewe van die gemeenskap deel te neem; dit lê 'n verpligting op leiers om sodanige deelname moontlik te maak … Kulturele demokrasie gaan oor die ontwikkeling van 'n samelewing van selfstandige individue en oor deelname." (S. Rodolo) "Krale… verskaf inligting oor inheemse estetika … nie-verbale … kommunikasie … sosiale en rituele verhoudings … roetes van vroeë handelsinteraksie … en dien as kulturele/etniese identiteitsmerkers …. Potte … verskaf bewyse oor … prekoloniale kultuur en migrasie … huishoudelike opgaartegnologie, oordrag van … inheemse, gendergebaseerde kennis … en 'n internasionaal betekenisvolle kommoditeit …. 'Skoenlapper' is die naam van die mitologiese stigter van die Tlhabine Sotho …. Hy word in prysgedigte … vereer … [soos] baie sulke stigters, konings en leiers … in die mondelinge tradisies … een van die belangrikste opgaarplekke van kulturele geskiedenis en erfenis . Hierdie drie ikone illustreer die onderlinge verhoudings tussen tasbare en ontasbare kulturele erfenis." (Chris van Vuuren) "Die gesprek oor kulturele verskeidenheid is 'n protes teen die vermeende meerderwaardigheid van Westerse oor Afrika- en stedelike oor landelike kultuur …. Alle beskawings en wêreldgodsdienste asook groot letterkundes en selfs die natuurwetenskappe is op landelike boerekulture gebou …. Mazrui se 'cultural half-castes' het die Afrikakultuur verwoes …. Europeërs in Afrika het Europeërs gebly, maar Afrikane het geëuropianiseer …. Afrika se kennis is verlore onder Afrika-intellektuele. Intellektuele moet die stem van 'n beskawing wees, maar in Afrika het hulle dié taak versaak. Gewone mense met hul kennis kan nie deelneem aan intellektuele diskussies nie … Intellektuele moet hulself heropvoed … en hul enigste leermeesters is die gewone mans en vroue van Afrika ... Nie-gesertifiseerde mans en vroue moet as volwaardige deelnemers in die konstruksie van die hoëkultuur geïnkorporeer word. Dit sal 'n eerste in die wêreld wees . Wittes, Indiërs en bruinmense … asook middel- en hoëklas Afrikane moet die Afrikatale (weer) leer …. Ons nasionale slagspreuk moet wees: 'Na die platteland!'" (Herbert Vilakazi) "Die bevordering van veeltaligheid is fundamenteel tot die beskerming van inheemse kennisstelsels." (Terugvoer uit wegbreeksessie) "In die kolonisasieproses is kulturele verskeidenheid gestempel in terme van dominante en ondergeskikte kulture …. Dit het gelei tot 'n waardestelselkonflik wat verband hou met klasseongelykheid …. Inheemse kulture en waardes word as agterlik gesien en mense vrees om met hul kulturele agtergrond geassosieer te word …. Ons liberale Grondwet gee regte en geleenthede, maar is nie effektief nie as gevolg van hierdie faktore …. Instellings - wetlik en polities - moet geskep word om kulturele verskeidenheid te beskerm …. 'n Benadering van moedertaalonderrig en 'additiewe veeltaligheid' moet in die onderwys gevolg word …. Geletterdheid in die moedertaal is van wesenlike belang …. Die Ooste bied talle voorbeelde van suksesvolle ontwikkeling wat op die inheemse kulture gebaseer is." (M.S. Makhanya & V. McKay) "Nepad moet nie net fokus op ekonomiese ontwikkeling en konflikbeslegting nie, maar ook op kulturele verskeidenheid …. Ons moet die opvatting bevraagteken dat kultuur net 'n kostefaktor in die nasionale fiskus is en as sodanig geen ekonomiese waarde het nie." (Fikeni) "In taalterme word ons nog steeds gekoloniseer …. Ons is 'Elizabethan' in ons benadering …. Mense moet weer 'n stem gegee word." (Sibongile Simelane) "Nepad werk met 'n neoliberale paradigma … 'n gedwonge konsensus gebaseer op die WHO-regime …. In onderhandelings moet geput word uit ouer verklarings, konvensies en verdrae uit die OAE-tydperk wat lankal reeds kultuur en kulturele verskeidenheid beklemtoon het …. Strategiese intervensies is nodig as teenwig teen die tendens dat ontwikkeling in belang van buitelandse magte plaasvind …. Globale handel gaan nie oor vryemarkte nie, maar oor gereguleerde en onderhandelde markte. Ons kan nie nog 'n gedwonge konsensus