blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Om argitektuur te ‘pleeg’ – die diskrepansie tussen die akademie en die praktyk 2004-12-02
Ora Joubert

Deur Ora Joubert, Hoof: Departement Argitektuur, Universiteit van Pretoria
*Hierdie intreerede is gelewer deur prof. Joubert by die Universiteit van Pretoria op 18 November 2004. Die Vrye Afrikaan bedank haar graag vir die vergunning om hierdie lesing te publiseer.

Graag sou ek vanaand se gehoor wou blootstel aan 'n verskeidenheid van Suid-Afrikaanse argitektuur wat 'n merkwaardige, interkulturele ontwerpsintese  demonstreer: 'n onderwerp na aan my hart, en waaroor ek al menige kere plaaslike en oorsese gehore toegespreek het.   

So 'n voordrag sou onder meer 'n oorsig behels van ons ryk argitektoniese erfenis wat, benewens koloniale argitektuur, ook 'n tafereel van uitsonderlike inheemse voorbeelde insluit.

Ek sou ook  melding maak van ons streeksmoderne argitektuur-tradisie wat vanaf die vroeë 1930's dagteken. So 'n ontwerpbenadering behels die voorsetting van die vormgewende en ruimtelike ondersoeke van die Europese Modernistse, maar aangepas om ons klimatologiese en eiesoortige sosio-ekonomiese vraagstukke op 'n vindingryke manier aan te spreek. Alhoewel hierdie "Afro-pese" ontwerpbenadering vir etlike dekades in onbruik verval het, is dit verblywend dat menige jong argitekte weer hierdie uitgangspunte nastreef. Dit is eweneens verblywend dat hierdie benadering nie net op 'n residensiële skaal van toepassing is nie, maar ook toenemend in die openbare arena begin posvat, soos geïllustreer word deur die nuwe Mpumalanga regeringsgeboue* in Nelspruit en die splinternuwe Grondwetlike Hof* in Johannesburg. Toevallig, beide geboue wat as ontwerpkompetisies uitgeloof is.  

Maar miskien het ek te lank die valse indruk - veral oorsee - geskep dat ons gelukkig in die demokratiese, nuwe Suid-Afrika woon, enersyds, in fraai, omgewingsvriendelike, inheemse nedersettings en, andersyds, in gesofistikeerde stedelike tuistes met eiesoortige openbare geboue. Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. Ek het oplaas besluit om eerder die betreurenswaardige toestand van eietydse Suid-Afrikaanse argitektuur aan te spreek; om openbare standpunt in te neem teen die groot hoeveelhede geboue wat nie die vermelde ontwerpuitgangspunte nastreef nie en wat net nie op akademiese standaard is nie.

Internasionale argitektuurtendense

Ten einde hierdie aantygings te kan staaf en om huidige ontwerptendense in perspektief te plaas, is 'n kort oorsig van moderne argitektuurgeskiedenis genoodsaak. Die sogenaamde Moderne Beweging van die vroeë 20ste eeu was 'n doelbewuste argitektoniese poging om die nuutgedefineerde moderne mens se behoeftes en leefstyl aan te spreek. Ontwerpinspirasie is veral ontleen aan die rewolusionêre  ontwikkelings in die beeldende kunste, met ideologiese stukrag geput uit die sosialistiese idealisme wat die draai van die vorige eeu gekenmerk het.  
Die Moderne Meesters - argitekte soos Gerrit Rietveld, Walter Gropius van die Bauhaus-faam, Le Corbusier, Mies van der Rohe en Frank Lloyd Wright - was van mening dat die hoogs geabstreerde, platdakargitektuur* groot byval sou vind. Die aanvanklike en wêreldwye geesdrif vir moderne argitektuur - oftewel die Internasionale Styl soos dit spoedig bekend gestaan het - was egter van korte duur. Gedurende die rebelse 1960's is sterk standpunt ingeneem teen die moderne argitekte se minagting van ons natuurlike energiebronne, historiese omgewings en selfs populêre smaak: ontwerpaspekte wat die daaropvolgende Post-Moderniste probeer aangespreek het.  
Gedurende die 1980's het dit voorgekom asof Post-Modernisme die argitekuurbeweging van die dag sou wees, gegewe 'n kapitalitiesgedrewe wêreldekonomie, gebaseer op populêre sentiment en nostalgie. Gedurende die 1990's het 'n groep argitekte weer 'n teenveldtog teen Post-Modernisme geloods. Daar is beweer dat post-moderne geboue banaal, vulgêr en kortstondig van aard is, en 'n terugkeer na die meer tydlose ontwerpbenaderings van die vroeëre Moderniste is bepleit.