bekostig nie." (T. Nkiwane) "Die moderniteit het kultureel ingebedde kennisstelsels gemarginaliseer en verwring - maar tot voordeel van die marginaliseerders en verwringers. Laasgenoemdes het dit nie net vernietig nie, maar ook die ekonomiese waarde daarvan ingesien en gebruik …. Wat gebeur as kulturele goedere op wetlike vlak erken word? Eers is daar bepaalde uitdrukkingsvorme; vervolgens word hulle wetlik erken; gevolglik is hulle dan onderworpe aan kommodifisering. Die produsente is nie noodwendig diegene wat voordeel trek nie; die produsent kan verhoed word om dit wat geproduseer is te gebruik of te besit …. Ons moet die Konsep Konvensie krities bevra; so nie, kan ons uiteindelik regte op dit wat ons self skep, verloor …. Die geheim is om die ruilwaarde van kulturele uitdrukkinge te benut sonder om die gebruikswaarde (byvoorbeeld met betrekking tot identiteit) te verloor." (S. Gutto) "Al te dikwels word ons gebombardeer met stories oor ons as Afrikane; ons stories is deur Westerse sensibiliteite vertolk. Die meeste van ons beelde is deur Westerse oë vertel, waarvan die meerderheid slegs een kant van ons veelkantige kollektiewe Afrika-storie weergee …. Daar is ander stories om te vertel." (Letebele Masemola-Jones) "Betrokkenheid by Nepad vereis kritiek …. Nepad het nie 'n kantoor wat kulturele kwessies hanteer nie … en is stil oor kultuur, anders as byvoorbeeld in Argentinië, Brasilië, die Verenigde Koninkryk, Nederland, Duitsland, Singapoer, Japan en so meer - daar word gepraat van 'kultuurgestuurde ontwikkeling' …. Kulturele beleid moet ander beleidstukke (byvoorbeeld oor water, nywerheid, vervoer, jeug en so meer) struktureer en beïnvloed." (M. Sirayi en S. Rodolo) "Kultuur het in die sentrum gestaan van die konstruksie van Afrikane deur Europeërs …. Die idee van kultuur is gebruik om 'n vermeende gebrek aan ontwikkeling te verklaar …. Kultuur is gesien as 'n obstruksie tot ekonomiese ontwikkeling …. Debatskwessies met betrekking tot Nepad sluit in die Nepad-oogmerk om Afrika in die globale ekonomie te integreer, die geïmpliseerde definisie van globalisering in die Nepad-dokumente asook die veronderstelde opvattings van ontwikkeling as modernisering en verwestering." (Eddie Maloka) Tshwane Verklaring en te stigte Koalisie Aan die einde van die konferensie is die Tshwane Verklaring [kyk hier vir die Afrikaanse weergawe], ná insette en eenparige goedkeuring deur die konferensiegangers, aanvaar en in 'n persverklaring uitgereik. Hierdie verklaring is betekenisvol omdat dit 'n wye verskeidenheid stemme in die kulturele sektor vanoor die hele land verteenwoordig - meer spesifiek stemme uit die burgerlike samelewing. Inhoudelik word 'n aantal belangrike punte gemaak, byvoorbeeld waar die konferensiegangers pleit vir "beter afdwinging van meganismes om veeltaligheid te verseker, waaronder die wetlike inwerkingstelling van die Nasionale Taalbeleidsraamwerk". Laasgenoemde is van groot belang teen die agtergrond van die regering se sloerdery om die Suid-Afrikaanse Talewetsontwerp as wet te bekragtig. Miskien die belangrikste uitvloeisel uit die konferensie is die aanbeveling dat 'n "Nasionale Koalisie vir Kulturele Verskeidenheid" tot stand gebring moet word "vir debat en diskoersvoering oor die ontwikkeling en integrasie van kultuur in die openbare lewe". Verteenwoordigers van die Departement van Kuns en Kultuur het aangedui dat so 'n Koalisie, bestaande uit verteenwoordigers van burgerlike groeperinge in die kulturele sektor, in die kantoor van Unesco Suid-Afrika gehuisves en deur die Departement befonds kan word. Ten slotte Een spreker het tydens sy voordrag opgemerk dat ons in Suid-Afrika 'n "over-conferenced nation" is en dat die tyd vir dóén nou aangebreek het. Hoe hierdie konferensie in die lig van dié opmerking beoordeel moet word, sal daarvan afhang of die te stigte Koalisie realiseer. Indien wel, kan dit net dalk gebeur dat kultuur en kulturele verskeidenheid meer van 'n nasionale prioriteit word as wat dit tot dusver was. |