Huidige internasionale argitektuurtendense sluit 'n verskeidenheid van merendeels modernistiese vertolkings in, wat almal daarop ingestel is om die tekortkoming van die modernistiese presedent op 'n aansienlik meer verantwoordelike en volhoubare wyse aan te spreek. So 'n pluralistiese Modernisme sluit onder meer laat-moderne*, neo-moderne* en selfs super-moderne* vertolkings in. Daarbenewens vind die streeksgebonde weegawe van Modernisme ook weer groot byval, veral in die suidelike halfrond met Australiese argitekte op die voorgrond. *
Suid-Afrikaanse argitektuur
Suid-Afrika was, en is, nog altyd sterk beïnvloed deur internasionale tendense, en ons pionier-modernistiese insiatiewe wat uit die 1930's dagteken, het aanvanklik groot byval gevind - in so 'n mate dat een van die beroemdste argitekte van die 20ste eeu, Le Corbusier, die eerste uitgawe van sy versamelde werke aan die Suid-Afrikaanse pionier-Modenis, Rex Martienssen, en sy kollegas opgedra het.
Aangesien Suid-Afrika nooit die behuisingsnood van na-oorlogse Europa beleef het nie, het ons in 'n groot mate die onoordeelkundige toepassing van die moderne estetika vrygespring. Tog het ons ook gedurende die 1950's en 1960's ons geloof in Modernisme verloor, en ons toenemend tot oorsese post-moderne ontwerpalternatiewe begin wend.

Die vraag ontstaan egter tot watter mate dieselfde Eerstewêreldse argitektoniese maatstawwe van toepassing kan wees op 'n onwikkelende land. Die teenvraag van die mate waartoe ons plaaslike ontwerpvraagstukke aangespreek word, kom eweneens onder die vergrootglas.

Sosio-ekonomiese behuising en gemeenskapsfasiliteite

Die harde werklikheid is dat die groter persentasie van ons bevolking in haglike omstandighede in plakkersnedersettings woon. En alhoewel toegang tot behuising as 'n basiese mensereg in ons Grondwet beskou word, is plaaslike argitekte huiwerig om by sulke werk betrokke te raak, of, alternatiewelik, word hul betrokkenheid gemarginaliseer deur winsbejag en politiekery. Tog word ons professionele onbetrokkenheid onderstreep deur 'n onlangse koerantopskrif wat lui: "Stop building bad RDP housing". Om nie eers van melding te maak van die omstrede regingsbesluit om Kubaanse argitekte in te voer om in hierdie taak te help nie.

Ter verdediging moet daarop gewys word dat Suid-Afrikaanse argitekte al dekades lank fasiliteite vir voorheen benadeelde gemeenskappe ontwerp het. Trouens, van die beste werk word in hierdie veld gedoen, en weerspieël veel meer ontwerpintegriteit as meeste van die openbare en sogenaamde kommersiële geboue van die afgelope paar jare.

Suid-Afrikaanse stede en openbare ruimtes

Op hul beurt laat ons stede net so veel te wense oor en tel onder die onooglikste in die wêreld. Met Kaapstad as moontlike uitsondering, het ons stadskerns handelsenklaves vir 'n byna eklusiewe Afrika kliënteel geword, teweeggebring deur die voorstedelike uittogte kort na 1994. Ten spyte van die verbintenis tot opwindende multi-kulturele hernuwingsprogramme - veral in Durban en Johannesburg - toon die stadskerne van Bloemfontein en Pretoria bittermin sigbare tekens van vernuwing. 

Selfs as aangevoer kan word dat Suid-Afrikaners nie oor 'n inherente stedelike kultuur beskik nie, is ons openbare ruimtes in 'n betreurenswaardige toestand. Onversorgde landskapering, lemmetjiesdraadheinings en banale advertensieborde is die mees herkenbare eienskappe van ons gebruikersonvriendelike openbare ruimtes.  

Desentralisasie

Indien beperkte fondse die rede is vir die lakse opgradering en instandhouding van ons openbare ruimtes, kan 'n mens nie anders nie as om jouself te verwonder oor die ongekende hoeveelheid bouwerk wat tans in die gedesentraliseerde gedeeltes van ons stede plaasvind.

Verskeie neigings voer hier die botoon. Die mees algemene hou verband met besighede wat doelbewus wegskram van voorheen geïdentifiseerde kommersiële areas en hul vestig in residensiële gebiede. Die aanwending van woonhuise vir bykans enige tipe besigheid (ek het al 'n lykshuis aangetref), maak nie net 'n bespotting van die modernistiese uitgangspunt van funkionele programdefinisie nie, maar laat die vraag ontstaan of argitekte nog enigiets kan ontwerp wat nie 'n residensiële voorkoms, of skaal, het nie.

Gegewe die sukses van die besighede, word hierdie aangeflanste geboue spoedig vervang met meer permanente skeppings. Woorde ontgaan my wanneer ek die passé, stilisties twyfelagtige, klimatologies onverantwoordelike (met die endemiese alkant-selkant aansigte), oorbodig versierde, lomp en bloot lelike geboue teëkom, ontwerp deur argitekte afgestudeer aan gerespekteerde akademiese instansies. Gegewe die euforie rondom die Wêreldsokkerbeker en die bou-ontploffing wat vir die volgende ses jaar in die vooruitsig gestel word, sidder ek as ek dink wat ons aan die die res van die wêreld gaan opdis. Die vraag wat ek myself oor en oor afvra, is of hierdie twyfelagtige eietydse argitektoniese skeppings die beste is waarmee ons eensgerespekteerde argitektuurprofessie - waaroor Le Corbusier juis so opgewonde was - vorendag kan kom.

Voorstedelike ontwikkelings

Maar die ergste lê nog voor.  Met die verkragting van ons gevestigde woongebiede, is die nuutste gier om bourgeois enklaves op die buitewyke van ons stede te vestig. Hierdie tematies-geënspireerde landgoedere - met eie ontspanningsgeriewe, 24-uur sekuriteit en romantiese name - neem toe teen 'n ongelooflike spoed en regoor die land. 

Indien ek nog die ontwerpoorspring van die nouveau riche-herehuise aan die oorweldigende invloed van Amerkaanse TV-kultuur se sogenaamde aspirerende sepies kan toedig, kan ek vir ons skynbare obsessie met Toskanië - oftewel "Tos-Afrikaans" of "Boere-Spaans" - maar geen akademiese  (of sosiale) regverdiging vind nie.

Van die mees onvergeeflike is wanneer ons handjievol streeksmodernistiese voorbeelde geminag word deur sogenaamd Toskaans-geïnspireerde naasliggende geboue. Hierdie obsene, volksvreemde argitektoniese verskynsel kan ek, as hoof van 'n akademiese program in argitektuur, net nie goedpraat nie. Veral in die lig vanons multi-kulturele argitektuurerfenis waaruit - op 'n outentiese, intelligente en poëtiese wyse - uitsonderlike ontwerpinspirasie geput kan word. 

Hierdie ongekende ontwerponsensitiwiteit teenoor beide ons beboude en natuurlike omgewings moet aangespreek word; moet eenvoudig gestaak word!

Ten slotte

Soos aan my studente, is my boodskap aan my argitekskollegas om hul te verdiep in die die internasionale argitektoniese diskoers. Maar om uiteindelik 'n teoretiese posisie te ontwikkel om ons eiesoortige onwerpuitdagings op 'n vindingryke, en verantwoordelike, wyse aan te spreek. 

Ek wil my ten sterkte uitspreek teenoor ons kliënte - die ontwikkelaars, banke, versekeringsmaatskappye, selfs tersiêre instansies en ambassades. Julle is uiteindelik die beskermhere - maar ook die sondebokke - van die voorkoms van eietydse Suid-Afrikaanse argitektuur. Ek doen 'n beroep op julle om jul argitektoniese verwysingsraamwerke drasties uit te bou om sodanig aan jul argitekte die geleentheid te bied om beter, internasionaal mededingende, werk te kan skep. Ek wys julle ook daarop dat korttermyn winsbejag nie die enigste doelwit moet wees nie; dat julle, in die besonder, 'n langtermynverantwoordelikheid teenoor die beboude omgewing het.

Voorts wys ek die nemesis van die argitektuurprofessie - eiendomsagente - daarop dat argitektuur aansienlik meer is as uitspattige verftegnieke, duur ingevoerde afwerkings en toebehore; dat ware, tydslose, argitektuur nie stilistiesgebonde is nie, maar poëtiesgedrewe is.

Ek wil die munisipale owerhede maan om van ons akademiese kundigheid gebruik te maak, hetsy met betrekking tot stedelike vernuwing of bloot estetiese diskresie; kundigheid wat enige universitêre instansie kan - en trouens moet - fasiliteer.  

Laastens wil ek die regeringsowerhede daarop wys dat nepotisme nog nooit argitektoniese meriete bewerkstellig het nie en dat ontwerpkompetisies die mees demokratiese manier is om goeie argitektuur te bevorder. Dit is verblywend dat hierdie tendens toenemend die geval is, maar dit moet op alle geboue van openbare belang van toepassing wees. Ek herinner julle egter daaraan om die resultate wyd te publiseer, om sodoende die publiek in te lig en om, belangriker nog, openbare debate te ontlok en te stimuleer. 

Dit is my vertoog dat ons 'n trots Suid-Afrikaanse ontwerpetos moet ontwikkel. Ek doen 'n beroep op die breër publiek om ons argiteksprofessie te ondersteun om in hierdie doelwit te kan slaag.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=95
Artikel nagegaan:
    -